Stille sand, diep en sag... onder hou die 'duiwel' wag!

In die kuil van die mierleeu
   
’n Bedrywige mier skarrel ylings voort na sy nes—terug langs dieselfde sand-roete wat hy ’n tydjie gelede gevolg het om ’n moontlike kosbron te inspekteer. Maar intussen het ’n lastige sandkuil in sy pad ontstaan… en die mier besluit om kortpad daardeur te kies. Min weet hy van die nagmerrie wat reg onder in die kuil op hom wag…
   

SEM-beeld van mierleeu-larwe

BO: ’n Effense verkleuring van ’n skandeer-elektron-mikroskopiese beeld van ’n mierleeu-larwe. Hierdie harige goggabie verteenwoordig net een van die nagenoeg 2000 mierleeu-spesies wat op die aarde voorkom.

Krediet: Janice Haney Carr, CDC / Paula Smith / Public domain image (gewysig)
  

Mierleeu-larwe—die eintlike "leeu"HEEL MOONTLIK het jy dit al meermale

 gesien—daardie tregtervormige

gaatjies in die sand of stof in die veld, wat vir ’n dwalende miertjie of ander insek ’n dodelike valstrik kan wees.

Sodra ’n niksvermoedende goggatjie in die kuiltjie ingeloop het, kom hy nie sommer weer daaruit nie. Hy trap-trap hier en kriewel daar, maar die ronde sandwalletjie bly op hom intuimel.

En terwyl hy nog so spook, ontpop die kloue van ’n meedoŽnlose klein verskrikking van onder uit die sand-tregter. Die prooi word blitsvinnig vasgegryp. Hierna word sy liggaamsvloeistowwe uitgesuig totdat slegs die doppe of dekskild oorbly.

Geen wonder die venynige roofinsek word die mierleeu genoem nie.

Wat seker heelwat minder bekend is, is dat die bekende mierleeu bloot die larwe van ’n vlieŽnde insek is. En dat die volwassenes nogal baie soos naaldekokers lyk! In die Karoo, byvoorbeeld, is daar boonop baie soorte mierleeus, kleintjies sowel as grotes, spesies met gevlekte vlerke en ander met glashelder vlieserige vlerkies.

Dog die mens se geboeidheid bly maar eintlik by hierdie insek in sy larwestadium. Kyk maar net hoe grawe hy sy slagoffer se doodsput deur agteruit in ’n sirkel te beweeg. Om en om gaan hy Šl dieper in die grond in, terwyl die spiraal Šl smaller raak en hy oortollige sand met sy kop buitentoe uitwerp.

Sodra die tregter voltooi is, lÍ hy dan vlak onder die sand en wag...

Wat baie eienaardig van die tregterbewoners is, is dat hulle baie lank sonder kos kan klaarkom. Dit kan ’n mierleeu-larwe baie maande of selfs jare kos om tot ’n volwassene te ontwikkel.

Sy lyf, wat met stywe borselhare bedek is, bied hom die nodige houvas in die sand. En pleks van ’n mond het sy sekel-agtige kake smal gleufies aan die binnekant waardeur die slagoffer se liggaamsappe beweeg.

As jy graag wil sien hoe hierdie vraatsugtige kÍrel lyk, kan jy in droŽ, sanderige grond na een van sy putjies gaan soek. Blaas dan die sandwande van die putjie versigtig met ’n strooitjie weg—en daar is ta! 

Die mierleeu ondergaan ’n volledige metamorfose—van eier tot larwe tot papie tot volwassene. Die eiertjie is piepklein. Die larwe wat sy verskyning daaruit maak, is die eintlike "leeu". Hy vreet miertjies en al sulke diertjies totdat hy volgroeid is en dan begin hy spin, nogal deur middel van sy anus, totdat hy geborge aan die binnekant van ’n sykokon as ’n papie tot rus kom. Nou vind die groot metamorfose plaas. Wanneer hy uiteindelik weer sy verskyning buite maak, lyk hy nie meer naastenby soos die gulsige larwe wat die miere se moses was nie.

Maar nou kan hy sy jagtog op insekte voortsit—in die lug, want nou kan hy vlieg! Soos gesÍ, herinner hy ’n mens aan ’n naaldekoker. Sy lyf is ook skraal en hy het lang netvlerke, maar hy kan maklik van die naaldekoker onderskei word deurdat hy twee groot voelers op sy kop het. ’n Mens kan omtrent nie ’n naaldekoker se voelers met die blote oog sien nie. Klik hier vir ’n foto van ’n regte naaldekoker (foto in openbare domein). Klik dan net op die terugpyltjie in jou gewel om hierheen terug te keer.

En anders as die naaldekoker is die volwasse mierleeu se vlug baie swak en rukkerig. Terwyl ander vlieŽnde insekte se borskas ’n stewige kapsule vorm met goeie anderplek vir die vliegspiere, is die mierleeu se borssegmente los en beweeglik. Die bring mee dat sy vlerkslag stadig is.

Sy vlerke beweeg ook nie saam soos by die meeste ander insekte nie. Die mierleeu se voorvlerke beweeg op wanneer die agterste afgaan en omgekeerd.

Mierleeus het veral die kinders van vorige geslagte gefassineer, omdat diť in veel meer landelike omstandighede grootgeword as vandag s’n. In Afrikaans het die mierleeu selfs ander name— joerie, joelie, kiepie of kokkewiet— wat nie meer so dikwels gehoor word nie.

Die naam joerie is nietemin lewend gehou in ’n volksrympie, wat kinders gedreunsing het terwyl hulle met ’n stokkie in ’n mierleeu se sandgaatjie gekrap en hom probeer uitlok het om sy verskyning te maak:

Joerie, Joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood.


Soos ’n mierleeu-kenner dit dan ook stel: ''Die bekoring wat mierleeus vir mense het, is universeel. Baie van ons leer as kinders van mierleeus, en ons herinneringe aan hierdie geheimsinnige kreatuurtjies is onuitwisbaar. In die stories wat ons as volwassenes vertel, onthou ons weer wat ons as kinders waargeneem het, en baie van hierdie verhale het duidelik herkenbare temas van onskuld, ontdekking en selfs moraliteit.''

Om Salomo so effens anders te parafraseer: Gaan na die mierleeu en word wys...


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad