Martin Luther King jr.: die kort maar gebeurtenisryke lewe van
’n menseregte-ikoon

 

‘Ek het ’n droom…’
 

Martin Luther King in 1964

 

BO: Martin Luther King in 1964, vier jaar voor sy dood.

Foto tot openbare besit verklaar (“released into the public domain”) deur US News & World Report Magazine / Versameling in U.S. Library of Congress (foto ietwat deur ons gewysig)

    Hy was maar net 33 jaar oud toe hy druk op die destydse Ameri­kaanse president, John F. Kennedy, uitgeoefen het in die stryd om volle burgerregte vir al die swartmense in die VSA te verkry. Op 34 het hy sy land se mense laat regop sit met sy “Ek het ’n droom”-toe­spraak. Toe hy 35 was, is hy met die Nobelprys vir Vrede vereer. Op 39-jarige leeftyd is hy deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet. Maar watter vol lewe het hierdie man nie gelei en wat het hy nie alles nagelaat nie…

    King se tragiese vroeë dood het ongetwyfeld meegehelp om hom tot sy onaantasbare ikoonstatus te verhef.  Op die wêreldtoneel het hy nietemin so ’n belangrike invloed uitgeoefen—nie die minste nie op die stryders teen apartheid in Suid-Afrika—dat dit noodsaaklik is dat ons hom ook as ’n vermeldingswaardige figuur in ons eie geskiedenis sal beskou.

 

LET WEL: Hierdie artikel is ’n feitelike lewensbeskrywing van ’n historiese figuur in die stryd om menseregte van wie leerders in die geskiedenis moet kennis neem. Geen politieke bymotiewe van enige aard was in die spel toe die artikel geskrywe is nie en geen sulke motiewe moet daarin ingelees word nie.

“E

K het ’n droom dat hierdie nasie eendag sal opstaan en die ware betekenis sal uitleef van sy belydenis: ‘Ons ag hierdie waarhede as vanselfsprekend, dat alle mense gelyk geskape is.’

 

“Ek het ’n droom dat my vier kindertjies eendag in ’n land sal woon waar hulle nie na die kleur van hul vel geoordeel sal word nie, maar na die inhoud van hul karakter.

 

“Ek het ’n droom dat die seuns van gewese slawe en die seuns van gewese slawe-eienaars eendag op die rooi heuwels van Georgia in staat sal wees om saam aan ’n tafel van broederskap te gaan sit...

 

Dr. Martin Luther King jr. se passievolle toespraak op daardie dag van 28 Augustus 1963 op die trap van die Lincoln-gedenkteken in Washington, D.C., word vandag steeds dikwels beskou as een van die gedenkwaardigste redes in die mens se geskiedenis.

 

Gehou voor meer as 200 000 ondersteuners van burgerregte in die Amerikaanse hoofstad, staan sy toespraak—waarin hy om rassegelykheid en die beëindiging van diskriminasie gevra het—steeds soos ’n verligte baken uit in die veelbewoë verhaal van die Amerikaanse Beweging vir Burgerregte.

 

Dit is dan ook die aktivis King se vernaamste nalatenskap dat hy soveel stukrag  aan die stryd om gelykheid vir swartmense in die VSA verleen het. Daar word vandag dikwels na hom as ’n ikoon vir menseregte verwys, en twee Christelike kerke erken hom as ’n martelaar.

 

Toe Barak Obama in November 2008 tot die eerste swart president van Amerika verkies is, was daar die algemene gevoel dat die groot droom van Martin Luther King uiteindelik bewaarheid is...

 

King lewer sy beroemde “Ek het ’n droom”-toespraak

BO: Martin Luther King lewer sy beroemde “Ek het ’n droom”-toespraak.

 

Foto:  U.S. Information Agency, ’n liggaam van die Amerikaanse sentrale regering wat nie meer bestaan / foto in openbare besit (“public domain photo”)

 

MARTIN LUTHER KING JR. (1929-1968) is in Atlanta, Georgia, diep in die Amerikaanse Suide gebore—dié deel van die VSA waarin daar nog lank vasgeklou is aan die oorblyfsels van die wrange praktyk van die verslawing van gevange Afrikane. Hierdie swart slawe is in ’n vorige tyd letterlik soos diere in Afrika aangekeer en per skip na die Nuwe Wêreld gebring waar hulle onder meer op die katoenplantasies gewerk het. Hoewel slawerny lankal afgeskaf was, het King, as die afstammeling van ’n slaaf, tog van kleins af ervaar wat diskriminasie en afsondering beteken omdat hy swart was.

 

Hy is by sy geboorte Michael King jr. genoem, na sy pa, die senior M.K., maar die ouere King het sy eie naam en sy seun s’n later na Martin Luther laat verander. Dit was ná ’n besoek in 1934 aan Europa, onder meer Duitsland, dat King sr. besluit het om die beroemde ou Reformis op hierdie wyse te vereer.

 

Die “oorspronklike” Martin Luther was natuurlik die bekende Duitse geestelike van die veertien-, vyftienhonderds wat die gang van die Westerse geskiedenis dramaties verander het deurdat hy die Hervorming of Reformasie geïnisieer het. Die het daartoe gelei dat die sogenaamde Protestante van die magtige Rooms-Katolieke Kerk weggebreek het.

 

Etlike eeue later het die Amerikaanse swartman Martin Luther King jr., wat self in ’n Christelike huis grootgeword het, in die teogologie gestudeer, ’n prediker geword en in 1955 sy doktorsgraad in die filosofie van die Boston-universiteit ontvang. Hy het in die voetspore gestap van sowel sy pa as sy oupa wat ook pastore van die Baptistekerk was.

 

King het in Boston kennis gemaak en in 1953 getrou met Coretta Scott (1927-2006), ’n jong vrou met besondere intellektuele en artistieke talente, en twee seuns en twee dogters is uit die huwelik gebore.

 

artin Luther King jr. en sy vrou, Coretta Scott King, in 1964

Die weduwee King in latere jareBO: Martin Luther King en sy vrou, Coretta Scott King, in 1964. LINKS is die weduwee King soos sy in latere jare afgeneem is. Sy was ’n vurige teenstander van die apartheidsregering in Suid-Afrika en het selfs by pres. Ronald Reagan aangedring om ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika goed te keur.

Foto bo  U.S. Library of Congress. Foto onder: U.S. White House Photo (ietwat deur ons gewysig)
   

 

 

 

 
In 1954 het Martin Luther King jr. ’n pastoor van die Dexter Avenue Baptist Church in Montgomery, Alabama, geword. Reeds ’n prominente figuur in die stryd vir die regte van swartmense, aanvaar hy in Desember 1955 die leierskap van die eerste groot nie-geweldadige “Neger”-betoging van die moderne tyd in Amerika, te wete die busboikot wat in Montgomery begin het.

 

In Desember van die volgende jaar, nadat die hoogste hof in die land die wette ongrondwetlik verklaar het wat rasseskeiding in busse in Montgomery en die staat Alabama afgedwing het, het swartmense en blankes as gelykes saam in die busse gery. Ten tyde van die boikot, wat langer as ’n jaar geduur het, is King in hegtenis geneem, sy huis is gebombardeer en hy is aan persoonlike beledigings onderwerp. Maar volgens waarnemers het hy as leier eenvoudig sterker anderkant uitgekom.

 

In 1957 is hy tot voorsitter van die Southern Christian Leadership Conference verkies, ’n organisasie wat in die lewe geroep is ten einde nuwe leiding vir die nou bloeiende beweging vir gelyke burgerregte te bied. Die ideale vir sy organisasie het hy op Christelike beginsels gegrond. Die operasionele tegnieke daarvan is oorgeneem van Mahatma Gandhi (1869-1948), die “Groot Siel” van Indië, wat hom met ’n filosofie van lydelike verset en geweldloosheid in ’n ander stryd teen rassisme en kolonialisme onderskei het. King het self geweldlose optrede soos sitbetogings en protesmarse voorgestaan.

 

In die tydperk van elf jaar tussen 1957 en 1968 het hy by die tien miljoen kilometer gereis en meer as 2500 toesprake gehou. Volgens een bron sou hy oral gepraat het waar daar onreg, protes en aksie was. Intussen het hy vyf boeke asook talle artikels geskryf.

 

In hierdie jare het hy onder meer ’n reuse-protesaksie in Birmingham, Alabama, gelei, asook die enorme vredesmars na Washington toe hy sy geskiedkundige “Ek het ’n droom”-toespraak gehou het. Hy is meer as twintig keer gearresteer en minstens vier keer aangerand. Vyf eregrade is aan hom toegeken, terwyl die tydskrif Time hom in 1963 as Man van die Jaar vereer het. King het nie net die simboliese leier van die Amerikaanse swartmense geword nie, maar ook ’n wêreldfiguur.

 

OP 35-jarige leeftyd het Martin Luther King jr. die jongste man geword wat nog die Nobelprys vir Vrede ontvang het. Toe aan hom vertel is dat hy die prys gewen het, het hy aangekondig dat hy die prysgeld van $54.123 sou skenk om die beweging vir burgerregte te bevorder.

 

Die aand van 4 April 1968 hy op die balkon van sy motelkamer in Memphis, Tennessee, gestaan waar hy ’n protesmars sou lei uit meegevoel met stakende vulliswerkers van daardie stad wat beswaar gemaak het teen hul lae lone en slegte werkstoestande. ’n Sluipmoordenaar het hom net daar op die balkon doodgeskiet.

 

Ná ’n noodoperasie is King om vyf minute oor sewe in die St. Joseph’s Hospital dood verklaar. Volgens die lewensbeskrywer Taylor Branch is in ’n nadoodse ondersoek bevind dat, hoewel hy maar net 39 jaar oud was, hy fisies die hart van ’n man van sestig gehad het. Die afleiding is gemaak dat dit miskien die gevolg was van sy jarelange spanningsvolle lewe as leier in die stryd om burgerregte.

 

Die polisie in Memphis is aangesê om op die uitkyk te wees vir ’n “goed geklede” blanke man, wat glo ná die enkele skoot ’n outomatiese vuurwapen laat val en in ’n blou motor ontsnap het.

 

James Earl Ray, ’n gewoontemisdadiger, is weens die sluipmoord op King aangekeer, deur die hof skuldig bevind en tot 99 jaar tronkstraf gevonnis. In 1998 is Ray in die gevangenis dood aan komplikasies wat met nierprobleme verband gehou het.

 

King se tragiese vroeë dood het ongetwyfeld meegehelp om hom tot sy onaantasbare ikoonstatus te verhef.  Op die wêreldtoneel het hy nietemin so ’n belangrike invloed uitgeoefen—nie die minste nie op die stryders teen apartheid in Suid-Afrika—dat dit noodsaaklik is dat ons hom ook as ’n vermeldingswaardige figuur in ons eie geskiedenis sal beskou.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad