|
||
IE buitenste ruimte is
vir baie mense ’n donker, stil en leë uitgestrektheid -- ’n
deursigtige niks waardeur ’n mens kan tuur en slegs verafgeleë sterre
kan sien flonker. Maar ontdekkings wat sedert die begin van ons
verkenning van die ruimte gedoen is, onthul dat die onmiddellike
omgewing rondom die aarde allesbehalwe leeg is. Trouens, hier wemel
dit behoorlik van magnetiese en elektriese aktiwiteit, van materie en
energie wat wel nie met die blote oog gesien kan word nie. Maar die
groot gewoel kan kennelik met sensitiewe wetenskaplike apparate
opgespoor word. Dit
was in die jare vyftig van die twintigste eeu dat die menseras op die
aarde die eerste satelliete in wentelbane om ons planeet geplaas het.
Een van die eerste dinge wat die satelliete ontdek het, was dat daar
’n gebied in die ruimte hoog bokant die atmosfeer is wat deur die
aarde se magneetveld beïnvloed word. Hierdie streek word die
magnetosfeer genoem.
Nou
is dit so dat ’n gewone ysterstaaf hom ook soos ’n magneet sal gedra
wanneer ’n elektriese stroom daardeur gestuur word en dat ’n
onsigbare magneetveld eweneens om só ’n staaf sal ontstaan. En dit is ’n merkwaardige feit dat die aarde se magneetveld ooreenstem met die magneetveld rondom só ’n elektro-magneet. In die kern van die aarde is daar immers volgens alle aanduidings ’n soliede bal van yster-nikkel en rondom die bal beweeg gesmelte gesteentes in strome om die magneetveld op te wek. Dit werk in der waarheid soos ’n enorme dinamo.
Gevolglik het die
aarde ook ’n magnetiese noodpool en suidpool -- wat egter nie presies
oorstem met die geografiese pole nie. Die magnetiese pole is ook nie
staties nie, maar kan verskuif. Die magnetiese noordpool is tans naby
Barhurst-eiland in Noord-Kanada, sowat 1600 km ver van die geografiese
Noordpool. Die magnetiese suidpool is geleë naby die kus van
Wilkesland, ’n deel van Antarktika, ongeveer 2750 km van die
geografiese Suidpool. Alle magnete op die
aardoppervlak wat toegelaat word om vry te beweeg, sal hulle
ooreenkomstig die aarde se magneetveld skik. Dit is hoe ’n kompas
werk.
OU is dit so dat die
aarde se magnetosfeer ’n kardinale rol speel om lewe op ons planeet
moontlik te maak. Die magnetosfeer reageer naamlik met dodelike gelaaide deeltjies
wat van die son af op ons afstroom. Hierdie gelaaide deeltjies staan
bekend as die sonwind, maar
word deur die magnetosfeer van ons planeet af weggekeer. Die gelaaide deeltjies
wat van die uiters warm atmosfeer van die son af weggewerp word, beweeg
na ons toe met snelhede van 450 km per sekonde of hoër. Terwyl lig
sowat agt minute neem om van die son na die aarde te beweeg, bereik die
sonwind ons ná twee of drie dae en versprei dit dan verder deur die
sonnestelsel. Maar terwyl die aarde
se magnetosfeer gewoonlik die meeste van hierdie deeltjies van die aarde
af laat wegskram, werp die son partykeer besonder baie van dié
deeltjies uit. Dit reageer dan met die aarde se atmosfeer naby die pole
en veroorsaak veelkleurige gloede aan die hemel wat die aurora’s of
poolligte genoem word.
Die suidelike aurora
word die aurora australis genoem en die noordelike ligte die aurora
borealis. Party van die deeltjies word in die magnetosfeer vasgevang
en vorm die sogenaamde Van Allen-stralingsgordels. Ruimtetuie het
aangetoon dat daar twee sones van hoë-energiedeeltjies etlike duisende
kilometers bo die aardoppervlak is. Hulle word die Van Allen-gordels
genoem, na die Amerikaanse wetenskaplike James A. van Allen wat hulle
ontdek het. Die Van Allen-gordels is ’n uiters gevaarlike plek vir
ruimtereisigers as hulle nie beskerming teen die bestraling het nie. 'n
Geiger-teller, ’n soort opspoorder van gelaaide deeltjies, is
aangebring in die eerste Amerikaanse satelliet, Explorer 1, wat op 31
Januarie 1958 gelanseer is. Dit het die eerste getuienis gebied dat die
aarde omring word deur gebiede van gelaaide deeltjies met ’n hoë
energie. Die
volgende Explorer-satelliet kon nie in ’n wentelbaan geplaas word nie,
maar Explorer 3, met verbeterde opspoorders, het die aanwesigheid van
groot hoeveelhede gelaaide deeltjies in twee gordels bevestig. Hierdie
gordels is toe die Van Allen-stralingsgordels genoem, na die Van Allen
van die Universiteit of Iowa, wat die span wetenskaplikes gelei het wat
met die eksperimente gemoeid was.
Die
aarde is nie die enigste planeet in ons sonnestelsel met ’n
magneetveld nie. Ander planete met só ’n veld wat ook in ’n
magnetosfeer gehul is, is Mercurius, Jupiter, Saturnus, Uranus en
Neptunus. Die sterkte van die
aarde se magneetveld is nie regoor die aardoppervlak dieselfde nie.
Variasies in die veld word deur die verskillende soorte gesteentes in
die aardkors veroorsaak. Riwwe en diepseetrôe
in die see kan ook die magneetveld beïnvloed. Die
gelaaide deeltjies in die sonwind en magnetosfeer wek massiewe
elektriese strome op wat wel ook hul weg na onder op die aarde kan vind.
Wanneer sulke strome naby die aarde ontlaai, kan elektriese toerusting
op die grond verwoes word. In Maart 1989 het ’n magnetiese storm
byvoorbeeld ’n kragopwekkingstelsel in Kanada die gees laat gee en
feitlik die hele provinsie van Quebec in duisternis gehul.
Met behulp van
satelliete kan die son se aktiwiteit sowel as reaksies van die
magnetosfeer en atmosfeer oor lang tydperke gemonitor word. ’n
Bestudering van ons eie magnetosfeer kan ons meer laat verstaan van die
fisieke prossese wat dalk ook in ander dele van die sonnestelsel, sterre
en sterrestelsels kan voorkom. En namate ons kennis
verbreed van die son en die aarde se wisselwerking deur middel van die
aarde se magnetosfeer, word al hoe meer geheimenisse van die wonderlike
skepping ontbloot, wat ons eweneens stom-verwonderd laat oor die
uniekheid van ons eie wêreld tussen al die wentelende sfere. |
||