|
Landbou deur die eeue
Uitvindsels wat die boere gehelp
het

BO: ’n Antieke
illustrasie van ’n ou Egiptenaar agter ’n ploeg wat deur getemde
diere getrek word. Die ploeg en die tem van diere was twee
ontwikkelings in die landbou wat kennelik tot die ontstaan van die
eerste beskawings gelei het.
Illustrasie: Openbare
besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)
Landbou was nog altyd die ruggraat van die
Suid-Afrikaanse volkshuishouding—soseer dat daar selfs vroeër van
die Afrikaners as die Boere gepraat is! Maar eintlik is boerdery die
hele wêreld deur ’n lewensnoodsaaklike bedryf, want die mens moet
tog eet... en die meeste van die kos wat ons inneem, kom mos oorspronklik van plase af.
Sonder sy werktuie is die boer natuurlik verlore, maar die
landbouers van weleer het dit nie so maklik gehad nie.
Hieronder word vertel hoe van ons bekende plaaswerktuie met verloop
van eeue in gebruik gekom het...
REGS:
Met ’n stok en iets soos ’n geslypte klip vooraan, kon veel
beter in die grond gegrawe en geskoffel word as met die kale hande.
Sulke primitiewe instrumente is egter steeds wêrelde verwyder van
die gesofistikeerde landbouwerktuie van vandag.
Foto: Chaco Culture
National Historical Park / U.S. National Park Service
IT die eenvoudige graafstokke en
skoffelpikke van vervloë dae het verstommende arbeidsbesparende
landbouwerktuie ontwikkel. Dié het so doeltreffend geword dat ons
boere vandag voedsel op ’n geweldige skaal kan produseer.
Die boere van lank gelede het primitiewe gereedskap en hul eie
spierkrag gebruik om kos te produseer. Geleidelik het landboukundige
uitvindsels daartoe gelei dat diere vir plaaswerk ingespan is. Van
die 1800’s af het die vooruitgang van die wetenskap ook die landbou
totaal hervorm en osse en perde is deur ander kragbronne vervang.
Vanweë beter masjiene en toerusting was baie minder plaaswerkers
nodig, wat vanselfsprekend ook die produksiekoste laat daal het.
Daarbenewens het die verbetering van plantvariëteite en
kunsmisstowwe beteken dat die opbrengs op ’n spesifieke stuk grond
nou twee en soms byna drie keer meer kan wees as vantevore.
Hieronder word vertel hoe van ons bekende plaaswerktuie in gebruik
gekom het.
Ploeë
IN die vroegste tye het boere stellig nie die
grond omgeploeg nie. Hulle het eenvoudig met stokke gate in die
grond gesteek en saad daarin gegooi. Toe hulle egter agterkom dat
gesaaides beter groei in grond wat opgebreek en omgedolwe is, is
graafstokke en skoffelpikke hiervoor ontwikkel. Hierdie soort gereedskap
word vandag nog deur sekere ontwikkelende gemeenskappe gebruik.
Ploeë is sowat 5500 jaar gelede die eerste keer in Mesopotamië en
Egipte gebruik (kyk illustrasie boaan
hierdie artikel). Die vroegste ploeë was tweetand-gereedskap van hout
of brons wat met tou geheg was. Die een ent het ’n skerp punt gehad
en is deur een werker in die grond gehou; die ander ent is deur ’n
tweede werker getrek.
Later is osse gebruik om die ploeë te trek, en jukke is ontwerp
sodat die osse in spanne kon werk.

BO: Die mens begin
diere inspan om vir hom te werk...
Krediet:
Detail van fresko uit die 1600’s deur Luca Giordano in die Galerie
des Palazzo Medici-Riccardi in Florence, Italië.
Openbare besit
vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)

BO:
Ploeëry deur een van die landvolk in ’n Middeleeuse
gemeenskap. (Uit ’n Franse manuskrip van omstreeks 1415,
detail.)
Openbare besit
vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”)

BO: Die
basiese manier van ploeg het duisende jare lank nie veel
verander nie, soos ook blyk uit hierdie ou foto wat in 1886
geneem is. Maar toe kom die trekker en bring ’n hele
omwenteling mee...
Illustrasie:
Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom
(“PD Old”)

BO: Ploeg in
1905 in Engeland (nogal geïllustreer deur twee waardige ou
Engelse here). Meganisasie het reeds in hierdie tyd die
landbouprentjie ingrypend verander... maar dit was nog maar
net die begin.
Foto: U.S.
Library of Congress (foto gewysig). Openbare besit vanweë
die verval van kopiereg weens ouderdom (“PD Old”) (foto
ietwat gewysig)
Ploegskare (lemme) van yster het sowat 2500 jaar gelede hul
verskyning in Europa gemaak. Hulle was baie swaarder as houtskare en
het dieper in die grond ingesny.
Twee belangrike toevoegings tot die ploeg was wiele, wat dit
makliker gemaak het om dit te gebruik en te beheer, en die
rysterbord, ’n geboë stuk hout wat die grond omgekeer het nadat dit
onder gesny is.
Latere uitvindsels was onder meer die eerste ploeg volledig van
gietyster (R. Ransome, 1789) en die staalploeg (John Deere, 1830).
Stoomtrekkers is van die middel van die 1880’s af gebruik.
Die stoomlokomotiewe was nie geslaag nie. Hulle was so swaar
dat hulle die grond waaroor hulle beweeg het, saamgepers het. Maar
kort voor lank het twee nie-bewegende stoommasjiene ploeë oor die
land getrek aan 'n ketting wat tussen hulle gespan is.
REGS:
’n Formidabele stoomtrekker uit 1910. Sulke logge gevaartes was,
omdat hulle so swaar was, al onprakties genoeg om mee te ploeg of
andersins op die plase aangewend te word. Maar
’n mens kan wel wonder of die boere dan nie ook mateloos in die rook op
die land gestik het nie.
Foto: U.S. Library of
Congress
Ná die ontwikkeling van die moderne trekker vroeg in die twintigste
eeu is ploeë wat deur diere en met stoom aangesleep is, in
ontwikkelde lande geleidelik vervang deur ploeë wat deur trekkers
getrek is.
In 1902 het Dan Albone van Brittanje die eerste doeltreffende
petrolaangedrewe trekker gebou. Die volgende belangrike stap in die
ontwikkeling van die masjien was toe Henry Ford van Amerika in 1916
met die massaproduksie van trekkers begin het. Trekkers het
sedertdien baie kragtiger geword en die ontwerpe baie beter.
Rubberbuitebande het die ou staalbande vervang. En die hidrouliese
hysmeganisme, bemeester deur Harry Ferguson van Noord-Ierland, het
dit moontlik gemaak om ploeë en ander werktuie vanuit die stuurstoel
te beheer.
Dorsmasjiene en stropers
WEINIG meer as tweehonderd jaar gelede is dors
(die verwydering van graankorrels uit die are) en wan (die uitwaai
van die kaf uit die korrels) met die hand gedoen—’n stadige en
moeisame proses.
In die 1780’s het Andrew Meikle, ’n Skot, die eerste geslaagde
dorsmasjien ontwerp om die graan van die are en kaf te skei. Tot
omstreeks 150 jaar gelede is graan meestal met sekels of sense
afgemaai. Die sekel het ’n kort handvatsel vir net een hand gehad en
’n mens kon met elke swaai net ’n klompie are afsny. Die sens met sy
lang handvatsel wat deur albei hande gehanteer is, kon meer are op
’n slag bykom.
Meganiese maaiers het in die middel van die 1800’s hul verskyning
gemaak toe Patrick Bell, ’n Skotse predikant, en Cyrus McCormick, ’n
Virginiese ingenieur, maaimasjiene ontwerp het. ’n Paar jaar later
het ’n ingenieur van Maine, Obed Hussey, ’n ewe doeltreffende
meganiese maaier gepatenteer.
Verskeie uitvindsels daarna het in 1836 tot die eerste geslaagde
stroper gelei. Ontwerp deur die Amerikaners Hiram Moore en John
Haskall, het hierdie masjien, wat letterlik met perdekrag gewerk
het, die gesaaides geoes, geskei en gerwe gebind wat reg was om in
miedens gepak te word.

BO: ’n Meganiese
maaier, 1889.
Illustrasie:
Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom
(“PD Old”)
’n Meul om te
maal vir meel...
IN die ou dae het mense
meel gemaal deur graan tussen twee plat of skottelvormige klippe fyn
te maak. Later het hulle graan met stampers en vysels gemaal. Die
uitvinding van die watermeul in die jare 100 vC en die windmeul in
die 600’s nC het omwentelinge in die maak van meel teweeggebring.

LINKS
BO: ’n Stamper en vysel van klip.
REGS BO: Meulstene.
Fotovan stamper en
vysel: U.S. National Park Service
Graan is tussen twee massiewe klipwiele fyngedruk wat deur water of
die wind aangedryf is. Watermeulens was dikwels ongewild by boere,
wat omgekrap was omdat hulle die meulenaars soveel moes betaal om
hul graan gemaal te kry. Honderde jare lank het party boere se vroue
of knegte dit dus bloot tuis gemaal.
Daarvoor is ’n handmeul gebruik, wat bestaan het uit twee plat,
ronde klippe waartussen die graan verpoeier is. Die boonste klip het
’n gat in die middel gehad waarin die graan gegooi is en ’n
handvatsel waarmee dit gedraai is.
Melkmasjiene
VANDAG se enorme
suiwelbedryf het sy bestaan te danke aan ’n aantal uitvinders van
die laat negentiende eeue wat die melkmasjien ontwikkel het. Die
masjien het in die twintigste eeu algaande melkery met die hand
begin vervang en die werkkoste gevolglik baie besnoei.
’n Vroeë melkmasjien is in 1862 deur ’n Amerikaner, L. Covin,
ontwerp. ’n Lugleegte is deur pomping geskep en die melk uitgesuig.
Die aanhoudende gesuig het egter die koeie seergemaak. Moderne
melkmasjiene is só ontwerp dat hulle om die beurt suig en dan vir ’n
rukkie weer ophou, nes kalwers maak.

BO: ’n Ou
melkmasjien waarmee twee koeie blykbaar gelyktydig gemelk kon word.
Foto: USDA
Bureau of Dairy Industry Records / Special Collections,
National Agricultural Library
|