|
D
IE eerste skreeutjie van ’n baba. Geen musiek, sê hulle, kan vir ’n
ma ooit soeter klink nie. Wanneer sy dit hoor, weet sy dat haar
kosbare baba sy eerste asemtoggie geslaak het. Nou kan sy die
kleinding in haar arms neem, hom vertroetel en leer ken.
Al wat lewe, moet aanteel sodat daardie bepaalde soort lewensvorm
kan bly voortbestaan. Party plante en diere plant voort deur in twee
te verdeel of deeltjies van hul liggame te verloor. Die los dele
word dan weer volwasse organismes. Ons sê dat hulle nie-geslagtelik
of aseksueel voortplant.
Mense, en trouens die meeste diere, plant egter geslagtelik voort.
Dit beteken dat twee geslagselle nodig is, een van ’n man en een van
’n vrou, om saamgevoeg te word en ’n nuwe lewende wese net soos
hulle te vorm.
Geslagtelike voortplanting is dus die proses waar mense die lewe aan
mensebabas skenk, katte klein katjies kry en koeie kalwers.
Maar voordat voortplanting kan geskied, moet ’n proses genaamd
bevrugting eers plaasvind. Bevrugting is die samevoeging van ’n
manlike sperma-sel en ’n vroulike eier-sel, ’n vereniging waar ’n
nuwe sel ontstaan wat in staat is om homself te verdeel en nog baie
meer selle te vorm—’n nuwe lewe.
|
Die vroulike voortplantingstelsel

BO: Die vroulike
voorplantingstelsel.
Illustrasie: Girls Health /
U.S. Department of Health and Human Services.
Vertaling: Mieliestonk
AL DIE voortplantingsorgane van ’n vrou is binne-in haar liggaam.
Belangrike organe is die baarmoeder (uterus) en eierstokke. Die
baarmoeder is ’n hol orgaan met die vorm van ’n peer wat onderstebo
lê. Dit is aan die binnekant met ’n membraan uitgevoer. Die
baarmoeder skep vir die baba ’n veilige plek om in te ontwikkel en,
omdat dit elasties is, kan dit rek namate die baba groei.
Die eierstokke is twee klein orgaantjies naby die baarmoeder, wat
eierselle vervaardig en berg. Die onderste deel van die baarmoeder
gaan uit in ’n buis wat die vagina genoem word en met die buitekant
verbind is.
Elke maand van die puberteit af (wat tussen die ouderdomme elf en
vyftien jaar begin) laat die eierstokke een eiersel vry. Die eier,
wat kleiner as ’n speld se kop is, beweeg in die smal eierleier of
Fallopiusbuis af. Dit word ovulasie genoem.
Uiteindelik gaan die eier die baarmoeder binne. Teen dié tyd het die
membraan waarmee die baarmoeder uitgevoer is, dik en sponserig
geword om vir ’n moontlike bevrugting voor te berei.
Word die eiersel bevrug, bly dit in die baarmoeder en ontwikkel dit.
Indien nie, gaan dit dood en word dit, saam met die bloed en dele
van die membraan, deur die vagina uit die baarmoeder uitgestoot.
Hierdie tydperk van bloeding, wat menstruasie genoem word, duur van
drie tot vyf dae.
|
|
Die manlike voortplantingstelsel

BO: Manlike
voortplantingsorgane en sekere ander organe.
Illustrasie deur
“Indolences”, wat dit by Wikimedia Commons
op die wêreldwye web tot openbare besit
verklaar het (“released to the public
domain”). Vertaling: Mieliestronk
DIE meeste van die manlike voortplantingsorgane is buite die
liggaam, voor tussen die bene. Twee belangrike organe is die penis
en die skrotum. Die penis is ’n roedevormige orgaan wat sperma
binne-in die vroulike baarmoeder laat. ’n Hol buis, die urinebuis of uretra, loop
deur die penis.
Die skrotum is ’n sak wat twee organe, die testikels, bevat, wat
sperma-selle vervaardig en berg.
Sperma-selle beweeg van die testikels af deur ’n buis, die
saadleier, en bereik die urinebuis waar hulle in ’n witterige vloeistof
swem wat semen genoem word. Dié word deur drie kliere, waarvan een
die prostaat is, uitgeskei.
Die urinebuis of uretra het twee funksies: om urine van die blaas af buitentoe te
voer (die blaas is die orgaan waar urine versamel voordat dit die
liggaam verlaat) en om semen te dra. Hoewel urine sowel as semen
deur die uretra beweeg, doen hulle dit nooit gelyktydig nie.
|
Bevrugting

BO: ’n Sperma-sel bevrug ’n eier.
Foto:
www.pdimages.com
TYDENS geslagsgemeenskap dring die penis die vagina binne en stort
semen uit. Die swemmende sperma in die semen gaan die baarmoeder
binne en bereik die Fallopiusbuise. Sou een van die Fallopiusbuise
’n eier bevat wat dieselfde of die vorige dag vrygelaat is, vind
bevrugting plaas.
Sowat dertig uur ná bevrugting verdeel die enkele sel in twee.
Hierdie twee selle verdeel dan op hul beurt om vier selle te vorm.
Die vier verdeel tot agt ... en so gaan dit voort om ál meer selle
te vorm.
Terwyl dit gebeur, beweeg die eier na die baarmoeder. Sodra dit die
baarmoeder binnegegaan het, dring dit deur die voering en begin
spoedig voeding van die moeder ontvang. Die eier is gereed om tot ’n
baba te ontwikkel.
|
Embrio-stadium

Foto: Centers for Disease
Control and Prevention / U.S. Department
of Health and Human Services
IN DIE eerste twee maande ná bevrugting
begin die ontwikkelende
eiersel, wat in hierdie stadium nog as ’n embrio bekend staan, al
hoe meer na ’n menslike wesentjie lyk. Die klein, ronde, verdelende
balletjie verander geleidelik sy vorm en word ’n rare klein
kloddertjie. Teen drie weke is dit so groot soos ’n ryskorrel. Ná
nog drie weke begin arms en bene verskyn.
BO: ’n Lewensgroot
modelletjie van die ontwikkelende lewetjie op agt
weke toon dat hy reeds ’n mensvormpie het met die
armpies en beentjies inkluis—al is hy nog so
piepklein dat ’n mensehand hom kan toevou.
Foto: Bill
Davenport,
verkry van
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web. Toestemming word verleen vir die
kopiëring, verspreiding en/of wysiging van die item
ingevolge die bepalinge van die
GNU Free Documentation License
(GNU-lisensie vir vrye dokumentasie), weergawe 1.2,
of enige latere weergawe soos uitgereik deur die
Free Software Foundation; sonder Invariante Seksies,
sonder Omslagtekste vir die Voorkant en sonder
Omslagtekste vir die Agterkant. ’n Kopie van die
lisensie is vervat in die afdeling getiteld
"GNU
Free Documentation License".
|
Fetus

BO: ’n
Foto van ’n menslike fetus in ’n bottel wat in ’n Europese
inrigting vir die opleiding van verpleërs geneem is.
Foto deur “Targan”,
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot
openbare besit verklaar het (“released to the public
domain”): Retoesjering: Mieliestronk
TEEN twee maande het belangrike organe soos die brein, rugstring
en die hart gevorm. Die vingers en tone is ook reeds merkbaar, asook
die oogholtes, ore en nek. Die spiere en vel begin eweneens vorm.
In hierdie stadium staan die ontwikkelende baba as ’n fetus bekend.
Hy is nog so klein dat hy in ’n teelepel sal kan inpas.
Regdeur sy ontwikkeling is die ongebore baba veilig en knus binne-in
die ma se baarmoeder. Hy dryf in die baarmoeder in ’n vloeistof
genaamd vrugwater, wat hom teen stampe en stote beskerm. Die
vloeistof is in ’n sak wat die vrugwatersak genoem word.
Die baba is deur middel van die naelstring aan die moeder se
baarmoeder geheg. Op die plek waar die naelstring en die baarmoeder
bymekaarkom, ontwikkel ’n plasenta. Die plasenta is ryk aan bloed
wat voedsel en suurstof bevat. Dit word deur middel van die
naelstring aan die baba oorgedra.
In die derde en vierde maand ontwikkel organe soos die niere en
spysverteringskanaal, asook die hare en naels. Die fetus begin sy
arms en bene beweeg; partykeer gee hy ’n harde skop wat die ma kan
voel.
Namate die baba groei, sit die baarmoeder uit om vir hom plek te
maak.
Die vyfde en sesde maand is belangrik, want dan ontwikkel die
senustelsel. Die fetus kan sy vuisies bal, sy oë oop en toe maak, en
hy raak aan die slaap en word dikwels wakker.
Word die baba nou vroeg gebore (voordat sy nege maande verby is),
sal dit vir hom moontlik wees om in ’n broeikas te oorleef.
Teen die einde van die nege maande druk en stoot spiere in die wand
van die baarmoeder die baba ondertoe. Hy lê gewoonlik onderstebo
sodat hy met sy koppie eerste in die wêreld kom.
Net voor die geboorte bars die vrugwatersak en die vloeistof kom
uit. Die baba word uit die baarmoeder in die vagina ingedruk en
uiteindelik tot in die vreemde wêreld hier buite. Baie welkom, nuwe
mensie!
|