Jy en Jou Gesondheid (2): Gebalanseerde Diëte en Sindelikheid

 

Jy en jou kosse:

die kosbaarste wenke
 

Meisietjie by bak vrugte dink aan roomys

 

Foto (aangepas): Peggy Greb / ARS / U.S. Department of Agriculture

T

OE koning Henry VIII *) in die vroeë 1500’s die Engelse troon bestyg, is hy beskryf as “ ’n atletiese koning met genoeg lewenskrag om perde tydens die jag flou te ry en teenstanders op die tennisbaan uit te put”.

*) LET WEL: Hoewel dit eentyd algemene praktyk was om die name van die Britse koninklikes van ouds in Afrikaanse geskrifte te verdiets (byvoorbeeld Hendrik vir Henry, Maria vir Mary, Eduard vir Edward en Elisabet vir Elizabeth) word dit nie hier gedoen nie. Baie mense sal saamstem dat dit eintlik onsinnig is om, sê maar, vandag se Britse prinse en prinsesse Charles en Anne te noem, maar na hul naamgenoot-voorsate as Karel en Anna te verwys!

 

Die koninklike lewe het hom egter spoedig ’n geswolle hoof—of liewer maag—laat kry, want Henry het enorme hoeveelhede kos verorber. Op ’n tipiese spyskaart vir een dag was onder meer “gestoofde mossies, karp, kappertjies in suurlemoen, gelardeerde fisante, eend, seemeeue, gebroude dranke, gefarseerde konfyt, damhert-pastei en peertert”—vir die eerste gang.

 

Die tweede gang het onder meer bestaan uit “ooievaar, reier, kwartel, patrys, vars steur (vis), edelhert-pastei en hoender gebak in kandeel”.

 

Dit is afgerond met ’n lang lys nageregte en kruiewyn.

 

Illustrasies van Henry toon dat hy kort voor lank yslik vet geword het. Tog glo sekere dokters vandag dat hy weens ondervoeding dood is. Hoe is dit moontlik?

 

Koning Henry het die verkeerde soorte kos geëet: te veel vleis en te min vars vrugte en groente. Sy eetgewoontes het hom uiteindelik ingehaal en met sy sterfte het hy aan skeurbuik, niersiekte, jig, probleme met sy bloedsomloop en ’n baie pynlike oop seer aan sy been gely.

 

Koning Henry VIII (Hendrik VIII)

LINKS: Grote koning, swaar van lyf. En tog was Engeland se koning Henry VIII (Hendrik VIII) kennelik ondervoed, word deur kenners beweer. Hier is die omstrede ou monarg in 1540 deur Hans Holbein die Jongere geskilder, enkele jare voor sy dood in Januarie 1547.

 

 

Die uitdrukking “jy is wat jy eet” is al tot vervelens toe gebruik, dog dit bly maar alte waar. Jou liggaam is saamgestel uit die kos wat jy inneem. Dit is dus noodsaaklik dat jy jou liggaam die regte, gebalanseerde soorte voedsel moet gee.

 

In hierdie artikel kyk ons kortliks na die hoofgroepe voedingstowwe, asook die prosesse van spysvertering en die wegdoening van afvalstowwe. Ons kyk ook na die belangrikheid van sindelikheid.

 


 

Die regte kos

JOU liggaam het kos vir energie nodig om te beweeg, beskadigde selle en weefsel te herstel, infeksie te beveg en te groei. Daar is vyf hoofgroepe voedingstowwe: proteïene, koolhidrate, vette, minerale en vitamiene.

 

Vleis §    Proteïene word gevind in vleis, vis, kaas, eiers, bone en lensies. Dit bou weefsels en hou dit in stand en herstel dit. Proteïene wat ensieme genoem word, versnel chemiese reaksies in die selle. ’n Proteïen genaamd hemoglobien vervoer suurstof van die longe af na die liggaamsweefsels.
Aartappels

§    Koolhidrate kom van graankos soos brood, asook aartappels, pasta, rys, piesangs, suikers, vrugte en blaargroente. Hul belangrikste funksie is om energie te verskaf.

Botter of margarien §    Vette kom voor in sowel dier- as plantprodukte, veral rooi vleis, botter, melk, visolies, eiers, plantolies, neute en margarien. Hulle is ’n uitstekende bron van voedselenergie. Jou liggaam het ook vet nodig om dit teen hitteverlies te isoleer en om sekere organe soos die oë teen beserings te beskerm. Sekere dieetkundiges sê dis wensliker om die onversadigde vette in groente te gebruik as die versadigde vette in dierprodukte.
Rosyntjies met druiwe daaragter §    Minerale sluit in kalsium, magnesium en fosfor, wat noodsaaklik is vir die bene en tande. Kalsium is nodig om bloed te laat stol en dit kom van melk, melkprodukte en groen groente. Yster vervoer suurstof in die bloed en is nodig vir die behoorlike funksionering van die selle en spiere. Lewer, spinasie en rosyntjies is goeie bronne van yster.
Veselkosse §    Vesel is daardie deel van die kos wat jy nie kan verteer nie. Dit is egter nodig vir jou ingewande om hul werk te doen. Dit sorg dat die voedingstowwe maklik deur die ingewande beweeg sodat dit geabsorbeer kan word. Veselryke voedselsoorte is groen en geel groente, vrugte, bruin rys, bone, lensies, volkoring en semels. ’n Gebrek aan vesel veroorsaak hardlywigheid, wat tot ingewandsiektes kan lei.

Kraan en glas water

§    Water is geen voedingstof nie, maar dit  is noodsaaklik om te lewe. Die voedingstowwe in die kos wat jy eet, moet in water na die verskillende dele van jou  liggaam vervoer word. Die chemiese reaksies wat voedingstowwe in jou liggaam in energie omskakel, kan slegs in water plaasvind. Jou liggaam het ook water nodig om afvalstowwe weg te voer.

Lemoene §    Daar is dertien vitamiene, waarvan vyf deur jou liggaam self vervaardig word. Vitamiene word in verskeie soorte kos gevind, veral groente en vrugte. Maar watter vitamiene kry ons meestal in welke voedsels en watter kwale kan deur ’n tekort aan elk veroorsaak word? In die volgende lysie word die vitamien se naam telkens in vet letters aangedui, die kosse in gewone letters en die siektes tussen hakies in kursiewe vet letters:

Vitamien A, wat nodig is vir goeie sig en gesonde tande en beendere, kom voor in vislewerolie, lewer, eiergeel, melk,  botter, room, palmolie, patats en geel en groen groente, veral spinasie en broccoli. (Tekort veroorsaak nagblindheid; verdroging en verdikking van die oogbindvlies, wat tot blindheid kan lei; vel en slymvliese raak droog en skubberig. Kan ook ontwikkeling van siektes soos masels en malaria bevorder, asook diarree.)

 

Die vitamien B-kompleks bestaan uit verskillende water-oplosbare vitamiene. Van die belangrikstes is:

  Vitamien B: Droë suurdeeg, volgraan, vleis, peulgewasse (boont]ies, ertjies, ens.), aartappels. (Berrie-berrie, ’n siekte van veral die rysetende Oosterlinge – die naam kom van die Singalees “beri”, wat swakheid beteken.)

  Vitamien B2: Melk, lewer, vleis, eiers. (Inflammasie van en seervorming aan die vel, mond, oë en geslagsdele.)

•  Niasien: Dieselfde voedsels wat vitamien B bevat. (Pellagra, waar die vel aangetas word soos met kwaai sonbrand, gepaard met verlies aan eetlus, hoofpyne en geïrriteerdheid.)

  Vitamien B6: Lewer, niere, droë brouersgis, volkoringbrood, graangewasse, eiers, vleis, vis. (Tekort veroorsaak geirriteerdheid en stuipe by babas.)

 

  Vitamien C, wat sterk beendere en tande bevorder en vir weefselmetabolisme nodig is, is te kry in sitrusvrugte, tamaties, rou kopkool, spruitkool, aartappels, aarbeie en, trouens, alle vars vrugte en groente. (Tekort veroorsaak skeurbuik, wat eenmaal so algemeen  was onder matrose. Mense ontwikkel byvoorbeeld ’n vitamien C-tekort wanneer hulle slegs kosse soos roosterbrood, biltong en ingelegde groente eet en tee drink.)

 

  Vitamien D (die “sonskyn-vitamien”): Word in die vel geproduseer deur die ultraviolet strale van die son, vislewerolie. (Tekort veroorsaak ragitis, ’n kindersiekte wat die beendere aantas. ’n Tekort aan vitamien D word ook geassosieer met die vatbaarheid vir siektes soos tuberkulose, kanker, hoë bloeddruk, sklerose, chroniese pyn, depressie en skisofrenie.)

 

  Vitamien E: Plantaardige olies, koringkiem. blaargroente, eiergeel, peulgewasse (boontjies, ertjies, ens.)  (Vroeë aftakeling van rooi bloedselle.)

 

  Vitamien K: Groen blaargroente. (Trae stolling van die bloed en soms kwaai bloeding.)


Foto's:
Vleis: ARS / U.S. Department of Agriculture  Aartappels: ARS / U.S. Department of Agriculture  •  Botter of margarien: U.S. Centers of Disease Control and Prevention  •  Rosyntjies (detail):  Peggy Greb / ARS / U.S. Department of AgricultureGraanproprukte met vesel (detail): Stephen Ausmus  / ARS / U.S. Department of Agriculture Waterkraan: U.S. Environmental Protection Agency (EPA)Lemoene: ARS / U.S. Department of Agriculture

 

’n Rein liggaam is die naaste aan
’n rein hart—ou gesegde

DIE oppervlak van jou liggaam is ’n potensiële broeiplek en weiveld vir bakterieë en swamme, waarvan party vir jou skadelik kan wees. Dit is dus noodsaaklik om jou liggaam skoon te hou.

 

Deur elke dag te bad of te stort, word die sweet en vuiligheid van die dag weggespoel en onaangename reuke voorkom. Hare moet ook gereeld gewas word. Deur te was, raak ons boonop ontslae van kieme wat infeksie kan veroorsaak. Dit is veral belangrik om jou hande te was voordat jy eet.

 

Die borsel en flos van tande is nog ’n deel van liggaamsindelikheid en help om tandverrotting te voorkom.

 

Maagpyn van morsig lewe...

Salmonella (rooi) wat gekweekte menslike selle binnedring

LINKS: Kieme kan soos ’n veldbrand versprei as ’n mens jou liggaam nie skoonhou nie. Een van die bakterieë wat deur menslike ontlasting en die uitwerpsels van diere versprei word, is Salmonella typhimurium, ’n berugte verwekker van gastroënteritis by die mens. Hier, met kleure toegevoeg, is ’n elektron­mikro­sko­piese beeld van Salmonella (rooi) wat gekweekte menslike selle binnedring.

 

Bron: U.S. National Institutes of Health

 

Jou filtreerders

ELKEEN van jou niere is ’n massa van sowat ’n miljoen klein buisvormige nefrone, wat die funksie het om urine te produseer, die hoeveelheid water in jou liggaam te reguleer, die chemiese samestelling van die bloed te kontroleer en water en voedingstowwe te hersirkuleer.

 

Bloed en afval gaan elke nier binne deur ’n arterie en vloei tot in ’n groep haarvate, die glomeruli (enkelvoud glomerulus), wat omhul word deur ’n dubbele membraan wat Bowman se kapsule genoem word.

 

Sekere plasma (die vloeistofdeel van bloed) syfer deur Bowman se kapsule tot in die nefrone, waar die bruikbare dele in die bloed herabsorbeer word en die afval agterbly om urine te word.

 

Urine verlaat die niere deur die ureters en gaan na die blaas, waar dit geberg word totdat dit die liggaam verlaat.

 

Dwarssnee van ’n nier

BO: ’n Dwarssnee van ’n nier, waarvan ’n mens twee het. Jou niere maak jou bloed skoon en produseer urine.

Illustrasie: U.S. National Institutes of Health

 


 

Die pad van jou kos 

DIE spysverteringsproses begin in die mond, waar die kos gekou en met speeksel gemeng word. Die tong help om die kos in die mond rond te beweeg en laat jou proe wat jy eet.

 

Klein smaakknoppies—die papille—kan vier hoofsensasies onderskei: bitter, soet, sout en suur.

 

Wanneer jy sluk, gaan die kos in die slukderm af na jou maag toe, waar dit deur die spiere in die maagwand omgerol en verder opgebreek word. Terselfdertyd word dit in die maagsappe geweek wat deur selle in die maagwand afgeskei word en wat dit chemies afbreek.

 

Basiese spysverteringskanaalDie halfverteerde kos, of chym soos dit in hierdie stadium genoem word, verlaat die maag bietjies-bietjies en gaan na die duodenum, soos die deel van die dunderm wat direk op die maag volg, genoem word.

 

Gal, ’n bitter, geelgroen vloeistof wat in die lewer gemaak en in die galblaas geberg word, word in die duodenum vrygestel waar dit vetterige stowwe opbreek. Die pankreas skei ensieme af, wat nodig is om proteïene, vette en koolhidrate te verteer wat die liggaam kan absorbeer.

 

Namate die kos deur die dunderm beweeg, word verterende sappe deur die wande van die dunderm afgeskei om die kos finaal af te breek. Die wande van die dunderm is gevoer met miljoene klein uitsteekseltjies, die villi, wat verantwoordelik is vir die absorpsie van bruikbare dele van die kos in die bloedstroom.

 

Kos wat nie geabsorbeer word nie, beweeg na die dikderm, waar water daaruit geabsorbeer word. Die oorblywende kos word in ’n halfsoliede massa na die rektum gestuur, waar dit geberg word totdat dit die liggaam deur die anus verlaat.

 


 

Kan jy glo?

 

Ses Afrika-olifante op ’n ry

 

•   As jy al die kos eet wat jou liggaam in ’n leeftyd van sewentig jaar nodig het, sal jy die gewig van ses Afrika-olifante verorber het.

 

•   Elkeen van ons het piepklein myte aan die onderent van ons ooghare, waar hulle uitbroei, vreet, ontlas, paar en vrek. Die myte vreet deur vloeistof van ons ooghaarsakkies te suig. Dit lyk egter nie of hulle enigsins skadelik is nie. Die slegte nuus vir almal wat grimering gebruik, is dat die myte versot is op maskara.


Myte wat ons nie kan sien nie, maar wat op ons gesigte leweREGS: Van die myte (Demodex spp.) wat op die mens se gesig lewe, by voorkeur op plekke soos die ooghare, voorkop en wange, asook in die buitenste oorkanale. Hulle kom dikwels twee-twee voor. Die organismes is betreklik lank en het ’n kennelike kop-en-nek-deel en ’n lyf-en-stert-deel.

Klik hier om terug te keer na “Jy en Jou Gesondheid (1)”

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad