Uniegebou
Bekende Suid-Afrikaanse
landmerke en geboue

  

 

VIER BEKENDE SUID-AFRIKAANSE LANDMERKE OF GEBOUE WORD HIERONDER BESPREEK.
KLIK OP 'N PLAASLIKE SKAKEL OM DADELIK VERPLAAS TE WORD NA DIE ONDERWERP VAN JOU KEUSE:

 

•   1) Tafelberg in die Kaap

•   2) Uniegebou in Pretoria

•   3) Carlton-sentrum in Johannesburg

•   4) Paul Kruger se huis in Pretoria



Tafelberg1) Tafelberg in die Kaap

 

 

BO: Tafelberg... ’n onvergeetlike gesig vir toeriste van heinde en ver.

 

Foto: Kopiereg © South African
Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme

 

“TUSSEN jou en my lê daar ’n berg,” sing Dozi. En terwyl ’n mens nog wonder na watter verheffing van die aardoppervlak hy nou eintlik verwys, sing hy verder: “Tafelberg.”

 

Daar moet baie mense wees wat van en oor Tafelberg sal wil sing. Dit is nie net Kaapstad se majestueuse landmerk en een van die bekendstes in die hele Suid-Afrika nie, maar vir talle Suid-Afrikaners met Europese bloed in hul are is dit van besondere historiese betekenis.

 

Baie van ons mense se stamvaders en -moeders het immers aan sy voet in hul nuwe vaderland aan wal gestap -- en miskien met sprakelose ontsag gekyk na die woelerige kleed van wolke wat daaroor vou.

 

Dit was ook die dae toe skeepskapteins, vanweë die lang en vermoeiende seereise van destyds, soms selfs tien guldens en ’n bottel wyn uitgeloof het aan die eerste seeman wat Tafelberg gewaar. Op helder dae is die berg van tot 200 km op die oop see sigbaar. Vandag is Tafelberg,  wat tot nasionale monument verklaar is, steeds ’n onvergeetlike gesig vir toeriste van heinde en ver.

 

Die 1086 meter hoë Tafelberg bestaan hoofsaaklik uit twee soorte rots -- ’n basis van graniet en die hoofmassa van sandsteen, wat deur horisontale en vertikale krake in blokke verdeel word. Leiklip kom ook kol-kol tussen die graniet voor, maar is minder algemeen.

 

Dis verstommend om daaraan te dink dat Tafelberg, volgens geleerdes, in die jong dae van die aarde onder die see gevorm is en ná opeenvolgende geologiese tydperke van opwelling en erosie sy huidige vorm aangeneem het.

 

Tafelberg se “voorkant” of noordelike aansig, met die twee syspitse Duiwelspiek oos en Leeukop wes van die “tafel”, word die meeste op toeristefoto’s afgebeeld. Maar die berg troon ook oor die reeks berge aan sy “agterkant” wat die ruggraat van die Kaapse Skiereiland vorm en waarvan 'n groot deel in die Kaapse Skiereiland Nasionale Park geleë is.

 

Tafelberg en sy reeks voetberge wat die ruggraat vorm van die Skiereiland

BO: Tafelberg en sy reeks voetberge wat die ruggraat vorm van die Skiereiland (voor), is duidelik te sien op NASA se reliëffoto van die gebied—maar van die beroemde tafelvorm van ons land se mees geskiedkundige berg is uit hierdie hoek weinig te bemerk.

 

Tafelberg se “tafelkleed” is byna net so bekend as die berg self. Dit is ’n wolkebedekking eie aan die somermaande. Wanneer die Kaapse suidooswind (die berugte “Kaapse Dokter”) teen die berge van Skiereiland vaswaai, word die lug opwaarts gedwing. Sodra dit die koeler omgewing van die bergtoppe bereik, kondenseer die waterdamp in die lug en vorm dik, wit wolke.

 

Besoekers word sedert 1929 gereeld per sweefspoor na die kruin van Tafelberg vervoer (as die weer saamspeel) vir asembenemende uitsigte oor Kaapstad. Die heel fikses en waagmoediges kan selfs die berg op talle moeilike plekke uitklim, maar niemand durf vergeet dat Tafelberg al verskeie bergklimmers se einde beteken het nie. Dié wat nie vir soveel vermoeienis en gevare kans sien nie, moet liewer die maklike Plattekliproete aan die noordekant gebruik.

 

Dit was vermoedelik dié roete wat die Portugese admiraal Antonio de Saldanha gevolg het toe hy, sover bekend, in 1503 die eerste Europeër geword het wat Tafelberg uitgeklim het. Maar lede van die vroeë Khoisan het dit reeds in die gryse verlede bestyg en ’n uitstekende kennis van die plante en diere, asook die berg se waterbronne en grotte gehad.

 

Een van die merkwaardigste bestygings sedert die Europese besetting van die Kaap moet dié van die Britse vlootoffisier James Holwan wees. Hy het die berg in 1829 te perd uitgeklim. Maar dit was nie al nie. James Holwan was blind. Die verhaal word vir die waarheid vertel.

 

Dog sowat ses jaar later, in 1835, was Tafelberg weer die toneel van ’n enorme liegstorie wat in die VSA aan goedgelowiges opgedis is. ’n Verbeeldingryke skrywer het naamlik in ’n reeks artikels in die New York Daily Sun geskryf dat daar ’n besonderse teleskoop op Tafelberg is waarmee die bewoners van die maan gesien kan word. Die bewoners sou vlermuis-mense wees, terwyl diere wat ’n mens aan Amerikaanse buffels (bisons) herinner die kamstige grasvlaktes van die maan bewandel. Alles natuurlik skromelik uit die duim gesuig. Maar baie liggelowige mense het glo herdrukke van die artikels gekoop.

 

 

Kaapse Parade met Tafelberg op aftergrond, 1913

BO:  ’n Dag in die geskiedenis van Tafelberg...Die Parade in Kaapstad in 1913 met die tydelose berg op die agtergrond. Byna honderd jaar later lyk hierdie toneel nie juis veel anders nie.

 

Foto: New York State Archives

Meer plantsoorte is reeds op Tafelberg getel as al die bekende soorte op die Britse Eilande. Benewens ’n groot verskeidenheid van veldblomme is die berg ook die natuurlike tuiste van die beroemde silwerblaarboom. Die berg se beroemdste blom is die pragtige rooi disa, wat as die "trots van Tafelberg" bekend staan.

 

Die grootwild wat voorheen op Tafelberg voorgekom het, soos Kaapse leeus, luiperds en buffels, is lank reeds uitgeroei.  Hier is nog slegs klein soogdiere soos bobbejane, steenbokke, dassies en kleingrysmuishonde.

 

En natuurlik die omstreke Himalaja-bergbokke, oftewel tahrs. Die tahrs (waarvan daar nog tot honderd of meer op die berg kan wees) is die nageslag van ’n enkele teelpaar wat in 1936 uit die destydse Groote Schuur-dieretuin ontsnap het. In die 1970's was daar meer as sewehonderd, maar hulle is by tye uitgedun. In Mei 2004 is planne aangekondig om die oorblywende tahrs te vang, te steriliseer en in ’n private reservaat te hervestig. Hierdie tahrs is immers indringers wat nie van nature op die berg hoort nie.

 

Die verdwyning van die inheemse groot diere, soos die leeus en buffels, was stellig onvermydelik namate die Kaap verstedelik het. Maar die vermindering van sekere inheemse plantsoorte kan volgens baie bewaringsbewustes nie verskoon word nie.

 

Dit is ook nie die enigste getuienis van die mens se uitroeiingswerk nie. Elke af en toe is daar ’n verwoestende brand op die berg -- aangestig deur vleisbraaiers of wie ook al. Groot swart gebrande lappe aarde is verdoemende aanklagte teen al sulke onbedagsames.

Na bo

 


Uniegebou (SATOER)2) Uniegebou in Pretoria

REGS: Die Uniegebou met  jakarandas in bloei.

 

Kopiereg © SOUTH AFRICAN TOURISM / SUID-AFRIKAANSE TOERISME


Kyk vir verdere foto's op die web by:
http://www.southafrica-travel.net/north/a1pret03.htm

        

DIE Uniegebou op Meintjieskop, met sy uitsig oor Pretoria, is ’n pragtige konstruksie van ligte sandsteen. Dit is in 1913 voltooi, drie jaar nadat die Brits-koloniale Kaapkolonie, Natal, Transvaal en die Oranjerivierkolonie in 1910 verenig het om die Unie van Suid-Afrika te vorm. Dit was die setel van die ou Suid-Afrikaanse regering en is ook die uitvoerende regeringsetel van die nuwe Suid-Afrika (die wetgewende regeringsetel is die Parlementsgebou in die Kaap).

 

Die argitek van die Uniegebou was sir Herbert Baker (1862-1946), wat dit in die neo-Klassieke styl ontwerp en ook ’n amfiteater geïnkorporeer het. Plaaslike rooi sandsteen is gebruik, maar Baker het die boumateriaal eers getoets deur in 1909 die Pretoriase stasie te bou. Baker was ’n Engelsman wat in 1892 na die Kaap gekom en hom plaaslik met verskillende bouwerke onderskei het, onder meer die herbouing en restourasie van die Groote Schuur. Hy het hom daarna in Johannesburg gevestig.

 

Andries Francois du Toit (1813-1883) was die oorspronklike eienaar van die grond waarop die Uniegebou opgerig is. Hy was ook Pretoria se eerste landdros en het boonop vir die uitleg van die stad gesorg. In dié tyd het hy sy grond, wat  Arcadia genoem is, verkoop aan Stephanus Jacobus Meintjies (1819-1887), na wie Meintjieskop genoem is.

 

Sowat £1,5 miljoen is toendertyd bewillig vir die gebou wat Suid-Afrikaanse eenheid (destyds nog net tussen Boer en Engelsman) moes versinnebeeld. Die twee vleuels aan weerskante van ’n halfronde deel sou dan ook die Afrikaanse en Engelse deel van die bevolking voorstel.  Die gebou is uiteindelik vir £1 310 640 voltooi, terwyl die perseel £350 000 gekos het.

 

Baker het self die uitgewerkte klipgroef op Meintjieskop as die perseel gekies en die bestaande uitgrawings gebruik om die amfiteater met terrasse te skep wat sitplek vir 9000 mense bied. Hy het uit die staanspoor nou saamgewerk met die Departement van Bosbou in die beplanning van die landskap en die keuse van bome, struike en ander plante om ’n harmonieuse omgewing vir die gebou te skep.

 

Die Uniegebou is 275 meter lank en bestaan uit twee identiese kantoorblokke aan weerskante met twee eenderse 55 meter hoë torings; hierdie torings word deur ’n halfmaanvormige sentrale blok verbind, wat op sy beurt die agtergrond vir die amfiteater vorm. Die amfiteater is met beeldhouwerke, plante en poele en fonteine versier.

 

Elke kantoorblok bestaan uit drie verdiepings bokant ’n kelderverdieping waar argiewe in betonkluise bewaar word. Die sentrale, geboë hoofgebou bevat komiteekamers, ’n biblioteek en konferensiekamers, terwyl daar in die kelderverdieping kombuise, eetkamers en sitkamers vir die staatsdienswerkers is.

 

Sover moontlik is slegs inheemse boumateriaal vir die konstruksie van Uniegebou gebruik. Graniet is plaaslik uitgegrawe, terwyl Buiskop-sandsteen aangery en stinkhout en Rhodesiese kiaat vir houtwerk en panele gebruik is. Al die teëls vir die dak en vloere is in Vereeniging vervaardig.

 

Benewens die 14 160 kubieke meter sandsteen wat gebruik is, het die boumateriaal onder meer ook 14 miljoen stene, 2000 kubieke meter beton, 40 000 sakke sement en 570 kubieke meter graniet ingesluit.

 

Die hoeksteen is in November 1910 gelê en, danksy die hulp van 1265 werkers, is die gebou in 1913 voltooi. Twee bou-aannemers het daaraan gewerk, te wete Prentice & Mackie, wat die halfronde hoofgebou opgerig het, en die onderneming Meischke, wat vir die twee kantoorvleuels gesorg het.

 

Die uitleg en plant van die tuine van Uniegebou is in 1919 voltooi. Altesame 31 rose is uit Engeland ingevoer, terwyl party plante uit die Koninklike Nederlandse Kwekery in Rotterdam verskeep is.  Die tuine is vandag pragtig. Toeriste van oral ter wêreld kan ongehinderd by die Uniegebou rondloop en hulle daaraan verlustig.

 

Die Uniegebou, wat uit unifikasie gebore is, het in Mei 1994 ook die simbool geword van volkome eenwording in Suid-Afrika, toe die land se eerste demokraties verkose president, Nelson Mandela, daar ingehuldig is.

Na bo

 


Carton-sentrum

 3) Carlton-sentrum in Johannesburg

 

REGS: Die Carlton-sentrum troon die hoogte in.

 

Foto waarsk. vry van kopiereg, maar indien enigeen sou reken dat sy kopiereg hierdeur geskend word, tree asb. onverwyld in verbinding met Mieliestronk.com sodat die aangeleentheid in die reine gebring kan word.
Kyk vir foto's op die web by:

http://www.emporis.com/en/il/pc/?id=103533&aid=8

        
 

DIE Carlton-sentrum is Johannesburg se bekendste landmerk. Dit is die stad se barometer van vertroue in die sentrale sakedistrik en, met met vyftig verdiepings, Afrika se hoogste gebou (222 meter). Een van die groot toeriste-attraksies in die Goudstad is die vyftigste verdieping met sy skouspelagtige uitsig oor die stad.

 

Die sentrum is in 1973 gebou deur ’n konsortium van plaaslike en Amerikaanse ontwikkelaars en is deel van ’n kompleks wat die Carlton-hotel insluit. Daar is ook ’n groot inkopiesentrum op verskillende vlakke en die middestad se grootste parkeergarage.

 

Die Carlton-sentrum het destyds op vier klein stadsblokke verrys. Op persele wat eens kenmerkend was van die dae toe Johannesburg weinig meer as ’n mynwerkerskamp was, is die grootste kommersiële ontwikkelingsprojek in Afrika aangepak.

 

Die omwenteling wat die nuwe Suid-Afrika noodwendig ná 1994 sou beleef, het egter ook ’n gedaantewisseling in die Johannesburgse middestad veroorsaak, met ’n bestendige uittog van sake-ondernemings. Veral Sandton, in die noordelike voorstede, was ’n gesogte plek vir die oprigting van nuwe kantore.

 

In 1999 het Transnet die Carlton-sentrum-kompleks vir R33 miljoen van Anglo American Properties gekoop. Dit was twee jaar lank in die mark. Transnet het in dieselfde jaar van hul kantore in Parktown en Braamfontein hierheen verskuif en beset sestig persent van die kantoorruimte in die Carlton. Ander huurders is onder meer die departement van justisie, prokureurs, dokters, ingenieurs, konsultante in die versekerings-, reis- en eiendomsbedryf en ’n rekenaarskool.

 

Transnet het in die afgelope jare hard gewerk om mense na die Carlton-sentrum te lok deur hoogs gevorderde sekuriteitsmaatreëls in te stel. Daar is sekuriteitswagte by elke ingang en loerkameras in elke hyserportaal.

 

Transnet het die Carlton teen ’n winskopie gekoop en roem daarop dat hy ’n rol gespeel het om mense na die Johannesburgse middestad terug te lok.

Na bo

 


 
4) Paul Kruger se huis in Pretoria

 

BO: Die Krugerhuis, wat gerestoureer is om byna presies te lyk soos in die dae van “Oom Paul”, vorm vandag ’n skerp kontras met die geboue daaragter.

 

Foto: Boris Gorelik,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie. Kortom, deling en afgeleide weergawes hiervan word vergun op voorwaarde dat behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. Amptelike lisensie

Besoek gerus Boris Gorelik se webwerf (Engelse weergawe): Land van die Reënboog: die eerste Suid-Afrikaanse webwerf in Rusland

 

 

Oom Paul en sy huis

REGS: ’n Fotokompilasie van
die ou president  en sy huis.

 

Krediet: MSKARG

      

DIE Kruger-Museum in Pretoria is die huis waarin pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) en sy vrou Gezina van 1884 af gewoon het. Dit bly ’n gewilde plek vir toeriste, sowel Suid-Afrikaners van elders as besoekers van oorsee.

 

Die huis is gerestoureer om byna presies te lyk soos in die dae van "Oom Paul". Die gedagte was, en is steeds, om besoekers te laat voel dat die ou presidentspaar enige oomblik kan terugkeer.

 

Soos een Nederlandse besoeker aan die Krugerhuis dit gestel het : “Men moet zich dan voorstellen, dat de president dagelijks op zijn veranda van zijn houten Victoriaanse huis in het nog dorpse Pretoria zit terwijl de burgers voorbijlopen en hun president groeten. Mensen die de president wilden spreken konden dat; Kruger wou dat hij op zijn veranda (‘stoep’ in het Afrikaans) voor de burgers bereikbaar was. Koffie drinkend konden de burgers hun beklag bij hem doen.”

 

Die huis is in 1884 gebou. Die argitek was Tom Claridge van die destydse Oranje-Vrijstaat en die bouers was die Pretorianer Charles Clark. Melk pleks van water is gebruik om die sement te meng, omdat die destydse sement maar van ’n swak gehalte was.

 

Dit was een van die eerste huise in Pretoria wat met elektrisiteit verlig is.

 

Besoekers word met hul aankoms by die huis steeds begroet deur die leeubeelde op die stoep, wat op 10 Oktober 1896 deur die mynmagnaat Barney Barnato as verjaardaggeskenk aan pres. Kruger gegee is. Die vlag voor die huis is die sogenaamde Vlierkleur van die ZAR, wat tydens die Krugers se verblyf daar elke môre om sesuur deur skildwagte gehys en teen sononder gestryk is.

 

Die pynlike presiesheid waarmee die huis sover moontlik tot sy oorspronklike voorkoms herstel is, is oral te sien. Selfs die plafon in die president se onthaalkamer pryk vandag weer in die oorspronklike wit en goud. En die tapyt in die onthaalvertrek is soortgelyk aan die een wat die vloer in Kruger se tyd bedek het. Die huidige tapyt is in 1974 geweef (die een voor dit in 1933) deur dieselfde Londense maatskappy wat vir die oorspronklike een gesorg het.

 

In mev. Kruger se onthaalkamer is ’n spesiale tafel in die hoek met van Gezina se naaldwerk. Die huisorrel wat met huisgodsdiens gebruik is, is ook in die huis te sien, asook die smeedyster-verwarmer en die olieskildery van Kruger deur Adamson. In die hoofslaapkamer is die oorspronklike groot klerekas van die Krugers, maar in die eetkamer het ongelukkig min van die oorspronklike meubels behoue gebly. Tog is dit hermeubileer om soos in die ou dae te lyk.

 

Franse deure lei na die agterstoep en kombuis waar maaltye bedien is. Die spens bevat kombuis- en eetgereedskap wat tipies van daardie tyd was.

 

Die Kruger-museum adem die gees van ’n lang verlore era. Maar dit is nie die enigste huis van die ou president wat nog bestaan en in stand gehou word nie. Op die dorpie Clarens, in die verre Switserland, waar pres. Kruger op 14 Julie 1904 oorlede is, is die sogenaamde Krugersterfhuis, wat steeds deur Suid-Afrikaners besoek word.

Na bo

 


  
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad