OE koning Henry VIII
*)
in die vroeë 1500’s die Engelse
troon bestyg, is hy beskryf as “ ’n atletiese koning met genoeg
lewenskrag om perde tydens die jag flou te ry en teenstanders op
die tennisbaan uit te put”.
|
*)
LET WEL: Hoewel dit eentyd algemene praktyk was om
die name van die Britse koninklikes van ouds in
Afrikaanse geskrifte te verdiets (byvoorbeeld
Hendrik vir Henry, Maria vir Mary, Eduard vir Edward
en Elisabet vir Elizabeth) word dit nie hier gedoen
nie. Baie mense sal saamstem dat dit eintlik
onsinnig is om, sê maar, vandag se Britse prinse en
prinsesse Charles en Anne te noem, maar na hul
naamgenoot-voorsate as Karel en Anna te verwys! |
Die koninklike
lewe het hom egter spoedig ’n geswolle hoof—of liewer maag—laat
kry, want Henry het enorme hoeveelhede kos verorber. Op ’n
tipiese spyskaart vir een dag was onder meer “gestoofde mossies,
karp, kappertjies in suurlemoen, gelardeerde fisante, eend,
seemeeue, gebroude dranke, gefarseerde konfyt, damhert-pastei en
peertert”—vir die eerste gang.
Die tweede gang
het onder meer bestaan uit “ooievaar, reier, kwartel, patrys,
vars steur (vis), edelhert-pastei en hoender gebak in kandeel”.
Dit is afgerond
met ’n lang lys nageregte en kruiewyn.
Illustrasies van
Henry toon dat hy kort voor lank yslik vet geword het. Tog glo
sekere dokters vandag dat hy weens ondervoeding dood is. Hoe is dit
moontlik?
Koning Henry het
die verkeerde soorte kos geëet: te veel vleis en te min vars
vrugte en groente. Sy eetgewoontes het hom uiteindelik ingehaal
en met sy sterfte het hy aan skeurbuik, niersiekte, jig,
probleme met sy bloedsomloop en ’n baie pynlike oop seer aan sy
been gely.

LINKS: Grote koning,
swaar van lyf. En tog was Engeland se koning Henry VIII (Hendrik
VIII) kennelik ondervoed, word deur kenners beweer. Hier is die
omstrede ou monarg in 1540 deur Hans Holbein die Jongere
geskilder, enkele jare voor sy dood in Januarie 1547.
Die uitdrukking
“jy is wat jy eet” is al tot vervelens toe gebruik, dog dit bly
maar alte waar. Jou liggaam is saamgestel uit die kos wat jy
inneem. Dit is dus noodsaaklik dat jy jou liggaam die regte,
gebalanseerde soorte voedsel moet gee.
In hierdie artikel
kyk ons kortliks na die hoofgroepe voedingstowwe, asook die
prosesse van spysvertering en die wegdoening van afvalstowwe.
Ons kyk ook na die belangrikheid van sindelikheid.
Die regte kos
JOU liggaam het kos vir energie nodig om te beweeg, beskadigde
selle en weefsel te herstel, infeksie te beveg en te groei. Daar
is vyf hoofgroepe voedingstowwe: proteïene, koolhidrate, vette,
minerale en vitamiene.
 |
§
Proteïene
word gevind in vleis, vis, kaas, eiers, bone en lensies. Dit bou
weefsels en hou dit in stand en herstel dit. Proteïene wat
ensieme genoem word, versnel chemiese reaksies in die selle. ’n
Proteïen genaamd hemoglobien vervoer suurstof van die longe af
na die liggaamsweefsels. |
 |
§
Koolhidrate
kom van graankos soos brood, asook aartappels, pasta, rys,
piesangs, suikers, vrugte en blaargroente. Hul belangrikste
funksie is om energie te verskaf.
|
 |
§
Vette
kom voor in sowel dier- as plantprodukte, veral rooi vleis,
botter, melk, visolies, eiers, plantolies, neute en margarien.
Hulle is ’n uitstekende bron van voedselenergie. Jou liggaam het
ook vet nodig om dit teen hitteverlies te isoleer en om sekere
organe soos die oë teen beserings te beskerm. Sekere
dieetkundiges sê dis wensliker om die onversadigde vette in
groente te gebruik as die versadigde vette in dierprodukte. |
 |
§
Minerale
sluit in kalsium, magnesium en fosfor, wat noodsaaklik is vir
die bene en tande. Kalsium is nodig om bloed te laat stol en dit
kom van melk, melkprodukte en groen groente. Yster vervoer
suurstof in die bloed en is nodig vir die behoorlike
funksionering van die selle en spiere. Lewer, spinasie en
rosyntjies is goeie bronne van yster. |
 |
§
Vesel
is daardie deel van die kos wat jy nie kan verteer nie. Dit is
egter nodig vir jou ingewande om hul werk te doen. Dit sorg dat
die voedingstowwe maklik deur die ingewande beweeg sodat dit
geabsorbeer kan word. Veselryke voedselsoorte is groen en geel
groente, vrugte, bruin rys, bone, lensies, volkoring en semels.
’n Gebrek aan vesel veroorsaak hardlywigheid, wat tot
ingewandsiektes kan lei. |
|

|
§
Water
is geen voedingstof nie, maar dit is noodsaaklik om te lewe.
Die voedingstowwe in die kos wat jy eet, moet in water na die
verskillende dele van jou liggaam vervoer word. Die chemiese
reaksies wat voedingstowwe in jou liggaam in energie omskakel,
kan slegs in water plaasvind. Jou liggaam het ook water nodig om
afvalstowwe weg te voer.
|
 |
§
Daar is dertien
vitamiene,
waarvan vyf deur jou liggaam self vervaardig word. Vitamiene
word in verskeie soorte kos gevind, veral groente en vrugte.
Maar watter
vitamiene kry ons meestal in welke voedsels en
watter kwale kan deur ’n tekort aan elk veroorsaak
word? In die volgende lysie word die vitamien se
naam telkens in vet letters aangedui, die kosse in
gewone letters en die siektes tussen hakies in
kursiewe vet letters: |
|
•
Vitamien A, wat nodig is vir goeie sig en gesonde tande
en beendere, kom voor in
vislewerolie,
lewer, eiergeel,
melk,
botter,
room, palmolie,
patats en geel en groen groente, veral spinasie en broccoli.
(Tekort veroorsaak nagblindheid; verdroging en verdikking van
die oogbindvlies, wat tot blindheid
kan lei; vel en slymvliese raak droog en skubberig. Kan ook
ontwikkeling van siektes soos masels en malaria bevorder, asook
diarree.)
Die vitamien B-kompleks bestaan uit verskillende water-oplosbare
vitamiene. Van die belangrikstes is:
•
Vitamien B:
Droë suurdeeg, volgraan, vleis, peulgewasse (boont]ies, ertjies,
ens.), aartappels.
(Berrie-berrie, ’n siekte van veral die rysetende Oosterlinge –
die naam kom van die Singalees “beri”, wat swakheid beteken.)
•
Vitamien B2:
Melk, lewer, vleis, eiers.
(Inflammasie van en seervorming aan die vel, mond, oë en
geslagsdele.)
•
Niasien:
Dieselfde voedsels wat vitamien B bevat.
(Pellagra, waar die vel aangetas word soos met kwaai sonbrand,
gepaard met verlies aan eetlus, hoofpyne en geïrriteerdheid.)
•
Vitamien B6:
Lewer, niere, droë brouersgis, volkoringbrood, graangewasse,
eiers, vleis, vis.
(Tekort veroorsaak geirriteerdheid en stuipe by babas.)
•
Vitamien C,
wat sterk beendere en tande bevorder en vir weefselmetabolisme
nodig is, is te kry in sitrusvrugte, tamaties, rou kopkool,
spruitkool, aartappels, aarbeie
en, trouens,
alle vars vrugte en groente.
(Tekort
veroorsaak skeurbuik, wat eenmaal so algemeen was onder
matrose.
Mense ontwikkel byvoorbeeld ’n vitamien C-tekort wanneer hulle
slegs kosse soos roosterbrood, biltong en ingelegde groente eet
en tee drink.)
•
Vitamien D (die “sonskyn-vitamien”):
Word in die vel geproduseer deur die ultraviolet strale van die
son, vislewerolie.
(Tekort
veroorsaak ragitis, ’n kindersiekte wat die beendere aantas.
’n
Tekort aan vitamien D word ook geassosieer met die vatbaarheid
vir siektes soos tuberkulose, kanker, hoë bloeddruk, sklerose,
chroniese pyn, depressie en skisofrenie.)
•
Vitamien E:
Plantaardige olies, koringkiem. blaargroente, eiergeel,
peulgewasse (boontjies, ertjies, ens.)
(Vroeë aftakeling van rooi bloedselle.)
•
Vitamien K:
Groen blaargroente.
(Trae stolling van die bloed en soms kwaai bloeding.)
|
Foto's:
• Vleis: ARS / U.S.
Department of Agriculture •
Aartappels: ARS / U.S.
Department of Agriculture •
Botter of margarien:
U.S. Centers of Disease Control and Prevention
•
Rosyntjies (detail):
Peggy
Greb / ARS /
U.S. Department of Agriculture
• Graanproprukte met vesel
(detail): Stephen Ausmus / ARS / U.S. Department of
Agriculture •
Waterkraan: U.S. Environmental
Protection Agency (EPA) •
Lemoene: ARS / U.S.
Department of Agriculture
|
’n Rein liggaam is die naaste aan
’n rein hart—ou gesegde
DIE oppervlak
van jou liggaam is ’n potensiële broeiplek en weiveld vir
bakterieë en swamme, waarvan party vir jou skadelik kan wees.
Dit is dus noodsaaklik om jou liggaam skoon te hou.
Deur elke dag te
bad of te stort, word die sweet en vuiligheid van die dag
weggespoel en onaangename reuke voorkom. Hare moet ook gereeld
gewas word. Deur te was, raak ons boonop ontslae van kieme wat
infeksie kan veroorsaak. Dit is veral belangrik om jou hande te
was voordat jy eet.
Die borsel en flos
van tande is nog ’n deel van liggaamsindelikheid en help om
tandverrotting te voorkom.
|
Maagpyn van morsig lewe...
 |
LINKS:
Kieme kan soos ’n veldbrand versprei as ’n mens jou
liggaam nie skoonhou nie. Een van die bakterieë wat
deur menslike ontlasting en die uitwerpsels van
diere versprei word, is Salmonella typhimurium,
’n berugte verwekker van gastroënteritis by die
mens. Hier, met kleure toegevoeg, is ’n
elektronmikroskopiese beeld van Salmonella
(rooi) wat gekweekte menslike selle binnedring.
Bron:
U.S. National Institutes of Health
|
Jou filtreerders
ELKEEN van jou
niere is ’n massa van sowat ’n miljoen klein buisvormige
nefrone, wat die funksie het om urine te produseer, die
hoeveelheid water in jou liggaam te reguleer, die chemiese
samestelling van die bloed te kontroleer en water en
voedingstowwe te hersirkuleer.
Bloed en afval gaan elke
nier binne deur ’n arterie en vloei tot in ’n groep haarvate,
die glomeruli (enkelvoud glomerulus), wat omhul word deur ’n dubbele membraan wat
Bowman se kapsule genoem word.
Sekere plasma (die
vloeistofdeel van bloed) syfer deur Bowman se kapsule tot in die
nefrone, waar die bruikbare dele in die bloed herabsorbeer word
en die afval agterbly om urine te word.
Urine verlaat die
niere deur die ureters en gaan na die blaas, waar dit geberg
word totdat dit die liggaam verlaat.

BO:
’n Dwarssnee van ’n nier, waarvan ’n mens twee
het. Jou niere maak jou bloed skoon en produseer
urine.
Illustrasie:
U.S. National Institutes of Health
Die pad van jou kos
DIE
spysverteringsproses begin in die mond, waar die kos gekou en
met speeksel gemeng word. Die tong help om die kos in die mond
rond te beweeg en laat jou proe wat jy eet.
Klein
smaakknoppies—die papille—kan vier hoofsensasies onderskei:
bitter, soet, sout en suur.
Wanneer jy sluk,
gaan die kos in die slukderm af na jou maag toe, waar dit deur
die spiere in die maagwand omgerol en verder opgebreek word.
Terselfdertyd word dit in die maagsappe geweek wat deur selle in
die maagwand afgeskei word en wat dit chemies afbreek.
Die halfverteerde
kos, of chym soos dit in hierdie stadium genoem word, verlaat
die maag bietjies-bietjies en gaan na die duodenum, soos die
deel van die dunderm wat direk op die maag volg, genoem word.
Gal, ’n bitter,
geelgroen vloeistof wat in die lewer gemaak en in die galblaas
geberg word, word in die duodenum vrygestel waar dit vetterige
stowwe opbreek. Die pankreas skei ensieme af, wat nodig is om
proteïene, vette en koolhidrate te verteer wat die liggaam kan
absorbeer.
Namate die kos
deur die dunderm beweeg, word verterende sappe deur die wande
van die dunderm afgeskei om die kos finaal af te breek. Die
wande van die dunderm is gevoer met miljoene klein
uitsteekseltjies, die villi, wat verantwoordelik is vir die
absorpsie van bruikbare dele van die kos in die bloedstroom.
Kos wat nie
geabsorbeer word nie, beweeg na die dikderm, waar water daaruit
geabsorbeer word. Die oorblywende kos word in ’n halfsoliede
massa na die rektum gestuur, waar dit geberg word totdat dit die
liggaam deur die anus verlaat.
Kan jy glo?

• As jy al die
kos eet wat jou liggaam in ’n leeftyd van sewentig jaar nodig
het, sal jy die gewig van ses Afrika-olifante verorber het.
• Elkeen van ons
het piepklein myte aan die onderent van ons ooghare, waar
hulle uitbroei, vreet, ontlas, paar en vrek. Die myte vreet deur
vloeistof van ons ooghaarsakkies te suig. Dit lyk egter nie of
hulle enigsins skadelik is nie. Die slegte nuus vir almal wat
grimering gebruik, is dat die myte versot is op maskara.
REGS:
Van die myte (Demodex spp.) wat op die mens se gesig
lewe, by voorkeur op plekke soos die ooghare, voorkop en wange,
asook in die buitenste oorkanale. Hulle kom dikwels twee-twee
voor. Die organismes is betreklik lank en het ’n kennelike
kop-en-nek-deel en ’n lyf-en-stert-deel.