LINKS:
’n Ou foto van ’n meisietjie wat na ’n radio luister. Radio’s in
huise was eers groot en log, veral as ’n mens hulle met vandag se
dra-radio’s vergelyk.
OOS baie
ander mense kon jy maklik nog altyd verkeerd gedink het—dat radio
maar net ’n soort klank is. Goed en wel, ons gebruik die
radio-tegnologie om seine te stuur wat uit klanke kom en by ontvangs
weer in klanke omgeskakel word, maar radiogolwe is eintlik bloedfamilie van
liggolwe. Naby verwant aan klankgolwe is hulle glad nie.
Soos lig
trek ’n radiogolf, in ’n omgewing waarin daar geen belemmerings is
nie, teen ’n duiselingwekkende snelheid van nagenoeg 300 000 000
meter per sekonde—dit lê byvoorbeeld die miljoene kilometers van die
son af aarde toe binne ’n raps meer as agt minute af. Daarteenoor
is die spoed van
klank, in droë lug by
20 °C, slegs ’n petieterige 343 meter per
sekonde.
Radiogolwe
is dus in der waarheid elektromagnetiese uitstraling net soos
liggolwe. En omdat radio elektromagneties is, dateer sy ontdekking
van die tyd in die vroeë 1800’s toe die ware aard van elektrisiteit
die eerste keer met nugtere erns deur wetenskaplikes onder die
loep geneem en uitgepluis is. Dit was egter
veel later dat die idee oorweeg is om elektromagnetiese golwe vir
uitsendings te gebruik.
Baie jare
het verloop in die soeke om die snelheid van elektromagnetiese golwe
te bereken en ’n formule te skep om hulle te definieer. James
Maxwell (1831–1879), ’n briljante Skotse fisikus, was die eerste
mens wat die hele konsep met welslae wiskundig begin saamvat het,
uiteindelik volledig uitgewerk in ’n geskrif wat in
1873
gepubliseer is.

BO: James Maxwell.
Heinrich
Hertz (1857–1894),
’n Duitse fisikus, was op sy beurt in 1886 die eerste mens wat
bevredigend kon aantoon dat elektromagnetiese golwe inderdaad
bestaan deurdat hy ’n apparaat gebou het wat radiogolwe kon
produseer en opvang.
LINKS:
Heinrich Hertz.
Hertz het
radiogolwe opgewek deur die ossillasies van ’n elektriese stroom wat
oor ’n brug tussen twee elektrodes ontlaai het. Kort daarna is die
gedagte geopper dat Hertz se golwe dalk gebruik kon word vir
draadlose telegrafiese uitsendings. Hertz se apparaat vir die
opsporing van elektriese golwe was egter nie geskik vir praktiese
telegrafie nie.
In 1890 het
Édouard Branly (1844–1940), ’n Franse professor, ’n toestel
uitgevind wat ’n koherer genoem is. Daarmee kon
elektromagnetiese golwe noukeurig waargeneem word en is ’n stap
nader aan praktiese draadlose telegrafie beweeg. Die koherer
het uit ’n glasbuisie vol metaalvylsels bestaan. Die vylsels, wat
normaalweg ’n swak geleier van elektrisiteit is, het ’n goeie
geleier geword wanneer elektromagnetiese golwe daarop ingewerk het.
Toe kom
Guglielmo Marconi (1874–1937)
. Hy was ’n Italiaanse ingenieur wat, soos al geskryf is, “die drome
en teorieë van die geleerdes omgeskep het in ’n werklikheid en die
radio uit die broeikas van die labororium gehaal het om die wêreld
’n verbindingsmiddel van die eerste rang aan te bied”.
Hy het
omstreeks 1894 aan hierdie projek begin werk en eers die koherer
se sensitiwiteit aanmerklik verbeter. Marconi het ook die
oorspronklike Hertz-ossillator gemodifiseer deur een terminaal van
die vonkbrug met die grond te verbind en die ander met ’n groot
geleidraad wat in die lug gehang het. Die gesuspendeerde geleidraad
was die eerste antenne en het die hoeveelheid energie vermeerder wat
van die ossilator uitgestraal het.
Intussen
het sir Oliver Lodge (1851–1940),
’n Engelse fisikus, ’n metode ontwikkel om die antenne-stroombaan
met die ossillator-frekwensie te verbind en daarby te laat inskakel.
Marconi het die apparate van Hertz, Branley en Lodge in ’n
volledige stelsel van draadlose telegrafie saamgevoeg.
Marconi het
in 1901 daarin geslaag om ’n sein oor die Atlantiese Oseaan te
stuur. In 1903 is die eerste kommersiële radiotelegramme tussen
Noord-Amerika en Brittanje gestuur.
Guglielmo
Marconi… ander uitvinders het later ook baie groot bydraes tot die
ontwikkeling van die radio-tegnologie gelewer, maar Marconi se aanvanklike
insette is so monumentaal dat hy al dikwels die vader van die radio
genoem is.

BO: Sir Oliver Lodge (links) en
Édouard Branly.
MARCONI
het op 15 April 1874 die eerste lewenslig in Bologna, Italië,
aanskou as die tweede seun van Giuseppe Marconi, ’n Italiaanse
landheer, en sy Ierse vrou, Annie Jameson. As kind was hy maar
’n tingerige kêreltjie wat glo ook nie waffers op skool gevaar het nie,
maar die Engels wat hy danksy sy ma leer praat het, sou hy baie
nuttig kon aanwend in sy latere lewe.
LINKS:
Annie Marconi, gebore Jameson, die Ierse ma van Guglielmo
Marconi.
Marconi was wel besonder geïntereseerd in die wetenskap en
elektrisiteit, soseer dat sy ma gesorg het dat hy spesiale lesings
ontvang van ’n dosent in fisika aan die Universiteit van Bologna.
Die knaap het ook vir hom ’n laboratorium in die solder van sy
ouerhuis ingerig, waar hy elektriese proefnemings gedoen het met
dinge soos klokkies, akkumulators en koperdraad.
Hy was twintig jaar oud toe hy van Hertz se proewe met draadlose
golwe gelees het—en in die daaropvolgende jaar het die mondige
Marconi gestalte gegee aan die draadlose telegraaf. Van ’n sender in
sy solder-laboratorium het hy die letter “s” in Morsekode (kort-kort-kort
of in Engels dot-dot-dot)
na ’n ontvanger in die tuin van die huis gestuur.
Hierop het hy gedurig op sy bestaande uitvindings verbeter—om steeds
al hoe verder met Hertz se golwe te kon uitsaai. Ná die
tuin-eksperiment het hy ’n afstand van omtrent 3 km met die golwe
oorspan, toe sowat 10 km.
In hierdie stadium het Marconi die Italiaanse regering probeer
oorhaal om die waarde van sy uitvindsel in te sien, maar soos ander
mense destyds het die regeerders in Italië bes moontlik ook geweier
om te glo dat die radio ooit meer as ’n speelding van eksentrieke
uitvinders kon word. In 1896 is hy dus na Londen in Engeland, waar
sy kennis van die Engelse taal hom gehelp het om geslaagde
demonstrasies aan te bied.
Hy het voortgegaan om sy seine ál verder te stuur en in 1899 oor die
Engelse Kanaal uitgesaai, ’n afstand van ongeveer 50 km. Daarna het
hy sowat 250 km bereik, en hom toe begewe in ’n waaghalsige poging wat
alle kritici se monde finaal sou kon snoer indien dit slaag. Hy sou
van Poldhu, Engeland, regoor die Atlantiese Oseaan uitsaai na St.
John’s, die hoofstad van die Kanadese provinsie Newfoundland—meer as
3000 km ver.
Op ’n stormagtige dag in Desember 1901 het Marconi self in ’n
houthut in St. John’s met oorfone sit en wag op die seine van oor
die see—wat opgevang moes word met behulp van ’n vlieër wat met die
ontvangsantenne hoog in die lug opgestuur is.
En uiteindelik bereik die drie byna onhoorbaar dowwe klikgeluide sy
ore… kort-kort-kort… nogmaals die “s” in Morsekode!
Hiermee het Marconi reeds sy onuitwisbare merk gelaat. Tog het
hy nie op sy louere gerus nie, hom as sakeman onderskei en mettertyd
selfs nog meer vermag.

BO: Marconi en helpers in Desember 1901 by St. John’s, Kanada,
met die vlieër wat opgestuur sou word met die ontvangsantenne
vir die eerste radiosein oor die Atlantiese Oseaan.

BO: Marconi in die houthut ná die ontvangs van die radiosein
van oorsee.
Een
van die eerste aanwendings van radio was die installering van send-
en ontvangstoestelle op skepe. Die praktiese belangrikheid daarvan
is in 1909 getoon toe hulp per radio gevra is en al die passasiers
gered kon wat ’n dramatiese botsing ter see oorlewe het. Die botsing
het in digte mis gebeur tussen die skepe Republic en Florida by die eiland Nantucket, sowat 50 km suid van Cape Cod,
Massachusetts.
Hoewel al sy eksperimente met radio-kommunikasie aanvanklik in
Morsekode plaasgevind het, het Marconi bly volhard dat ook stemme en
musiek op dieselfde manier van een wêrelddeel na ’n ander gestuur
moes word. Ná ’n reeks proewe het hy dit omstreeks 1914 reggekry om
met ’n termioniese buis “oor die lug” te praat.
In 1919 is die gesproke woord vir die eerste keer tussen Ierland en
Amerika oorgesein. Die Marconi-maatskapy het in 1920 van Chelmsford
in Engeland begin uitsaai, en openbare uitsaaidienste het spoedig
ook hul verskyning in ander lande gemaak.
LINKS:
Marconi ondersoek ’n telegraafstrook.
ANDERS
as baie ander groot geeste wat eers ná hul dood die erkenning
ontvang het wat hulle verdien het, het Marconi in sy lewe
eerbewyse vanoor die hele wêreld van wetenskaplike verenigings
ontvang. Hy is in 1909 met Nobelprys vir fisika vereer, en in
1914 het hy ’n senator in die Italiaanse senaat geword. In die
Eerste Wêreldoorlog was hy in beheer van Italië se “draadlose
diens”.
Brittanje het hom ook tot ere-ridder geslaan (maar nie tot
ridder nie; ’n nie-Brit kan nie werklik ’n sir word nie, want
ontvangs van die ridderskap sou meebring dat hy moet trou sweer
aan die Britse koning of koningin).
Marconi,
wat twee keer getrou en drie dogters en ’n seun gehad het wat tot
volwassenheid bly lewe het, is in 1937 ná ’n reeks hartaanvalle in
Rome oorlede. Die Italiaanse regering het ’n staatsbegrafnis vir hom
gereël, en as huldeblyk het alle radiostasies regoor die wêreld ’n
stilte van twee minute
gehandhaaf.

DIE MEVROUE MARCONI
Marconi se vroue. HEEL LINKS is sy eerste vrou, Beatrice O’Brien
(1882–1976), dogter van ’n Ierse baron. Hulle het in 1924 geskei.
LINKS is Maria Cristina Bezzi-Scali (1900–1994) met wie Marconi in
1927 getrou het. Italië se Fascistiese diktator, Benito Mussolini,
was Marconi se strooijonker by dié troue.