Gedenktekens van allerlei soorte wat verskillende fasette van ons veelbewoë geskiedenis belig

Sodat ons nie vergeet...

Die gedenkteken vir wyle Hector Pieterson in Soweto

BO: Die gedenkteken vir wyle Hector Pieterson in Orlando-Wes, Soweto. Hy en ander jeugdiges is op 16 Junie 1976 doodgeskiet tydens die Soweto-opstand deur swart skoliere.

 

Fotokrediet: Gewysigde weergawe van hierdie foto deur Albinfo (Lars),

wat dit oorspronklik in die Duitse weergawe van die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web gepubliseer het en dit gelisensieer het ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige later weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word. Daarkragtens word kopiëring, verspreiding en/of wysiging vergun mits aan bepaalde voorwaardes voldoen word.

’n Monument en ’n gedenkteken  is gewoonlik dieselfde ding. Met gedenktekens word gewigtige gebeurtenisse, belangrike mense of helde onthou. ’n Monument is eweneens ’n bouwerk wat opgerig is om ’n persoon of persone of ’n belangrike gebeurtenis te huldig, maar dit kan ook ’n struktuur wees wat vir ’n maatskaplike groep of groepe belangrik geword het omdat dit hul erfenis “lewend” hou (soos die Kasteel in Kaapstad). In hierdie artikel word ’n paar van ons land se bekende monumente bekyk. Daar is natuurlik nog etlike belangrikes wat nie hier bespreek word nie, maar wat moontlik in ’n latere artikel aan die beurt kan kom...

Die Hector Pieterson-gedenkteken, Soweto

Skote klap. Die skoliere spat in paniek uiteen. ’n Bloedjong tiener, nog nie eens op die drumpel van volwassenheid nie, syg neer op die ruwe aarde, waar bloed en stof vermeng in die verskriklike chaos. ’n Medeleerling gryp sy slap liggaam en begin hardloop en hardloop. Langs hom hardloop die gewonde se ousussie. Haar oopgesperde hande vertel hul eie verhaal... van volslae skok en wanhoop in ’n verdeelde land met soveel onnoemlike pyn...

•  Let wel, Hector se van is ná sy dood ook Peterson en Pietersen in die pers gespel, maar sy familie dring daarop aan dat dit Pieterson moet wees. Die van was oorspronklik Pitso, maar is deur die familie na Pieterson verander, in die hoop dat hulle as Kleurlinge sou kon deurgaan, wat in die tyd van apartheid op ietwat meer voordele as die swartmense kon reken.

DAAR is na verhouding min monumente en gedenktekens waarin die verlede van die swartmense in Suid-Afrika gehuldig word. Dit is omdat daar voor die afskaffing van apartheid veelal op die geskiedenis van die Afrikaans- en Engelssprekende blankes gekonsentreer is—ook sover dit die oprigting van monumente aangegaan het.

 

’n Gedenkteken wat veral in swart geledere groot emosie gaande maak, is dié vir die twaalfjarige Hector Pieterson. Hector is op 16 Junie 1976 doodgeskiet tydens die Soweto-opstand teen die gedwonge gebruik van Afrikaans in swart skole. Die gedenkterrein met ’n museum daarby is in Orlando-Wes, Soweto, nie ver van die plek waar hy geskiet is nie.

 

Historiese foto by gedenktekenBy die gedenkteken, wat buite die museum staan, is ook ’n vergroting (LINKS) aangebring van ’n aangrypende foto wat indertyd die wêreld ingestuur is. Dit toon hoe die sterwende Hector deur ’n medeleerling gedra word, terwyl Hector se suster langsaan haar hand paniekbevange voor haar uitsteek. Die foto is geneem deur Sam Nzima, destyds ’n fotograaf van die koerant The World in Johannesburg. Hector is daarna in persmotor na ’n nabygeleë kliniek gebring, maar is met sy aankoms dood verklaar.

 

Skoliere het op daardie dag op verskillende plekke regdeur Soweto bymekaargekom met die doel om by die Orlando-Wes-  sekondêre skool te vergader. Die Buro vir Staatsveiligheid, wat in beheer van binnelandse veiligheid was, is onverhoeds betrap. Die polisie is ontbied om die marsjeerders te keer.

 

Hulle het die jong skare beveel om uiteen te gaan en, toe hulle weier, is polisiehonde losgelaat en traangas afgevuur. Joernaliste het later berig dat hulle gesien het hoe ’n polisieman sonder waarskuwing met sy rewolwer op die skare skiet. Ander polisiemanne het ook begin skiet. Hector was een van die jong slagoffers.

 

Die skoliere het simbole van apartheid, soos regeringsgeboue en munisipale biersale, asook die voertuie van blanke ondernemings aan die brand begin steek. Voertuie vir die bestryding van onluste het opgedaag en leërhelikopters het traangas op groepe skoliere afgegooi. Die gevegte tussen skoliere en die polisie het tot in die nag voortgeduur.

 

Toe die dag op 17 Junie breek, sou tonele van uitgebrande motors en vragmotors wat die paaie versper en afgebrande drankwinkels, biersale en gemeenskapsentrums die waarnemers begroet. Nog erger: mense het in die strate doodgelê. Die amptelike dodesyfer was 23—ander het dit so hoog as 200 gestel. Baie honderde mense is beseer.

 

Die Hector Pieterson-Gedenkteken en –Museum is in 2002 geopen. Die Soweto-opstand word vandag deur die histories benadeeldes beskou as ’n simbool van die verset teen ’n onregverdige heerskappy, en 16 Junie is tot Nasionale Jeugdag verklaar om jong mense te vereer.

 

Die gedenkterrein en museum is befonds deur die Department van Omgewingsake en Toerisme, wat R16 miljoen bygedra het, en die Johannesburgse stadsraad, wie se bydrae R7,2 miljoen beloop het. Die plek het intussen ’n groot toeriste-attraksie geword. Daar is in ’n stadium berig dat Hector se suster Antoinette, wat saam met hom op die bekende foto verskyn en destyds sewentien jaar oud was, as toergids by die museum begin werk het.

 


 

Voortrekkermonument

 

BO: Die Voortrekkermonument.

 

Foto deur H Wyer / Kopiereg © South African Tourism, Suid-Afrikaanse Toerisme
  

 

Die Voortrekkermonument,
Pretoria

•  ’n Bondiger beskrywing verskyn in die afdeling “Die monument vir die Voortrekkers” in die Mieliestronk-artikel Verewig in klip

 

DIE Voortrekkermonument by Pretoria wat in 1949 ingewy is, is opgerig om die Groot Trek (1835-1843) in die Afrikaner se geskiedenis te gedenk. Dit ’n imposante granietstruktuur en ons land se grootste gedenkteken. Maar ondanks die haas gewyde eerbied waarmee dit deur talle bejeën word, was dit in die verlede ook al in omstredenheid gedompel toe die ontwerp skerp gekritiseer en as “outyds” bestempel is. Dit is selfs vernederend afgekraak en met iets soos “die kassie van ’n ou draadloos” vergelyk.

 

Ander sê weer dit is in meer as een opsig merkwaardig onder die monumente van die wêreld.

 

Die gedagte om ’n monument te bou om die Voortrekkers te huldig, is reeds in die 1800’s deur pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek (die Transvaalse Boererepubliek) uitgespreek. Die bal is egter eers in 1931 aan die rol gesit toe die sogenaamde Sentrale Volksmonumentekomitee in die lewe geroep is met die doel om uitvoering aan die gedagte te gee.

 

Daar is in Julie 1937 met die bouwerk begin en die monument se hoeksteen is op 16 Desember 1938 gelê. Toe die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 amptelik ingewy is, het Afrikaners in hul menigtes van wyd en syd oor die land na Pretoria gestroom vir die plegtigheid.

 

Dit het sowat £360 000 gekos om die monument te bou. Die Suid-Afrikaanse regering het die meeste daarvan betaal.

 

Die argitek was Gerard Moerdijk (1890-1958), die Suid-Afrikaans-gebore seun van ’n Nederlandse immigrant. Moerdijk het in sy loopbaan ook meer as tagtig opdragte vir kerkgeboue ontvang, terwyl die Reserwebank in Bloemfontein en die Merensky-biblioteek (Universiteit van Pretoria) onder sy ander argitektoniese prestasies tel.

 

Sy ontwerp vir die Voortrekkermonument is met E.C. Pienaar en A.C. Bouman se ontwerp van ’n Voortrekkerlaer gekombineer. Binne ’n laer van 64 ossewaens staan die monument sowat 40 meter hoog, met ’n basis van 40 meter by 40 meter.

 

Moerdijk het, volgens die biograaf J.C. Steyn, self vertel hoeveel hy geleer het van die bouers van bouwerke van Afrika soos die Zimbabwe-ruïnes. Hy het hul tegniek bewonder en later in sy bekendste bouwerke soos die Voortrekkermonument toegepas.

 

Die gebou toon nietemin ’n sterk argitektoniese ooreenkoms met Duitse monumente, veral die Völkerschlachtdenkmal in Leipzig (wat op 91 meter die hoogste monument in Europa is).  

 

VölkerschlachtdenkmalREGS: Die Völkerschlachtdenkmal (Geveg-van-die-Nasies-monument) in Leipzig, in die Duitse deelstaat Sakse. Die Voortrekkermonument toon ’n sterk argitektoniese ooreenkoms  met die Völkerschlachtdenkmal.

 

Foto deur Webster,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge
die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige later weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word. Daarkragtens word kopiëring, verspreiding en/of modifisering vergun mits aan bepaalde voorwaardes voldoen word.  


 

Die twee belangwekkendste besienswaardighede binne-in die Voortrekkermonument is die Geskiedkundige Fries en die Senotaaf.

 

Deur die hoofingang betree die besoeker die 30 meter hoë gewelfde Heldesaal, waarvan die mure bedek is met 'n fries van 27 terrazzowerke. Dit beeld die geskiedenis van die Groot Trek uit met verwysings na die Voortrekkers se daaglikse lewe en handelinge. In die middel van die vloer van die Heldesaal is ’n groot ronde opening waardeur die Senotaaf in die Senotaafsaal gesien kan word.

 

Die Senotaaf in die middel van die Senotaafsaal is veral om een rede besonder interessant. Elke jaar om twaalfuur op 16 Desember skyn ’n sonstraal deur ’n opening in die gewelf aan die bokant van die gebou en val dit in die middel van die Senotaaf op die woorde “Ons vir Jou, Suid-Afrika”. (Die sestiende dag van Desember—tans Versoeningsdag—is vroeër Geloftedag en nog vroeër Dingaansdag genoem en in ere gehou. Dit was om die Voortrekkers se gelofte gestand te doen om dit as ’n dankdag te vier indien hulle die Zoeloe-magte van Dingaan sou verslaan—wat dan ook op 16 Desember 1838 by Bloedrivier gebeur het.)

 

Die Senotaafsaal is met die vlae van die Boererepublieke versier en bevat muurtapisserieë en verskeie vertoonkaste met artefakte van die Groot Trek. Teen die noordelike muur is ’n naaf met ’n lantern wat sedert 1938 brandend gehou word toe die Simboliese Ossewatrek gehou is.  Om die Groot Trek van honderd jaar vroeër te gedenk, was daar in 1938 weer verskillende geselskappe wat met ossewaens deur die land getrek het en daarom is dit die Simboliese Ossewatrek genoem. Ontleders sê hierdie eeufees het ’n besondere rol gespeel om die Afrikaners as ’n volk te herenig. Die wawiele het sinnebeeldig op die spore van die Voortrekkers voortgerol na Monumentkoppie in Pretoria, waar die fondamentsteen van die Voortrekkermonument gelê is.

 


 

 Vrouemonument

 

BO: Die Vrouemonument.

Foto: Kopiereg © Leo Koolhoven,
met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com. Besoek Leo Koolhoven se indrukwekkende foto-album op flickr by
hierdie skakel.

 

Die Nasionale Vrouemonument,
Bloemfontein

•   Lees ook Mieliestronk-artikel Naald van onreg

 

DIE Nasionale Vrouemonument, wat op 16 Desember 1913 onthul is, gedenk die tragedie van sowat 26 000 Afrikanervroue en -kinders wat enkele jare tevore in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gesterf het. Die Britse militêre se drastiese plan om die voortslepende oorlog te beëindig, was om die Boere se plase af te brand en hul vroue, kinders,  bejaarde mans en werkers kamma “vir hul eie beskerming” in konsentrasiekampe aan te hou. Die haglike omstandighede daar het tot die dood van duisende gelei.

 

Eers veel later sou besef word hoeveel swartmense ook as gevolg van die oorlog oorlede is—en die monument staan vandag eweneens as ’n somber herinnering aan die lyding in alle konflikte wat met brute geweld besleg is sonder om onskuldiges in ag te neem.

 

Nadat  Marthinus Theunis Steyn, gewese president van die Vrystaat, die oproep gedoen het dat ’n monument opgerig moet word ter nagedagtenis van die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe dood is, is in Februarie 1907 op ’n konferensie in Bloemfontein besluit om £10 000 vir die oprigting van ’n gedenknaald in te samel. Die hoogs verarmde Afrikanervolk het gereageer ondanks die geringe middele tot sy beskikking en vier jaar later was meer as die vasgestelde bedrag bymekaar.

 

Die beeldhouer Anton van Wouw en die argitek Frans Soff het opdrag gekry om die ontwerp uit te voer wat hulle voorgelê het.

 

Indrukwekkend in sy eenvoud, is die Nasionale Vrouemonument ’n 37 meter hoë obelisk (gedenknaald) van sandsteen aan die suidekant van Bloemfontein, met historiese panele weerskante op die voetstuk en twee halfmaanvorige uitbousels wat ’n ringmuur na voor vorm.

 

Aan die voorkant van die naald is die roerende beelde van twee vroue, een wat ’n sterwende kind vashou. Die as van die Britse skryfster en filantroop Emily Hobhouse (1860-1926), wat soveel vir die lydende Boerevroue beteken het, rus in ’n urn in die basis van die naald.

 

Daar is ook enkele grafte binne die ringmuur, onder meer dié van pres. M.T. Steyn, wat in 1916 oorlede is kort nadat hy ’n toeval gekry het terwyl hy besig was om ’n kongres van die Oranje-Vrouevereniging toe te spreek. Ook genl. Christiaan de Wet, wat hom besonder onderskei het in die Boere se beweeglike guerrillastryd teen die Britte, is hier aan die voet van die Vrouemonument begrawe.

 


 

 Rhodes-gedenkteken

 
BO: Die Rhodes-gedenkteken.

 

Foto deur Don Bayley,
wat dit tot openbare besit verklaar het (“donated to the public domain)

 

Die Rhodes-gedenkteken,
Kaapstad

 

LINKS: Cecil John Rhodes.

 

DIE Rhodes-gedenkteken is opgerig ter ere van Cecil John Rhodes (1853–1902), Brits-gebore sakeman, mynmagnaat en politikus, wat in sy leeftyd ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het. Hy was onder meer eerste minister van die Kaapkolonie (vandag die provinsies Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap) en die stigter van die internasionaal belangrike diamantmaatskappy De Beers. Hy is indertyd as een van die rykste mense op aarde beskou.

 

Rhodes wou die Britse Ryk uitbrei omdat hy geglo het dat die Angel-Saksiese ras (die Engelse) tot grootheid bestem was. Dit was sy droom dat die Britse vlag van die Kaap tot Kaïro moes wapper. Vanselfsprekend moes die Boererepublieke van die Vrystaat en Transvaal dus ook onderwerp word.

 

Rhodes was die grondlegger van Rhodesië (later Noord-Rhodesië en Suid-Rhodesië; die laasgenoemde het nog later self bloot Rhodesië geword en vandag is die twee lande onderskeidelik Zambië en Zimbabwe). Die Rhodes-universiteit in Grahamstad is na Rhodes genoem, asook die Rhodes-studiebeurs, wat uit sy boedel befonds word.

 

Die Rhodes-gedenkteken is teen Duiwelspiek in Kaapstad opgerig, in ’n deel van die Kaap waar Rhodes groot dele grond besit het waarvan hy die meeste as erflating aan die nasie bemaak het. Dit staan op die plek waar Rhodes ’n houtbank gehad het van waar hy na Tafelbaai in noorde, Valsbaai in die suide en die Hottentotsholland-berge in die ooste kon tuur.

                 

Die argitek van die gedenkteken was sir Herbert Baker, die bouwerk het in 1906 begin en dit is in 1912 amptelik aan Rhodes opgedra.

 

Die gedenkteken, gebou met Kaapse graniet wat op Tafelberg uitgegrawe is, het ’n tempelagtige vorm en is sonder ’n bepaalde funksie ontwerp, behalwe dat dit die besoeker tot heroïese denke en patriotiese emosie moes aanspoor.  Altesaam 49 trappe, een vir elke jaar van Rhodes se betreklik kort lewe, lei op tot ’n U-vormige monument van pilare, met ’n borsbeeld van Rhodes deur John Macallan Swan.

 

Aan die onderpunt van die stel trappe is ’n brons standbeeld van ’n ruiter en perd, genaamd Energy, wat deur George Frederic Watts gebeeldhou is. Agt bronsleeus, ook deur John Macallan Swan, pryk op die granietrelings weerskante van die trappe.

 


 
Die Hugenote-monument,
Franschhoek

•   Lees ook Mieliestronk-artikel Die Hugenote—hul belangrike erflating in SA

  
 

Hugenote-monumentREGS: Die Hugenote-monument.

 

Foto deur Walter Knirr /
Kopiereg © South African Tourism, Suid-Afrikaanse Toerisme

 

DIE Hugenote-monument op Franschhoek gedenk die Franse immigrante wat hulle veral 1688-’89, maar ook daarvoor en daarna,  aan die suidpunt van Afrika kom vestig het en wie se nasate baiemaal so ’n belangrike rol in ons geskiedenis gespeel het en hulle tot vandag toe laat geld. Afrikaners met vanne soos Du Toit, Du Plessis, Celliers, Rousseau, De Villiers, Roux, Joubert, Le Grange, Jordaan, Theron, ens. is almal van hul afstammelinge.

 

Die Hugenote-monument is op 7 April 1948 ingewy. Nadat mense gevra was om ontwerpe vir die beoogde monument voor te lê, is die eenvoudige maar treffende ontwerp van J.C. Jongens, ’n Nederlandse immigrant, aanvaar. Die drie hoë boë van die monument stel die Goddelike Drie-Eenheid voor—die Vader, Seun en Heilige Gees. Daar bo-op is die son van geregtigheid met op die bopunt die kruis wat die Hugenote se Christelike geloof voorstel.

 

Die beeld van die sentrale vrouefiguur is deur befaamde Suid-Afrikaanse beeldhouer Coert Steynberg geskep. Sy versinnebeeld godsdiensvryheid deurdat sy ’n Bybel in haar een hand en ’n gebreekte ketting in haar ander hand vashou.

 

Die Hugenote wat hier gehuldig word, was minder as 200, slegs ’n Gideonsbendetjie as ’n mens hulle vergelyk met die meer as 400 000 Franse Hugenote wat vanweë hul Protestantse godsdiens vervolg is, uit Frankryk gevlug het en hulle elders ter wêreld gevestig het. Maar vir die jong Kaapse nedersetting was die sowat 200 destyds ’n aansienlike groep.

 


 

Die Afrikaanse Taalmonument, Paarl

 

Suile van die Afrikaanse TaalmonumentREGS: Suile van die Afrikaanse Taalmonument.

 

Foto deur Chell Hill,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons Attribution 2.5-lisensie, wat vrye gebruik vergun mits die nodige erkenning gegee word.


 

DIE Afrikaanse Taalmonument, teen die suiderhang van Paarlberg in die Boland-streek van die Wes-Kaap, is op 10 Oktober 1975 amptelik onthul. Dit gee erkenning aan die kleurryke wortels van Afrikaans en die mense wat die taal praat.

 

Die Paarl was die aangewese plek om só ’n monument op te rig, omdat die stryd hier begin het om Afrikaans as skryf- en kultuurtaal te vestig. Hoewel die taal reeds lank in Suid-Afrika gepraat is nadat dit in die latere 1600’s en vroeë 1700’s hier uit Nederlandse dialekte ontstaan het en ook deur ander invloede gevorm is, wou baie mense eenvoudig nie aanvaar dat dit ’n afsonderlike taal is nie. Vir hulle was dit eerder ’n “agterlike” dialek.

 

’n Klompie begeesterde Paarliete sou egter die aanvoorwerk doen om die teendeel te bewys en te toon dat Afrikaans nie terug hoef te staan vir enige ander taal as dit by seggenskrag en die verwoording van edel gedagtes kom nie. Lees meer hieroor in die Mieliestronk-artikel oor die oorsprong van Afrikaans.

 

Die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl self was die huis waarin die veldtog op 14 Augustus 1875 sy beslag gekry het om Afrikaans uiteindelik as volwaardige letterkundige, wetenskaplike en teologiese taal erken te kry. Byna presies ’n eeu daarna is die Afrikaanse Taalmonument onthul. Die onthulling was ook ’n halfeeu ná die amptelike erkenning van die Afrikaanse taal in Suid-Afrika in 1925.

 

Die argitek Jan van Wijk (1926-2005) is in sy ontwerp deur die bergterrein geïnspireer, asook deur wat twee beroemde Afrikaanse skrywers oor Afrikaans te sê gehad het.

 

C.J. Langenhoven het naamlik in 1914 reeds die opgang van Afrikaans as skryftaal vergelyk met ’n ry pale wat ’n snelstygende boog beskryf. Vir N.P. van Wyk Louw was Afrikaans weer onder meer “die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit die twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika...”

 

Die monument bestaan gevolglik uit groter wordende suile en holvormige en bolvormige strukture wat die verskillende invloede op Afrikaans versinnebeeld.  Die Europese oorsprong, die Afrika-invloede en die Maleise taal en kultuur word betrek, terwyl die Republiekwording van Suid-Afrika in 1961 en die Afrikaanse taal self ook in die simboliek verteenwoordig word.  Die argitek het destyds in sy openingstoespraak gesê: “Hierdie is nie ’n monument vir mense nie, hierdie is ’n lewende simbool vir ’n lewende taal, Afrikaans.”

 

Dr. Ben Ngubane, gewese minister van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie, het die monument in September 1994 in die geselskap van die argitek, Jan van Wijk, besoek. Nadat Van Wijk die inklusiewe simboliek daarvan aan Ngubane verduidelik het, het dié gesê hy hoop dat dit eendag die Taalmonument vir alle Suid-Afrikaners sal word. Dit spreek boekdele van ’n struktuur wat in die verlede al so neerhalend ’n monument vir die Afrikaner-nasionalisme genoem is eerder as ’n monument vir die Afrikaanse taal.

 


 

 1820-Setlaarsmonument en die standbeeld van ’n setlaarsgesin wat by die ingang staan

LINKS BO: Die 1820-Setlaarsmonument met die standbeeld van ’n setlaarsgesin (REGS BO) wat by die ingang tot die monument aangebring is.

 

Foto links bo met dank oorgeneem uit die webtuiste van Makana Tourism, 63 High Street, Grahamstown 6139. Webtuiste: www.grahamstown.co.za

Foto regs bo deur Kleinz1 (Clive Reid),
wat ’n groter weergawe daarvan op
hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web gepubliseer en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution-Non-Commercial-No Derivative Works 2.0 Generic-lisensie. Clive Reid se foto-album is op flickr by hierdie skakel.

 

Nasionale 1820-Setlaarsmonument,
Grahamstad

 

DIT moes geen gedenkheiligdom wees nie. Ook nie ’n monument wat groepsbelange sou bevorder of vyandskap laat voortbestaan nie. Só is besluit toe besin is oor die oprigting van ’n monument ter ere van die sowat 4000 setlaars van Brittanje wat hulle in 1820 in die Oos-Kaap kom vestig het en wie se nasate deur die jare so ’n groot rol in Suid-Afrika gespeel het.

 

Die oogmerk met die monument was om ’n konferensie-, opvoeding- en kulturele sentrum daar te stel, wat nie slegs een groep sou bevoordeel nie, maar die opvoedkundige en kulturele ontwikkeling van alle bevolkingsgroepe sou bevorder.

 

In hierdie doel het 1820 Foundation, die liggaam wat vir die 1820-Setlaarsmonument verantwoordelik is, kennelik geslaag, want sedert sy opening op 13 Julie 1974 is dit ’n vergaderplek vir baie soorte aanbiedings en opvoerings.

 

Nie die minste nie is die monument, wat as ’n “lewende monument” bestempel word, heg gekoppel aan die jaarlikse Nasionale Kunstefees, wat sommer ook bloot die Grahamstad-fees genoem word. Feitlik alle vergaderplekke in Grahamstad word gedurende die fees gebruik, maar die monument is die sentrum en anker.

 

Die monument is herbou ná ’n verwoestende brand in 1994, en dit is in 1996 weer in gebruik geneem.

 

Die sogenaamde 1820-setlaars wat daarmee vereer word, was groepe Britse koloniste wat deur die Britse regering en die Kaapse koloniale owerheid aan die Oos-Kaap gevestig is, onder meer om die Kaapkolonie se oosgrens teen die Xhosas aan die ander kant van die grens te verdedig. Dit was een van grootste Britse vestigings in Afrika.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad