|
ITEINDELIK is
dit amptelik: water IS op die Maan gevind! Ná
verskillende uiters sterk aanduidings die afgelope paar
dekades dat die Aarde se natuurlike satelliet wel dié
lewensnoodsaaklike vloeistof huisves, het die wetenskaplikes
van die Amerikaanse ruimteagentskap NASA in November
2009 ’n belangrike aankondiging gedoen.
Hulle
het bekend gemaak dat ’n deel van ’n vuurpyl, wat hulle die
vorige maand (Oktober 2009) opsetlik in ’n krater in die Maan se
suidpoolgebied laat inploeg het, gesorg het dat hulle minstens
sowat 95 liter water “raakgeboor” het in die yslike
stofwolk wat deur die botsing veroorsaak is. Die wolk
was meer as een en ’n halwe keer so hoog as ons eie
Tafelberg in die Kaap.
NASA se nuwe
Maansending het in Junie 2009 begin met die lansering
van ’n Atlas V-draagvuurpyl wat die LCROSS-snuffeltuig
na die Maan geneem het. Op 9 Oktober is die
Centaur-bostadium van die vuurpyl op die Maanoppervlak
gerig vir ’n botsing met die grond in die Cabeus-krater.
Die krater, met sy koue, donker binnekant waar die
sonlig nooit kom nie, is as ’n belowende plek geëien om
na water te soek.
Kort daarna
is dit gevolg deur die LCROSS-snuffeltuig self, wat deur
die stofwolk gevlieg het wat deur die botsing opgewerp
is. Die uitdruklike doel was om na die aanwesigheid van water in die
wolk van puin te soek.
Die stofwolk
van sowat 1,6 km hoog was weliswaar nie naastenby so groot as die ongeveer
10 km hoë een wat verwag is nie, maar tog het die hoop
nie beskaam nie. “Ons het nie net ’n klein bietjie
(water) gevind nie; ons het ’n beduidende hoeveelheid
gekry,” het ’n NASA-wetenskaplike gesê toe die groot
aankondiging ná die aanvanklike ontledings gedoen is.
Die water wat
gevind is, was in die vorm van waterdamp en ys wat uit
die Maanoppervlak geruk is. Die botsing het ’n gat van
twintig, dertig meter veroorsaak.
Die
Maanoppervlak soos ons dit van Aarde af sien, is eintlik
droër as enige woestyn op ons planeet. Navorsers
bespiegel egter al lank dat sekere plekke op die Maan
wat voortdurend in die skaduwee is, aansienlike
hoeveelhede water kan bevat. Die water kon dalk
soheentoe gebring gewees het deur komete wat in die
gryse verlede teen die Maan vasgevlieg het.
Maar hoekom
sou die mens dan hoegenaamd daarin belang stel of ons
byplaneet water het of nie? Die rede het te doen met
toekomstige ruimteverkenning. Dit kos ’n aardige bedrag
om water saam te neem op bemande ruimtesendings. As die
mens, soos beplan word, eendag ’n permanente
ruimtestasie op die Maan vestig en daar water byderhand
kan hê sonder om dit van die Aarde af saam te karwei,
sal dit ’n geweldige bonus wees.

SOOS
ons reeds hierbo te kenne gegee het, is die Maan droër
as die Sahara-woestyn, oneindig droër... hierdie
natuurlike satelliet van ons planeet wat gemiddeld sowat
384 400 km van ons af om die Aarde wentel. En so warm—
jy sou bedags water op sy klipperige grond kan kook.
Snags is die temperatuur weer doer ver benede vriespunt,
by ’n yslike –173º C om presies te wees.
Boonop het
hierdie hemelligaam geen besonders meetbare atmosfeer
nie. Hy het dus ’n pikswart, wolkelose hemel, terwyl hy
in ’n bisarre, ewige stilte voorttuimel deur die
oneindigheid.
En, al het
waarnemers lank gelede geglo dat die donker dele oseane
is, besef ons lankal dat daar net dorre vlaktes tussen
die bergreekse en kraters is... buiten, soos ons nou
weet, in minstens een van sy koue, donker kraters...
Meer as ’n
dekade gelede, in 1998, het die Amerikaanse snuffeltuig
Lunar Prospector die sterkste getuienis tot in
daardie stadium gevind van ys by die noord- én suidpool
van die Maan. Diep, diep in verskillende poolkraters het
die tuig aanduidings gekry van bevrore water wat, soos
toe vermoed is, in ’n konsentrasie van omtrent een
persent vermeng lê met die besondere klipgrond van die
maan.
As aangeneem
word dat die yslaag sowat ’n halwe meter diep lê— so
diep as wat die tuig se instrumente kon waarneem—kan
daar enigiets van 10 miljoen tot 300 miljoen metrieke
ton lunêre waterys wees, versprei oor 10 000 tot 50 000
vk. km by die noordpool en 5000 tot
20 000 vk. km by die suidpool.
Volgens ’n
ander berekening sou die water, indien al die ys gesmelt
sou kon word, genoeg wees om ’n dam van drie tot vyf
kilometer breed en tien meter diep te vul.
En daarna, in
2003, het ’n wetenskaplike bekend gemaak dat daar selfs
vyf keer meer water op die Maan kan wees as wat
oorspronklik bereken is.
MAAR
al was die tekens daar, kon navorsers steeds nie honderd
persent seker wees dat daar wel water op die Maan is
nie. Die Lunar Prospector het byvoorbeeld slegs
waterstof by die pole waargeneem en die geregverdigde
aanname is toe gedoen dat dit bes moontlik op water dui.
(Waterstof is natuurlik een van die twee elemente in
water. Die ander element is suurstof, waarvan daar baie
in verbindings in die Maan se grys grond vasgevang is.)
Boonop het
wetenskaplikes, wat agterna die Maan se poolstreke met
radarseine gebombardeer het, so onlangs as November 2003
berig dat hulle geen tekens van dik yslae daar kon vind
nie. Hulle het gereken dat die Maan se water, as daar
water sou wees, wyd verspreid en soos in aardse ysgrond
(“permafrost”) moes wees—heeltemal anders as die dik
ysneerslae van ’n meter of meer wat hulle in die
skaduwees van kraters op die planeet Mercurius waarneem
het. (Die Maan en Mercurius lyk op die oog af baie
eenders.)
Maar in die
wêreld van ruimteverkenning was die Prospector se vonds
tog destyds uiters belangrike nuus. Om water van die
Aarde af Maan toe te karwei, is toe al bereken, kan tot
R100 000 vir ’n enkele kilogram kos. Groot reservoirs
water op die Maan self sou beteken dat die Maan in die
toekoms soveel beter as ’n halfwegstasie kan dien vir
verdere bemande ontdekkingstogte in die ruimte.
Op die koop
toe bestaan water, soos reeds gesê, uit waterstof en
suurstof. As dit met sonkrag deur elektrolise in sy twee
komponente opgebreek word, kan die suurstof onder meer
as lug in bemande koepelhuise ingepomp word en die
suurstof en waterstof verder gebruik word as brandstof
vir ruimtelike vuurpyle.
Daar is reeds
geraam dat etlike duisende mense langer as ’n eeu
onderhou sal kan word met die moontlike water op die
maan. Sulke koloniste sal dit allermins maklik hê. Hoe
hulle onder in die vrieskoue kraters gaan kom om die
lewensbelangrike ys te delf, is iets waaroor
fiksieskrywers dik boeke sal kan skryf.
HOE
ook al, waar sou al die ys, wat nou uiteindelik sonder
enige twyfel op Maan bestaan, dan oorspronklik vandaan
kon gekom het? Volgens ruimtewetenskaplikes word ons
byplaneet gedurig deur meteoorstene en
mikro-meteoorstene (stukke ruimterommel) gebombardeer,
waarvan baie inderdaad waterys bevat. Ook die koppe van
komete is al as blote “vuil sneeuballe” beskryf.
Die enorme
kraters op die Maan toon dat sommige van die ruimtelike
swerwers wat in die verre verlede teen die Maan gebots
het, werklik kolossale voorwerpe moet gewees het.
Enige ys wat
’n botsing sou “oorleef” het, sou ver oor die oppervlak
van die Maan gesaai gelê het. Die meeste daarvan sou
vanweë die felle sonlig vinnig verdamp en in die ruimte
verlore gegaan het, omdat die Maan se aantrekkingskrag
te swak is om die waterdamp daar te hou.
Maar dit is
die deeltjies wat in die permanente skaduwees van die
poolkraters beland het—óf deur regstreeks daarin te val
óf as sweempies waterdamp wat soontoe beweeg en toe daar
gevries het—dit is waarskynlik dié wat steeds daar in ’n
tydlose vrieskas lê.
Dit is
betekenisvol dat die manne van die peperduur
Apollo-sendings, wat die Maan ’n klompie dekades gelede
verken het, geen enkele druppeltjie water of ’n
krieseltjie ys daar gevind het nie.
Maar dié ou
pioniers was natuurlik ver weg van die Maan se pole af.
Hulle het op die snikhete vlaktes rondgeloop en
gebokspring, en al wat gewater het, was hul oë—vir al
die nuutontdekte dinge op ’n vreemde wêreld wat die
Aardbewoners stomverwonderd gelaat het. |