Land uit!
   

 Land uit!

’n Kort navorsingstuk oor die Suid-Afrikaanse emigrasieprobleem, die redes vir die uittog en wat gedoen kan word om die breinerosie of uitvloei van kundigheid uit ons land te keer

E

MIGRASIE beteken landverhuising, met ander woorde die proses van jou land te verlaat en jou in ’n ander land te gaan vestig.

 

Maar die meeste mense is bitter verknog aan die eie en die bekende, en dit spreek vanself dat ’n besluit om te emigreer nie ligtelik geneem sal word nie. Daar moet dus in verreweg die meeste gevalle baie goeie redes wees hoekom die gras aan die ander kant van die draad soeter en begeerliker gereken word as die weiding aan die duskant.

 

Die stroom mense wat Suid-Afrika in die afgelope jare verlaat het en steeds verlaat, laat sosioloë, ekonome, politici en ander kundiges met talle vrae oor wat die presiese dryfvere daarvoor kan wees.

 

Party van die antwoorde lyk maklik of lê miskien selfs voor die hand. Soos dat daar uitgewyk word omdat die verhuisers vas glo dat ’n beter toekoms in die vreemde op hulle wag as wat hulle enigsins kan hoop om plaaslik tegemoet te gaan.

 

Maar daar is baiemaal ook dieperliggende redes—of dalk selfs verskeie groterige en kleiner redes wat saam ’n massiewe beweegrede vorm. Om die knusse eie huis en haard vir ’n anderlandse nessie te verruil, kan voorafgegaan word deur baie dae van weeg, opweeg en heroorweeg en lange nagte van sieldeursoekende worstelinge. Of daar kan blitsvinnig besluit word: “Ons gaan!”

 

Luister jy gevolglik wat uitgeweke Suid-Afrikaners sê oor wat die aansporings was om hulle oorsee te gaan vestig, vind jy noodwendig uiteenlopende motiverings. Tog is dit duidelik daar in die breë ’n aantal kernredes vir die onrusbarende eksodus is.

 

Die vernaamstes word hier onder genoem.

 

Waarom so baie Suid-Afrikaners emigreer

 

1.   Vrees vir misdaad (diewe, rowers, moordenaars)—kortom, ’n voortdurende
gevoel van onveiligheid
 

 

DIE besonder hoë vlakke van misdaad en veral geweldsmisdaad bekommer al wat ’n regdenkende Suid-Afrikaner is. Dit kan geweldige, selfs paniese, afmetings aanneem as ’n mens self die slagoffer was en veral as jy gelukkig was om met jou lewe daarvan af te kom.

 

Martina LouwSoos Martina Louw kan getuig. Sy en haar man, Ken, het Suid-Afrika verlaat nadat sy in ’n motorkaping in die bors geskiet was, en hulle het hulle eers in Nieu-Seeland gaan vestig en daarna na Australië verhuis.

 

Haar persepsie is dat verreweg die meeste uitgewekenes wat ’n heenkome in daardie wêrelddeel vind, dit nie vir geldelike gewin doen nie. “Net om hier te kom, met jou voos rande en al, laat jou met veel minder as wat jy in Suid-Afrika besit het,’’ vertel sy. “Maar die rykdom aan rustigheid en veilige beweging sorg dat die “wonderlike luukshede‘ van die huidige Suid-Afrika hier net vae herinneringe is.’’

 

Ene “Mish”, ook nou van Nieu-Seeland, skryf in dieselfde trant op ’n webbladsy op die internet: “Daar is verskeie redes wat my na Nieu-Seeland laat kom het. Die vernaamste sou misdaad en korrupsie wees. Die vrees dat jy gekaap sal word wanneer jy na die melkery/winkel ry. Die feit dat jy, wanneer jy in jou motor klim en voordat jy die masjien aanskakel, eers seker maak dat al die deure gesluit is, die vensters toe is en jy die immobiliseerder deaktiveer.

 

“Vandag sê mense wat steeds in Suid-Afrika woon dat hulle daaraan gewoond geraak en dit vir hulle ’n lewenswyse geword het. Wat my aanbetref, vra ek myself af: Waarom moet dit vir my nodig wees om dit alles deur te maak?”

 

Dit is seker kwalik nodig om te sê dat  “Mish” namens baie uitgewekenes praat.

 

2.   Werkloosheid
     

 

NÁ apartheid was daar taamlike eenstemmigheid in die nuwe Suid-Afrika dat iets gedoen moes word om die skewe toedrag van sake te verander waar die “posh jobs” (beste en mees betalende werke) aan ’n hoogs bevoordeelde blanke minderheid toegeken is.

 

Veral die staatsdiens het dan ook betreklik gou “verswart”. Deur ’n proses bekend as “regstellende aksie” is vinnig stappe gedoen om voorheen benadeeldes in belangriker werke aan te stel en tot bestuursposte te bevorder. Wetgewing het private maatskappye eweneens verplig om die persentasie voorheen benadeelde werknemers te vergroot.

 

Dit het enersyds tot ’n billiker werkverdeling gelei, maar andersyds tot merkbare verliese aan kundigheid. Daar is vandag waarnemers aan verskillende kante van politieke spektrum wat daarop wys dat die proses te haastig deurgejaag is.

 

Daarteenoor kan nie ontken word dat die teenswoordige Suid-Afrikaanse regeerders die onbenydenswaardige taak het om almal te probeer gelukkig hou, maar nie die swart massas (hul ondersteunersbasis) van hulle te vervreem nie. Groot verwagtinge is geskep toe die oorname gebeur het. Om nie eens te probeer om dit te verwesenlik nie, is die resep vir ’n katastrofe.

 

Maar dit het te vinnig gebeur, meen baie waarnemers, ten koste van gehaltebestuur, goeie dienslewering, werkdissipline, noem maar op. En in die proses is knap blankes met jare ondervinding in ’n onverskillige skoonmaakproses van “omgekeerde apartheid” vervang deur ’n werkerskorps van enkele briljantes, maar baiemaal  gemiddeldes regdeur tot volslae onbevoegdes.

 

Dit is geen wonder dat ’n menigte misnoegde en werklose jong wit Suid-Afrikaners vandag met ’n wrewel aan regstellende aksie dink nie. “Ons was nie aandadig aan apartheid nie,” is ’n algemene gevoel. “Waarom moet ons nou boet vir die misdaad van die vaders?”

 

Op die koop toe is daar lede van die sogenaamde Kleurling- (bruin) gemeenskappe wat voel dat daar in die arbeidsmark soms steeds onregverdig teenoor hulle gediskrimineer word—die persepsie dat “ons eers nie wit genoeg was nie en nou is ons nie swart genoeg nie”.

 

Hoe ook al, al die genoemde faktore het tot ’n massiewe uittog van blankes, maar ook bruines, uit die land gelei. Toegegee, dit is dikwels jong mense wat miskien vir ’n jaar of twee, drie lewensondervinding in, sê, Londen wil gaan opdoen, en selfs bereid is om strate te vee vir die belewenis. Dan kom hulle weer terug.

 

Dat massas gegradueeres en ander hoogs opgeleide professionele mense en tegnici egter min of meer permanent na die buiteland uitwyk, het die rooi ligte laat flikker oor die “brain drain” (breinerosie of uitvloei van kundigheid) wat ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika eenvoudig nie kan bekostig nie.

 

Dit bring ons by ’n volgende oorsaak van emigrasie. Dit is waar mense die sappige geelwortel wat voor hul neuse geswaai word, eenvoudig te aantreklik vind om te weier.

 

3.   Besonder aanloklike
aanbiedinge oorsee
  

 

KUNDIGE Suid-Afrikaners word op baie plekke hoog aangeslaan. Dit blyk uit vertellings soos dié van die bogenoemde Martina Louw oor hul indrukke in Australasië.

 

“Suid-Afrikaners word gewoonlik met ope arms ontvang,” vertel sy. “Vanweé ons mense se reeds beroemde werkywer en dissipline styg hulle ook vinnig uit, selfs dié wat weer heel onder moes begin. Room styg mos altyd boontoe!”

 

Baie ingenieurs, mediese dokters, trouens allerhande vakkundiges is dan ook al land uit gelok deur werkaanbiedings met astronomiese salarisse wat nie naastenby vergelyk kan word met wat hulle ooit kon hoop om Suid-Afrika te verdien nie (selfs as wanverhoudinge in die wisselkoers gekorrigeer word).

 

4.  Ontevredenheid met openbare dienslewering, gesondheidsorg, onderwys en dies meer
 

 
IN aansluiting by al die kommerwekkende misdaadsyfers en ’n gebrek aan werkgeleenthede, verwys uitgewekenes of voornemende emigrante ook dikwels na wat hulle as ’n kennelike verval in openbare dienslewering, gesondheidsorg en onderwys in Suid-Afrika ervaar.  “Waarom moet ek in ’n land bly woon wat pylreg op pad is na die ashoop?” is een se venynige, beslis oordrewe maar tog veelseggende vraag.

 

Hoë lewensduurte en hoë belastingsvlakke is verdere besware wat geopper word.

 

5.  Die volg van familielede en vriende wat reeds geëmigreer het
  

 

’N BRILJANTE jong man met ’n aantal universiteitsgrade wat nie sy naam genoem wil hê nie, het pas saam met sy vrou (ook ’n professionele mens) teruggekeer van ’n besoek aan Kanada, waar sy broer en sy gesin tans woon. Die Suid-Afrikaanse egpaar dink ook daaraan om na Kanada te emigreer.

 

En die feit dat hulle reeds familie daar het, maak dit vanselfsprekend vir hulle makliker.

 

Dieselfde geld vir mense wat oorsese vriende het, wat reeds die pad vir hulle gelyk gemaak het om hulle na die buiteland te volg.

 

6.  Wanderlust!
  

   

DIE Duitsers het ’n woord wat hulle “Wanderlust” noem. Lettterlik vertaal, beteken dit ’n lus om te dool, met ander woorde ’n swerfsug—’n sterk, onoorwinlike begeerte om rond te trek. Diesulkes is klaarblyklik nie so geheg aan hul eie habitat nie, en natuurlik is dit ook ’n rede waarom mense van land verander.

 

’n Mens kan wel wonder hoeveel van die Europeërs wat hulle in die loop van ons geskiedenis in Suid-Afrika kom vestig het, dit nie soseer net vanweë ekonomiese oorweginge gedoen het nie, maar ook uit avontuurlustigheid. Iewers lees ’n mens immers dat veral die Duitse komponent van die immigrante in die tyd van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie glo taamlike rakkers was!

 

Dat daar inderdaad Suid-Afrikaners moet wees wat in ons tyd uit ons land padgegee het bloot vir die “avontuur” kan ook nie ontken word nie.

 

Maar hoeveel Suid-Afrikaanse emigrante is daar werklik, wat is hul beroepe en watter lande word verkies?

    
DIS eintlik nie so verbasend dat goed geskoolde Suid-Afrikaners wat verkies om te emigreer, uitwyk na die mees gevorderde Engelstalige nywerheidslande Brittanje, Amerika en Kanada, en veral in die jongste aantal jare ook na Australië en Nieu-Seeland nie.

 

In hierdie lande sou hulle immers veel makliker kon aanpas as in, sê, die Ooste, waar die tale en kulture vir hulle vreemd sou wees.

 

Die stroom uitgewekenes is ontstellend groot, maar ’n mens moet ook begrip hê vir die standpunt van die owerhede dat hulle nie in staat is om presiese syfers te verstrek van hoeveel ons land verlaat om nooit weer terug te keer nie. Alte dikwels vertrek iemand naamlik net oorsee om sy of haar geluk te beproef, maar word hy of sy verplig om ná ’n paar jaar terug te kom nadat ’n werkpermit verstryk het.

 

Maar baiemaal gebeur dit tog sulke mense hulle só in hul werke in die buiteland onderskei dat hulle vaste aanstellings kry en naderhand selfs permanente burgerskap in ’n nuwe vaderland verwerf. Een geval waarmee ons met hierdie ondersoek te doen gekry het, is dié van ’n jong Suid-Afrikaner wat hom in Skotland gevestig en ’n belangrike werk op die oliebore in die Noordsee losgeslaan het.

 

Hy het met ’n Skotse vrou getrou, met ’n gesinnetjie begin en vandag sal hy selfs ’n Skotse rokkie aantrek vir die tradisionele samekomste van sy vrou se clan!

 

Hy het vanweë sy huwelik Skotse burgerskap verwerf, dog is van geboorte ook steeds ’n Suid-Afrikaanse burger. Maar al sou hy geen plan hê om ooit weer na Suid-Afrika terug te keer nie, kan hy hier te lande nie as ’n emigrant afgeskryf word nie, omdat hy te eniger tyd weer sal kan terugkeer as die omstandighede dalk verander.

 

Nietemin: ’n aantal jare gelede het die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling, ’n liggaam waar die waaraan die wêreld se grootste nywerheidslande behoort, geraam dat die getal Suid-Afrikaanse immigrante (ongeag of hulle genaturaliseer is nie) op ’n sekere jaargrondslag as volg in die vyf mees gesogte lande was:

·         Brittanje: 141 405

·         Australië: 79 425

·         VSA: 68 290

·         Kanada: 37 680

·         Nieu-Seeland: 26 061

Daar is ook kleiner, maar nogtans beduidende,  Suid-Afrikaanse gemeenskappe in Nederland, Portugal, Ierland en Griekeland.

 

Hier volg ’n vergelykende grafiek van die getal Suid-Afrikaanse uitgewekenes in die vernaamste vyf lande:

 


Grafiek

 

Buiten dat spesieke syfers nie maklik plaaslik verkry kan word oor die ware omvang van die emigrasie nie, was daar boonop in die afgelope aantal jare ’n beduidende onderberekening van die mate waarin kundigheid besig is om uit die land te vloei. Dit blyk in elk geval dat verreweg die meeste goed geskoolde emigrante  in die afgelope jare deel was van die mees produktiewe ouderdomsgroepe—25 tot 45 jaar oud. Dit beteken dat die breinerosie hoofsaaklik plaasvind onder Suid-Afrikaners was reeds opgeleide en gevestigde beroepsmense is.

 

Dit blyk voorts uit die statistieke dat hoogs geskooldes wat die land in die afgelope jare verlaat het, meestal kundiges op die gebied van die onderwys en geesteswetenskappe  is,  gevolg deur ingenieurs en argitekte en van ons voorste bestuurslui. Al hoe meer kundiges in die natuurwetenskappe en die mediese beroepe wyk ook land uit, terwyl die land ál minder immigrante met sulke kwalifikasies kon werf.

 

Nadele (en voordele) wat Suid-Afrika sosiaal en ekonomies weens emigrasie ervaar

 
MINDER dokters, minder ingenieurs, minder wetenskaplikes, minder opgeleides op baie ander terreine—dit is die tragiese gevolg van die uitwyking van ons hoog geskooldes, soos ook vroeër in hierdie werkstuk gesê is.

 

Die skoling, universitêr of andersins, van kundiges kos ons land miljarde rande en om hulle net so in die arms van ’n gulsige buitewêreld te laat beland (of miskien daarin te jaag), kan hoegenaamd tot geen voordeel van ons land strek nie.

 

Trouens, dit maak geen sin nie, nie ekonomies nie en ook nie sosiaal nie. Slegs die afgeroomde melk bly immers oor as jy die room verwyder. Anders gestel: hoe kan ’n land vooruitgaan en goeie burgers bly lewer, as die toonaangewendes nie daar is om die leiding te gee nie?

 

En die voordele van emigrasie dan? Is daar enige? ’n Mens moet ver gaan soek om enige sosiale en ekonomiese voordele van emigrasie vir ’n land soos Suid-Afrika te soek—behalwe as die emigrant ’n takhaar of plebejer sonder veel opvoeding of finesse is wat vir enige land ’n groter las as ’n aanwins sal wees!

 

Wat kan Suid-Afrika dan doen om
mense te behou?

   

IN ’n wêreld van globalisering waarin mense na willekeur mag rondbeweeg, is dit vandag vry onmoontlik om enigiemand te belet om na enige plek van sy keuse te gaan as dié plek bereid is om hom te aanvaar. Die enigste manier om ’n uittog te voorkom,  is om jou eie “huis” so gerieflik moontlik vir sy bewoners te maak dat hulle dit nooit eens sal oorweeg om te verhuis nie.
 

Prakties beteken dit vir Suid-Afrika ’n skerp vermindering in misdaad, dat mense veilig en geborge sal voel waar hulle ook al beweeg, gepaard met grootliks verbeterde dienslewering, ’n opgeknapte onderwysstelsel, goeie en betroubare mediese sorg, ware gelyke geleenthede vir almal.

 

Oplaas moet die spook van apartheid eerder vroeër as later finaal begrawe en nooit meer aan kleur gedink word nie, sodat werkers net volgens hul bekwaamhede beoordeel sal word en niks anders nie. Politiek en ekonomiese wette meng nie. Dit is die realiteit wat besef moet word. Het Suid-Afrika dan nie uit sy verlede geleer dat diskriminasie op grond van velkleur ’n absolute onding is nie?

 

En dit is dan die geweldige taak wat vorentoe op ons leiers wag—as hulle net die moed kan monster, en bowenal die insig het om daarna te strewe, om almal in hierdie land hul regmatige plek in die Suid-Afrikaanse son te gun.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad