|
'n
Ster-artikelreeks in sewe aflewerings |
||
|
|
||
| IN
'n sekere sin is dit 'n liefdesverhaal. Daar kan nooit, binne die menslike
voorplantingsisteem, 'n hegter binding tussen een mens en 'n ander wees nie.
'n Driekwart jaar lank is twee individue aan mekaar verbind, terwyl die een binne-in die ander een ontwikkel. Tog is die ma, byna nes die pa, eintlik maar 'n buitestaander, hoe heg die koppeling tussen haar en haar ongebore baba ook al is. Die kind aan wie sy die lewe skenk, is geen
deel van haar soos 'n botsel uit die hoofstam van 'n plant nie. Hy is 'n afsonderlike menslike wese, 'n vreemdeling al is hy hoe na aan haar, en 'n Ma kan byvoorbeeld gewoonlik nie oorplantingsmateriaal vir haar kinders gee nie. Op hul beurt kan hulle ook nie iets van hul liggame, sê maar hul vel, vir haar skenk nie. 'n Halfeeu gelede, toe ons begrip van die meganisme van oorplantings nog in sy vroeë stadiums was, is skertsend aangevoer dat menslike babas eintlik onmoontlik is. Vandag weet ons steeds nie hoe op aarde 'n baba dan tot stand kan kom sonder dat sy ma se liggaam hom verwerp nie.
ELKE nuwe menslike lewe begin as 'n enkele eier, wat slegs agt tot tien uur lank geskik is om lewe voort te bring. Die eier is voor die vrou se geboorte gevorm en wag twintig, dertig, veertig of meer jare voordat dit vir bevrugting voorberei word. Dan, terwyl dit met die eierleier of Fallopiusbuis langs beweeg, kan dit miskien spermatosoa teëkom. Gestel dit gebeur, dan was hierdie spermselle ook wagtend sedert hulle gevorm is, maar slegs 'n aantal dae of weke. Van miskien 200-400 miljoen spermselle wat uitgestort is, is slegs honderd bittereinders in die wedloop oor teen die tyd dat hulle die eier bereik. Dit kos immers duisend roeibewegings met die paddavisstertjie om 'n sperm een sentimenter vorentoe te laat beweeg.
Wanneer die spermsel binne-in die eier is, stel dit 'n chemiese sein vry wat die eier aktiveer. Die sperm se kop word dan na die kern van die eier aangetrek en hul genetiese materiaal versmelt. Dit is die oomblik van bevrugting, wanneer die genetiese samestelling van 'n nuwe individu geskep word. Gaan hy sy pa se blou oë hê, sy ma se breë voete? Die bloudruk van al hierdie erfeienskappe word nou neergelê. Die ma is heeltemal onbewus van al hierdie dinge wat binne-in haar gebeur, maar sodra dit plaasvind, is sy besig met haar maaksel. Of liewer: nog 'n menslike wese is besig om homself te maak, terwyl hy die ma soos 'n parasiet benut. In die begin verdeel die bevrugte eier elke halfdag of wat. Die verdeling tot eers 2, dan 4, dan 8, 16, 32, 64 selle ensovoorts, ensovoorts, bring mee dat daar spoedig 'n enorme hoeveelheid is -- meer as 'n miljoen selle ná slegs twintig verdelings...
'N MENSLIKE wese se ontwikkeling kan hoegenaamd nie met, sê, die maak van 'n motor vergelyk word nie. Aanvanklik is daar eenvoud. Die verdelende selle ontwikkel om drie lae te vorm, baie soos 'n koek met 'n vulsel in die middel. Hierdie drie lae krul dan oor om 'n buis te vorm. Die jong embrio is soos 'n wurm, met 'n dermkanaal wat regdeur hom loop, 'n buitenste bedekking wat ook van die een kant na die ander strek en 'n sentrale laag wat die ruimte tussendie twee vul. Die buitelaag sal mettertyd die vel vorm, asook naels, hare, ooglense, speekselkliere en alle senu-weefsel, waaronder die brein. Die middelste laag sal spiere, beendere, kraakbeen, bloedvate en niere maak. Die binneste laag sal die slukderm, maag en ingewande oplewer, asook die lewer, pankreas, blaas en die voering van elke long. Die hart begin as 'n groep selle onder die brein wat op die een of ander manier geprikkel word. Hoe hierdie opdrag eksklusief aan hierdie bepaalde groep selle gegee word, is 'n raaisel. Trouens, dit bly steeds net so 'n geheim soos 'n groot deel van die ontwikkeling van die embrio.
DIE lewe in die baarmoeder word gereeld voorgestel as 'n tyd van onverstoordheid en kalmte, maar die werklikheid is ietwat anders. Teen die negende week, wanneer hy maar net so groot soos 'n druiwekorrel is, het die fetus reeds sy spiere begin beweeg.
Teen twaalf weke het hy al 'n klein akrobaatjie geword, wat van agter af vorentoe rol, terwyl hy deur die vrugwater bolmakiesie slaan en met sy ledemaatjies wuif asof hy sy omgewing wil verken. Selfs die gesigspiere word geoefen met fronsies en lipbewegings. Boonop dring geure van sy ma se kos en drank deur tot in die vrugwater. Daarna word hulle vermoedelik deur die neus en vel geabsorbeer, wat meebring dat die baba kan ''ruik'', baie op dieselfde manier as 'n vis. Teen die einde van die negende week is die kritieke ontwikkelingsfase verby. Die res van die swangerskap word in beslag geneem deur 'n vinnige toename in grootte en verdere groei en differensiasie van die organe en weefsels.
Klik hier vir die volgende aflewering: 3. Geboorte en kind-wees
|
||