|
|
|
Voel, kyk,
hoor, proe en ruik... wonderlike maniere waardeur ons die omringende
wêreld ervaar

Eerste vier illustrasies
van links: Clker.com Public Domain
Images
Sinne
—
die sin van die lewe
Sintuie is die
werktuie waardeur die innerlike mens kontak met die stoflike dinge
in sy leefwêreld maak. Kom saam op ’n leersame ontdekkingstog na ons
verstommende vyf sinne... die gevoel, die sig,
die gehoor, die smaak en die reuk...
|
|
AAR was eenmaal
’n jong prins wat die
wêreld platgereis het op soek na ’n ware prinses. Nêrens kon hy
egter só ’n vrou vind nie en toe gaan hy maar terneergedruk terug na
die paleis toe.
Maar een stormagtige nag—só word in Hans Christian Andersen se
sprokie Die Prinses en die Ertjie vertel—klop ’n jong
meisie teen die paleishekke. Sy vra of hulle asseblief vir haar
skuiling kan gee.
En sy beweer dat sy ’n ware prinses is.
Die koningin, wat haar aanspraak betwyfel, sluip die gastekamer
binne, stroop die komberse, lakens en matras van die bed af en plaas
’n ertjie heel onder. Daarna stapel sy twintig matrasse op die bed,
plus nog twintig dik verekomberse.
REGS:
Die sprokiesprinses van wie in die bygaande artikel vertel word—met
die yslike stapel beddegoed onder haar wat bo-op ’n enkele ertjie
geplaas is! Die tekening is ’n deel van ’n illustrasie in ’n ou boek
waarin die Andersen-sprokie verskyn.
Krediet: Histories (“Public Domain
Old”)
Die volgende oggend vra die koningin die meisie of sy goed geslaap
het. Ag, kla die gas, sy het ’n vreeslike nag agter die rug. ’n
Harde klont in die bed het haar die hele nag gepla en haar lyf
gekneus.
Die verheugde koningin gaan vertel vir haar seun dat slegs ’n ware
prinses só ’n delikate vel kan hê. Uiteindelik het hy toe die
droomvrou gevind na wie
hy die hele tyd gesoek het.
Die menslike vel is natuurlik wel hoogs sensitief. Dit is gedurig in
verbinding met die buitewêreld en is dus met sensoriese middels
toegerus om die omgewing te ervaar. Maar, nou ja, dis darem te dik vir ’n daalder om te wil beweer dat enigiemand ’n ertjie deur
’n hoop matrasse en donskomberse sal kan voel!
Hoe
ook al, kom ons bekyk ’n bietjie die vel en ander menslike sintuie
een vir een... |
|
BO: Praat
van fel te kere gaan met ’n vel! Hierdie vent het dit
sowaar afgestroop met ’n dolk... en nou staan hy met sy eie vel in sy
hand... ’n Bekende, eintlik skokkende illustrasie wat
verskyn het in die ou mediese werk Historia de la
composicion del cuerpo humano deur Juan Valverde de
Amusco (ca. 1525-?). Die werk in in 1560 in Rome
gepubliseer. Ons kan egter met groot sekerheid sê dat
niemand wat homself só dramaties van sy eie gevoelsin
beroof het, naastenby in staat sal wees om triomfantelik
met sy vel te poseer soos hierdie karakter nie. Trouens,
lank voordat ’n mens heeltemal velaf geslag is soos hier,
sal jy hoeka reeds bokveld toe wees.
Krediet: Histories (“Public Domain
Old”)
|
 |
Jou vel en hoe jy voel
DIE mens se gevoelsin, of tassin, is sy belangrikste sin sover dit
oorlewing aangaan. As die vel sy gevoel verloor, kan die liggaam
immers ernstig beseer word.
Mense wat melaats is—’n siekte wat die vel en senuwees aantas—beseer of brand hulself soms sonder dat hulle dit besef.
BO:
Dwarsnee van die menslike vel.
Senu-ente in die vel en deur die hele liggaam registreer pyn.
Verskeie soorte orgaantjies wat reseptors genoem word en ook deur
die liggaam versprei is, registreer sensasies soos aanraking,
drukking, hitte en koue, en waarsku ons wanneer ons in gevaar
verkeer of wanneer iets ons kan beseer.
Sekere dele van die liggaam—die lippe, punt van die neus,
agterkant van die nek, binne-arms, vingers, tone en voetsole—is
gevoeliger vir aanraking as ander dele.
Om aan te raak en aangeraak te word, is belangrik vir ’n mens se
emosionele welsyn. Omhelsings, hande vashou en sagte strelings help
byvoorbeeld om bande te smee. |
|

BO: Die bou van die
menslike oog.
illustrasie: Clker.com Public Domain
Images
Jou sig en die bou van jou oog
ONS sig stel ons weer in staat om die wêreld om ons te sien, om
afstande te skat, te lees en baie ander dinge te geniet.
Die oogbal het drie lae: die buiteoogvlies of sklera, wat die “wit”
van die oog is; die oogvaatvlies of choroid, wat pigmente bevat wat
weerkaatsing verminder; en die oognetvlies of retina, ’n laag agter
in die oog wat ligsensitiewe selle bevat.
Die voorkant van die oog word beskerm deur ’n deursigtige
horingvlies of kornea en bindvlies of konjunktiva. Die gekleurde
deel van die oog, die reënboogvlies of iris, kan uitsit of krimp om
die hoeveelheid lig te beheer wat die oog binnedring. Die gaatjie in
die middel van die iris is die pupil. Agter die iris is die lens,
wat lig op die retina fokusseer.
Die watervog, ’n waterige stof agter die kornea, en die glasvog,
’n jellieagtige stof agter die lens, gee die oog sy vorm.
Wanneer lig die oog deur die pupil binnedring, vorm dit ’n beeld op
die retina. Die beeld is onderstebo—hoewel die brein dit regstel
en ons dus nie die wêreld onderstebo ervaar nie.
Agter in die oog is die blinde vlek. Dit is van hier af dat die
senuvesels na die optiese senuwee loop.
Die retina bestaan uit miljoene gespesialiseerde senuweeselle
genaamd stafies en keëls.
Stafies word oral in die retina gevind, buiten by ’n plek wat die
fovea genoem word. Hulle het te doen met swart-wit visie (skakerings
van grys), en stel jou in staat om in dowwe lig te sien.
Keëls hou verband met kleurvisie. Hulle kom hoogs gekonsentreerd
voor by die fovea.
Die stafies en keëls absorbeer ligstrale en verander dit in
elektriese impulse. Senuweevesels wat aan die stafies en keëls vas
is, kombineer om die optiese senuwee te vorm, wat na die brein toe
loop. |
|
Jou gehoor en die bou van jou oor
•
Kyk die omvattende
Mieliestronk-artikel oor
die wonder van klank
ONS gehoorsin laat ons deur middel van spraak met mekaar
kommunikeer en maak ons bewus van potensiële gevare. Dit verskaf ook
plesier. Dit stel ons byvoorbeeld in staat om na musiek te luister.
Bowendien help ons ore ons fisiek om ons ewewig te handhaaf.
Die menslike oor het drie hoofdele: die buite-oor, middeloor en
binne-oor.
Die buite-oor bestaan uit die oorskulp—die vlesige flap aan die
kant van die kop wat klankgolwe versamel en in die kop inlei—en
die oorkanaal , ’n deurgang na die middeloor.
Aan die einde van die kanaal is ’n oortrom, wat vibreer wanneer
klankgolwe dit tref.
Die middeloor is ’n kamertjie agter die oortrom. Drie beentjies—hamer, aambeeld en stiebeuel—strek daaroor. Die buis van
Eustachius verbind die middeloor met die agterkant van die neus. Dit
hou die lugdruk aan weerskante van die oortrom dieselfde.
Vibrasies van die oortrom loop met die drie klein beentjies langs na
die ovale venster, ’n membraantjie wat na die binne-oor lei.
Die binne-oor bestaan uit die halfsirkelkanale en ’n winding van
buise wat die koglea genoem word. Drie met vloeistof gevulde buise
kronkel deur die koglea. Die onderste deel van die middelste buis is
uitgevoer met sensoriese haarselle wat die orgaan van Corti uitmaak—die eintlike hoororgaan.
Klankvibrasies veroorsaak golwe in die vloeistof en dit stimuleer
die haarselle om boodskappe na die brein te stuur. Die brein vertolk
hierdie boodskappe as klank.
Die menslike oor is ook ’n balansorgaan. Wanneer ’n mens jou kop
beweeg, word vloeistof in die halfsirkelkanale verplaas, wat
haarselle stimuleer om boodskappe na die brein te stuur. Die brein
gee dan die liggaam die opdrag om in ’n rigting te beweeg wat die
ewewig sal korrigeer. |
|
Jou tong en hoe jy proe
REGS:
As jy spreekwoordelik lank van tong is, babbel of skinder jy vir die
vale. Of dit ook van hierdie tonguitsteker gesê kan word, is dit nie
seker nie, maar die persoon het regtig ’n tong en ’n half!
Foto deur “Venenodelalengua”, wat dit by
die Wkkipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare besit
verklaar het (“released to the public domain”)
DIE smaaksin vertel ons wanneer kos goed of sleg is.
Verskillende dele van die tong het smaakknoppies wat verskillende
smaaksensasies waarneem: suur aan die kante, soet in die middel,
bitter agter en soet en sout by die punt. Wat ons verder as “smaak”
beskou, is eintlik ervarings van reuk—wat verklaar waarom kos vir
verkouerige mense met toe neuse so “smaakloos” kan wees.
Uit onlangse navorsing het egter geblyk dat die mens ook ’n vyfde
smaak het en wel een wat gevoelig is vir glutamaat, een van die
twintig aminosure. Hierdie smaak, wat umami genoem en in Engels met
“savouriness” (smaaklikheid) vertaal word, word deur menslike eters
ervaar wanneer hulle kossoorte proe wat baie glutamaat bevat, soos
vleis, beleë kaas en seewier. Umami is ’n Japanse woord wat
“heerlikheid” of “hartig” beteken.
Daar is geleerdes wat reken dat “pittig” of
“pitkant” ’n sesde menslike smaak is, maar daar is nog te veel
meningsverskille hieroor.
Maar wat is smaak eintlik? As ’n mens die tongoppervlak ontleed,
sien jy dat daar ’n groot aantal klein uitsteekseltjies is. Hulle
word die smaakpille of smaakknoppies genoem. Die smaakbekers in die
papille is die eintlike smaakorgane en dié word geprikkel deur
stowwe in die verskillende soorte kos wat ons eet. Die senuwees
stuur die inligting deur na die brein, wat dit vertolk as ’n
waarneming van smaak, met ander woorde dat ’n mens besig is om iets
te proe.

BO:
Skematiese voorstelling van ’n smaakknoppie of smaakpapil.
Illustrasie deur
NEUROtiker
Dit verskyn op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye
web, waar genoem word dat dit onder meer gelisensieer is
ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie,
waarkragtens deling en afgeleide werke op sekere voorwaardes
vergun word. Die Engelse teks op die illustrasie is deur
Mieliestronk.com in Afrikaans vertaal
|
|
Jou neus en hoe jy ruik
•
Lees ook die afdeling (en kyk die
illustrasie daarby) oor hoe mense ruik in die Mieliestronk-artikel
oor
die reuksin van
diere
REGS: Die neus
van die beroemde Vryheidstandbeeld (“Statue of Liberty”) in
New York, Amerika.
Foto: U.S. Library of Congress
REUK en smaak gaan saam. Baiekeer dink ons ons proe iets, terwyl
ons in der waarheid besig is om dit te ruik.
Die reuksin het bepaald vroeër ’n belangriker rol gespeel—toe die
jagters van die voortyd hul prooi moes uitruik en aan kos moes ruik
om uit te vind of dit eetbaar was.
Vandag word die reuksin meer vir die plesier ingespan as vir
oorlewing, soos byvoorbeeld wanneer ons aan blomme ruik.
Ons reuksin
dien ons ook op ander maniere. Geure kan die mond laat water: die
speekselkliere stimuleer om speeksel af te skei, wat nodig is om kos
in die mond af te breek en te bevogtig. Reuk kan ons ook teen gevare
waarsku. Wanneer ons ’n rokie ruik, weet ons immers daar moet ’n
vuurtjie wees—om die ou spreekwoord te vervorm.
Reuke word deur twee reukorgane in die gehemelte van die neusholte
waargeneem. Die reukorgane, wat in der waarheid uitgroeisels van die
brein is, bestaan uit spesiale gevoelselle met sensoriese hare
genaamd cilia daaraan. Die gevoelselle word beskerm deur ’n laag
slym, wat in die neus gemaak word.
Wanneer jy ’n bietjie parfuum in die lug spuit, los reukmolekules in
die slym op en word dit deur die cilia waargeneem, wat
senuboodskappe na die brein stuur.
Die mens kan tot 3000 soorte geure ruik, maar net mense wat hul
reuksin in hul werk gebruik—soos wynproewers—het hul brein
geleer om werklik goed tussen verskillende reuke te onderskei. |
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad |