Thabo Mbeki
Die nag van die lang messe...
|
|||
|
Foto: Antonio Milena / ABr
IT is midde-in die Tweede Wêreldoorlog. Juniemaand. Winter in Idutywa, ’n dorpie in die middel van nêrens tussen Bisho en Umtata in die Oostelike Provinsie (die latere Oos-Kaap).
Klein Thabo Mvuyelwa Mbeki gee sy eerste skril skreeutjie in die kil Suid-Afrikaanse lug van onvryheid, soos dit deur sy ouers belewe word.
Niemand is nog bewus van die belangrike rol wat hierdie suigeling later in die politiek van die hele Afrika sal speel nie... of van sy roemlose uittrede veel later nie. Sy pa en ma, soos alle ouers van welgeskape pasgeborenes, is maar net verheug dat hul nuwe bondeltjie vreugde klaarblyklik gesond is.
Van die verwoestende bombardemente en geskal van die groot oorlog waarby lande regoor die aardbol betrokke is, is daar weinig eggo’s hier op die afgeleë platteland.
Van die opwellende verset in Thabo se ouerhuis teen die “onregverdige oorheersing deur ’n blanke minderheid” is daar wel kennelike aanduidings. Iewers in Thabo se kindertyd hang daar selfs ’n portret van die Indiese stryder vir menseregte Mohandas Gandhi aan die muur. Dit alleen spreek al boekdele.
Dis duidelik ’n huis van opgevoede mense. Pa Govan Archibald Mvuyelwa Mbeki is immers ’n oud-student van die Universiteit van Fort Hare, wat hy ná 1936 verlaat het met ’n B.A.-graad in staatsleer en sielkunde sowel as ’n onderwysdiploma in sy portefeulje. Ook ma Epainette Mbeki is ’n onderwyseres.
Dis nietemin Govan se politieke aktivisme wat sy doen en late oorheers. Hy glo so sterk in sy oortuigings dat hy sy gesin aanmoedig om die African National Congress as hul familie te beskou. Van die vier Mbeki-kinders is dit Thabo wat sy pa se wens tot op die letter sal uitvoer. Hy sluit hom op veertienjarige ouderdom reeds by die organisasie aan en wy daarna sy lewe aan die ANC.
Seun Thabo is ’n skrander leerling. Hy is ook die enigste lid van die gesin—sal later vertel word—wat dit kan regkry om hul steeks muil met die naam Bles te beheer wat vir hulle proviand van die winkel af moet dra. En tuis lees hy al die boeke waarop hy sy hande kan lê. Trouens, as tienjarige is hy reeds besonder belese vir sy ouderdom.
Hy besoek die laerskole van Idutywa en Butterworth en is op Lovedale, Alice, in die hoërskool. Maar hy maak soos sy pa hom geleer het. Hy sal nooit net geduldig kan verdra wat hy as ’n onreg beskou nie.
Weens sy leidende rol in ’n staking van leerders word hy in 1959 uit die skool geskors en is hy dus verplig om sy studies tuis voort te sit. In dieselfde jaar skryf hy matriek aan die St John’s High School in Umtata.
In 1960 word die ANC as ’n organisasie deur die Nasionale Party-regering verbied. Thabo Mbeki raak in die latere Gauteng-provinsie betrokke by verskillende ondergrondse bedrywighede, en in 1961 help hy om leerders en die jeug te mobiliseer vir ’n wegbly-aksie uit protes teen die republiekwording van Suid-Afrika. Hy word in Desember 1961 tot sekretaris van die African Students’ Association verkies.
Nadat hy die Britse A-vlak-eksamen met welslae aflê het, skryf hom oor die pos in aan die Universiteit van Londen om as eksterne student in die ekonomie te studeer.
Maar die ANC voel in hierdie stadium dat hy en ander jong mense liewer die land moet verlaat om opleiding in die buiteland te ontvang. In 1962, ’n jaar voor die inhegtenisneming van sy pa, gaan hy eers kortliks na die Afrika-state Suid-Rhodesië en Tanganjika (tans Zimbabwe en Tanzanië onderskeidelik) voordat hy hom na Brittanje wend. In 1966 verwerf hy sy meestersgraad in die ekonomie aan die Universiteit van Sussex.
Mbeki werk van 1967 tot 1970 in die Londense kantoor van die ANC en in hierdie tyd ontvang hy ook militêre opleiding in die destydse Sowjet-Unie. Van 1971 tot 1978 word hy vir verskillende inisiatiewe van die ANC in Afrika gebruik en bevind hy hom in Zambië, Mosambiek, Nigerië, Botswana en Swaziland. Een van sy take is die skepping van ondergrondse strukture van die in Suid-Afrika verbode organisasie.
Tydens sy verblyf in Swaziland om daardie land se ANC-hoofkwartier te organiseer, maak hy kennis met Zanele Dlamini van die Women’s Development Bank. Hulle voel sterk aangetrokke tot mekaar. In 1974 trou hulle. Zanele, die dogter van ’n pastoor, het in Alexandra grootgeword, die geboorteplek van heelparty van Suid-Afrika se aktiviste. Sy het die graad B.Sc. aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf en haar meestersgraad aan die Universiteit van Londen. (Kwanda Mpahlwa, Mbeki se seun uit ’n vorige verhouding, sou as uitgewekene in 1980 vermis raak en sy lot is steeds nie bekend nie.)
Foto: White House / U.S. Gov. (gewysig)
In 1978 word Mbeki as politieke sekretaris in die kantoor van die president van die ANC aangestel. Hy word in 1984 bevorder tot direkteur van die departement van inligting en publisiteit, 'n pos wat hy tot en met 1989 hou.
Intussen is denkende blanke Suid-Afrikaners aan alle kante van die politieke spektrum, selfs aan heeltemal die ander kant as Mbeki-hulle, met ernstige introspeksie besig. Die besef raak naamlik ál sterker dat die blanke in alle billikheid, maar ook vir sy eie oorlewing, nie veel langer aan sy bevoorregte posisie in Suid-Afrika durf vasklou nie.
Mbeki is ’n lid van die afvaardiging wat in 1985 lede van die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in Mfuwe, Zambië, te woord staan. In 1987 lei hy weer ’n ANC-delegasie na Dakar, Senegal, vir samesprekings met ’n afvaardiging van die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (IDASA).
Met sy kameraadskaplikheid en intellek oortuig hy enersyds Westerse regerings om sanksies teen Suid-Afrika in te stel in die isolasie-jare, maar haal hy andersyds ook Afrikanerleiers oor om die onvolhoudbaarheid van apartheid te aanvaar.
Van 1989 af staan hy aan die spits van die ANC-afvaardiging wat geheime samesprekings met die Suid-Afrikaanse regering voer—hoogs belangrike beraadslagings wat op ooreenkomste uitloop oor die ontbanning van die ANC en die vrylating van politieke gevangenes. Mbeki neem deel aan alle daaropvolgende onderhandelings wat tot die aanvaarding van die tussentydse grondwet van die nuwe Suid-Afrika lei.
Die nuwe Suid-Afrika word in 1994 met groot fanfare deur die hele wêreldgemeenskap verwelkom. F.W. de Klerk, gewese president in die tyd van apartheid, en Mbeki beklee altwee die amp van adjunk-president onder pres. Nelson Mandela. Mbeki bly adjunk-president tot 1999, toe die mantel van Mandela op hom val en hy die nuwe Suid-Afrikaanse president word.
In 1999 ontvang hy ’n ere-doktorsgraad van die Randse Afrikaanse Universiteit en in 2000 ’n ere-doktorsgraad in die regte van die Glasgow Caledonian University.
MBEKI was ’n groot verkondiger van die idee van die sogenaamde Afrika-Renaissance, soos hy dit ook uitgespel het in sy boek Africa: Your Time Has Come. In sy hoedanigheid as onvermoeide vredemaker in Afrika, moeilik soos dit is, het hy hom eweneeens nie onbetuig gelaat nie.
Oor sy hantering van krisisse soos die vigs-pandemie, die Zimbabwe-fiasko en die misdaadsituasie in ons land is hy egter uit verskillende oorde erg geroskam. Met sy beleid van “stille diplomasie” sorg hy nietemin dat die strydende partye in Zimbabwe bymekaarkom en ’n wankele ooreenkoms aangaan om saam te probeer regeer. Uiteindelik volg ’n regering van nasionale eenheid in Februarie 2009 in Zimbabwe.
In Mbeki se tyd as Suid-Afrikaanse president was daar dus hoogtepunte sowel as laagtepunte, sê politieke ontleders. Maar toe hy destyds by Mandela moes oorneem, moet hy geweet het dat daar meer as ’n formidabele taak op hom wag. Hy sou mos nooit in die skoene van die geliefde Madiba-figuur pas nie.
Sy gewildheid binne die ANC het boonop dramaties afgeneem nadat hy die Suid-Afrikaanse adjunk-president, mnr. Jacob Gedleyihlekisa Zuma, gevra het om te bedank omdat Zuma se finansiële adviseur, Schabir Shaik, tronk toe gestuur is weens beweerde korrupsie en bedrog. Die regter het die verhouding tussen Zuma en Shaik as “onderling voordelige simbiose’’ beskryf (let wel, nie as “ ’n algehele korrupte verhouding’’, soos foutiewelik deur die media berig is nie).
Zuma se afdanking is nie goed ontvang in ANC-geledere nie. In Desember 2007 het Zuma vir Mbeki oortuigend verslaan in ’n stemming om die presidentskap van die ANC op die partykongres in Polokwane. Ook Mbeki-ondersteuners in die leierskorps se koppe het gerol.
Intussen is ’n lang stryd van die Nasionale Vervolgingsgesag om Zuma self aan te kla, op 12 September 2008 op die spits gedryf toe regter Chris Nicholson in Pietermaritzburg bevind het dat die korrupsieklagte teen Zuma op prosedurele gronde onwettig is. Die regter het ook gesê hy glo dat politieke inmenging ’n rol gespeel het in die besluit om Zuma weer aan te kla (nadat vroeër besluit is om die klagtes teen hom te laat vaar).
Dit was die vonk in die kruitvat vir die “nuwe” ANC. Massas ANC-ondersteuners op voetsoolvlak het immers reeds geruime tyd aangedui het dat hulle die populistiese Zuma as leier bo Mbeki verkies.
In wat deur die media
beskryf is as die “nag van die lang messe”, het die ringkoppe van
die ANC besluit om Mbeki te vra om te bedank. Die
Mbeki het die opmerking betwis van die regter wat hom by politieke inmenging in die Zuma-saak sou betrek het en het aangedui dat hy hom tot hof sou wend om sy naam skoon te kry.
In Januarie 2009 het die Appèlhof beslis dat regter Chris Nicholson gefouteer het deur tot die slotsom te kom dat die regering onder Mbeki om politieke redes in die vervolging van Zuma ingemeng het.
Die implikasie vir Zuma was dat die saak teen hom kon voortgaan. Vir Mbeki was dit ’n bevinding wat sy naam in ere herstel en sy onkreukbaarheid bewys het.
Maar sekere van Mbeki se ondersteuners het nie sy gelatenheid, sy byna swygsame berusting gedeel oor wat volgens hulle in die ANC aan die gang was nie. Hulle het ’n nuwe politieke party, die Kongres van die Mense (COPE), gestig wat in die algemene verkiesing van April 2009 nogal verbasend gevaar het vir ’n party met wat net enkele maande oud was.
Die ANC het die verkiesing oortuigend gewen soos verwag is, maar moes sy tweedederde-meerderheid prysgee. Jacob Gedleyihlekisa Zuma was die nuwe president van Suid-Afrika.
Mbeki self het aangedui dat hy nie by die skeuringsaangeleentheid betrek wou word waaruit COPE spoedig ontstaan het nie. Ondanks alles wat gebeur het, het hy die ANC nie verlaat nie.
Want hoe hy ook al verontreg gevoel het, kon hy blykbaar eenvoudig nie sy rug draai op sy “familie” vir wie hy soveel dekades van sy lewe gegee het nie. Al het dit ook beteken dat so baie van hulle hom tot die swartskaap gedegradeer het.
Foto: Kopiereg © Government Communication and Information System, www.gcis.gov.za. Gebruik van foto word vir enige doel vergun mits die kopiereghouer duidelik aangedui word. |
|||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |