Die geskiedenis van die geneeskunde (3)  

 

•    Klik hier vir hoofstuk 1        •    Klik hier vir hoofstuk 2

 

Weerlose miljoene en

 die dodelike pes...
 

Lyke word weggekarwei tydens die Groot Pes van Londen in 1665

 

BO: Lyke word weggekarwei tydens die Groot Pes van Londen in 1665.

Illustrasie: S. Wale / PD Old

In die geskiedenis van die geneeskunde was daar baie hoogtepunte en laagtepunte. Pandemies soos die pes (of “Swart Dood”) toe dokters hulpeloos moes toekyk hoe miljoene mense afgemaai word, tel onder die ontsettende laagtepunte. Hoogtepunte was byvoorbeeld die ontdekking van entstof teen die gevreesde polio... en die eerste hartoorplanting deur Suid-Afrika se prof. Chris Barnard...

Teks hoofsaaklik uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
 

B

RING al jul dooies! Bring al jul dooies!” 'n Toiingrige man wat ’n tweewiel-kar trek, loop in ’n rumoerige steeg af en skreeu dié makabere woorde. Daar is geen straatligte nie, maar in die skemer kan hy tog die mensefigure uitmaak. Hulle is besig om dooie mense uit hul huise te dra of te sleep.

 

Hy trek die kar tot langs hulle, hou sy hand uit om betaal te word en laai dan die lyke op. Wanneer sy kar vol gelaai is, rammel hy voort na die begraafplaas toe, waar die stapel kadawers sonder 'n kerkdiens ter ruste gelê sal word.

 

Die builepes wat in die 1300’s van die Ooste af na Europa gebring is was een van die skrikwekkendste en mees wydverspreide pandemies in menseheugenis. Regdeur die wêreld is sowat 75 miljoen mense daaraan dood. Daar was wanhoop en paniek so ver as wat die siekte versprei het.

 

Wat mense duidelik nie besef het nie, is dat vlooie bes moontlik die verwekkers van hierdie gevreesde besoeking was. Die vlooie het op rotte geteer en dan na mense oorgespring om die “Swart Dood” te veroorsaak, soos dit bekend sou staan. Sodra mense besmet geraak het, het hulle vinnig by mekaar aangesteek.
 
Maar waarom word dit juis builepes of die Swart Dood genoem? Die redes is eenvoudig. Die pes veroorsaak koors en ’n pynlike swelling van die limfkliere—opswellings wat as buile bekend staan. Lyers kry ook kolle op die vel wat aanvanklik rooi is en dan swart word.

 

REGS: Dik gedrink aan bloed sit hierdie mannetjie van Xenopsylla cheopis, oftewel die Oosterse rotvlooi. Dié vlooi is ’n belangrike draer van builepes. Sowel die mannetjies as die wyfies kan besmetting veroorsaak (anders as by byvoorbeeld malariamuskiete waar dit slegs die wyfies is wat mense met malaria besmet).

Krediet: U.S. Centers for Disease Control and Prevention

Soos gesê, word daar gereken dat builepes keer op keer na Europa teruggekeer het—tot in die agttiende eeu en telkens in ’n ligter of dodeliker gedaante. In 1603 is 38 000 inwoners van Londen daardeur gedood, maar in dieselfde eeu was daar ook ’n string ander berugte uitbrake, waaronder die Groot Pes van Londen van 1665. In die negentiende eeu het die siekte egter blykbaar uit Europa verdwyn, toe die Europeërs meer gesteld op higiëne begin raak het en rotte en vlooie waarskynlik heelwat minder geduld is.

Builepes en “Dokter Snawel van Rome”

LINKS BO: ’n Slagoffer van die verskriklike builepes—’n deel van ’n illustrasie van die “Swart Dood” uit ’n ou Bybel van 1411 (spieëlbeeld).

 

REGS BO: Die pes het herhaaldelik teruggekeer en onder die Europeërs gemaai totdat dit in die negentiende eeu blykbaar uit Europa verdwyn het. Hier is ’n karikatuurtekening uit die jaar 1656 tydens die pesepidemie van Rome. Dit staan bekend as “Dokter Snawel van Rome,” en met hierdie eienaardige drag het die dokters destyds probeer keer dat hulle aansteek en self die pes kry. Met ’n mantel, skutbril, pesmasker en handskoene het hulle die siekes genader. In die “snawel” was glo ’n “geurige spesery”.

 

VROEËR was die mense van Europa baie siekliker as vandag. In die Middeleeue, en selfs so onlangs as die sewentiende en agttiende eeu, is die verband tussen sindelikheid en gesondheid eenvoudig nie begryp nie.

 

Honderde jare lank het dorpenaars hul vullis in die strate gegooi en hul kamerpotte se inhoud by die vensters uitgesmyt.

 

Die strate het van die kante af binnetoe ingeduik om ’n sloot in die middel te vorm sodat die reën die vullis en riool kon wegspoel. Die straatvore het dikwels verstop geraak en ’n teelaarde vir allerhande nare siektes geword.

 

Party huise het groot kelders of sogenaamde vuilputte onder hul vloere gehad, waarin mense hul afval gegooi het. In ander was die vloer eenvoudig die toilet.
 

Vee en troeteldiere het die strate nog verder bevuil. Rotte het hul pad tot in die houthuise ingeknaag. Allerhande goggas het in die mense se beddens, klere en selfs in hul pruike gewoon.

 

Die Industriële Omwenteling van die 1700’s en vroeë 1800’s het nuwe probleme gebring. Gesinne uit die platteland is in vuil huise in stedelike woongebiede saamgebondel, waar hulle water van besoedelde riviere gedrink en besoedelde lug ingeasem het.

 

Digbevolktheid en besoedeling as gevolg van die Industriële Omwenteling

BO: Digbevolktheid en besoedeling as gevolg van die Industriële Omwenteling word geïllustreer in hierdie werk getiteld “Over London” deur Rail Gustave Doré (ca. 1870).

Dit was egter ook die tyd toe mense begin besef het hoe belangrik dit is om sindelik te lewe, en openbare gesondheidsmaatreëls is geleidelik verbeter.

 

Vandag, ten minste in die ontwikkelde lande, is baie siektes van die verlede uitgeskakel omdat die mense hulle skoon hou.

 

Deesdae word die groot stryd eintlik gevoer teen die siektes wat ons op onsself laat neerkom. Dit is kwale wat ontstaan deurdat ons onder meer heeltemal verkeerd eet. Die meeste van ons verorber te veel “fabriekskos” soos beskuit en koek, wat ons versadig laat voel, maar dikwels nie die voedingstowwe bevat wat ons nodig het om gesond te bly nie.

 

Ons eet ook te veel vetterige voedselsoorte soos sekere soorte vleis en te min vars vrugte en groente. Te veel vetterige kos maak ons oorgewig en verhoog die gevaar van hartsiektes.

 

Boonop word baie moderne mense siek omdat hulle nie genoeg oefening kry nie, te gespanne is, blootgestel is aan besoedelende stowwe, te veel alkohol drink, rook en gevaarlike middels sluk.

 

Dokters beskou ons verkeerde praktyke as ’n kennelike laagtepunt in die geskiedenis van menslike lewenswyses en die stryd om gesond te bly.

 

Nog ’n laagtepunt, wat die mens egter nie oor homself gebring het nie, maar hom uit die bloute getref het, was die sogenaamde Groot Griep.

 

Die Groot Griep

BAIE meer mense is in die Spaanse griepepidemie van 1918-’19 dood as wat in die voorafgaande Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. Mense wat in New York gehoes en genies het, kon met $500 beboet word. Die inwoners van San Francisco kon tronk toe gaan as hulle nie hul neus en mond in die openbaar met ’n katoenmasker bedek het nie.

 

Maskers moes keer dat die dodelike griep versprei...

BO: Maskers moes keer dat die dodelike griep na nuwe slagoffers versprei...

Krediet: NLM / U.S. National Institutes of Health

 

Griepvirusse word genoem na die streek waar hulle vir die eerste keer in ’n laboratorium geïsoleer is. Die Spaanse griep (wat vermoedelik eintlik in China ontstaan het) kon besonder vinnig toeslaan. Daar is verhale van mense wat gesond werk toe gegaan en dood neergeval het voordat hulle die fabriek of kantoor bereik het.

 

In New York het vier vroue sit en brug speel, en aan die einde van die aand het slegs een nog gelewe.

 

Ook in Suid-Afrika het die griep ongekende verwoesting gesaai. Gesinne op plase is gelyk getref, met ’n hoë koors, dermprobleme en ondraaglike spierpyne, maar daar was niemand om vir hulle te sorg nie. Albei ouers is soms dood, met verwese klein kindertjies wat dan ouerloos gelaat is.

 

Benewens die Spaanse griep was daar in die twintigste eeu nog twee ernstige griepepidemies: die Asiatiese griep in die 50’s en Hongkong-griep in 1968. Die beskikbaarheid van antibiotika om sekondêre infeksie teen te werk, en beter gesondheidsorg in die algemeen, het die dodetal in die laaste twee epidemies baie beperk. (Lees ook ons volledige artikel oor verkoues en griep.)

 

Hier volg die nies!

VROEËR is geglo dat jou siel aan jou asem vas is. Nies kon dus gevaarlik wees, want sê nou maar jy nies jou siel weg? Of, as jy jou mond oopmaak terwyl jy nies, kan bose geeste mos in jou invaar…

 

Om sulke rampe af te weer sou iemand wat die naaste aan jou is jou seën wanneer jy genies het—die oorsprong van die Engelse gebruik, vandag nog, om ’n nies met ’n “bless you” op te volg.

 

’n Nies bars van die mond en neus af weg met ’n snelheid van 160 km/h. Dit kan tot 100 000 klein-klein druppeltjies met bakterieë gevulde slym saai—tot 2,5 meter ver.

 

Hier volg die nies...Opspraakwekkende ou niesfilmpie!

 

LINKS: “Dames en here, hier volg die nies. Aaa-tiesjoe!” Die Amerikaner Frederick P. Ott (1860–1936) sou bes moontlik deur die geskiedskrywers vergeet gewees het, as dit nie is dat hy verskyn in twee van die vroegste rolprentjies wat behoue gebly het nie. In een is hy by ’n voël afneem en in die ander neem hy ’n knypie snuif… en laat waai met sy geproes (kyk animasie hierby). Die filmpie van sy niesery is maar net ’n paar sekondes lank. Ott het in die 1890’s in die laboratorium van die beroemde Amerikaanse uitvinder Thomas Edison gewerk. By al sy werksaamhede en uitvindsels het Edison ook vir rolprentjies gesorg, iets alte aardigs in sy tyd. Die vervaardiger van die nuusfilm... ekskuus, niesfilm... was ene William K.L. Dickson. Dit is in 1894 gemaak.

 

Krediet: Edison Historic / PD Old / via Wikipedia

 

’n Les van Elizabeth

DIE Engelse koningin Elizabeth 1 (1533- 1603) het, só word vertel, pikswart tande gehad weens tandverrotting. Die voorstes het na bewering uiteindelik uitgeval en, omdat haar wange sou ingeval het, het sy glo ’n doek in haar mond geprop wanneer sy in die openbaar verskyn het. Ryk Europeërs het in die sestiende eeu soveel suiker geëet dat baie van hulle swart tande en ’n stink asem gehad het.

 

Ongure kure

· Sekere dokters het in die Middeleeue hul pasiënte in die riole laat sit. Hulle het geglo dat die reuk van ontlasting die siektes die wyk sou laat neem.

· Kinkhoes is behandel deur ’n lewende padda in die pasiënt se mond te sit.

· Een metode om bloed uit pasiënte te trek was deur bloedlating met suigkoppies. Klein verhitte koppies is oor skrapies in die vel geplaas. Namate die lug in die koppie verkoel het, is ’n lugleegte gevorm wat die bloed uitgesuig het.

· Gapende oorlogswonde is eens behandel deur kokende olie of water daaroor te gooi om infeksie te keer.

· Een Romeinse geneesheer het glo hoofpyn en jig met ’n elektriese vis genees.

· Galenus (kyk vorige artikels) het aanbeveel dat holtes in tande met gebraaide erdwurms gestop moet word.

 

Kan jy glo?
 

•  Die volgende raat teen epilepsie is eenmaal voorgestel: “Neem ’n spyker van ’n skeepswrak, maak ’n armband daarvan en sit daarin die been van ’n takbok se hart wat uit sy liggaam geneem is terwyl hy nog gelewe het; sit dit aan die linkerarm; die resultaat sal jou verstom.”

· Bloedsuiers is in die ou dae op mense geplaas om die “slegte bloed” uit te suig—wat tot tagtig persent van die pasiënt se bloed kon wees. Vroue het bloedsuiers versamel deur in water te loop wat vol van die gulsige goeters was en het dan hul bene as aas gebruik.

 

BloedsuierREGS: Die praktyk om bloedsuiers geneeskundig te gebruik, bestaan blykbaar nog op sekere plekke, te oordeel na hierdie foto. Hier is ta ewe lustig besig om ’n bloedgeswel van ’n wond te dreineer.

 

Foto: Astrid & Hans-Frieder Michler, Science Photo Library

 

· In die agttiende eeu het vroue hoë kapsels gedra wat met was in posisie gehou is. Muise het selfs in hul hare gewoon en die was gevreet.

· ’n Kluisenaar met die naam Simon Stylites, wat sy tyd bo-op ’n pilaar verbeusel net, het toegelaat dat maaiers sy liggaam vreet en hulle aangemoedig om te “eet wat die Here voorsien het”. Maaiers word inderdaad vandag nog op sekere plekke gebruik om wonde skoon te maak.

 

· Tandheelkunde het eers in die negentiende eeu ’n beroep geword. Voor dit is tande deur allerhande soorte mense getrek.

 

Watter diere is die heel gevaarlikste vir die mens?

MUSKIETE! Hulle dra malaria en meer as honderd virussiektes oor, waaronder geelkoors, en maak elke jaar honderde miljoene mense siek. Van hierdie siektes is malaria die dodelikste: meer as ’n miljoen mense in Afrika sterf jaarliks as gevolg daarvan. Meer mense is deur die jare aan malaria dood as in al die oorloë wat ooit geveg is. Malaria-parasiete vernietig rooi bloedselle deurdat hulle op die hemoglobien in die selle teer. (Lees meer oor malaria.)

 

Bakterieë en virusse

BAIE van die mens se siektes word deur twee soorte organismes veroorsaak: bakterieë en virusse. Mense het geen benul gehad wat hulle siek maak nie—of allerhande foutiewe idees daaromtrent gehuldig—totdat die bestaan van sulke mikrobes ontdek is.

 

’n Bakterie is ’n enkelvoudige sel en dus te klein om met die blote oog gesien te word. As die volopste lewensvorms op aarde, kom hulle feitlik oral voor—in die lug, grond, mere, waterpanne en riviere, in die see, op jou vel en binne-in jou liggaam.

 

Die meeste bakterieë is onskadelik. Trouens, party is goed vir ons. Dié wat byvoorbeeld in die ingewande van mense en diere woon, help met die spysvertering. ’n Paar veroorsaak egter siektes en partykeer selfs die dood.

 

Belangrike bakteriese siektes is onder meer tuberkulose, cholera, melaatsheid, kinkhoes en buiktifus.

 

Virusse is baie kleiner as bakterieë. Baie het die vorm van stawe en sfere. Anders as ander organismes, het virusse nie selle nie. Pleks daarvan het hulle twee hoofdele: ’n buitebedekking van proteïen; en ’n kern van nukleïensuur, óf DNS (deoksiribdnukleïensuur) óf RNS (ribonukleïensuur). (DNS is die stof in selle wat ’n rol in erflikheid en selontwikkeling speel. RNS speel ’n rol in proteïenvorming.)

 

Wetenskaplikes is nie seker of virusse as lewende of nie-lewende organismes beskou moet word nie. Hulle kan slegs aanteel deur lewende selle te parasiteer.

 

Buitekant gasheerselle is hulle niks meer as pakkies onaktiewe chemikalieë nie. Sodra hulle egter die selle binnegedring het, word hulle verwoestende monsters wat beheer van die selle oorneem en hulle in fabrieke verander wat kopieë van die virusse maak. Wanneer hulle eers gevestig is, versprei hulle maklik na ander selle en doen dieselfde daar.

 

In die proses word die selle dikwels vernietig, wat siektes tot gevolg het. Virusse is verantwoordelik vir siektes soos pokke, hondsdolheid, polio, masels, pampoentjies, waterpokkies, lewerontsteking, die gewone verkoue, griep en vigs. Daar is baie virusse wat diere en plante besmet en party val selfs bakterieë aan. (Lees ook ons ander artikel oor bakterieë.)

 

MIV en vigs

MIV (oftewel "Menslike Immuniteitsgebrek-Virus") is die virus wat vigs veroorsaak. (Vigs is weer 'n akroniem vir Verworwe ImmuniteitsGebrekSindroom, en die Engelse Aids vir "Acquired Immune Deficiency Syndrome".)

 

Die siekte is in 1981 ontdek en het spoedig regoor die wêreld versprei. Die virus val die selle aan wat die liggaam verdedig en maak dit kwesbaar vir allerhande soorte infeksies.

 

MIV word in liggaamsvloeistowwe gevind en word versprei deur geslagsomgang met 'n besmette persoon te hê, deur die oortapping van besmette bloed of deur spuitnaalde te deel (soos dwelmslawe maak). Swanger moeders kan ook die virus na hul ongebore babas oordra. (Lees ook ons volledige artikel oor vigs.)

 

Toorgenesers

TOORDERY was in die antieke tyd—en is vandag nog in verskillende wêrelddele—die kern van baie stamme se geneeskundige praktyke. Die sangomas (toordokters) van ons eie wêrelddeel is baie bekend. (Lees ons artikel oor tradisionele helers in die Afrika-religie.)

 

Dood van die lag

LAGSIEKTE, of kuru, is ’n dodelike siekte wat, sover bekend, nog slegs by die Fore-kannibale van Papoea-Nieu-Guinee aangetref is. Wetenskaplikes reken die virus wat dit veroorsaak, kon versprei het deur die menslike breine wat hulle geëet het.

 

Suid-Afrikaanse baanbrekers in die geneeskunde
 

PROF. CHRISTIAAN NEETHLING BARNARD (1922-2001) [LINKS] van Suid-Afrika het nie net die eerste hartoorplanting in die geskiedenis gedoen nie, maar ook chirurgiese prosedures vir orgaanoorplantings en nuwe hartkleppe ontwikkel. Prof. Barnard en sy span het in nag van 2 op 3 Desember 1967 in ’n epiese operasie van vyf uur die eerste keer die hart van een mens in ’n ander een oorgeplant.

 

Nog ’n Suid-Afrikaanse baanbreker in die geneeskunde was die fisikus Allan Cormack (1924-1998) [REGS]. Hy en Godfrey Hounsfield van EMI Laboratories het die sogenaamde Computed Axial Tomography Scan, of CAT-skandeerder,  wat driedimensionele X-plate neem, by die Tufts-universiteit in Brittanje ontwikkel. Vanweë hul prestasie het hulle in 1979 die Nobelprys vir Fisiologie en Geneeskunde ontvang.

 

Deurbraak teen die polio-virus
  

SalkREGS: Jonas Salk.

 

Foto: PHIL / U.S. Centers for Disease Control and Prevention

 

OUER Suid-Afrikaners onthou ’n keer meer as ’n halfeeu gelede toe skole vir ’n tyd lank gesluit is weens die gevaar van “kinderverlamming”. Die siekte poliomiëlitis,  meer dikwels polio genoem, het soveel kinders platgetrek dat die skole toegemaak is om die verspreiding daarvan te voorkom. Polio is ’n aaklige siekte wat die senustelsel kan aanval, spierswakte kan veroorsaak en tot ’n akute en blywende verlamming van ledemate en selfs die dood kan lei.

 

Daar was geen mediese manier om te keer dat mense die siekte opdoen nie.

 

Toe word op 12 April 1955 aangekondig dat die Amerikaanse geneesheer-bioloog Jonas Edward Salk (1914–1995) die wêreld se eerste geslaagde entstof teen polio ontwikkel het. Twee polio-entstowwe, waaronder dié van Salk, word steeds regoor die wêreld gebruik om dié siekte te bestry.

 

Vir Salk het dit hoegenaamd nie om ryk word gegaan nie. Toe eenmaal aan hom gevra is wie die patent vir sy entstof besit, was hy enigsins verbaas dat iemand sou dink dat hy geld daaruit sou wou maak. “Daar is geen patent nie,” het hy gereageer. “Kan jy die son patenteer?”

 

Vandag probeer die Wêreld-Gesondheidsorganisasie en ander liggame om polio heeltemal op die aarde uit te wis deur middel van intense inentingsveldtogte. As dit met pokke gedoen kon word, word geredeneer, waarom nie ook met polio nie?

 Geskiedenis van die geneeskunde

 •    Klik hier vir hoofstuk 1        •    Klik hier vir hoofstuk 2

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad