|
Goed gedop, hoog in die takke en ’n bloeddorstige jagter op die koop toe... hierdie bekende mooi besie is nie presies wat baie mense dink hy is nie! Skilpadjie van die bome
Die
liewenheersbesie
of skilpadjie (‘ladybird’ of ‘ladybug’) |
|
|
Klein animasie regs onder: ARS / USDA
’n
Kenner is na Australië gestuur om uit te vind wat die natuurlike vyand
van die Australiese wolluis is—en die volgende jaar het ’n besending
liewenheersbesies in Kalifornië aangekom. Die kewertjies is in die
lemoenboorde vrygelaat. Saam met hul nasate en verskeie ander
skeepsvragte van die besies uit Australië, het hulle ’n hewige oorlog
teen die Australiese wolluise gevoer. Binne
anderhalf jaar is die stryd gewen en was Kalifornië se wolluis-plaag
iets van die verlede. Die ywerige liewenheersbesie het sy vaardigheid as
’n omgewingsvriendelike plaagdoder bevestig en nogmaals diep in die
hart van die wêreld se boere en tuiniers ingekruip. (In Suid-Afrika het
Cecil Rhodes ook later liewenheersbesies ingevoer om skade aan
lemoenbome te bestry.) Van
al die wêreld se insekte moet die liewenheersbesie stellig as die mens
se gunsteling beskou word, en dis nie moeilik om te dink waarom ons
voorsate hom dié naam gegee het nie. ''Dis die besie van onse liewen
Heer,'' het iemand heel moontlik gesê—en die naam het bly steek. Hy
word ook die boomskilpadjie, skilpadbesie of sommer kortweg skilpadjie
genoem—natuurlik weens sy skilpadagtige vorm. ’n Ander naam vir hom
is halfmaantjie en nog een, in Engels, ''ladybird''. Die Engelse naam is
glo ontleen aan ''Our Lady the Virgin Mary''. Omdat hulle boere help om
landbouplae te vernietig, sou hierdie insekte in die Middeleeue beskou
gewees het as instrumente van weldadige ingryping deur die maagd Maria. Daar is na raming 4 000 verskillende soorte liewenheersbesies. Die meeste is rooi met swart vlekke, maar party is oranje, sitroengeel of selfs bruin of blou, en by ’n paar soorte is die merke gespikkel of streperig. Boonop kan een soort se vlekke verskillende variasies hê.
Foto
links: DLS ’n
Mens sou dink die liewenheersbesie se opvallende kleure, soos rooi of
geel, maak hom darem ’n alte maklike teiken. Die waarheid is dat
hierdie kewertjies baie sleg smaak—en die kleure waarsku juis enige
voornemende roofvyande om weg te bly. Liewenheersbesies
kom regoor die wêreld voor, buiten in die verre noorde en suide. Die
meeste lewe egter in die gematigde streke. Daar is verrassend genoeg min
van hulle in die tropiese reënwoude, waar daar soveel ander soorte
insekte is. Die
winterkoue word met ’n winterslaap ontwyk, waarvoor ’n menigte
besies dikwels saamtros. Partykeer sien ’n mens hulle waar hulle onder
stukke bas of tussen die naalde van dennebome gaan wegkruip het, maar
dikwels oorwinter hulle sommer so in die oopte.
Foto: CDC/PHIL Die
liewenheersbesie het ’n groot aptyt. Baie soorte se volwassenes vreet
meer as honderd insekte per dag—elke dag, maand ná maand. Gulsig soos
hulle is, is hulle egter ook uitsoekerige vreters. Party vreet slegs
plantluise, sommige net sekere soorte plantluise, terwyl ander in
dopluise, rooimyte en ander insekplae spesialiseer. Alle
liewenheersbesies, uitgesonderd die lede van een plantvretende genus, is
vleisvretend. Die larwes, wat ook karnivore is, is selfs vraatsugtiger as
die volwasenes. ’n
Gesonde skilpadjie-bevolking hou dikwels plae biologies in toom en is
gewoonlik ’n seker teken van ’n goed gebalanseerde omgewing.
Lewensiklus van die liewenheersbesie
Die
larwes lyk op ’n manier soos miniatuur-krokodilletjies. Hulle vat
dadelik koers na die plantluise toe en begin hul fees. Hulle groei baie
vinnig en vervel in die proses verskeie kere. Hierna
volg die papiestadium. Die eierstadium en papiestadium is die enigste tye
wanneer die liewenheersbesie nie kos verorber nie. Die papiestadium duur
verskeie dae. In dié tyd verkry die besie al sy volwasse kenmerke. Oplaas
bevry die liewenheersbesie hom uit sy papie-gevangenis en kies hy nogmaals
koers om sy aptyt vir plantplae—soos plantluise—te bevredig. |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |