Morse en sy kode

Die deurbraak in telegrafiese kommunikasie

 

Morse LINKS: Samuel Finley Breeze Morse (1791–1872).

 

Foto: U.S. Library of Congress (ou beskadigde foto geretoesjeer)



Aan die mensdom het hy die kosbare erfenis nagelaat van telegrafiese seine wat naderhand oor die hele aardbol sou blits. Sy apparaat en kode is vandag wel meestal deur meer gesofistikeerde elektroniese instrumente en ander kodes vervang, maar Samuel F. B. Morse se nalatenskap is nog deeglik met ons...

Die Internasionale Morsekode

 

A . —

N  — .

1 . —  —  —  —

B  — . . .

O  —  —  —

2 . . —  —  —

C  — . — .

P . —  — .

3 . . . —  —

D  — . .

Q  —  — . —

4 . . . . —

E .

R . — .

5 . . . . .

F . . — .

S . . .

6  — . . . .

G  —  — .

T  —

7  —  — . . .

H . . . .

U . . —

8  —  —  — . .

I . .

V . . . —

9  —  —  —  — .

J . —  —  —

W . —  —

0  —  —  —  —  —

K  — . —

X  — . . —

=  — . . . —

L . — . .

Y  — . —  —

. . — . — . —

M  —  —

Z  —  — . .

? . . —  — . .

BO: Die Internasionale Morsekode verskil van dié wat Morse self ontwerp het, maar dit dra steeds sy naam omdat hy die innoveerder van die konsep was. ’n Streep staan gelyk aan die lengte van drie punte, soos ook die ruimte tussen twee letters in ’n woord. Die ruimte tussen twee woorde staan gelyk aan die lengte van sewe punte. Die syfers 0 tot 9, onder meer, is ook gekodeer.

 

SOS

BO: ’n SOS—die Internasionale Noodsein. Al word die Morsekode nie eens meer naastenby so baie gebruik as voorheen nie, is ’n belangrike aanwending daarvan steeds juis hierdie noodsein of SOS. Die drie kort klikke, drie langes en weer drie kortes (of drie punte, drie strepe en drie punte) kan op verskeie maniere aangewend word om hulp te ontbied, hetsy per radio of deur op iets te hamer en te skraap. Daar kan selfs só met ’n flits gesein word. Trouens, die SOS kan op enige ander denkbare manier gestuur word.

 

Telegraaf-sleutel

BO: ’n Telegraaf-sleutel waarmee seine in Morsekode gestuur word. Die sein gaan deur wanneer die knop gedruk word, maar is afgeskakel wanneer die knop gelos word. Die operateur beheer die lengte van die drukke en pouses, en dit verg opleiding en baie oefening om boodskappe op hierdie manier korrek deur te stuur. Groot hoeveelhede van hierdie spesifieke model is in die Twee­de Wêreldoorlog vervaardig en dit word vandag steeds gebruik.

 Foto: Lou Sander, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)



 

H

Y was geen wetenskaplike nie—hy was ’n kunstenaar van beroep. Maar hy was die vader van een van die heel grootste vernuwings in die geskiedenis van kommunikasie. Dit het hy geword nadat ’n blink idee hom te binne geskiet het, en dit nogal op ’n skip op die wye Atlantiese Oseaan.

 

As ’n Amerikaner wat hom ’n klompie jare lank in Engeland as ’n portretskilder onderskei het, was Samuel Morse op pad terug na die VSA. Hy sou in die stad New York die amp van professor in skilder- en beeldhouwerk aan die universiteit aanvaar.

 

Morse (1791–1872) het in 1832 op die skip deelgeneem aan ’n gesprek oor elektromagnete—en hy moet beslis die ene ore gewees het, want elektrisiteit het hom jare tevore reeds gefassineer toe hy nog jonk was. Die geniale Michael Faraday van Engeland het naamlik betreklik kort tevore die opwekking van elektrisiteit deur middel van magnete ontdek en dit was destyds ’n groot besprekingspunt.

 

Morse wou weet hoe ’n elektromagneet werk. En toe hy die basiese werking daarvan snap, kry hy die ingewing. Sou dit nie dalk moontlik wees, het hy gewonder, om ’n gekodeerde boodskap oor ’n draad te stuur nie?

 

Die resultaat van sy droom was die ontwikkeling van die telegraaf, asook die stelsel van puntjies en strepies waarmee die telegraaf sou werk en wat as die Morsekode bekend sou staan. In ons moderne wêreld met sy satelliete, elektroniese pos en selfone speel die telegraaf en Morsekode nog maar net ’n geringe rolletjie, maar dit was ’n lang tyd heel anders. Die vernuftige Morse se innovasie het die mensdom se era van elektroniese kommunikasie ingelui.

 

SAMUEL FINLEY BREEZE MORSE is 27 April 1791 in Charlestown in die Amerikaanse staat Massachusetts as sy ouers se eerste kind gebore. Sy pa, Jedidiah Morse, was ’n predikant en ook ’n skrywer van naam. Twee van Jedidiah se boeke het vir genoeg geld gesorg sodat hy sy drie seuns kon stuur na die beroemde Yale-kollege in New Haven, Connecticut (later die Yale-universiteit genoem).

 

Samuel se ouers wou eers nie daarvan hoor dat hy die kuns as beroep kies nie en hy is na Yale gestuur om hom in vakrigtings soos die godsdiensfilosofie, wiskunde en die wetenskap van perde te bekwaam. Maar sy belangstelling in die kuns kon nie gedemp word nie. Uiteindelik het hierdie passie oor alles anders geseëvier, en dit het hom mettertyd twee keer na Europa laat reis, waar hy in beroemde kunsmuseums geskilder het.

 

Portret deur Samuel MorseREGS: “Portrait of Mrs. Daniel de Saussure Bacot”, ca. 1830—een van die skilder Samuel Morse se vele portrette.


Krediet: Histories (openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderom)

 

Só het hy as skilder naam gemaak, maar dit is nietig in vergelyking met die faam wat die uitvinding van die telegraaf hom sou bring.

 

Tog het Morse, terwyl hy sy telegraaf-idee begin ontwikkel het, besef dat sy kennis oor die aard van elektrisiteit ver te kort skiet. Nadat sy sporadiese pogings om met batterye, magnete en drade te werk nie die gewenste resultate opgelewer het nie, het hy hom uiteindelik gewend tot Leonard D. Gale, wat saam met hom aan die Universiteit van die Stad New York gedoseer het.

 

Gale was ’n professor in chemie en hy was bekend met die werk oor elektrisiteit wat deur ’n geleerde vriend van hom aan die Kollege van New Jersey (later die Princeton-universiteit) gedoen is. Prof. Joseph Henry was ’n ware baanbreker op hierdie nuwe terrein.

 

Voordat Morse nog op die skip sy ingewing oor ’n telegraaf gekry het, het Henry reeds daarin geslaag om ’n klokkie op ’n afstand te laat lui deur ’n elektriese stroombaan te sluit en te onderbreek.

 

Gale se hulp en sy kennis van Henry se werk was vir Morse deurslaggewend. Gale het hom nie net op die gebreke in sy stelsel gewys nie, maar Morse ook geleer hoe hy gereeld ekstra krag aan die sterkte van ’n sein kon gee deur middel van ’n relais-stelsel wat deur Henry uitgevind is.

 

Morse se aanvanklike apparaat het gewerk, maar slegs oor kort afstande. Die weerstand in die lang drade was te hoog en die stroom wat oorgestuur kon word, was te swak vir die instrument om van enige waarde te wees.

 

Maar met die relais (of relê, soos dit ook gespel word) sou hierdie probleem te bowe gekom kon word. Iemand het dit al vergelyk met die poskoetsstasie van die ou dae, waar die moeë perde omgeruil is met ’n uitgeruste span wat die koets verder kon trek.

 

Die swak stroompie moes deur middel van ’n gevoelige magneet slegs ’n ligte naaldjie laat roer, en dié het dan weer ’n ander stroombaan met sy eie battery gesluit. Hierdeur het elke sein as ’t ware die skoene van ’n reus gekry waarmee dit met supertreë deur stroombaan ná stroombaan sou kon beweeg—inderdaad selfs rondom die aardbol.

 

Henry se eksperimente, Gale se hulp en, oplaas, die bystand van die jong tegnikus Alfred Vail was die sleutels tot Morse se sukses.

 

Morse se oorspronklike telegraafREGS: Morse se oorspronklike telegraaf.
 

Krediet: Histories (openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderom)

 

 

ALFRED VAIL (1807–1859), vroeër ’n masjinis by ’n ystergietery, het tot 1836 aan die New Yorkse universiteit in die teologie gestudeer. Toe hy in 1837 weer ’n draai by sy ou universiteit maak, het hy een van Morse se vroeë proefnemings gesien en so begeesterd geraak dat hy met hom gaan praat het. Hy het ’n transaksie met Morse beklink om die tegnologie op sy eie koste te ontwikkel in ruil vir ’n persentasie van die winste.

 

Vail het sy ryk pa omgepraat om vir hom ’n mooi sommetjie geld voor te skiet, en toe kon hy skouer teen die wiel gooi om ’n instrument te bou wat tegnies volmaak was.

 

Alfred VailLINKS: Alfred Vail.

 

Krediet: Histories (openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderom)

 

Telegraaf-sleutelVail se ontwerp van die telegraaf-sleutel (soos die een REGS) om die stroombaan te sluit en te onderbreek, het goed aan sy doel beantwoord. Met Morse se geniale ontwerp van ’n nuwe kode waarin elke letter deur kort en lang klikke (punte en strepe op papier) voorgestel is, is die tegniese deel van die stryd gewen. In 1837 het Morse ’n patent vir die telegraaf ingedien, wat hy “The American Recording Electro-Magnetic Telegraph” genoem het.

 

En tog sou daar vir Morse nog ’n lang stryd voorlê—etlike jare van mooipraat, teleurstellings en veg voordat die Amerikaanse regering die telegraaf sou aanvaar en hy toegelaat sou word, en geld kon kry, om ’n telegraaflyn van een stad na die ander te bou. Maar erkenning sou uiteindelik kom.

 

Die eerste openbare boodskap per telegraaf is op 24 Mei 1844 deur Morse in Washington na Vail by die B&O Railroad-“buitedepot” in Baltimore, Maryland, gestuur. Die gekodeerde woorde was “What hath God wrought” (Wat het God nie alles gedoen nie), uit Númeri 23:23 in die ou Engelse Bybel.

 

(Engels, “King James”-vertaling: Surely there is no enchantment against Jacob, neither is there any divination against Israel: according to this time it shall be said of Jacob and of Israel, What hath God wrought!

Afrikaans, 1983-vertaling: Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie, geen waarsêery iets teen Israel nie. Nou word daar oor Jakob, oor Israel gesê: 'Wat het God nie alles gedoen nie!')

 

Die woord “hath” soos dit gekodeerd in verhewe druk op papier ontvang is


BO: Die woord “hath” soos dit gekodeerd in verhewe druk op papier ontvang is (bokant die geskrewe letters wat daarna aangebring is) toe die eerste openbare boodskap per telegraaf op 24 Mei 1844 gestuur is.
 

Krediet: U.S. Library of Congress
 

Hierdie boodskap en die uitvinding van die telegraaf (tele = vér en graaf = skryf) het ongetwyfeld, in daardie tyd, die mees betekenisvolle omwenteling in die kommunikasiewese verteenwoordig sedert die uitvinding van los gegote drukletters.

 

Die spesifieke kode wat Morse ontwikkel het, het weliswaar met verloop van tyd verander, maar dit was hy wat die grondslag gelê het.

 

In die laat jare vyftig van die 1800’s was Morse aktief betroke by die ontwikkeling van die eerste transatlantiese telefoonkabel, wat tussen Newfoundland en Ierland gelê is. Nou was die vastelande van Noord-Amerika en Europa letterlik net ’n klik van mekaar af!

 

Morse se eerste vrou, LucretiaREGS: ’n Portret van Morse se eerste vrou, Lucretia. Hulle het drie kinders gehad.


Krediet: Histories (openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderom)

 

Morse, wat twee keer getroud was (eers met ’n nooi Lucretia Pickering Walker en ná haar dood met Sarah Elizabeth Griswold) het op 2 April 1872, kort voor sy  81ste verjaardag, in sy huis in New York gesterf.  Die telegraafinstrumente het op daardie dag ’n droewige berig uitgetik: S.F.B. Morse is in die vroeë oggend oorlede.

 

Maar aan die mensdom het hy die grootse erfenis nagelaat van kommunikatiewe seine wat naderhand oor die hele aardbol sou blits. Sy apparaat en kode is vandag wel meestal deur meer gesofistikeerde elektroniese instrumente en ander kodes vervang, maar sy nalatenskap is nog deeglik met ons.

 

 Telegraafdrade in die stad New York in die 1880’s

BO: ’n Spinnerakagtige netwerk van telegraafdrade in die stad New York in die 1880’s.

 

Foto: Die broers Brown, hisstories (openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderom)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad