|
ONDER kaarte
sou die mens stellig hopeloos verdwaal het! Ons krap
vandag nog baiemaal ’n kaartjie op ’n los stukkie papier
wanneer ons byvoorbeeld ons straatadres aan iemand
verduidelik wat nie weet hoe om by ons huis uit te kom
nie.
Ons kan dus
sę dat kaarte so oud moet wees as die mens se vermoë om
met neergeskrewe tekens te kommunikeer. En dat een
eenvoudige kaartjie tot ’n ingewikkelder een moet gelei
het en daarvandaan af voort... ’n steeds groter wordende gebied wat gedek is in dieselfde mate dat die mensdom se
kennis van sy omgewing verbreed het. Uiteindelik kon die
hele aardbol dan ook gekarteer word, pynlik noukeurig om
elke verheffinkie en inhammetjie te toon.
Maar wat is
’n kaart dan eintlik?
Wat is ’n kaart?
’N
KAART
is ’n akkurate en in wisselende mate uitvoerige
weergawe, plat of in reliëf, van ’n deel van die aarde,
van ons hele planeet of van die sterrehemel. Kaarte word
volgens skaal geteken, met ander woorde een sentimeter
kan byvoorbeeld gelyk staan aan tien kilometer of
honderd kilometer of watter lengte ook al, soos besluit
was voordat die kaart geteken is.
Benewens
staatkundige kaarte wat die grense van lande aandui en
natuurkundige kaarte wat onder meer die oseane, riviere
en berge toon, kry ’n mens ook kaarte waarop gegewens
verstrek word soos die verspreiding van die bevolking,
behuising, die ligging van bewerkbare grond, die
voorkoms van minerale en nywerhede, asook
klimaatstoestande. Daar is baie verskillende soorte
kaarte.
Die
eeue-oue kuns om kaarte te teken staan bekend as
kartografie en ’n beroepskaarttekenaar is ’n kartograaf.
Vandag, met ons gesofistikeerde tegnologie en wonderlike
rekenaarprogramme—gesteun deur wentelende satelliete wat
elke vierkante meter grond vanuit die ruimte kan
fotografeer—is kartografie egter eerder ’n onderafdeling
van die wetenskappe as ’n kuns. Of ons kan sę dit is ’n
samevoeging van wetenskap, die estetiese en tegniek.
Die vroegste kaarte
DIE
eerste kaarte, sover bekend, is nie van die aarde gemaak
nie, maar van die hemelruim. Stippels wat volgens
wetenskaplikes reeds in nagenoeg 16 500 v.C. aangebring
moet gewees het, is aan die wande van die beroemde
Lascaux-grot in Suidwes-Frankryk gevind en toon
hemelliggame in die sterrehemel aan.
Die eerste
landkaarte is op dierevelle geteken of op stukke hout,
been, klip of klei uitgekrap. Daarop was landmerke wat vir
jagters en handelaars die aard van ’n gebied sou kon
aandui.
Die
Babiloniese Węreldkaart, sover bekend die oudste
behoue geblewe “węreldkaart”, dateer uit omstreeks
600 v.C. Die kaart, op ’n kleitablet, is in Suid-Irak
gevind en is tans in die Britse Museum. Die ou staat
Babilon vorm daarop die middel van die węreld, maar dit
word as ’n simboliese eerder as letterlike voorstellling
beskou, want die landstreke van volkere soos die ou
Perse en Egiptenare, wat goed bekend was aan die
Babiloniërs, is doelbewus weggelaat.
LINKS:
Die Babiloniese Węreldkaart.
Uit baie
sulke soorte kaarte het ’n geheelbeeld van die węreld om
die Middellandse See geleidelik ontstaan—hoewel die
mense daar maar ’n bitter eng idee van die aarde as
sodanig gehad het. Trouens, daar is gereken dat die
Mediterreense węreld en sy omgewing eintlik maar die
hele węreld is... ’n soort plat bord wat as middelpunt
in die kosmos bestaan en waarom die son, maan en die
sterre wentel.
Ligpunte in
hierdie duister siening van die węreld het wel begin
verskyn toe denkende mense soos sekere van die ou Grieke
vrae begin stel en berekeninge gedoen het. En
uiteindelik het van die Grieke ’n heel merkwaardige
bydrae tot die mensdom se kennis van die aardbol en sy
selfs sy grootte gelewer (al is die kennis later weer
vergeet).
Maar die
kaart direk hieronder was vir die heel vroegste Grieke
hoe die węreld gelyk het—uit en gedaan. En dié soort
opvatting sou eeue lank gehuldig word.

BO: ’n Ou Griekse węreldkaart van ’n platbord-aarde
wat om die Middellandse See gesentreer is. Met die
maak van sulke kaarte is glo voortgeborduur op ’n
soort kaart wat die eerste keer deur ene
Anaximandros van Militus (ca. 610 v.C–ca. 546 v.C.)
geteken is en waarop hy die aarde ook sou voorgestel
het as ’n groot skryf wat heeltemal deur see omring
word. Anaximandros se kaart, wat hy volgens latere
Grieke wel sou geteken het, het nie behoue gebly
nie. Maar volgens hom sou daar blykbaar slegs twee
vastelande wees, naamlik Europa en Asię, wat deur
die Middellandse See van mekaar geskei word. Die
noordkus van Afrika is as ’n deel van Asië beskou en
dus nie as ’n afsonderlike vasteland voorgestel nie.
Wat meer sę,
in die vroeë Middeleeue nog was die kaart wat die meeste
in Europa gebruik is die Romeinse Orbis Terrarum
(“omtrek van die aarde”). Dit was juis só ’n kru
skyfvormige kaart waarop die Middellandse See die
middelpunt was. Ou gevestigde idees word nie maklik deur
nuwes vervang wat totaal ander sienings huldig nie, en
die Romeine het baie van hul idees van die Grieke gekry.
Die
antieke Romeine was is elk geval praktiese mense wat
hulle nie te veel met geografiese teorieë sou bemoei het
nie. Hulle het groter waarde geheg aan die opstel van
padkaarte, volledig met afstande, om die kommunikasie
binne die grense van die uitgestrekte Romeinse Ryk
behoorlik te kon laat funksioneer.
Hulle het
hul padkaarte itineraria genoem (enkelvoud
itinerarium), en stede, dorpe en ander stilhouplekke
daarop gelys en ook die afstande tussenin aangedui. Die
Romeinse regering het onderneem om van tyd tot tyd
’n hoofreisgids van alle Romeinse paaie uit te reik.
REGS:
Een van die oorblywende voorbeelde van ’n Romeinse
padkaart of reisgids is die sogenaamde Tabula
Peutingeriana. Hier is ’n natreksel van ’n deel
daarvan—in
1887 gedoen deur Konrad Miller. Suid-Italië is in die
middel.
Al het die
mense van die antieke Romeinse tyd, soos ons gesę het,
nie veel erg gehad aan uitvoerige landkaarte nie, het
hulle nietemin baie rondgereis. En die reise is nie net
oor die land onderneem nie, maar ook oor die see,
aangevuur deur die begeerte om handel te dryf of deur
verowerings. Die mens se kennis van sy omgewing moes dus
noodwendig bly verbreed en daarmee saam sou die
kartografie ook bestendig bly ontwikkel.
’n Baie
beroemde kartograaf en aardrykskundige van die Oudheid, ene Ptolemaios
(ca. 90– ca. 168 n.C.), was juis ’n Romeinse burger van
Egipte wat in Grieks geskryf het.
LINKS:
’n Vytiende-eeuse manuskrip-kopie van ’n węreldkaart
deur Ptolemaios, saamgestel omstreeks 150 n.C. Wes is
Europa en ver oos lę China. Verskillende van die
landvorms is heel herkenbaar, wat die kaart des te
merkwaardinger maak vir die tyd waarin dit geteken is.
Ptolemaios
het kaarte van die węreld geteken waarop hy selfs
breedte- en lengtelyne aangebring het, byna soos op die
kaarte wat ons vandag gebruik. Sy kaarte het egter met
die val van die Wes-Romeinse Ryk verdwyn, en hulle het
eeue lank verlore gebly.
Die
Middeleeue het ’n jammerlike verval gebring in die mens
se kennis en geleerdheid.
Die Middeleeuse stagnasie en die heropbloei
NÁ
die val van die Wes-Romeinse Ryk in 476 n.C. was daar ’n
baie lang tyd geen groot militęre mag wat in staat was
om veroweringstogte na verre lande te onderneem nie. Dit
was ’n tyd van groot verwarring, want orde en reg het
wyd en syd in duie gestort. Reise was moeilik en
gevaarlik, en baie paaie het heeltemal in onbruik
verval. Selfs die besef wat vroeër in bepaalde kringe bestaan het dat die
aarde rond is, het vervaag en verdwyn in die beklemmende
onkunde wat op die węreld neergedaal het.
Met die
koms van die Middeleeue het ook die praktyk om egte
landkaarte te maak tot stilstand geknars. Die kaarte wat
wel in hierdie tyd die lig gesien het, was eerder
fantasie-prenteboeke as dokumente van werklike plekke en
dinge.
Maar in die
jare tussen 1000 en 1200 het daar weer ’n opbloei gekom.
Die feodale stelsel het in hierdie tyd op baie plekke ’n
gevoel van orde en veiligheid gebring, sodat mense hul
kragte in nuwe idees en verwagtinge kon kanaliseer.
Een van die eerste tekens van ekonomiese herstel was die
hervatting van die handel, wat ook deels deur die
Kruistogte teweeggebring is. Handelaars het weer eens
die ou land- en seeroetes oor Europa na die Midde-Ooste
gevolg. Dit spreek vanself dit ook die kartografie sou
stimuleer.
Boonop is
vorderings wat deur Arabiese kartograwe gemaak is, in
die 1100’s na Europa oorgedra.
Die
vroegste navigasiekaarte, sover bekend, is omstreeks
1300 gemaak, hoewel vermoed word dat seekaarte reeds
lank voor hierdie tyd gebruik is. Handelaars van die
hawestede aan die Middellandse See het dit geleidelik al
hoe verder van hul tuisdorpe en -stede gewaag om handel
te drywe.
Met
verloop van tyd kon hulle kaarte teken waarop die kuste
van die Middellandse See en seë verder weg getoon is. Op
hierdie kaarte is egter slegs die stede aan die kuste
getoon. Benaderde kompasrigtings en verwysingslyne is
ook prominent op die kaarte aangebring.
Die Tydperk
van Ontdekking (vyftiende en sestiende eeu) is deur
groot vorderings in die maak van kaarte gekenmerk.
Toonaangewende kartograwe van hierdie tyd was Martin
Waldseemüller van Duitsland en Gerhardus Mercator en
Ortelius van die Lae Lande.
Van die
sewentiende tot die negentiende eeu het die lande van
Europa daarop gekonsentreer om hul gebiede tuis en hul
oorsese gebiede te karteer. Dit was die tyd van die
groot Europese kolonisasie van uitgebreide gebiede
elders in die minder ontwikkelde węreld.

BO: ’n Węreldkaart van Ortelius uit 1572. Ortelius
(eintlik Abraham Ortels, 1527–1598) was ’n Vlaamse
kartograaf en aardrykskundige, wat algemeen as die
skepper van die eerste moderne atlas erken word. Hy
was ook die eerste bekende wat met die gedagte
vorendag gekom het dat die vastelande eenmaal een
kontinent gevorm het voordat hulle verbrokkel en na
hul huidige liggings gedryf het.
Kartografie in die twintigste eeu tot vandag
DIE
maak van kaarte het in die twintigste eeu ’n hoogs
koöperatiewe bedryf geword. Kartograwe van baie
verskillende lande het hul kragte saamgesnoer in die
standaardisasie van ontwerpe, kaartsimbole en plekname.
Trouens, die
tegnologie verander steeds deurlopend om aan die eise
van nuwe geslagte van kaartmakers en kaartgebruikers te
voldoen. Alles is ’n voortsetting van die veranderings
in die voorafgaande paar eeue toe die kompas, drukpers,
teleskoop, sekstant en al sulke instrumente die skepping
van veel akkurater kaarte en ewe noukeurige reproduksies
moontlik gemaak het.
Fotogrammetrie is die wetenskap waarvolgens kaarte
geskep word op grond van fotografiese opnames van ’n
terrein. Die foto’s word vanuit ’n vliegtuig geneem wat
hoog bo die terrein vlieg en ’n deel van die aarde word
van horison tot horison geskandeer. Die foto’s word
agterna in ’n rooster saamgevoeg, op só ’n wyse dat
gedetaileerde en akkurate kaarte daarvan gemaak kan
word.
Vandag kom
satellietbeelde ook by vir steeds groter noukeurigheid,
asook rekenaartoerusting en -programme om van te duisel.
Al wat nog kortom, lyk dit, is reliëfkaarte wat werklik
driedimensioneel sal vertoon vir die blote oog sonder
die nodigheid om die derde dimensie met spesiaal
gekleurde brille te simuleer. |