Massa-uitwissings

van die lewe op aarde en die
verstommende teorieë daaroor

Kunstenaar se voorstelling van ’n reusagtige buiteruimtelike voorwerp wat in die aarde inploeg

 BO: ’n Kunstenaar se voorstelling van ’n reusagtige buiteruimtelike voorwerp wat in die aarde inploeg. Ruimtelike botsings word as een van die groot oorsake van massa-uitwissings beskou, maar daar is ook ander...

Illustrasie: NASA

Wetenskaplikes reken daar was in die verre verlede vyf baie groot uitwissings van aardse lewensvorme... en dat ons op oomblik die sesde uitwissing beleef. Maar hierdie keer is daar ’n uiters belangrike verskil...


BELANGRIKE NOTA: In hierdie artikel word geen mening oor evolusie uitgespreek nie. Dit is ’n aanvegbare teorie, al word dit van owerheidsweë in die leerplanne ingedwing. Ons bied hier wel inligting oor die geologie en paleon­tologie, soos in die skole vereis word, maar met die uitdruklike klem dat dit op wetenskaplikes se teorieë berus en gevolglik nie deur ons ge­formuleer is nie. Daar moet asseblief dus niks meer in die artikel ingelees word nie as dat dit ’n verslag van weten­skaplike bevindings is, wat opgestel is om leerders met hul skooltake in hierdie verband te help – Mieliestronk.com.

O

NS dinamiese planeet Aarde... as hy darem self kon vertel waar hy aan al sy ou duike en plooie kom! Nou moet ons maar sy geweldige oergeskiedenis probeer lees in die bietjie wat ons in die bulte en holtes en karbonkels aan sy oppervlak kan raaksien. Of in die bloedmin biologiese reste van die verre verlede wat tot in ons tyd bewaar gebly het. ’n Gefossileerde blaar hiér. ’n Versteende been dáár. Niks meer nie.

 

Natuurlik tas die navorsers dus baiemaal jammerlik in die duister as dit by die geologie (aardkunde) en die paleontologie (die studie van uitgestorwe dier- en plantsoorte) kom.

 

Ons ken waarlik maar net ten dele, soos ook in Bybel gesę word.

 

Talle aardkundiges het nietemin al verstommende teorieë geformuleer van hoe hulle reken die aarde in sy lange millenniums gevorm en omgevorm en herhaaldelik hervorm is, om dit so te stel. Sulke woelinge is groot moordenaars van lewende spesies.

 

Oorsake van massa-uitwissings

 

NIE alleen word die aarde se aangesig deurentyd gebeuk deur die wind en weer en die getye nie, maar die aardkors is boonop gedurig baie stadig aan die beweeg. Dit is omdat dit uit verskillende plate bestaan wat op die massiewe vloeibare of taaivloeibare binnekant van die aarde dryf. (Lees ook die afdeling oor Plaattektoniek in ons artikel oor die Oos-Afrikaanse Skeur.)

 

Waar van die plate bymekaarkom, vrywe hulle teenmekaar en kry ons aardbewings en vuurspuwende berge, wat hele landskappe totaal kan verander. Enorme vulkaniese uitbarstings kan in die ergste gevalle boonop soveel vulkaniese as in die atmosfeer uitpomp dat die son deels verduister raak en baie plante en diere vrek. Die redes is dat dit skielik te koud geraak het vir hulle om te lewe en dat fotosintese (en dus kosvoorsiening) ook afgeneem het.

 

Plaattektoniek veroorsaak ook dat vastelande rondbeweeg en uitmekaarskeur en herenig om nuwe vastelande te vorm—weliswaar oor geweldige lang tydperke, maar tog. Só is ook die verre deel van die ooste van Afrika tans besig om baie stadiger as trapsuutjies-stadig weg te brokkel van die res van die kontinent (miskien in ’n tempo van so 2 cm per jaar).

 

En dan word die aarde verder gedurig gebombardeer deur stene, steentjies en stofdeeltjies wat in die buiteruimte rondsweef en in hul lukrake omswerwinge in ons dampkring beland. Verreweg die meeste daarvan brand uit in ons suurstofryke atmosfeer (’n “verskietende ster”, sę ons wanneer ons dit sien), maar af en toe val daar tog van hulle op die grond. Dan lę hulle uiters yl versprei soos smeulende ertjies op die landskap.

 

Wanneer die ruimtelike invallers egter so groot soos berge is of, erger nog, soos komete, spreek dit vanself dat die katastrofes onnoemlike afmetings aanneem. Die aarde vibreer soos ’n klok weens die kataklismiese botsing, met ’n gevolglike verlies aan lewens wat nouliks in woorde beskryf kan word.

 

Dit is die laasgenoemde drie verskynsels (vastelands­verskuiwings, vulkanisme en ruimtelike botsings) wat volgens wetenskaplikes in die verlede verskeie kere die verskillende lewensvorme op die aarde dramaties uitgedun het. ’n Geleerde soos die Amerikaanse paleontoloog Niles Eldredge het ’n aantal jare gelede in ’n artikel vyf sulke gewese massa-uitwissings as die belangrikstes uitgelig en toe die klem laat val op wat hy die Sesde Uitwissing noem—die drastiese en bedenklike rol van die mens in die verskraling van die biodiversiteit op ons planeet.

 

(Eldredge [1943-      ] is hoofkurator van die permanente uitstalling “Hall of Biodiversity” van die Amerikaanse Museum van Natuurgeskiedenis in Manhattan, New York, en adjunkprofessor van die Stadsuniversiteit van New York. Hy het sy loopbaan aan die bestudering en vertolking van die aarde se fossielrekord gewy.)
 

Die bekendste en opspraakwekkendste van die massa-uitwissings is ongetwyfeld die een wat deur die uitsterwing van die laaste dinosourusse gekenmerk is. Omdat daar egter reeds ’n uitgebreide artikel oor die dinosourusse op die Mieliestronk-werf bestaan, kan ons aanbeweeg om ook ’n ander groot uitwissing van nader te bekyk.  Dit is die eerste vername uitwissing. Teorieë daaroor is veral fassinerend.

 

Dié het immers so ver in die verlede gebeur dat navorsers des te intenser moet swoeg om die legkaart te probeer voltooi. Dit maak die navorsing natuurlik vir hulle so opwindend. Volgens hulle is dit blykbaar veroorsaak deur die vreeslike omwenteling toe ons eie oervasteland weens plaatverskuiwing oor die Suidpool beweeg het! Dit sou die klimaat op die aarde só katastrofaal verfomfaai het dat ons hele planeet ’n vrieskas geword het...

 

Die eerste belangrike massa-uitwissing
 

GELEERDES soos Eldredge reken dat die eerste vername uitwissing sowat 440 miljoen jaar gelede weens klimaatsverandering plaasgevind het en wel in die Laat-Ordovisiese tydperk van die geologiese tydskaal.

 

As jy destyds in die sogenaamde Ordovisium op die aarde sou kon rondloop, sou jy bitter eensaam moet gevoel het, word vertel. (Hallo, hoor iemand my... is daar ęrens enige lewe op hierdie planeet?)

 

Alles is so troosteloos stil en leweloos soos nie eens die Saharawoestyn veel later naastenby sal wees nie. Jy soek oral na lewende wesens op die droë grond, maar kry niks. Dit wil nie sę dat daar nie miskien wel ęrens ’n bietjie lewe kan wees nie...
 

Die Sahara

REGS: Die Sahara.

 

Foto: Georg Gerster / U.S. Geological Survey (detail)

 

Maar in die seë—dáár is wel ’n gewemelte. Daar is trilobiete (uitstorwe skaaldiere) en korale, asook baie spesies molluske en stekelhuidiges, om maar net ’n paar soorte te noem.

 

LINKS: 'n Trilobiet uit strata van die Ordovisiese tydperk naby St. Petersburg, Rusland.

 

Foto deur “DanielCD”, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”/ Wikimedia Commons)

 

Die teenswoordige vastelande en groot eilande van die Suidelike Halfrond was toe nog in een vasteland verenig, voordat die verskuiwende aardplate die kolossale landmassa laat verbrokkel het. Die naam Gondwana is in ons tyd aan daardie superkontinent van weleer gegee.

 

Afrika, Madagaskar, Antarktika, Suid-Amerika, Australië-Nieu-Guinee en Nieu-Seeland, asook Arabië en die Indiese subkontinent, wat mettertyd na die Noordelike Halfrond verskuif het—almal was destyds deel van die bielieland van Gondwana.

 

Gondwana is in die Ordovisiese tydperk deur vlak seë gekenmerk. Vlak, helder waters oor die vastelandsplatte het die geil toename van organismes aangewakker wat kalsiumkarbonaat (kalksteen) in hul doppe en harde dele gedeponeer het.

 

In die Vroeë Ordivisium was die klimaat heel warm, word gereken, ten minste in die trope. Maar namate die miljoene jare van die Ordovisium verbygegaan het, het gletsers hul verskyning begin maak op die landmassas wat ons vandag as Afrika en Suid-Amerika ken.

 

Wat gebeur het, was dat die verskynsel van vastelands-verskuiwing (die gevolg van die aarde se bewegende plate) die teenswoordige Afrika en Suid-Amerika van Gondwana oor die Suidpool laat dryf het. Daar sit ons eie węrelddeel toe ook, bedek met Suidpoolys.

 

Voorstelling van die supervasteland Gondwana by die SuidpoolREGS: ’n Voorstelling van die supervasteland Gondwana by die Suidpool—blikkerend wit onder die ys. Gondwana sou later verbrokkel om Afrika, Suid-Amerika, ens. te vorm.

Krediet: MSKARG

 

Die uitwerking van soveel ys oor so ’n groot landmassa was so geweldig dat die hele aarde noodwendig die uitwerking moes voel. Dit het tot ’n skril en snydende afkoeling oor die ganse planeet heen gelei, omdat die enorme hitte-uitstraling oor so ’n wit landskap die aarde natuurlikerwys laat kouer word het.

 

Die klimaat het verander. ’n Ystyd het ingetree wat deur wetenskaplikes as een van die koudste tye in die afgelope 600 miljoen jaar van die aarde se geskiedenis bestempel word.

 

Organismes het by die hope gevrek omdat hulle nie die koue kon hanteer nie. Massiewe gletservorming het boonop die seevlak laat daal, omdat soveel van die water in ysvlaktes vasgevang was, wat verdere vrektes veroorsaak het.

 

’n Sneeubal-aarde...REGS: ’n Sneeubal-aarde...

Krediet: Universiteit van
Bristol / NASA Astrobiology Institute
 

 

Uiteindelik was goed ’n kwart (25 persent) van die destyds bestaande families van aardse lewensvorme vir altyd daarmee heen. Toe smeltende gletsers aan die einde van die Laat-Ordovisiese tydperk die seevlak weer laat styg en dinge stabiliseer, betree die aarde die Siluur, ’n anderste tydvak waarin die lewe hier opnuut nuwe vastrapplekke kan vind en kan gedy.

 

Maar daar is geleerdes wat reken daar kon iets anders in die spel gewees het as bloot die Gondona-verskuiwing na die Suidpool wat die Laat-Ordovisiese uitwissing laat plaasvind het. Sekere Amerikaanse wetenskaplikes het al die moontlikheid genoem dat ’n gammastraal-uitbarsting van ’n ontploffende ster binne 6000 ligjare van die aarde die aanvanklike afsterwings kon veroorsaak het.

 

’n Uitbarsting van slegs tien sekondes, sę hulle, kon die aarde se atmosfeer byna onmiddellik van die helfte van sy osoon gestroop het, wat organismes hier aan hoë vlakke van dodelike ultraviolet strale van die son blootgestel het. Dog hoewel die teorie dalk geloofwaardig klink, is daar geen klinkklare getuienis dat die aarde al ooit onder só ’n gammastraal-uitbarsting vanuit die betreklik nabygeleë ruimte deurgeloop het nie.

 

Maar tot sover ons vlugtige kuiertjie op die toneel van die “eerste vername uitwissing”.  ’n Mens kan nou wel wonder hoe die ander belangrike uitwissings dan almal plaasgevind het en of daar enige patroon te bespeur is in die redes waarom hulle gebeur het. Ook ander vrae kom na vore, soos watter massa-uitwissing die verwoestendste was. En presies hoe die mens byvoorbeeld uiteindelik daartoe bygedra het dat groot diere soos die olifantagtige mammoete vir ewig van die aangesig van die aarde verdwyn het...

 

Hierby, en by nog meer, staan ons stil in die res van hierdie artikel...

 

’n Bondige kykie na die ander belangrike massa-uitwissings tot by die huidige een—en hoekom dit ons tot ernstige nadenke moet stem

DIE ander vername massa-uitwissings soos prof. Niles Eldredge hulle gelys het, was:

 

•   Die tweede (sowat 440 miljoen jaar gelede in die Laat-Devoniese tydperk), wat deur ’n węreldwye klimaatsverandering veroorsaak is, of dalk nie. Daar was nietemin ’n abrupte ineenstorting van die aardse ekosisteem, wat 19 persent van die families van lewensvorme uitgewis het.

 

•   Die derde (sowat 245 miljoen gelede in die Laat-Permiese tydperk) toe ’n hele 54 persent van die families onherroeplik weggeveeg is. Ook hier was klimaatsverandering—straks ook weens verskuiwende aardplate—blykbaar die skuldige, maar daar is tog ook betreklik nuwe getuienis dat dit veroorsaak kon gewees het deur ’n boliede impak (botsing tussen die aarde en ’n ruimtelike voorwerp).

 

•   Die vierde (sowat 210 miljoen jaar gelede in die Laat-Triassiese tydperk), waarvan die oorsake moeilik te bepaal is, het nietemin die einde van 23 persent van die families beteken.

 

•   Die vyfde (sowat 65 miljoen jaar gelede in die Laat-Kryttydperk), wat 17 persent van die families uitgewis het, waaronder die laaste dinosourusse en baie ander spesies. Een of meer botsings tussen die aarde en ’n ruimtelike voorwerp of voorwerpe word algemeen as die oorsaak aanvaar, hoewel party geleerdes reken dat ’n onstuimige vulkaniese woeling te blameer is. (Wat meer sę, daar is selfs die buitensporige teorie dat ’n siekte soos vigs die dinosourusse se doppie kon laat klink het, maar daar is stellig min geleerdes wat veel waarde hieraan heg.)

 

Na wat Elredge die sesde uitwissing noem, kom ons ietwat later terug. Maar is daar inmiddels enige patroon te bespeur in die oorsake van die vyf vroeëre uitwissings wat die aarde getref het? Inderdaad. Dit is baie duidelik dat hulle almal deur fisiese oftewel natuurlike gebeurtenisse verwek is of moet gewees het. En teen die veranderings wat deur gletsers of vulkane of ruimtelike botsings of wat ook al in die natuur veroorsaak is, sou talle lewende wesens daar in die voortyd nie bestand kon wees nie.

 

ONDER: ’n Grafiese voorstelling van die vyf vername massa-uitwissings langs ’n geologiese tydskaal wat verskaf is deur die Amerikaanse federale regeringsliggaam U.S. Geological Survey.

 

’n Grafiese voorstelling van die vyf vername massa-uitwissings langs ’n geologiese tydskaal

 

Veral die derde massa-uitwissing, die grootste tot dusver, moet ’n onbeskryflike natuurramp gewees het. Dit moet immers geweldige natuurkragte geverg het om meer as die helfte van die families van lewende wesens te dood.  Dit staan informeel bekend as die Groot Afsterwing (“Great Dying”).  Soveel biodiversiteit het verlore gegaan dat dit beduidend langer geneem het vir die lewe op aarde om te herstel as ná die ander groot massa-uitwissings.

 

In hierdie tydperk, die Permiese tydperk of sommer kortweg die Perm, was daar talle gewerweldes soos allerhande reptiele en amfibieë op land. Daar was ook ’n groot verskeidenheid van insekspesies en ander ongewerweldes, waaronder die grootste insekte wat nog ooit gelewe het. Die uitsterwing van soveel van hulle het so ’n diepgaande uitwerking op die aardse ekosisteem gehad dat dit vandag, soveel miljoene jare later, steeds gevoel word. Boonop word gemeen dat dit ongeveer honderd miljoen jaar geneem het vir die seelewe om van die vernietiging en skok te herstel.

 

Maar die uitwissing van die dinosourusse in die Laat-Kryttydperk maak die vyfde uitwissing steeds die bekendste. Onder die eenvoudigste redes is dat daar so baie dinosourusse in die fossielrekords is en dat hulle mense so besonderlik fassineer.  Dit is nie onmoontlik dat ou legendes en mites omtrent drake gegrond was op dinosourus-fossiele wat uitgegrawe is en nie verklaar kon word nie—buiten om hulle as die reste van drake te beskou.

 

Soos reeds genoem, vorm ’n botsing van die aarde en ’n reusagtige voorwerp of voorwerpe uit die ruimte die basis van die mees aanvaarde teorie oor die uitsterwing van die dinosourusse.

 

’n Mens kan jou effens in die chaos indink wat destyds moet geheers het. Geen stomme oerdier sou naastenby kon begryp het wat in sy leefwęreld aan die gang was nie. Maar as ’t ware in ’n oogwink was die son verduister—of net ’n flou skynsel aan die hemelruim omdat sy strale omtrent nie deur die opgewerpte stof in die lug kon dring nie. Die aarde self het miskien geskud van duisend aardbewings wat deur die impak uit sy binneste oproer is.

 

En toe het nog ’n tyd van ys en dood aangebreek vir die derde planeet van die son...

 

NOG ’n tyd van dood... dit is wat ook vandag aan die gang is, meen geleerdes soos Niles Eldredge.

 

Maar daar is ’n belangrike verskil. Anders as die vorige vyf wat fisiese oorsake gehad het, kry ons in die Sesde Uitwissing vir die eerste keer in die geskiedenis ’n kolossale verdelging wat deur een enkele lewende spesie gepleeg word: die mens.

 

Dit kom al ’n lang pad, aldus Niles. Sedert die mens uit sy wieg in Afrika geklim en versprei en die węreld bevolk het, maak en breek hy tot sy eie voordeel en buit hy die ander lewende wesens uit.

 

Dit het vroeg-vroeg begin soos toe mense groot diere soos die mammoet-olifante meedoënloos gejag het. Hoewel nuwe inligting wat uit studies verkry is daarop dui dat menslike jagpraktyke miskien nie die hoofoorsaak was dat die mammoete finaal uitgewis is nie, was dit waarskynlik ’n sterk bydraende faktor.

En dan is daar byvoorbeeld die smilodon, wat partykeer die sabeltandkat genoem word. Dié het omstreeks 10 000 v.C. uitgesterf, toe baie ander groot plantvretende en vleisvretende soogdiere ook verdwyn het. Daar word gemeen dat prehistoriese mense, wat daarin geslaag het om Noord-Amerika oor die destydse landbrug vanuit Asië te bereik, ten minste deels vir die golf van uitwissing verantwoordelik was. Die smilodon, wat ’n roofdier was, kon self onder meer jong mammoete en mastodons (ander voorwęreldlike olifante) gejag het. Maar hy kon ook soveel deur die menslike immigrante gevrees gewees het dat daar vir hulle net een goeie smilodon was en dit was ’n dooie smilodon.

Só het die verdelging van groot en klein diere oral plaasgevind waar die mens ’n holte vir sy voet gekry het—en oor alle eeue heen. Die laaste van die tien of elf moa-spesies,  groot volstruisagtige voëls waarvan die grootstes tot 3,5 meter of hoër kon staan, het maar net ’n klompie eeue gelede uitgesterf. Die uitsterwing het saamgeval met die kolonisasie van Nieu-Seeland deur die Maori’s. Die voëls is harteloos neergevel, terwyl die troeteldiere van die Maori’s eweneens alte lekker gebaljaar het om die groot maar weerlose moas te verdelg.

 

In Suid-Afrika, weer, is die kwaggas, lede van ’n donkerige subspesie van die vlaktesebra wat eenmaal in hul menigtes op die vlaktes van die Karoo en die Vrystaat gewei het, só gejag dat daar sedert 1883 nie meer ’n enkele lewende kwagga op die aarde oor is nie.

 

Só gaan dit tot vandag toe voort, met nog groot diere soos die renoster, die tier, die ysbeer, die gorilla en selfs die seekoei deesdae op die gevaarlys. Die gevaarligte flikker lankal bloedrooi. Maar soos een waarnemer dit stel:

 

“Uitwissing is ’n verskynsel wat lei tot niks. Dit is die einde van bestaan. Stel jou ’n węreld voor waarin jy nooit weer ’n kat of hond sal sien nie. Stel jou ’n węreld voor waarin jy nooit weer ’n ander menslike wese sal sien nie... Aangesien alle diere met mekaar geskakel is, het die uitwissing van een soort gereeld tot die uitsterwing van ’n ander soort gelei. As daar geen prooi is nie, wat eet die roofdier? Die ‘dier’ aan die bopunt van die voedselketting is die mens, en as daar geen prooi en plante oor is nie, hoe sal die mens dan self kan keer dat hy uitsterf?”

 

Dit laat ’n mens dink…

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad