Die geskiedenis van die geneeskunde (2)  

 

•    Klik hier vir hoofstuk 1        •    Klik hier vir hoofstuk 3

 

Lykestelers en liggaamshelers

 

Barbier hou sy lyf tandartsREGS: Detail van die skildery Die Kwaksalwer (omstreeks 1785) deur Franz Anton Maulbertsch. Dit toon ’n barbier wat besig is om sy lyf tandarts te hou en in ’n pasiënt se mond rondwoel.

 

Sal jy jou haarkapper vra om jou seer tand te trek of, nog erger, om ’n groot maagoperasie op jou uit te voer? Daar was ’n tyd toe mense wel sulke dinge gedoen het. Die sewentiende, agttiende en negentiende eeu is deur verskeie revolusionêre wetenskaplike ontdekkings gekenmerk, maar sekere bisarre gelowe en praktyke het steeds in die geneeskunde voortgeleef... nie die minste nie die praktyk om snags in die begraafplase rond te sluip, grafte oop te grawe en die lyke uit die kiste te steel...

Teks hoofsaaklik uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

 

D

IS skuins ná middernag. ’n Koue wind sidder oor die Skotse laaglande. ’n Ronde maan koes-koes agter digte, swart wolke in.

 

Voorstelling van ’n lykrower

 
BO: ’n Voorstelling van ’n lykrower in ’n be­graafplaas. Dit kan nogal belangrik wees om tussen die begrippe lyfroof en grafroof te onderskei. ’n Lykrower steel ’n lyk; ’n graf­rower steel in die reël die kosbare dinge in ’n graf of tombe wat saam met die oorledene begrawe is, soos waar die skatte van gestor­we farao’s in die verre verlede uit hul graf­kelders gesteel is.
 

Krediet: MSKARG 

JY sou dink dat almal in die bed en vas aan die slaap moet wees, maar in ’n begraafplaas beweeg drie skadubeelde heimlik tussen die grafstene. Wanneer die maanlig op hulle val, sien jy dat hulle pikke en grawe met hulle saampiekel.

 

Skielik gaan staan hulle langs ’n vars graf. Hulle begin grawe. ’n Halwe meter diep, een meter… totdat hulle uiteindelik by die doodkis uitkom.

 

Dan, met ’n paar sterk ysterhake, trek hulle die deksel van die kis af en daarna tel hulle die dooie liggaam uit die graf uit. ’n Minuut later is hulle weg, met die lyk en al.

 

Dit klink alte veel soos iets uit ’n grillige Dracula-fliek, maar lykroof was iets algemeens in die agttiende- en negentiende-eeuse Skotland.

 

 

Al hoe meer mense het in die medisyne gestudeer en steeds meer lyke was vir ontleding nodig. Studente is egter slegs toegelaat om met die kadawers van misdadigers te werk.

 

Lykrowers het gekyk waar dooies begrawe word en dan die lyke gaan opgrawe om hulle vir ’n aansienlike bedrag aan anatomiste in Edinburgh te verkoop.

 

Familielede van oorledenes het sulke diewe probeer afskrik deur beroepswagte te huur om die grafte op te pas, of deur groot ysterhokke bo-op die grafte te plaas.

 

Maar die disseksie (ontleding) van onopgeëiste lyke van armehuise en hospitale is tog uiteindelik gewettig. Lykroof is daardeur die nekslag toegedien.

 

DIE sewentiende, agttiende en negentiende eeu is deur revolusionêre wetenskaplike ontdekkings gekenmerk, wat ook tot ontsaglike vorderings in die geneeskunde gelei het.

 

Een van die vroegste baanbrekers van die moderne medisyne was ’n Engelse dokter genaamd William Harvey (1578-1657). Sedert die tyd van Galenus (kyk die vorige aflewering in hierdie reeks) is geglo dat bloed van die hart af na die res van die liggaam vloei deur twee soorte buise—slagare en are—en met dieselfde pad langs na die hart toe terugkeer.

 

William Harvey

REGS: William Harvey, geskilder toe hy nagenoeg vyftig  jaar oud was.

 

Krediet: detail van ’n skildery deur ’n onbekende kunstenaar in die National Portrait Gallery in Londen / via Wikipedia
 

Harvey het sowel die lyke van mense as die karkasse van diere ontleed en besef dat die hart bloed deur die slagare na alle dele van die liggaam pomp en dat die bloed dan deur die are terugkeer na die hart.

 

Harvey se ontdekking was ’n belangrike deurbraak in die mediese geskiedenis, want daar is aangetoon dat ’n mens die samestelling van die liggaam eers reg kan begryp as jy sy werkinge verstaan.

IN DIE middel van die 1600’s het ’n Nederlandse handelaar in kledingstowwe, wat ook ’n amateur-dokter was, ene Antoni van Leeuwenhoek (1632—1723), ’n mikroskoop begin gebruik om organismes te ondersoek wat te klein is om met die blote oog te sien. (Vandag noem ons hierdie organismes mikrobes.)

 

Antoni van LeeuwenhoekLINKS: Antoni van Leeuwenhoek.

 

In 1675 het hy beskryf wat hy in sekere skraapsels van sy tande gesien het: “Diertjies talryker as al die mense in Nederland, wat op die verruklikste manier beweeg.”

 

Van Leeuwenhoek was ook die eerste mens wat wonderbaarlike dinge soos bakterieë, gisplantjies en die wemelende lewensvorms in ’n enkele druppel water bekyk het. Hy het boonop waargeneem hoe die rooi bloedliggaampies deur die haarbuise van ’n konyn se oor en die web van ’n paddapoot sirkuleer.
 

Hoewel Van Leeuwenhoek nie die belangrikheid van sy ontdekking van “diertjies” en ander minuskule  besef het nie, het sy navorsing nietemin die weg gebaan vir die studie van bakterieë en siektes.

 

IN DIE 1790's het  Edward Jenner (1749-1823), ’n dokter van Engeland, met ’n entstof vir die hoogs aansteeklike en dodelike pokke vorendag gekom. Voor Jenner se tyd het sestien mense uit elke 2000 van die bevolking aan pokke beswyk. Ná inenting het slegs sestien per miljoen weens dié siekte gesterf.

 

Edward JennerREGS: Edward Jenner.
 

Die skrander Jenner het agtergekom dat melkmeisies wat ’n verwante maar onskadelike siekte genaamd koeipokkies opgedoen het, nooit pokke gekry het nie. Dit het hom aan die dink gesit. Ná 25 jaar se navorsing en proewe het hy uiteindelik in 1796 etter geneem uit die hand van ’n melkmeisie wat met koeipokkies besmet geraak het en dit op die arm van ’n agtjarige seun geënt. Die seun het koeipokkies gekry, maar spoedig herstel.

 

Twee maande later het die werklike toets gevolg, toe Jenner vir James met die vog van ’n pokke-seer ingespuit het. Die knaap het niks oorgekom nie. Sy liggaam het ’n weerstand teen pokke opgebou.

 

Jenner se idee het vinnig ingang gevind en minder as ’n dekade later was 12 000 mense reeds teen pokke ingeënt. Die verspreiding van die siekte kon nou gekeer word. Minder as ’n eeu later, in 1980 ná ’n wêreldwye inentingsveldtog, kon die Wêreldgesondheidsorganisasie verklaar dat die gevreesde pokke op die aarde uitgewis is. Tot vandag toe is dit die enigste aansteeklike menslike siekte wat geheel en al uit die natuur verwyder is.

 

Jenner se naam is verewig as die man wat die wêreld verlos het van een van die aakligste siektes wat ooit bestaan het. Hy word ook beskou as die man wat die fondament gelê het vir die immunologie (die wetenskap van die onvatbaarbaarheid vir aansteeklike siektes).

 

Kind met pokke

BO: Pokke, toe dit nog bestaan het... iets van die verskriklikheid daarvan kan by hierdie jong pasiëntjie gesien word. Tussen 20 en 60 persent van die slagoffers wat met die virus besmet was, en meer as 50 persent van die kinders, het aan die siekte beswyk. Dit is gekenmerk deur ’n puisieagtige uitslag oor die hele liggaam wat in etterige sere verander het. Ook Suid-Afrika was in sy verlede die verskrikking van pokke nie gespaar nie. ’n Uitbraak in 1713 aan die Kaap en latere pokke-epidemies (in 1755 en ’n ernstiger uitbraak in 1767) het alles bygedra om die Khoikhoi-kultuur plaaslik só te verwoes dat die Khoi­khoi as ’n volk opgehou bestaan het en in die sogenaamde Kleurlingbevolking geassimileer is.

Foto: Centers for Disease Control and Prevention / U.S. Department of Health and Human Services

 

IN DIE ou dae was mense letterlik doodbang vir operasies. Ook geen wonder nie, want tot die 1840’s was daar geen werklik doeltreffende verdowingsmiddels nie. Pasiënte het geweet dat hulle elke beweging van die mes sou voel.

 

Hoewel dokters partykeer alkohol, opium en ander verdowings toegedien het, het dié nie regtig die pyn of die operasieskok verlig nie.

 

In 1799 het ’n jong Engelse skeikundige, Humphrey Davy, en twee vriende met distikstofmonoksied of laggas geëksperimenteer. Hulle het dit ingeasem en lighartig en vaak gevoel. Hulle het ook agtergekom dat hulle geen pyn gevoel het wanneer hulle per ongeluk teen iets gestamp het nie.

 

Davy het aanbeveel dat laggas tydens operasies gebruik moet word, maar niemand het hom aan sy voorstel gesteur nie. Trouens, die enigste mense wat dié gas gebruik het, was rondreisende kermiskunstenaars, wat mense laat betaal het om bietjies-bietjies daarvan te snuif en vrolik te word.

 

Davy-spotprent

BO: Humphrey Davy was self bekend vir die dramatiese eksperimente wat hy in die openbaar uitgevoer het. Hierdie detail van ’n bekende spotprent van weleer toon hoe hy en andere die gebruik van laggas demonstreer. Davy is die man regs wat  staan en grinnik met die blaasbalk in sy hande, terwyl ’n ander geleerde ’n slagoffer met  laggas “voer”. Wat nie hier gewys word nie, is hoe die slagoffer die ingeasemde gas in ’n groot wolk agter hom uitblaas soos oupa op die stoep nooit kon gehoop het om dit te doen nie! Die spotprenttekenaar was ene James Gillray.

Krediet: MSGS Photo Archives / PD Old

 

Humphrey DavyREGS: ’n Portret van Davy.

 

Davy se assistent, Michael Faraday, self ’n groot chemikus en fisikus, het met die vloeistof eter geëksperimenteer. Hy het agtergekom dat ’n mens aan die slaap raak wanneer jy daaraan ruik.

 

In 1831 het ’n Amerikaanse skeikundige, Samuel Guthrie, met ’n nuwe verdowingsmiddel genaamd chloroform vorendag gekom. Hy het dit spottend “sweet whisky” genoem, omdat dit ’n mens so dronk maak. Daar was egter min belangstelling in sy bevindings.

 

Toe, in die 1840’s, het twee Amerikaners, Crawford Long, ’n dokter, en William Morton, ’n tandarts, eter gebruik om pasiënte te laat slaap. Die koerante het van Norton se operasies kennis geneem en die nuus het vinnig versprei. Teen 1846 was ’n Britse chirurg, Robert Listen, ook besig om sy pasiënte met eter droomland toe te stuur.

 

Dit was die Skotse dokter James Young Simpson (1811-1870) wat in 1847 baanbrekerswerk gedoen het met die medisinale gebruik van  chloroform. Hy het chloroform as ’n algemene narkosemiddel aangewend. Waar dit eentyd baie deur dokters gebruik is, is chloroform egter in bepaalde opsigte gevaarlik en die kliniese gebruik daarvan het met verloop van tyd afgeneem met die ontdekking van veiliger narkosemiddels.

 

REGS: James Young Simpson.

 

Maar die pionierswerk van manne soos dié het dokters geleidelik laat besef dat daar nou ’n manier was om pyn uit te knikker.

 

MAAR daar is steeds nie besef dat sekere mikrobes siektes kan veroorsaak nie. Pleks daarvan het die mense gedink dat mikrobes die gevolg van siektes is. Laat in die 1800’s het die groot Franse skeikundige Louis Pasteur ontdek dat mikroörganismes wat in wyn, bier en melk voorkom, met hitte doodgemaak kan word, en dat verhitting kan keer dat die vloeistowwe sleg word.

 

Louis PasteurREGS: Louis Pasteur.

 

Pasteur het agtergekom dat kinders wat sulke behandelde melk drink, nie siek word nie. Hy het gereken dat die mikrobes in melk ’n mens kan siek maak. Hierdie organismes het hy kieme genoem.

 

Sy teorie is aanvanklik verwerp, maar mense het geleidelik begin besef dat hy reg het.

 

Pasteur se werk oor kieme is voortgesit deur Robert Koch, ’n Duitse geneesheer en wetenskaplike. Hoewel Pasteur vasgestel het dat kieme siektes veroorsaak, het hy nie geweet watter kieme die oorsaak van watter siektes is nie. Koch het ’n manier gevind om dit vas te stel.

 

Robert KochLINKS: Robert Koch.

 

Koch het hom toegelê op tuberkulose, ’n longsiekte wat in die agttiende en negentiende eeu tot baie sterftes gelei het (en vandag steeds talle lewens in Afrika eis). In 1882 het hy die mikrobe geïdentifiseer wat dit veroorsaak, maar ongelukkig geen entstof daarteen gehad nie.

 

In 1897 het Koch ook die oorsaak van runderpes bekend gemaak en wel ’n kuur daarteen gedemonstreer. Dis ’n siekte wat baie beeste in Suid-Afrika laat vrek het. Teen die einde van die 1800’s het wetenskaplikes die mikrobes geïdentifiseer wat vir builepes, melaatsheid, cholera, witseerkeel, disenterie en kaakklem verantwoordelik is.

 

HOEWEL die dokters nou begryp het dat kieme siektes veroorsaak, het hulle nie besef dat hulle self kieme van die een pasiënt na die ander kon oordra nie. Operasiekamers was vuil, chirurge het hul gewone klere gedra terwyl hulle gewerk het en hulle het nie hul hande tussen die operasies gewas nie. Só is baie pasiënte dood weens infeksies wat deur chirurge versprei is.

 

In die 1800’s het ’n Hongaarse dokter, Ignaz Semmelweis, die gedagte geopper dat dokters self besig was om siektes te versprei omdat hulle nie hul hande gewas en ontsmettingsmiddels gebruik het nie. Hy is egter so gespot oor sy idees, word vertel, dat hy later ’n geestesiekte ontwikkel het.

 

In 1865 het Joseph Lister, ’n Engelse chirurg wat in Skotland gewerk het, begin om operasieteaters, chirurgiese instrumente, sy hande, sy klere, die pasiënte se wonde—alles—met karbolsuur te bespuit. Hy het ook daarop aangedring dat verpleegsters hul hande was voordat hul aan pasiënte raak, en hy het pasiënte se wonde met gesteriliseerde verbande bedek om te keer dat kieme daarby uitkom.

 

Aanvanklik is ook die spot met sy menings gedryf, maar toe die meeste van sy pasiënte bly lewe, het dokters besef dat hy lets beet het. Chirurge het hulself deeglik begin was, rubberhandskoene en gesigsmaskers begin dra en hul toerusting in stoom gesteriliseer.

 

Eindelik was die weg gebaan vir die verstommende ontwikkelings van die twintigste eeu.

 

DIE mediese revolusie van ons tyd is moontlik gemaak deur baie wetenskaplike en tegnologiese ontwikkelings.

 

Die lys prestasies is enorm, maar onder die merkwaardigste is:

·         die ontdekking van X-strale in 1895 deur die Duitse fisikus Wilhelm Röntgen;

·         die ontdekking van radium in 1898 deur Pierre en Marie Curie, wat ons ‘n wapen van onskatbare waarde in die oorlog teen kanker gegee het;

·         die ontdekking van die waarde van vitamiene in die menslike dieet deur Christiaan Eijkman van Nederland, Frederick Hopkins van Engeland en ander geneeskundige wetenskaplikes, wat ons die siektes skeurbuik en beri-beri te bowe help kom het;

·         en die ontdekking in 1928 deur sir Alexander Fleming van die kiemdodende krag van die skimmel Penicillium, wat tot ons eerste antibiotikum gelei het.

 

Gewapen met die kennis wat die vroeë baanbrekers hulle gegee het, was wetenskaplikes in staat om duisende nuwe soorte medisyne en honderde entstowwe te ontwikkel, asook hoogs gesofistikeerde tegnieke om siektes te diagnoseer en te behandel—alles om die stoflike mens te help in sy ewige stryd teen sy kwale.

 

   

Nog interessanthede in die geskiedenis van die geneeskunde

 

Die “besienswaardighede” van Londen

 

ONDANKS die wetenskaplike ontdekkings ná die Renaissance is destyds min vordering op die gebied van geestesgesondheid gemaak. Diegene wat aan geestesiektes gely het, is in “kranksinnigegestigte” aangehou en aan bisarre “behandelings” onderwerp.

 

Hulle is onder meer met kettings vasgebind, dikwels hul lewe lank, en yskoue water is oor hulle gegooi. Party is in die “draaihok” geplaas—’n bed in ’n hok wat al in die rondte getol het. Geneeshere het ook die “klip van malligheid” uit die koppe van geestesversteurdes gesny.

 

Dit klink vandag hard en onmenslik, maar dit het destyds selfs mode geword om die “besienswaardighede in ’n malhuis” te sien. Vir twee pennies kon die Londenaars van die sewentiende eeu ’n berugte gestig genaamd Bedlam besoek, waar hulle die ongelukkige inwoners kon aanstaar en terg.

 

"Die Binnekant van Bedlam"

 

BO: Detail van "Die Binnekant van Bedlam," uit A Rake’s Progress deur William Hogarth, 1763.
 

Krediet: McCormick Library, Northwestern University / PD Old / via Wikipedia

 



Kwade kwakke

VAN die sewentiende eeu af het dokters ’n hoë status in die gemeenskap verwerf en baie het skatryk geword. Dit het baie mense laat voorgee dat hulle dokters is.

 

Hierdie kamtige dokters, of kwaksalwers, het rondgereis en “kure” verkoop—gewoonlik ten duurste—wat nie gewerk het nie. Die salwer is natuurlik die een wat die salf toedien en die woorddeel kwak in kwaksalwer kom waarskynlik van ’n ou woord wat ’n geklets of gebabbel beteken het. Die kwaksalwer sou naamlik aanhoudend uitgeroep het om sy ware verkoop te kry.

 

Pasiënte moes hoor hulle ly aan bisarre kwale soos ’n flikkering van die krop, hokkelgrokkels, trilling van die niere of wat ook al.

 

Met die ontstaan van goedkoop koerante in die negentiende eeu, het kwaksalwers hul produkte begin adverteer. Lesers kon enigiets bestel van Vatikaanpille tot Tinktuur van die Son.

 

Sowat anderhalwe eeu gelede het verskillende lande wette begin promulgeer dat alle dokters gekwalifiseer moet wees. Vandag kan niemand wettig as dokter praktiseer tensy hy op die mediese register verskyn van die land waarin hy werk nie.

 


 
Kan jy glo?

  

•  Edward Jenner se idees omtrent inenting het eers vir mense so absurd geklink dat hy ’n kwaksalwer genoem is.

•  Louis Pasteur het, só word beweer, ’n mikroskoop saamgeneem wanneer vriende hom vir ete oorgenooi het om seker te maak dat die kos veilig was om te eet.

•  Twee Iere, ene Hare en Burke, het sestien mense vermoor om hul lyke aan ontleedkundiges te verkoop.

•  Mediese opleidingskole het ’n vasgestelde bedrag vir die lyk van ’n volwassene betaal. Vir die lyke van kinders is per duim (2,54 cm) betaal.

•  Voor die ontdekking van doofmiddels is tande met tange by kermisse uitgepluk. Niks is gewoonlik gedoen om die pyn te verlig nie.

•  Toe koeipokkies-entstof die eerste keer toegedien is, is gevrees dat die ontvangers soos beeste sou lyk en optree. Ook toe die eerste bloedoortappings gedoen is, was daar mense wat gedink het die ontvangers sou die eienskappe van die skenkers kry. Daar is gereken dat kriminele dalk van hul booshede genees kon word deur “goeie bloed” in hulle oor te tap.

Die geskiedenis van die geneeskunde

•    Klik hier vir hoofstuk 1        •    Klik hier vir hoofstuk 3

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad