Landbou deur die eeue
Uitvindsels wat die boere gehelp het

Antieke illustrasie van ’n ou Egiptenaar agter ’n ploeg

BO: ’n Antieke illustrasie van ’n ou Egiptenaar agter ’n ploeg wat deur getemde diere getrek word. Die ploeg en die tem van diere was twee ontwikkelings in die landbou wat kennelik tot die ontstaan van die eerste beskawings gelei het.

Illustrasie: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)

Landbou was nog altyd die ruggraat van die Suid-Afrikaanse volkshuishouding—soseer dat daar selfs vroeër van die Afrikaners as die Boere gepraat is! Maar eintlik is boerdery die hele wêreld deur ’n lewensnoodsaaklike bedryf, want die mens moet tog eet... en die meeste van die kos wat ons inneem, kom mos oorspronklik van plase af. Sonder sy werktuie is die boer natuurlik verlore, maar die landbouers van weleer het dit nie so maklik gehad nie.  Hieronder word vertel hoe van ons bekende plaaswerktuie met verloop van eeue in gebruik gekom het...
 


   
’n Ou graafstok met ’n klip vooraanREGS: Met ’n stok en iets soos ’n geslypte klip vooraan, kon veel beter in die grond gegrawe en geskoffel word as met die kale hande. Sulke primitiewe instrumente is egter steeds wêrelde verwyder van die gesofistikeerde landbouwerktuie van vandag.

 

Foto: Chaco Culture National Historical Park / U.S. National Park Service

 


U


IT die eenvoudige graafstokke en skoffelpikke van vervloë dae het verstommende arbeidsbesparende landbouwerktuie ontwikkel. Dié het so doeltreffend geword dat ons boere vandag voedsel op ’n geweldige skaal kan produseer.

Die boere van lank gelede het primitiewe gereedskap en hul eie spierkrag gebruik om kos te produseer. Geleidelik het landboukundige uitvindsels daartoe gelei dat diere vir plaaswerk ingespan is. Van die 1800’s af het die vooruitgang van die wetenskap ook die landbou totaal hervorm en osse en perde is deur ander kragbronne vervang.

Vanweë beter masjiene en toerusting was baie minder plaaswerkers nodig, wat vanselfsprekend ook die produksiekoste laat daal het. Daarbenewens het die verbetering van plantvariëteite en kunsmisstowwe beteken dat die opbrengs op ’n spesifieke stuk grond nou twee en soms byna drie keer meer kan wees as vantevore.

Hieronder word vertel hoe van ons bekende plaaswerktuie in gebruik gekom het.

Ploeë

IN die vroegste tye het boere stellig nie die grond omgeploeg nie. Hulle het eenvoudig met stokke gate in die grond gesteek en saad daarin gegooi. Toe hulle egter agterkom dat gesaaides beter groei in grond wat opgebreek en omgedolwe is, is graafstokke en skoffelpikke hiervoor ontwikkel. Hierdie soort gereedskap word vandag nog deur sekere ontwikkelende gemeenskappe gebruik.

Ploeë is sowat 5500 jaar gelede die eerste keer in Mesopotamië en Egipte gebruik (kyk illustrasie boaan hierdie artikel). Die vroegste ploeë was tweetand-gereedskap van hout of brons wat met tou geheg was. Die een ent het ’n skerp punt gehad en is deur een werker in die grond gehou; die ander ent is deur ’n tweede werker getrek.

Later is osse gebruik om die ploeë te trek, en jukke is ontwerp sodat die osse in spanne kon werk.

 

Die mens begin diere inspan om vir hom te werk...

BO: Die mens begin diere inspan om vir hom te werk...

Krediet: Detail van fresko uit die 1600’s deur Luca Giordano in die Galerie des Palazzo Medici-Riccardi in Florence, Italië. Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)
  

Ploeëry deur een van die landvolk in ’n Middeleeuse gemeenskap

BO: Ploeëry deur een van die landvolk in ’n Middeleeuse gemeenskap. (Uit ’n Franse manuskrip van omstreeks 1415, detail.)

Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)

Ploeëry in 1886

BO: Die basiese manier van ploeg het duisende jare lank nie veel verander nie, soos ook blyk uit hierdie ou foto wat in 1886 geneem is. Maar toe kom die trekker en bring ’n hele omwenteling mee...

Illustrasie: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)

Ploeëry in 1905

BO: Ploeg in 1905 in Engeland (nogal geïllustreer deur twee waardige ou Engelse here). Meganisasie het reeds in hierdie tyd die landbouprentjie ingrypend verander... maar dit was nog maar net die begin.

Foto: U.S. Library of Congress (foto gewysig). Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”) (foto ietwat gewysig)


Ploegskare (lemme) van yster het sowat 2500 jaar gelede hul verskyning in Europa gemaak. Hulle was baie swaarder as houtskare en het dieper in die grond ingesny.

Twee belangrike toevoegings tot die ploeg was wiele, wat dit makliker gemaak het om dit te gebruik en te beheer, en die rysterbord, ’n geboë stuk hout wat die grond omgekeer het nadat dit onder gesny is.

Latere uitvindsels was onder meer die eerste ploeg volledig van gietyster (R. Ransome, 1789) en die staalploeg (John Deere, 1830). Stoomtrekkers is van die middel van die 1880’s af gebruik.

Die stoomlokomotiewe was nie geslaag nie. Hulle was so swaar dat hulle die grond waaroor hulle beweeg het, saamgepers het. Maar kort voor lank het twee nie-bewegende stoommasjiene ploeë oor die land getrek aan 'n ketting wat tussen hulle gespan is.

 

Stoomtrekker uit 1910REGS: ’n Formidabele stoomtrekker uit 1910. Sulke logge gevaartes was, omdat hulle so swaar was, al onprakties genoeg om mee te ploeg of andersins op die plase aangewend te word. Maar ’n mens kan wel wonder of die boere dan nie ook mateloos in die rook op die land gestik het nie.

 

Foto: U.S. Library of Congress
 


Ná die ontwikkeling van die moderne trekker vroeg in die twintigste eeu is ploeë wat deur diere en met stoom aangesleep is, in ontwikkelde lande geleidelik vervang deur ploeë wat deur trekkers getrek is.

In 1902 het Dan Albone van Brittanje die eerste doeltreffende petrolaangedrewe trekker gebou. Die volgende belangrike stap in die ontwikkeling van die masjien was toe Henry Ford van Amerika in 1916 met die massaproduksie van trekkers begin het. Trekkers het sedertdien baie kragtiger geword en die ontwerpe baie beter.

Rubberbuitebande het die ou staalbande vervang. En die hidrouliese hysmeganisme, bemeester deur Harry Ferguson van Noord-Ierland, het dit moontlik gemaak om ploeë en ander werktuie vanuit die stuurstoel te beheer.


Dorsmasjiene en stropers

WEINIG meer as tweehonderd jaar gelede is dors (die verwydering van graankorrels uit die are) en wan (die uitwaai van die kaf uit die korrels) met die hand gedoen—’n stadige en moeisame proses.

Sens en sekelIn die 1780’s het Andrew Meikle, ’n Skot, die eerste geslaagde dorsmasjien ontwerp om die graan van die are en kaf te skei. Tot omstreeks 150 jaar gelede is graan meestal met sekels of sense afgemaai. Die sekel het ’n kort handvatsel vir net een hand gehad en ’n mens kon met elke swaai net ’n klompie are afsny. Die sens met sy lang handvatsel wat deur albei hande gehanteer is, kon meer are op ’n slag bykom.


Meganiese maaiers het in die middel van die 1800’s hul verskyning gemaak toe Patrick Bell, ’n Skotse predikant, en Cyrus McCormick, ’n Virginiese ingenieur, maaimasjiene ontwerp het. ’n Paar jaar later het ’n ingenieur van Maine, Obed Hussey, ’n ewe doeltreffende meganiese maaier gepatenteer.

Verskeie uitvindsels daarna het in 1836 tot die eerste geslaagde stroper gelei. Ontwerp deur die Amerikaners Hiram Moore en John Haskall, het hierdie masjien, wat letterlik met perdekrag gewerk het, die gesaaides geoes, geskei en gerwe gebind wat reg was om in miedens gepak te word.
 

Meganiese maaier, 1889

BO: ’n Meganiese maaier, 1889.

Illustrasie: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)

’n Meul om te maal vir meel...

IN die ou dae het mense meel gemaal deur graan tussen twee plat of skottelvormige klippe fyn te maak. Later het hulle graan met stampers en vysels gemaal. Die uitvinding van die watermeul in die jare 100 vC en die windmeul in die 600’s nC het omwentelinge in die maak van meel teweeggebring.

Stamper en vysel, en meulstene

 LINKS BO: ’n Stamper en vysel van klip.
REGS BO: Meulstene.

 

Fotovan stamper en vysel: U.S. National Park Service

 

Graan is tussen twee massiewe klipwiele fyngedruk wat deur water of die wind aangedryf is. Watermeulens was dikwels ongewild by boere, wat omgekrap was omdat hulle die meulenaars soveel moes betaal om hul graan gemaal te kry. Honderde jare lank het party boere se vroue of knegte dit dus bloot tuis gemaal.

Daarvoor is ’n handmeul gebruik, wat bestaan het uit twee plat, ronde klippe waartussen die graan verpoeier is. Die boonste klip het ’n gat in die middel gehad waarin die graan gegooi is en ’n handvatsel waarmee dit gedraai is.
 

Melkmasjiene

VANDAG se enorme suiwelbedryf het sy bestaan te danke aan ’n aantal uitvinders van die laat negentiende eeue wat die melkmasjien ontwikkel het. Die masjien het in die twintigste eeu algaande melkery met die hand begin vervang en die werkkoste gevolglik baie besnoei.

’n Vroeë melkmasjien is in 1862 deur ’n Amerikaner, L. Covin, ontwerp. ’n Lugleegte is deur pomping geskep en die melk uitgesuig. Die aanhoudende gesuig het egter die koeie seergemaak. Moderne melkmasjiene is só ontwerp dat hulle om die beurt suig en dan vir ’n rukkie weer ophou, nes kalwers maak.

 

Ou melkmasjien

BO: ’n Ou melkmasjien waarmee twee koeie blykbaar gelyktydig gemelk kon word.

Foto: USDA Bureau of Dairy Industry Records / Special Collections, National Agricultural Library

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad