|
Twee en ’n halwe eeu ná sy geboorte...
’n terugblik op die onstuimige lewe van die wonderkind wat deur sy
tydgenote verwerp is om uiteindelik in die grootste armoede te sterf
|
|||
N
sy prille jeug is hy as ’n wonderkind beskou, as volwassene moes hy
dikwels worstel om siel en liggaam aanmekaar te hou—en toe hy op slegs
35-jarige leeftyd oorwerk en in armoede sterf, was daar nie eens geld om
vir ’n graf te betaal nie. Tog
word die Oostenrykse komponis Wolfgang Amadeus Mozart (1756-1791) vandag
deur baie musiekliefhebbers tot een van die grootste geeste gereken wat
ooit in die wêreld gelewe het. Hy word ten minste onweerlegbaar as een
van die grootste skeppende genieë in die Westerse musiekgeskiedenis
beskou. Dit was op 27 Januarie 2006 presies 250 jaar gelede dat Wolfgang Amadeus in Salzburg, die pragtige stad aan die voet van die Oostenrykse Alpe, gebore is. Sy doopname was eintlik Johannes Chrysostomus Wolfgangus Theophilus Mozart.
Die
klein Mozart se pa, Leopold Mozart (1719-1787), was ’n komponis en
violis in diens van die aartsbiskop. Vir
die destydse mense van Salzburg was musiek ’n deel van hul siel, en
die Oostenrykse adel het die beste musici in diens geneem om te
komponeer en op te tree. Wolfgang
Amadeus het musiekonderrig van sy pa begin ontvang toe hy slegs vier
jaar oud was. Hy het al van sy vyfde jaar af begin komponeer, en op
sesjarige leeftyd was hy reeds ’n kranige uitvoerende musikus op die
klawerbord, viool en orrel en hoogs bedrewe in bladlees en improvisasie.
Vyf kort klavierstukke wat deur Mozart gekomponeer is toe hy ses was,
word vandag steeds dikwels gespeel. Dit
was op dieselfde baie jong ouderdom dat hy, met sy suster Nannerl,
konserte in München en Wenen aangebied het. Hy was ’n sensasie. Toe,
tien jaar lank met ’n onderbreking af en toe, het sy pa hom op
konsertreise deur Europa geneem. Vorste het hom na hul howe ontbied en
hy het die howelinge aan sy voete gehad met sy tegniese vaardigheid en
verstommende vermoëns tot improvisasie. In 1768 het hy sy eerste opera,
La Finta Semplice, op versoek van die keiser gekomponeer. In
Rome het hy as dertienjarige seun vir ’n musikale kragtoer gesorg. In
die Sixtynse kapel in die Vatikaan—só lui die vertelling—het hy op
dag ’n beroemde Miserere (’n toonsetting van stemme van die
boetpsalm 51) van ’n ou komponis, Allegri, gehoor. Hierdie pragtige
koorwerk is so jaloers deur die Sixtynse kapel bewaar dat geen ander
kerk dit in die hande kon kry nie. Mozart, wat die werk net een maal
gehoor het, het egter huis toe gegaan en die hele komposisie foutloos
uit sy kop neergeskryf. Ook
op dertienjarige leeftyd is Mozart aan die aartsbiskoplike hof in sy
geboortestad Salzburg as konsertmeester aangestel, dieselfde hof waar sy
pa ook ’n musikant was. Maar die ou aartsbiskop was reeds oorlede en
sy opvolger, Hieronymus, graaf Von Colloredo, het min in musiek
of in Mozart belang gestel. Ná
baie onenighede het Mozart Salzburg as nagenoeg 25-jarige jong man in
1781 verlaat en hom in Wenen gaan vestig. Die volgende jaar is hy met die sangeres Constanze Weber getroud. Constanze was die sussie van Aloysia Weber, ’n meisie vir wie hy hartstogtelik lief was, maar wat hom verwerp het.
Baie is al geskryf oor Mozart en Constanze, maar daar word vandag gereken dat hul huwelik, hoewel kort, gelukkig was. Op ’n keer het hy immers só oor haar aan sy pa geskryf: “Ek het haar lief en sy bemin my met haar hele hart. Sê my of ek ’n beter vrou kon begeer het.” Ses kinders is uit die huwelik gebore, maar slegs twee seuns het bly lewe. NET
om ’n bestaan te maak, het egter vir Mozart ’n opdraande stryd geword. Die
gemeenskap het belangstelling in hom verloor, want hy was nie meer ’n
“wonderkind” nie, maar ’n volwassene wie se geniale talente in sy
tyd eenvoudig nie na behore raakgesien kon word nie. Hy
het sy en
sy
gesin se brood probeer verdien deur te komponeer en in die openbaar op te
tree, maar wanhopig gespartel om kop bo water te hou. In Wenen het hy
van geleentheidsopdragte, musiekonderrig en ’n klein salaris as
keiserlike kamerkomponis gelewe. ’n Komponis het destyds min beskerming geniet
en is dikwels nie eens vir opvoerings van sy werke vergoed nie. Tog
het Mozart se grootste en onsterflike musiekwerke in die laaste tien
jaar van sy lewe ontstaan. Die
Huwelik van Figaro,
wat in 1786 geskep is, is die volgende jaar deur die meesterlike opera Don
Giovanni opgevolg. In ses weke in 1788 het Mozart sy laaste drie
simfonieë gekomponeer— dié in C (die “Jupiter”), E-mol en
G-mineur. Hy het die opera Così Fan Tutte (Alle Vroue Maak So)
in 1790 geskryf. In
die laaste jaar van sy lewe het Mozart die opera Die Towerfluit
gekomponeer. En drie maande voor sy dood het ’n geheimsinnige
vreemdeling, wat heeltemal in grys aangetrek was, hom kom vra om ’n Requiem
(Dodemis) te skryf. Die man se voorkoms het Mozart se verbeelding so
aangegryp dat hy later vas geglo het dat die vreemdeling ’n
boodskapper van die Dood self was. Mozart
het tot die einde gewerk aan hierdie komposisie waarin ’n mens die
gejammer van sy bitter en alte kort lewe kan hoor. Dis was onvoltooid
toe hy aan nierinfeksie oorlede is, en een van sy leerlinge, Süssmayr,
het dit agterna voltooi. (Gerekende navorsers glo nie die ou storie dat
Mozart eintlik deur die Italiaanse komponis Antonio Salieri vermoor is
nie.) ’n Dag ná Mozart se dood op 5 Desember 1791 is hy in ’n massagraf begrawe. Daar was nie geld vir ’n graf nie. Boonop was sy geliefde Constanze siek en kon sy nie sy begrafnis bywoon nie. Net ’n paar vriende het die kis na die graf gevolg, maar ook hulle het—lui die vertelling—gou omgedraai weens die gietende reën en koue. Toe Constanze later haar man se graf wou besoek, kon niemand haar meer die plek wys nie. In
skerp teenstelling met sy onwaardige begrafnis het Mozart van die
geesverheffendste pragmusiek nagelaat wat ooit gekomponeer is.
Bewenewens sy 22 operas het hy meer
as veertig simfonieë geskryf en baie gewyde musiekstukke. Hy was ook
verantwoordelik vir serenades soos Eine Kleine Nachtmusiek,
concerto's vir solo-instrumente, kamermusiek en verskeie sonates.
Altesame het hy meer as 600 werke gekomponeer. Hoewel hy self ’n register van al sy werke probeer opstel het, was dit baie onvolledig, maar in 1862 het die Oostenrykse musiekliefhebber Ludwig von Köchel almal sorgvuldig gekatalogiseer. Dit is waarom hulle vandag steeds aangedui word met die letters K.V. of K. en ’n syfer ná die naam van die werk. ’n
Mens kan wel wonder watter ander wonderlike musiekwerke vandag gehoor
kon gewees het as Mozart nie so vroeg gesterf het nie. Maar met sy ryk
repetoire wat hy in so ’n kort tyd versamel het, het hy sy plek onder
die grootstes verewig. Soos Joseph Haydn op ’n keer Mozart se bydrae
tot musiek beskryf het: “Ek stel dit aan jou, op my erewoord, dat hy
die grootste komponis is wat nog gelewe het.” |
|||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |