Die geskiedenis van die geneeskunde (1)  

   
•    Klik hier vir hoofstuk 2        •    Klik hier vir hoofstuk 3

 

Dokters, drogiste

en demone

 

Vir die meeste mense was die lewe bitter swaar en kort. Baie het niks ouer as agttien jaar geword nie. Ondanks die groot wetenskaplike vorderings van die antieke Egiptenare, Grieke en Romeine, het die bekrompenes van die Middeleeue alle logika uit die geneeskunde gehaal en dit deur towery vervang. Die volgende vertelling oor die geskiedenis van geneeskunde neem ons deur die Steentyd, die Oudheid en dan deur daardie donker, droewige dae van die Middeleeue tot by die Renaissance...
  

Trepanasie of skedelboring

BO: Trepanasie (die proses van ’n gat in die siek mens se skedel te boor) is in die Middeleeue toegepas om hoofpyn te probeer verlig—net soos dit duisende jare vroeër in die Steentyd gedoen is. Die Middeleeuse Europeërs het naamlik omtrent alles “vergeet” van die mediese wetenskap  soos dit deur die ou Grieke en ander geleerdes van die Oudheid ontwikkel is. Hier is 'n detail van “Die Uittrek van die Klip van Malligheid”, 1475-’80, deur Hieronymus Bosch, 'n Nederlandse skilder wat van omstreeks 1450 tot 1516 gelewe het.

Teks hoofsaaklik uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

 

D

IS die jaar 8000 v.C. En jou kop wil bars! Maar daar is geen parasetamol, aspirien of kafeïenpil om jou kloppende hoofpyn te verlig nie. Jy’t ’n bietjie droë, verpoeierde kruie gesluk, maar dit help absoluut niks nie. Toordokter toe, dink jy, dis al uitweg.

 

Die toordokter hou jou kop ferm in sy hande vas en fel sy diagnose: jy is vol duiwels. Jou hart sink tot in jou eelterige tone, maar dan vertel hy jou van die operasie. Dit word trepanasie genoem, oftewel skedelboring.

 

Sonder meer neem hy ’n skerp stuk vuurklip en begin ’n stukkie van jou skedel wegbeitel. Ag, genade, dis verskriklik seer. Jy skreeu. Jou kop bloei geweldig. Die toordokter se helpers pen jou harteloos op die grond vas.

 

Die toordokter verwyder ’n skyfie skedelbeen en nou sit daar ’n gat. Maar die dokter is tevrede. Die duiwels kan nou ontsnap, verseker hy jou.

 

O, ja? Moeilik om te aanvaar, want jou hoofpyn is nou tien keer erger! Jy gaan terug na jou mense toe en jy voel ellendig. Ná ’n klompie weke begin die operasiewond egter gesond raak en jy begin ook beter voel. Nou ja, reken jy, die operasie was toe op die ou einde tog geslaag.

 

In ons tyd, met sy moderne hospitale, algehele pynverdowing, orgaanoorplantings, laser-chirurgie en DNS-tegnologie, kan ’n mens jou kwalik indink hoe die lewe moet wees sonder ten minste die basiese mediese geriewe.

 

Tog het die vroeë mense van die gryse verlede geen ondervinding van medisyne gehad nie. Instink het hulle hul wonde laat lek en pynlike gewrigte laat vryf om te probeer gesond word. Kruie en ander plante is oor en oor beproef om te kyk wátter daarvan miskien net vir wélke siekte sou kon help. Kwale wat hulle nie kon begryp nie, het hulle gereken, word deur kwaadaardige geeste veroorsaak.

 

DIE vertakking van die wetenskap wat die geneeskunde genoem word, het begin toe sekere mense vaardiger as ander geraak het met die versorging van siekes. Die geneeskunde het sy eerste belangrike tye van vooruitgang tydens die groot beskawings van Mesopotamië en Egipte belewe.

 

In Mesopotamië was daar drie soorte dokters: chirurge, kruiedokters en duiwelbesweerders.

 

In ou Egipte het priester-geneeshere die belangrikheid van ’n gebalanseerde dieet en ’n skoon liggaam besef, en geweet hoe om gebreekte bene te spalk, sekere oogprobleme te behandel, bloeding te stop en ’n pasiënt se polsslag te meet.

 

Hulle het sowat 900 natuurlike rate vir allerlei kwale en skete gehad. Wonde is behandel met ’n pasta van seekoeivet en gemufte brood (vandag het ons die wonderlike antiseptiese preparaat penisillien, wat juis van skimmel verkry word). Die toediening van al die rate het egter met magiese rituele, dreunsang en gebede gepaard gegaan.

 

  
’n Oomblik in die lewe van ’n Egiptiese geneesheer
BO: ’n Oomblik in die lewe van ’n Egiptiese geneesheer van die Agttiende Dinastie (1500-1400 v.C.) word in hierdie skildery vasgevang. Hier is die meeste van die elemente wat in die ou Egiptiese geneeskunde teenwoordig was. Die geneesheer dra ’n skoon, wit linnekleed en pruik, soos dit iemand met só 'n waardige status betaam. Die pasiënt, waarskynlik ’n lid van ’n adellike huishouding, word deur stene gesteun. Die behandeling geskied onder die simpatieke hande van die geneesheer ooreenkomstig die voorskrifte in die boekrol in die hand van ’n assistent. Magies-religieuse rites word uitgevoer deur priesters wat hiervoor opgelei is.

Illustrasie: Department of Library Services, Dodd Memorial Library, CMC Vellore, Tamilnadu

Beeld, vermoedelik van Horus

Foto’s: U.S. National Institutes of Health

Papirus-geskrifLINKS: Die beoefening van die geneeskunde en godsdiens was in Ou Egipte so verstrengel dat alle gode met die een of ander vorm van gesondheid of siekte verbind is. Prominent onder die gode en godinne was onder meer Isis en haar seun Horus. Hierdie Horus is mettertyd in die religieuse geskiedenis ook met die songod Ra vereenselwig; hy sou die kop van ’n valk gehad het. Dan was daar ook nog Thoth, ’n geneesheer vir die gode,  en Imhotep, 'n farao-dokter wat uiteindelik tot ’n god verhef is.
       

REGS BO: Deur sewe papirus-geskrifte waarvan die inhoud laat in die negentiende eeu ontsyfer is, het navorsers die eerste regstreekse kennis van die oud-Egiptiese geneeskundige gebruike verkry. Twee daarvan, wat omstreeks 1600 v.C. geskryf is uit bronne  van vermoedelik so ver terug as 2500 v.C., bevat beskrywings van kanker—die vroegste bekende geskrifte oor dié siekte.

 
Oud-Egiptiese raat vir mense wat besig is om hul hare te verloor


“VET van leeu, vet van seekoei, vet van kat, vet van krokodil, vet van Europese steenbok, vet van slang word saamgemeng en die kop van die bles persoon word daarmee ingesmeer.”
 

 

BAIE van die kennis wat in Mesopotamië en Egipte opgedoen is, is na die vroeë Griekse geneeshere oorgedra, wat ook geglo het dat siekte ’n straf van die gode is.

 

’n Beroemde geneesheer genaamd Aesculapius het soveel pasiënte gehad dat die mense van hom ’n god gemaak het toe hy sterf en verskeie tempels ter ere van hom gebou het. Siekes sou in hierdie "tempel-hospitale" gaan slaap en die volgende môre opstaan, vol geloof dat hulle gesond gemaak is.

 

AesculapiusAesculapius-stafLINKS: ’n Standbeeld van Aesculapius, die ou Grieke se god van die geneeskunde. Aesculapius sou ’n stok vasgehou het waarom ’n slang gedraai is—wat konsuis helende kragte bevat het. Dit is waar die bekende mediese simbool van die staf-en-slang (REGS) vandaan kom. Nog iets wat ons van Aesculapius gekry het, is die woord “eskulaap”, wat geneesheer beteken. Dié woord word egter selde gebruik.
 

Foto: Project Gutenberg

 

In die vyfde eeu v.C. het Griekse dokters van standpunt begin verander. Hulle het nie meer geglo dat siekte deur die gode veroorsaak word nie en na moontlike fisieke oorsake gesoek.

 

Hippokrates (460-370 v.C.)—die beroemde Griekse dokter, chirurg en kunstenaar wat die “Vader van die Geneeskunde” genoem word—het sy pasiënte aangeraai om te rus, sinvol te eet en hul gesondheid op te pas.

 

HippokratesREGS Hippokrates, “Vader van die Geneeskunde”, ’n gravure deur Peter Paul Rubens, 1638. Hippokrates het godsdienspraktyke en towery van die geneeskunde geskei en riglyne vir die gedrag van dokters daargestel. Trouens, wanneer dokters vandag kwalifiseer om te mag praktiseer, lê hulle die sogenaamde Eed van Hippokrates af.

 

Krediet: U.S. National Library of Medicine

 

Hippokrates en sy volgelinge het baie boeke geskryf oor hul waarnemings van siektes en hoe dokters behoort op te tree.

 

Die volgende raad is byvoorbeeld aan Griekse dokters gegee oor hoe om hul pasiënte te beoordeel:


“Die dokter behoort heel eerste na die pasiënt se gesig te kyk. As hy lyk of hy sy gewone self is, is dit ’n goeie teken. Indien dit egter nie die geval is nie, is die volgende slegte tekens—skerp neus, hol oë, koue ore, droë vel aan die voorkop, vreemde gesigskleur soos groen, swart, rooi of loodkleurig. As die gesig só is in die begin van die siekte, moet die dokter die pasiënt vra of hy min geslaap het, akute maagwerking gehad het of nie geëet het nie.”

 

’n Mens kan vandag daaroor glimlag, maar eindelik was dokters besig om na feite te kyk pleks van na magiese tekens en dinge wat met bygeloof te doen het. Hierdie idees omtrent gesondheidsorg is na Rome oorgedra.

 

DIE Romeine het min met die geneeskunde gevorder—om vir die siekes te sorg is as ’n laeklas-werk beskou en die Romeine het verkies om Griekse dokters as slawe te gebruik om hul vuil werk vir hulle te doen.

 

Die volksgesondheid in die Romeinse ryk was egter baie goed. Die stede het vars, skoon water gehad en rioolvullis is doeltreffend weggelei. Die Romeine het baie tyd in die openbare baddens deurgebring en baie oefeninge gedoen. Hulle het ook hospitale vir hul gewonde soldate gebou.

 

Namate die Romeinse beskawing egter begin verval het, het die gesondheid van die mense ook agteruitgegaan. Siektes het versprei en die mense het swakker geword.

 

’n Baie bekende geneesheer van die Oudheid was Galenus (129-199 n.C.), ’n Griekse dokter wat in Rome gepraktiseer het. Sy werk onder die Romeinse gladiators het hom ’n sekere insig in die samestelling van die menslike liggaam gegee. Tradisie en geloof het hom egter verbied om menselyke te dissekteer. Pleks daarvan het hy die binnekant van beeste, varke en ape ondersoek.

 

GalenusLINKS: Galenus, ’n ou voorstelling.

 

Hy het verskeie foute gemaak, en baie daarvan is duisend jaar ná sy dood steeds geglo. Hy het gereken dat siekte veroorsaak word deur ’n wanbalans van vier vloeistowwe in die liggaam: bloed, slym en swart en geel gal. Sy raat vir feitlik alle ongesteldhede was bloedlating en om mense te laat opbring of ontlas.

 

IN DIE Middeleeue (die 400’s tot die begin van die 1500’s n.C.) is die mediese vaardighede van die antieke tyd vergeet en towery en religie was weer terug in die geneeskunde.

 

Die vroeë Christelike kerk het siekte as ’n straf van God beskou en die bestudering van die medisyne teengestaan.

 

Siekes het lang, gevaarlike pelgrimstogte na die sogenaamde heiligdomme van ontslape heiliges onderneem en gehoop dat hulle gesond sou word deur net aan die relieke (oorblyfsels) te raak. Daar is opgeteken dat een blinde man altesaam 87 heiligdomme besoek het.

 

Die kerk het, heeltemal onbedoeld, egter die kennis van die geneeskunde lewend gehou. Monnike het die werke van die antieke Grieke en Romeine versamel, asook van die Arabiere, en dit in pragtig versierde manuskripte gekopieer.

 

Geneeshere van die Middeleeue kon weinig meer doen as om rate voor te skryf, hul pasiënte te laat bloei en liggaamsdele wat probleme gegee het, te verwyder—sonder verdowing, natuurlik.

 

’n Middeleeuse geneesheer laat sy pasiënt bloei

BO: ’n Middeleeuse geneesheer laat sy pasiënt bloei—’n illustrasie uit ’n ou boek oor die Middeleeue. Die mense het destyds geglo dat te veel bloed ’n mens siek maak. ’n Skrywer van die twaalfde eeu het bloedlating aanbeveel omdat “dit die brein reinig, die gehoor oopmaak, trane beteuel, goed is vir die maag, goeie gesondheid bevorder”. Op die derde Maandag van Januarie en die tweede Maandag van Oktober moes daar egter nie gebloei word nie. (Ons bron verduidelik nie hoekom daardie spesifieke dae vir nie-bloedlating uitgesonder is nie.)

Krediet: British Library / PD Old

 

Die Middeleeuse dokters moes boonop met die “barbier-chirurge” om besigheid meeding—gewone barbiers wat so ietsie ekstra verdien het deur tande uit te pluk, are te laat bloei en ledemate af te sit.

 

Die mense het destyds geen benul gehad dat smerigheid siekte versprei nie. Die chirurgiese instrumente was vuil en baie pasiënte is ná operasies weens infeksie dood.

 

Die lewensomstandighede in die stede en dorpe was skrikwekkend en daar was verskeie vreeslike siektes in omloop.

 

In die 1300’s is ’n kwart van Europa se bevolking uitgewis deur builepes, ’n siekte wat deur vlooie van besmette rotte af na die mens oorgedra word. Die pes van die Middeleeue het as die Swart Dood bekend gestaan, weens die bloedvlekkies wat onder die vel gevorm en swart geword het.

 

Nog ’n algemene siekte was melaatsheid, met sy ernstige verminking van die gesig en ledemate. Dit is as ’n straf vir sondes beskou en die melaatses was uitgeworpenes. Hulle moes ander mense waarsku wanneer hulle aankom deur “onrein, onrein” te skreeu of selfs deur ’n klok te dra. In 1313 het Filips die Skone gelas dat alle melaatses verbrand moes word.

 

In die dertiende eeu het monnike en nonne inrigtings vir melaatses gevestig waar hulle versorg kon word. Baie monnike en nonne het self die siekte gekry. Omdat die melaatses so afgesonder is, is die siekte egter in die 1500’s finaal in Europa uitgewis.

 

Nonne en monnike het ook siek of moeë reisigers versorg, veral Christen-soldate wat van die Kruistogte af teruggekeer het. ’n Warm bed, goeie kos en ’n warm verwelkoming het op hulle gewag. Hierdie “hospitaliteit” (gasvryheid) het tot die ontstaan van die eerste “hospitale” gelei.

 

Die titel “suster”, wat vandag vir die vrou in beheer van ’n hospitaalsaal gebruik word, kom van die gebruik om ’n non as “suster” aan te spreek.

 

MET die aanbreek van die Renaissance in die vroeë 1300’s wou mense weet hoe hul liggame werk.

 

Ontdekkingsreisigers het van verre lande af teruggekeer en allerhande soorte kruie en medisyne met hulle saamgebring. Groot kunstenaars het die menslike liggaam begin bestudeer en hoogs akkurate skilderye en beelde gemaak. Chirurge het hul tekeninge bestudeer en self lyke gedissekteer om te kyk hoe hulle saamgestel is. Hulle het gevind dat baie van die dinge wat hulle vantevore geleer is, verkeerd was.

 

’n Switserse dokter genaamd Paracelsus (ca. 1493-1541), ’n dosent aan die Universiteit van Basel, was so ontevrede met Galenus se werk dat hy sy boeke voor sy studente verbrand het. Hy wou daarmee benadruk dat ’n mens uit eie ondervinding moet leer en nie slegs uit boeke nie.

 

ParacelsusREGS: Paracelsus.

 

Paracelsus het ook vir medisyne gesorg wat van minerale soos swawel en kwik gemaak is en hy het die verdowende uitwerking van eter ontdek—hoewel dit eers twee eeue later algemene kennis geword het.

 

Die beroemdste ontleedkundige van die Renaissance was Andreas Vesalius (1514-64), ’n Vlaming (van Noord-België) wat ’n dosent in Padua, Italië, was. Hy was nie bereid om sy studente eenvoudig uit Galenus se boeke te onderrig nie, maar het daarop aangedring om self lyke te dissekteer.

 

Andreas Vesalius, soos hy in sy De humani corporis fabrica uitgebeeld word

LINKS: Andreas Vesalius, soos hy in sy De humani corporis fabrica uitgebeeld word.

 

Kadawers was egter nie maklik verkrygbaar nie. Maar Vesalius het geweier om tou op te gooi. Hy het lyke van die galg gaan afsny en grafte geroof.

 

In 1543 het Vesalius vir Johannes Oporinus versoek om hom te help met die publikasie van ’n werk in sewe volumes getiteld De humani corporis fabrica (Oor die bou van die menslike liggaam). Dit was ’n ondernemende nuwe beskouing van die menslike anatomie.

 

Vesalius het dit benadruk dat, om ’n siek mens te behandel, die dokters die gesonde liggaam moet begryp.

 

Met sy baanbrekerswerk het hy ’n nuwe era in die geneeskunde ingelui. Uiteindelik was die pad oop vir ’n wetenskaplike benadering tot die medisyne.

 

Nog interessanthede in die vroeë mediese geskiedenis

 

•   Daar was ’n tyd toe sekere dokters geglo het dat siektes deur slegte reuke versprei word. Oral waar hulle gegaan het, het hulle bosse welriekende kruie en blomme saamgedra.

 

•   ’n Steentydse raat teen rumatiek: kruip deur ’n gat wat in ’n klip gemaak is sonder om aan die klip te raak. Dit sou glo die duiwels wegkeer.

 

•   Die ou Chinese het geglo dat gesondheid gegrond is op die ewewig tussen twee kragte: jin (lig) en jang (duisternis). Die behandeling van siekes is gekonsentreer op die vloei van onsigbare “tsji”-energie in liggaamskanale wat meridiane genoem is. In akupunktuur, wat vandag nog toegepas word, word naalde in die meridiane ingedruk. Daar word geglo dat dit die energievloei regstel en die ewewig tussen jin en jang herstel.

  

Kurktrekkeragtige skedelboor van die MiddeleeueREGS: Soos bo-aan hierdie artikel vertel is, het die Steentydse praktyk van trepanasie (die boor van gat in die skedel) om hoofpyn te verlig, herlewe en is dit regdeur die Middeleeue voortgesit. Die mense van die Middeleeue het egter ’n gesofistikeerde instrument ontwerp, wat soos ’n kurktrekker gewerk het, om die stukkie been te verwyder, soos voorgestel in hierdie gravure deur Peter Treveris vir die boek Handywarke of surgeri, wat in 1525 uitgegee is.

 

•   In die Middeleeue is geglo dat geboortemerke die werk van die duiwel is. lemand wat sulke merke gehad het, sou ongetwyfeld ’n heks moes wees.

 

•   Mense met geestesversteurings is as besete met duiwels beskou en moes op die brandstapel sterf.

 Geskiedenis van die geneeskunde

 
•    Klik hier vir hoofstuk 2        •    Klik hier vir hoofstuk 3

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad