Belangrike meningsvormers—“vaders” van die kapitalisme en die kommunisme

 

Adam Smith vs. Karl Marx

 

I

N lyste van die top-twintig invloedrykste mense van die afgelope millennium moet altwee se name noodwendig verskyn: Adam Smith én Karl Marx. Want albei kon in die geskiedenis reken op ’n geweldige aanhang—al het hulle totaal uiteenlopende sienings gehad oor hoe ’n volmaakte samelewing geskep kan word waarin elke mens gelukkig is.

 

Die Skot Adam Smith, ’n politieke ekonomiese filosoof wat in 1723 gebore is, het hom beywer vir die volmaakte vryheid van alle enkelinge deur middel van die kapitalistiese benadering.

 

Smith se utopie was ’n stelsel van natuurlike vryheid waarin elke mens—mits hy nie die wette van geregtigheid oortree nie—volmaak vry is om sy eie belange op sy eie manier na te streef. Hierdie eiebelang is die dryfkrag van die vrye mark.

 

Volgens hom sou die enkelinge, in ’n gegewe stabiele stelsel van koop-en-verkoop, reageer op die aansporing om meer te verdien deur spesialiste te word in dit wat hulle produseer.

 

Lynreg in stryd hiermee het Karl Marx, ’n Duitse denker van Joodse afkoms wat in 1818 die eerste lewenslig aanskou het, geglo aan die vryheid van die individu in ’n sosialistiese heilstaat—wat volgens hom noodwendig uit die puinhope en anargie van ’n proletariese revolusie sou verrys omdat die kapitalisme irrasioneel en tot mislukking gedoem sou wees.

 

Die twee meningsvormers en hul opvattings word hieronder van nader bekyk.

 

Adam Smith, verdediger van die beginsels van die vrye mark

ADAM SMITH (1723–1790) was ’n Skotse morele filosoof en ’n baanbrekende politieke ekonoom. Hy was een van die sleutelfigure van die intellektuele beweging wat as die Scottish Enlightenment Adam Smithbekend staan. Smith het in Skotland gewoon en onder meer aan die Universiteit van Glasgow gestudeer, waar hy hom ingeskryf het toe hy slegs veertien jaar oud was. Later sou hy self ’n dosent aan hierdie universiteit word.

 

Sy vroeë kindertyd (hy is gebore sowat ’n halwe jaar nadat sy pa oorlede is) is deur een dramatiese gebeurtenis ontwrig: Toe hy vier jaar oud was, is hy deur ’n bende sigeuners ontvoer, maar gelukkig het sy oom hom gou gered en hom aan sy ma terugbesorg.

 

Smith is hoofsaaklik bekend vir twee verhandelinge, te wete The Theory of Moral Sentiments (wat in 1759 gepubliseer is) en An Inquiry into the Nature and Causes of the Wealth of Nations (wat in 1776 die lig gesien het).

 

Die laasgenoemde verhandeling was Adam Smith se invloedrykste werk. Dit word as baie belangrik beskou in die skepping van die studieveld van die ekonomie en dié se ontwikkeling tot ’n outonome stelselmatige dissipline. Trouens, dit word in die Westerse wêreld beskou as een van die mees gesaghebbende boeke wat ooit oor hierdie onderwerp verskyn het. Die boek is ook die eerste uitvoerige verdediging van die beleidsrigtinge van die vrye mark.

 

Smith word besonderlik onthou vir sy verduideliking van hoe rasionele eiebelang en kompetisie tot ekonomiese welsyn en voorspoed kan lei.

 

“Dit is nie deur die liefdadigheid van die slagter, die brouer of bakker dat ons ons ete kan verwag nie,” het hy gesê, “maar deurdat hulle hul eie belange in ag neem.”

 

Hy het hom heftig uitgespreek teen die verouderde regeringsbeperkinge van sy tyd wat hy as ’n hindernis vir nywerheidsgroei beskou het. Wat meer sê, hy was gekant teen die meeste vorms van regeringsinmenging in die ekonomiese proses.

 

Opsommend kan gesê word dat Adam Smith gehelp het om die moderne akademiese dissipline van die ekonomie tot stand te bring en een van die bekendste uiteensettings van die vrye handel en die kapitalisme geformuleer het.

 

Hy word wyd erken as die vader van die vakrigting wat as ekonomie bekend staan.

 

Adam Smith was, na vertel word, ’n terughoudende mens, wat ’n stil en beskutte lewe gelei het. Sy verstrooidheid was berug en hy was glo gedurig besig om oor abstrakte dinge te mymer. Hy het by sy ma gewoon (wat gelewe het tot sy negentig was) en nooit getrou nie. Sy studente het wel baie van hom gehou en mense het van ver af gekom om te luister wat hy te vertel gehad het.

 

Karl Marx, die vader van die kommunisme, en sy nalatenskappe

HY het nie in die twintigste eeu gelewe nie, dog in die negentiende, maar geen ander filosoof het die gang van die twintigste-eeuse geskiedenis so dramaties— en bloedig—beïnvloed as Karl Marx nie.

 

Karl MarxMarx (1818-1883) was die opperste revolusionêr en die vader van die kommunisme. Met sy opruiende geskrifte en materiële denke sou hy later sy onuitwisbare spore op die wêreldtoneel afdruk. Veral die Volksrepubliek van China, die voormalige Sowjet-Unie en dié se string satellietstate het dekades lank afgodies na sy pype gedans.

 

Maar ook in Afrika het sy leringe 'n diepgaande invloed gehad, iets wat ons eie landsgeskiedenis ten nouste sou raak. Trouens, hoe die twintigste eeu sonder die Marxisme sou gelyk het, kan niemand op aarde weet nie.

 

“Laat die heersersklas sidder vir die kommunistiese revolusie,” het Marx en sy medewerker Friedrich Engels in hul Kommunistiese Manifes geskryf—en vurige ondersteuners gevind in, byvoorbeeld, fanatieke Russe soos Josef Wissarionowitsj Stalin en Wladimir Iljitstj Lenin.

 

Sy boek Das Kapital in Duits (Die Kapitaal in Afrikaans), wat deels deur Friedrich Engels geredigeer is, is ’n uitgebreide verhandeling oor die politieke ekonomie. Dit is onder meer ’n kritiese ontleding van die kapitalisme en sy praktiese ekonomiese toepassing. Das Kapital se eerste volume het  in 1867 die lig gesien.

 

Friedrich EngelsMarx is in die Duitse stad Trier gebore as die seun van ’n Joodse regsgeleerde, maar sy pa het hom in 1824 by die Lutherse Kerk aangesluit en sy hele gesin Protestants laat doop. Karl se studentejare aan die Universiteit van Bonn en dié van Berlyn (hy het in 1841 ’n doktorsgraad in die filosofie verwerf) het met ’n tydperk van groot maatskaplike omwentelinge in Europa saamgeval.

 

Vanweë die Industriële Revolusie het oral fabrieke ontstaan, met baie base (''kapitaliste'') wat skatryk geword het, terwyl hul duisende werkers uiters swak betaal is. Weens hierdie haglike toestande het Marx sy sosiaal-demokratiese denkrigting geformuleer dat die kapitalisme gedoem is en dat die sosialistiese heilstaat onvermydelik uit die puinhope en anargie van 'n proletariese revolusie sal verrys.

 

Sy kommunistiese ideologie is later aangegryp deur militêre diktature—waarvan die Sowjet-Unie s’n by uitstek die ewewig in die wêreld sou versteur. Maar hoe het  hierdie magtige moondheid dan tot stand gekom?

 

LeninWladimir Iljitstj Lenin (1870-1924), Russiese dissipel van Marx, was die stigter van die sogenaamde Bolsjewisme en die vernaamste krag agter die totstandkoming van die Sowjet-Unie. Die radikale Bolsjewiste het in 1903 ontstaan met ’n skeuring in die Russiese Sosiaal-Demokratiese Werkersparty, wat toe in Londen vergader het.

 

Hul teenstanders was die meer gematigde Mensjewiste, wat ’n Russiese regering in die lewe wou roep wat die weg moes baan vir ’n geleidelike oordrag van mag aan die werkers. (Bolsjewis beteken inderdaad “meerderheid” en Mensjewis “minderheid”).  

 

Die Bolsjewiste het die mag gegryp in die Russiese Revolusie van Oktober 1917 en, met Lenin aan die stuur, in die Kommunistiese Party ontwikkel. Die Kommunistiese Party was van 1922 tot 1991 aan die bewind in die Russies-beheerde Sowjet-Unie en het sy mag wêreldwyd laat geld.

 

StalinJosef Wissarionowitsj Stalin (1879-1953) het in 1924 die Sowjet-leierskap ná Lenin se dood oorgeneem. Lenin het voor sy afsterwe in sy testament versoek dat Stalin as hoofsekretaris van die Kommunistiese Party afgedank word, maar dit het Stalin nie gekeer om die leisels in die hande te kry nie.

 

Politieke teenstand is onder hom genadeloos en tiranniek onderdruk. En pleks daarvan dat die staat weggekwyn het om in ’n klaslose gemeenskap te verander, soos Marx voorsien het, is die staat in der waarheid verheerlik. Die Russiese Kommuniste het die Kremlin (die Russiese woord vir sitadel of vesting) hul regeringsetel gemaak. Dit is ’n Moskouse kompleks van ou vorstelike wonings en kerke.

 

Eers in die vroeë jare negentig met die ontbinding van die Sowjet-Unie (wat uit verskeie deelstate bestaan het) het die Russiese Federasie, as sy vernaamste erfgenaam, en ander gewese deelgenote die juk van die kommunisme afgewerp.

 

Maar nêrens is die mislukking van die kommunistiese stelsel so treffend bewys as in Duitsland nie. Die vrye, westelike deel van die land was ’n vooruitstrewende en hoogs gemeganiseerde welsynstaat.

Karl Marx se vrou, Jenny

BO: Karl Marx se vrou, Johanna (Jenny) von Westphalen (1814–1881). Sy was die dogter van Johann Ludwig, baron Von Westphalen, 'n hoogleraar aan die Friedrich-Wilhelms-universiteit in Berlyn. Sewe kinders is uit hul huwelik gebore.

Die oostelike deel, waar ’n wesenlike popperegering onder Sowjet-beheer sedert die einde van Tweede Wêreldoorlog bestaan het, was in sy voorkoms en infrastruktuur duidelik tientalle jare agter die westelike deel.

 

Die verdeelde Duitsland is uiteindelik herenig.

 

Elkeen wat ooit sal wonder of Marx se filosofie nie dalk nog iewers sal slaag nie, sal uit die dure lesse van die Sowjet-Unie en Oos-Duitsland oortuig kan word dat dit eenvoudig nie kan gebeur nie.

 

Daar is weliswaar navorsers wat aanvoer dat die oorspronklike idees van hierdie filosoof dikwels verander is en dat sy bedoelings verwater is om by ’n groot verskeidenheid van politieke stelsels aan te pas. Wat bes moontlik nader aan die waarheid is, is dat sy idees inherent die kiem van hul eie ondergang gedra het.

 

Die blote dreigement van ’n “revolusie” wat mense laat “sidder”, waarmee hy vorendag gekom het, dui op die brute geweld wat hy gepredik het om sy gewaande hemel op aarde te probeer bewerkstellig. En Marx se erg omstrede uitspraak dat godsdiens “die opium van die mense is”, dui vir baie gelowiges op die weerbarstige aard van hierdie opstandeling se ontspoorde psige.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad