Voel, kyk, hoor, proe en ruik... wonderlike maniere waardeur ons die omringende wêreld ervaar

Voel, kyk, hoor, proe en ruik...
Eerste vier illustrasies van links: Clker.com Public Domain Images

Sinne
  die sin van die lewe

Sintuie is die werktuie waardeur die innerlike mens kontak met die stoflike dinge in sy leefwêreld maak. Kom saam op ’n leersame ontdekkingstog na ons verstom­mende vyf sinne... die gevoel, die sig, die gehoor, die smaak en die reuk...

D

AAR was eenmaal ’n jong prins wat die wêreld platgereis het op soek na ’n ware prinses. Nêrens kon hy egter só ’n vrou vind nie en toe gaan hy maar terneergedruk terug na die paleis toe.

Maar een stormagtige nag—só word in Hans Christian Andersen se sprokie Die Prinses en die Ertjie vertel—klop ’n jong meisie teen die paleishekke. Sy vra of hulle asseblief vir haar skuiling kan gee.

En sy beweer dat sy ’n ware prinses is.

Die koningin, wat haar aanspraak betwyfel, sluip die gastekamer binne, stroop die komberse, lakens en matras van die bed af en plaas ’n ertjie heel onder. Daarna stapel sy twintig matrasse op die bed, plus nog twintig dik verekomberse.

 

Die prinses met haar stapel beddegoedREGS: Die sprokiesprinses van wie in die bygaande artikel vertel word—met die yslike stapel beddegoed onder haar wat bo-op ’n enkele ertjie geplaas is! Die tekening is ’n deel van ’n illustrasie in ’n ou boek waarin die Andersen-sprokie verskyn.

 

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
 


Die volgende oggend vra die koningin die meisie of sy goed geslaap het. Ag, kla die gas, sy het ’n vreeslike nag agter die rug. ’n Harde klont in die bed het haar die hele nag gepla en haar lyf gekneus.

Die verheugde koningin gaan vertel vir haar seun dat slegs ’n ware prinses só ’n delikate vel kan hê. Uiteindelik het hy toe die droomvrou gevind na wie hy die hele tyd gesoek het.

Die menslike vel is natuurlik wel hoogs sensitief. Dit is gedurig in verbinding met die buitewêreld en is dus met sensoriese middels toegerus om die omgewing te ervaar.  Maar, nou ja, dis darem te dik vir ’n daalder om te wil beweer dat enigiemand ’n ertjie deur ’n hoop matrasse en donskomberse sal kan voel!

 

Hoe ook al, kom ons bekyk ’n bietjie die vel en ander menslike sintuie een vir een...

BO: Praat van fel te kere gaan met ’n vel! Hierdie vent het dit sowaar afgestroop met ’n dolk... en nou staan hy met sy eie vel in sy hand... ’n Bekende, eintlik skokkende illustrasie wat verskyn het in die ou mediese werk Historia de la composicion del cuerpo humano deur Juan Valverde de Amusco (ca. 1525-?). Die werk in in 1560 in Rome gepubliseer. Ons kan egter met groot sekerheid sê dat niemand wat homself só dramaties van sy eie gevoelsin beroof het, naastenby in staat sal wees om triomfantelik met sy vel te poseer soos hierdie karakter nie. Trouens, lank voordat ’n mens heeltemal velaf geslag is soos hier, sal jy hoeka reeds bokveld toe wees.

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
 

Ou illustrasie van iemand wat blykbaar sy eie afgestroop het

 

Jou vel en hoe jy voel

DIE mens se gevoelsin, of tassin, is sy belangrikste sin sover dit oorlewing aangaan. As die vel sy gevoel verloor, kan die liggaam immers ernstig beseer word.

Mense wat melaats is—’n siekte wat die vel en senuwees aantas—beseer of brand hulself soms sonder dat hulle dit besef.


Dwarsnee van die menslike velBO: Dwarsnee van die menslike vel.

 

Senu-ente in die vel en deur die hele liggaam registreer pyn. Verskeie soorte orgaantjies wat reseptors genoem word en ook deur die liggaam versprei is, registreer sensasies soos aanraking, drukking, hitte en koue, en waarsku ons wanneer ons in gevaar verkeer of wanneer iets ons kan beseer.

Sekere dele van die liggaam—die lippe, punt van die neus, agterkant van die nek, binne-arms, vingers, tone en voetsole—is gevoeliger vir aanraking as ander dele.

Om aan te raak en aangeraak te word, is belangrik vir ’n mens se emosionele welsyn. Omhelsings, hande vashou en sagte strelings help byvoorbeeld om bande te smee.

 

Die bou van die menslike oog

BO: Die bou van die menslike oog.

 

illustrasie: Clker.com Public Domain Images

 

Jou sig en die bou van jou oog

ONS sig stel ons weer in staat om die wêreld om ons te sien, om afstande te skat, te lees en baie ander dinge te geniet.

Die oogbal het drie lae: die buiteoogvlies of sklera, wat die “wit” van die oog is; die oogvaatvlies of choroid, wat pigmente bevat wat weerkaatsing verminder; en die oognetvlies of retina, ’n laag agter in die oog wat ligsensitiewe selle bevat.

Die voorkant van die oog word beskerm deur ’n deursigtige horingvlies of kornea en bindvlies of konjunktiva. Die gekleurde deel van die oog, die reënboogvlies of iris, kan uitsit of krimp om die hoeveelheid lig te beheer wat die oog binnedring. Die gaatjie in die middel van die iris is die pupil. Agter die iris is die lens, wat lig op die retina fokusseer.

Die watervog, ’n waterige stof agter die kornea, en die glasvog, ’n jellieagtige stof agter die lens, gee die oog sy vorm.

Wanneer lig die oog deur die pupil binnedring, vorm dit ’n beeld op die retina. Die beeld is onderstebo—hoewel die brein dit regstel en ons dus nie die wêreld onderstebo ervaar nie.

Agter in die oog is die blinde vlek. Dit is van hier af dat die senuvesels na die optiese senuwee loop.

Die retina bestaan uit miljoene gespesialiseerde senuweeselle genaamd stafies en keëls.

Stafies word oral in die retina gevind, buiten by ’n plek wat die fovea genoem word. Hulle het te doen met swart-wit visie (skakerings van grys), en stel jou in staat om in dowwe lig te sien.

Keëls hou verband met kleurvisie. Hulle kom hoogs gekonsentreerd voor by die fovea.

Die stafies en keëls absorbeer ligstrale en verander dit in elektriese impulse. Senuweevesels wat aan die stafies en keëls vas is, kombineer om die optiese senuwee te vorm, wat na die brein toe loop.

Jou gehoor en die bou van jou oor
  

•  Kyk die omvattende Mieliestronk-artikel oor die wonder van klank
 

ONS gehoorsin laat ons deur middel van spraak met mekaar kommunikeer en maak ons bewus van potensiële gevare. Dit verskaf ook plesier. Dit stel ons byvoorbeeld in staat om na musiek te luister. Bowendien help ons ore ons fisiek om ons ewewig te handhaaf.

Tekening van ’n menslike oorDie menslike oor het drie hoofdele: die buite-oor, middeloor en binne-oor.

Die buite-oor bestaan uit die oorskulp—die vlesige flap aan die kant van die kop wat klankgolwe versamel en in die kop inlei—en die oorkanaal , ’n deurgang na die middeloor.

Aan die einde van die kanaal is ’n oortrom, wat vibreer wanneer klankgolwe dit tref.

Die middeloor is ’n kamertjie agter die oortrom. Drie beentjies—hamer, aambeeld en stiebeuel—strek daaroor. Die buis van Eustachius verbind die middeloor met die agterkant van die neus. Dit hou die lugdruk aan weerskante van die oortrom dieselfde.

Vibrasies van die oortrom loop met die drie klein beentjies langs na die ovale venster, ’n membraantjie wat na die binne-oor lei.

Die binne-oor bestaan uit die halfsirkelkanale en ’n winding van buise wat die koglea genoem word. Drie met vloeistof gevulde buise kronkel deur die koglea. Die onderste deel van die middelste buis is uitgevoer met sensoriese haarselle wat die orgaan van Corti uitmaak—die eintlike hoororgaan.

Klankvibrasies veroorsaak golwe in die vloeistof en dit stimuleer die haarselle om boodskappe na die brein te stuur. Die brein vertolk hierdie boodskappe as klank.

Die menslike oor is ook ’n balansorgaan. Wanneer ’n mens jou kop beweeg, word vloeistof in die halfsirkelkanale verplaas, wat haarselle stimuleer om boodskappe na die brein te stuur. Die brein gee dan die liggaam die opdrag om in ’n rigting te beweeg wat die ewewig sal korrigeer.

Jou tong en hoe jy proe

 

Lang tongREGS: As jy spreekwoordelik lank van tong is, babbel of skinder jy vir die vale. Of dit ook van hierdie tonguitsteker gesê kan word, is dit nie seker nie, maar die persoon het regtig ’n tong en ’n half!

 

Foto deur “Venenodelalengua”, wat dit by die Wkkipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)

 

 

DIE smaaksin vertel ons wanneer kos goed of sleg is.

Verskillende dele van die tong het smaakknoppies wat verskillende smaaksensasies waarneem: suur aan die kante, soet in die middel, bitter agter en soet en sout by die punt. Wat ons verder as “smaak” beskou, is eintlik ervarings van reuk—wat verklaar waarom kos vir verkouerige mense met toe neuse so “smaakloos” kan wees.

Uit onlangse navorsing het egter geblyk dat die mens ook ’n vyfde smaak het en wel een wat gevoelig is vir glutamaat, een van die twintig aminosure. Hierdie smaak, wat umami genoem en in Engels met “savouriness” (smaaklikheid) vertaal word, word deur menslike eters ervaar wanneer hulle kossoorte proe wat baie glutamaat bevat, soos vleis, beleë kaas en seewier. Umami is ’n Japanse woord wat “heerlikheid” of “hartig” beteken.

 

Daar is geleerdes wat reken dat “pittig” of “pitkant” ’n sesde menslike smaak is, maar daar is nog te veel meningsverskille hieroor.

 

Maar wat is smaak eintlik? As ’n mens die tongoppervlak ontleed, sien jy dat daar ’n groot aantal klein uitsteekseltjies is. Hulle word die smaakpille of smaakknoppies genoem. Die smaakbekers in die papille is die eintlike smaakorgane en dié word geprikkel deur stowwe in die verskillende soorte kos wat ons eet. Die senuwees stuur die inligting deur na die brein, wat dit vertolk as ’n waarneming van smaak, met ander woorde dat ’n mens besig is om iets te proe.

 

Smaakknoppie

BO: Skematiese voorstelling van ’n smaakknoppie of smaakpapil.

 

Illustrasie deur NEUROtiker
Dit verskyn op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web, waar genoem word dat dit onder meer gelisensieer is ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie, waarkragtens deling en afgeleide werke op sekere voorwaardes vergun word. Die Engelse teks op die illustrasie is deur Mieliestronk.com in Afrikaans vertaal

Jou neus en hoe jy ruik

  

•  Lees ook die afdeling (en kyk die illustrasie daarby) oor hoe mense ruik in die Mieliestronk-artikel oor die reuksin van diere
  

 

 

Neus van die “Statue of Liberty”REGS: Die neus van die beroemde Vryheidstandbeeld (“Statue of Liberty”) in New York, Amerika.

 

Foto: U.S. Library of Congress

 

 

REUK en smaak gaan saam. Baiekeer dink ons ons proe iets, terwyl ons in der waarheid besig is om dit te ruik.

Die reuksin het bepaald vroeër ’n belangriker rol gespeel—toe die jagters van die voortyd hul prooi moes uitruik en aan kos moes ruik om uit te vind of dit eetbaar was.

Vandag word die reuksin meer vir die plesier ingespan as vir oorlewing, soos byvoorbeeld wanneer ons aan blomme ruik.

 

Ons reuksin dien ons ook op ander maniere. Geure kan die mond laat water: die speekselkliere stimuleer om speeksel af te skei, wat nodig is om kos in die mond af te breek en te bevogtig. Reuk kan ons ook teen gevare waarsku. Wanneer ons ’n rokie ruik, weet ons immers daar moet ’n vuurtjie wees—om die ou spreekwoord te vervorm.

Reuke word deur twee reukorgane in die gehemelte van die neusholte waargeneem. Die reukorgane, wat in der waarheid uitgroeisels van die brein is, bestaan uit spesiale gevoelselle met sensoriese hare genaamd cilia daaraan. Die gevoelselle word beskerm deur ’n laag slym, wat in die neus gemaak word.

Wanneer jy ’n bietjie parfuum in die lug spuit, los reukmolekules in die slym op en word dit deur die cilia waargeneem, wat senuboodskappe na die brein stuur.

Die mens kan tot 3000 soorte geure ruik, maar net mense wat hul reuksin in hul werk gebruik—soos wynproewers—het hul brein geleer om werklik goed tussen verskillende reuke te onderskei.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad