Al die giere van

die miere...

BO: Hierdie mier is kriek se tier! ’n Valdeurkaakmier (Odontomachus bauri) van Costa Rica is op die punt om ’n jong kriekie te vang en te verorber. Valdeurkaakmiere is karnivoriese roofmiere en verskillende soorte word regoor die wêreld in die trope en subtropiese gebiede gevind. Hulle is bekend vir hul ongewone kake wat eensklaps kan toeklap wanneer ’n weerlose prooi daarin beland.

Foto met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com: © Alex Wild van myrmecos.net <http://www.myrmecos.net/index.html>

•   Klik hier vir ’n artikel elders oor miere wat sampioene kweek plus ’n baie interessante vertelling oor die wonderlike kommunikasie tussen miere in ’n miernes.



Is miere “skrander?”
Nie rêrig nie. Hulle tree op volgens instink en kan geen probleem buite hul gewone doen en late oplos nie. Maar praat van fluks en voorspoedig wees!


 

K

INDERS met miere is alte lastig—wilde en woelige ondeugde wat hul ouers teen die mure laat uitklim. Maar om die mier darem in een asem met deugdeloosheid te noem, is iets wat koning Salomo in al sy wysheid seker nooit sou gedroom het om te doen nie. Hy het immers geweet hoe fluks en toegewyd ’n mier is.

 

Gaan na die mier, luiaard, vermaan hy in die Spreukeboek, kyk hoe hy werk, en leer by hom. (Spreuke 6:6, 1983-vertaling.)

 

Die eerste insektekundiges wat miere bestudeer het, het dan ook ’n byna menslike verstandsvermoë aan hierdie vlytige gediertetjies toegedig.

 

Maar latere navorsing het getoon dat hul oënskynlike “skranderheid” die gevolg van chemiese kommunikasie is. Hulle tree op volgens instink en kan geen probleem buite hul gewone doen en late oplos nie.

 

Hulle weet nietemin hoe om hoogs voorspoedig te lewe!

 

 

BO: “Pst, pst, hoor hier ou maat. As jy presies 70 miere-tree reguit oos loop en dan 44 grade na die linkerkant toe swenk, sal jy ná 36 miere-tree by ’n lekker soet vruggie uitkom.”  Hierdie twee groen boommiere is blykbaar besig om inligting uit te ruil, maar die kommunikasie is instinktief en nie eens naastenby vergelykbaar met menslike spraak nie. Miere deel hul kos met “soene” en in dié proses word klieruitskeidings ook omgeruil. Só word chemikalieë versprei, waardeur die saamhorigheid in die nes gevestig word, terwyl indringers herken en buite gehou word. Die eiers en larwes van miere word ook aanhoudend gelek en die koningin gedurig strelend versorg.

 

 Groen boommiere (Oecophylla smaragdina) is groot miere wat in die trope van Afrika, Australië en Asië voorkom en, soos hul naam aandui, in bome woon. Een kolonie kan uit tientalle neste in verskeie bome bestaan.

Foto met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com: © Alex Wild van myrmecos.net

 

Die kolonie

ALLE miere op aarde—teen die jongste eeuwisseling was sowat 10 000 spesies al beskryf—is sosiaal en die meeste word deur een of meer koninginne geregeer. ’n Miernes kan ’n eenvoudige gaatjie in die grond wees met minder as ’n dosyn gesinslede tot ’n reusagtige grondhoop met meer as twintig miljoen miere.

 

’n Mieregemeenskap is al vergelyk met ’n kommunistiese stelsel waarin al die lede vir die staat werk. Miskien is die vergelyking nie heeltemal in die kol nie, maar ons kan wel sê dat hulle merkwaardig georden is en op mekaar staatmaak.

 

Daar is drie hoofsoorte miere in ’n nes: koninginne, mannetjies en werkers.

 

 

Die koninginne

 GESLAGTELIK ten volle ontwikkel, is die wyfies of koninginne die grootste miere in die nes. Hulle het vlerke tot ná hulle gepaar het en werp dan die vlerke af.

 

Koninginne lê geweldig baie eiers en wy gewoonlik hul hele lewe aan voortplanting.

 

Die koningin is die belangrikste enkele lid van ’n kolonie. Sy skei feromone (chemiese reuke) af wat ’n uitwerking op al die ander miere het en dus ook die verskillende werkinge in die nes beïnvloed.

 

Sonder haar is die kolonie uiteindelik gedoem, want min of geen nuwe miere sal gegenereer kan word om dié te vervang wat doodgaan nie.

 

Koninginne kan jare lank lewe. Hulle ontwikkel uit bevrugte eiers.

 

Die mannetjies

 DIE mannetjies is gewoonlik kleiner as die koninginne, maar net so groot of groter as die werkers. Hul koppe is klein, maar hul oë en voelhorings groot en goed ontwikkel sodat hulle in staat kan wees om die koninginne op te spoor.

 

Mannetjies word in die reël as die mins aktiewe lede van die miernes beskou. Hul enigste taak in ’n betreklik kort lewetjie is om met die koninginne te paar.

 

Hulle ontwikkel uit onbevrugte eiers.

 

Die werkers

VERREWEG die meeste lede van die mierkolonie is werkers. Hulle is geslagtelik onderontwikkelde wyfies wat nie paar nie. Nou en dan lê hulle wel eiers, maar dié sal selde ontwikkel.

 

Trouens, dit lyk selfs of die werkers ’n weersin het in ander werkers wat probeer reproduseer terwyl daar ’n koningin in die nes is. Hulle sal dié te lyf gaan en byt wat chemikalieë afskei wat hul vrugbaarheidstatus verraai, het navorsers aan die Arizona-staatsuniversiteit in Tempe, in die VSA, bevind. Wanneer daar geen koningin in die kolonie is nie, word broeis werkers egter nie deur hul onvrugbare susters gekeer om te probeer aanteel nie.

 

Werkermiere, wat net soos die koninginne uit bevrugte eiers ontwikkel, verskil in grootte en voorkoms van die koninginne. Baie is weliswaar net so groot soos koninginne, maar ander is so klein dat dit moeilik is om te glo dat die koninginne en werkers tot dieselfde spesie behoort.

 

In baie miergemeenskappe is daar ’n spesiale werker, met ’n besonder groot kop en kragtige kake. Ondanks hul gedugte voorkoms, is baie van hulle bra bedees.

 

Die take van die werkers is velerlei: hulle vergroot die neste, maak dit skoon, voed die larwes en koningin(ne), gooi die dooies uit, verdedig hulself en hul tuistes. Werkers van sekere spesies dring ander neste binne en maak slawe van die verowerdes.

 

Werkverdeling is die leuse. Party werkers het ’n besliste voorkeur vir ’n besondere soort werk en raak spesialiste op daardie gebied. Ander verander gereeld van werk.

 

Nog ander lei ’n geordende lewe, bra soos die bye, en doen verskillende werke in verskillende stadiums van hul lewe deur trapsgewys van eenvoudige pligte tot ingewikkelder take te vorder.

 

En dan is daar ook sekere “werkers” wat skynbaar nooit ’n steek werk doen nie. Dit lyk of hulle heeldag ledig is en net kyk hoe die ander werk. (Net soos party mense, wil jy glo!)

 

BO: ’n Mier soos gesien deur die skandeer-elektronmikroskoop.

Krediet: Dartmouth Electron Microscope Facility, wat meld dat dit openbare besit is (“public domain”)

 

Die talle soorte neste van die verskillende miersoorte

HELE gemeenskappe wat elk lewe in ’n wêreldjie met ’n dienlike netwerk van gange en kamertjies en dinge—só is die samelewings in mierneste. Maar daar is, soos ons reeds gesien het, duisende verskillende soorte miere en dit is dus te verstane dat hulle talle verskillende nestipes sal bou, elkeen na sy aard en na die plek waarin die betrokke mier hom tuis voel.

 

Dit is nogal belangrik dat ’n mens hier na die “miershope” sal verwys—groot en sterk modderkonstruksies wat ook plek-plek op die velde in Suid-Afrika te sien is. Want dit wat ons so ligtelik miershope noem, is eintlik glad nie miershope nie maar termiethope, wat deur termiete gebou is. En dié termiete staan wel ook bekend as “rysmiere”, maar is in der waarheid hoegenaamd nie miere in die wetenskaplike sin van die woord nie. Elders op die Mieliestronk-werf word in besonderhede van termiete vertel.

 

Tog is daar wel sekere miersoorte wat ook hul nes bo die grond bou. Of die nes kan bestaan uit ’n ondergrondse deel, wat hulle dan bogronds met ’n groot hoop grond, droë blare, gras en takkies bedek. Nog ander maak sommer so vlak onder die grond nes onder klippe of stompe en sorg dat een van die gange bo by die grondoppervlak uitmond.

 

Heelparty miere maak weer nes in bome. Party vreet diep gate in die hout waardeur groot skade aan bome en houtkonstruksies aangerig word. Dit is interessant dat nog ander soorte oënskynlik die perdebye naboots deurdat hulle hul neste van ’n papieragtige stof maak wat hulle verkry deur hout fyn te kou en met hul speeksel te bevog.

 

Daarmee vorm hulle ’n soort papierpulp, en hul vindingryke voortbrengsels word dan ook kartonneste genoem. Die kartonneste kan in grootte wissel van nagenoeg die grootte van ’n tennisbal tot—soos by een soort mier van Madagaskar—’n nes van tot twee meter breed.

 

Maar natuurlik het nie alle miere wat in bome of op ander plante rondskarrel hul neste in die bome nie. Hulle kan bes moontlik grondbewoners of veral ondergrondse boorlinge wees wat bloot gereeld die plante besoek agter die kos aan wat hulle daar kry.

Swermvorming

’N MIERSWERM is een van die natuur se skouspele. ’n Vlieënde menigte vul die lug en dring geboue binne. Dikwels versamel hulle op hoë plekke soos bome, torings en bulte.

 

Swermvorming by miere is die paringsvlugte van ’n enorme klomp mannetjies en wyfies. Die mannetjies vrek ná die paring, maar vir die wyfies is dit slegs die begin.

 

’n Tipiese paringsproses kan só verloop:

 (1) Gevlerkte wyfies kom uit die nes vergesel van die werkers.

(2) Ná ’n kort vlug land ’n wyfie op ’n takkie of iets dergeliks en skei feromone af om mannetjies aan te trek.

(3) Sy paar.

(4) Sy breek haar vlerke af.

(5) Sy grawe haar nes en ’n nuwe kolonie word gevestig.

 

Lus vir baklei

BUITEN die mense is die miere die enigste skepsels op aarde wat oorlog teen hul eie soort maak. Insekte soos bye en wespe maak ander dood om hul neste te beskerm, maar dis net miere wat oorlog maak om te kan oorwin.

 

Miere is gedurig op die verdediging. Nadat ’n vyand ’n nes oopgebreek het, sal sekere miere dadelik oor die indringer swerm en hom byt, terwyl ander sal laat spaander om die papies en eiers weg te steek.

 

 

Twee Suid-Afrikaanse miersoorte. LINKS BO is Anoplolepis custodiens, soos gefotografeer in die Addo-olifantpark, en REGS BO Lepisiota capensis, afgeneem in Kaapstad.

 

Foto’s (detail van oorspronklikes) met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com: © Alex Wild van myrmecos.net

 

Vir die honger en dors

ONS ken almal die vreeslike vreetgewoontes van huismiere wat ons kombuise en spense plunder. Hulle verslind feitlik alles wat voorkom en kan ’n ernstige probleem raak.

 

Die meeste miere is immers allesvretend—hulle smul net so gretig aan ander insekte as wat hulle vrugtesappe of die heuningdou (suikeragtige afvalstowwe) van plantluise opslurp. Kannibalisme kom algemeen onder miere voor, maar gewoonlik nie onder dié in een nes nie.

 

Anders as bye versamel die meeste miere (daar is wel die uitsonderings) hul kos op ’n daaglikse grondslag en bêre hulle nie voorrade vir die winter nie. Trouens, hulle hiberneer (maak ’n winterslaap deur) as die weer dit vir hulle onmoontlik maak om kos te soek.

 

Tuiniers

DIE parasolmiere van Suid-Amerika en Mexiko word só genoem omdat hulle in optogte beweeg terwyl hulle stukkies plante soos parasols of sonskerms bokant hul lywe hou.

 

Insektekundiges het eers gedink die miere vreet die plante, maar by nadere ondersoeke het geblyk dat hulle die plantmateriaal kou en dit dan as bemesting gebruik vir sampioentuintjies in hul ondergrondse neste. Om hierdie rede word die miere ook boeremiere (en blaarsnyersmiere) genoem. Die miere saai, bemes, skoffel en snoei self hul gewasse. Elders op die Mieliestronk-werf word meer oor blaarsnyersmiere vertel.

 

Boere

EEN van die kosvind-praktyke van die miere wat jou die meeste aan dié van ons mense laat dink, word in die verhouding tussen miere en plantluise of dopinsekte gevind.

 

Die luise of dopgoggas teer op plantesap en skei in die proses heuningdou af. Miere, met hul passie vir soetigheid, het “uitgevind” dat hierdie “koeie” dadelik heuningdou afskei as hulle hulle op ’n sekere manier met hul pote en voelhorings streel.

 

Só ’n verhouding is wedersyds voordelig. Die miere ontvang heuningdou; die sapsuigers word teen aanvallers beskerm en deur die gedurige vrywery van parasiete en swamme bevry.

 

Baie miere hou “troppe” plantluise en dopinsekte aan en bou selfs vir hulle skuilings, net soos ons boere krale vir hul vee bou. Party bou tot oordekte loopgange tussen die nes en die “beeskraal” sodat hulle in gure weer na hul “vee” kan omsien.

 

Partykeer word van die “beeste” vir hul vleis geslag. Dis gewoonlik die oues of die sieklikes. Baie miere dun gereeld hul veetroppe uit wanneer dié groter raak as die boere se behoeftes.

 

Oesters

DIE miere van die genus Mettor versamel hul kos (sade) in die groeiseisoen en bêre dit vir die droë seisoen in ondergrondse voorraadskure.

 

Namate die miere die sade vreet, gooi hulle die leë doppe op “vullishope” buite die nes. Dié vorm ’n kring om die nesingang wat tot 5 cm hoog kan wees en oor ’n wye gebied kan strek.

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad