Kuddediere en kluisenaars: hoe
party diere in groot menigtes saamlewe en ander geswore
alleenlopers bly
|
|||||
|
Teks grotendeels uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com
ARTY diere bly hul lewe lank inkennig eenkant. Hulle sal dalk net saamkom vir die paring, die tref-en-trap-troues, en dan weer wye draaie om mekaar loop.
Teenoor hierdie geswore kluisenaars is daar ander diere wat net soos mensgesinne leef: die ouers en kroos alte knus bymekaar. En dan is daar die diere wat hulle in groot groepe of kolonies saamskaar. Vir hierdie diere is dit noodsaaklik om saam te woon sodat hulle kan oorleef.
Bye, wespe, termiete en miere is daarvoor bekend dat hulle harmonieus in hul ryke saamwoon. Seevoëls soos pikkewyne koek in ontsaglike hoeveelhede saam vir die massaproduksie van jong pikkewyntjies.
BO: Die swartbaadjie-legioen staan op aandag in ’n groot pikkewynkolonie by Kaap Crozier op Rosseiland in Antarktika.
Foto:
Gerald Kooyman,
U.S. Nastional Science Foundation / Scripps Institution of
Oceanography / Press release
Kuddediere word as lede van hul groep gebore, neem deel aan die groepsbedrywighede—’n eendfamilie vreet, bad, stryk die vere glad en slaap op dieselfde tye—en bly hul lewe lank saam.
Waarom hierdie saamhorigheid? Watter voordele het die lewe in ’n kolonie bo ’n alleenbestaan? Die studie van die kuddegees is ’n boeiende onderwerp, ’n fassinerende kykie in die samehang van lewe op aarde ...
WETENSKAPLIKES het ’n tyd gelede die bestaan ontdek van ’n verbasende plantagtige organisme wat ’n eudorina genoem word. Dit ’n groen alg, leef in water en is kleiner as ’n stofkorreltjie.
Foto: U.S. Environmental Protection Agency (EPA)
Elke eudorina bestaan uit 32 individuele selle wat saamgegroepeer is. Wat so verstommend omtrent hierdie selle is, is dat elkeen in staat is om alleen te oorleef. As hulle geskei word, sal elke sel wegswem en onafhanklik aan die lewe bly. Maar hulle hou klaarblyklik meer van ’n gemeenskapslewe.
Die selle vervul verskillende funksies, elk tot voordeel van die groep. Een groep selle sal voedsel absorbeer, ’n ander groep sal dit verteer. Een groep sal in voortplanting spesialiseer, terwyl nog ander hul sweephare sal gebruik om die hele groep deur die water aan te dryf. Daarteenoor kry ons die sogenaamde Siphonophora, ’n orde van die Hydrozoa, ’n klas ongewerwelde seediere wat tot die filum Cnidaria behoort. Hulle is eweneens verskillende organismes wat ’n kolonie vorm, al lyk sulke kolonies op die oog af soos jellievisse. Die bekendste voorbeeld is die bloublasie, wat soos ’n enkele organisme lyk, maar in werklikheid ’n kolonie van Siphonophora is.
Elk van die sogenaamde soöiede in die kolonie is ook ’n enkeling op sigself, maar leef so geïntegreerd saam met die ander dat die kolonie inderdaad soos een groot individu funksioneer. Dog, anders as by die eudorina, is die meeste van hierdie soöiede so gespesialiseerd dat hulle nie op hul eie kan oorlewe nie.
Foto: U.S. National Oceanic and Atmospheric Administration
Daar is ’n soortgelyke interafhanklikheid en werkverdeling by die verskillende stande van samelinsekte—miere, termiete, bye en wespe. Ook hierdie kolonies is so hoogs georganiseerd dat sekere navorsers neig om hulle as enkele organismes te beskou waarvan die insekte die dele is.
In sy baanbrekerswerk oor die gewoontes van termiete, Die Siel van die Mier (wat in die jare twintig van die vorige eeu as ’n vervolgreeks in die tydskrif Die Huisgenoot verskyn het), vergelyk die beroemde skrywer-natuurkundige Eugène Marais die termietnes met die menslike liggaam. Die afsonderlike termiete en die organe van die menseliggaam word ook naasmekaar beskou.
Elke termiet of groep termiete is geprogrammeer om ’n bepaalde taak te verrig. Die koningin is die brein en voortplantingsorgaan van die termietnes-“liggaam”. Die soldate is die wit bloedliggaampies; hul taak is om indringers te verwyder. Die werkers is die rooi bloedliggaampies; hulle moet die liggaam in stand hou.
Sonder sy verskillende organe kan die liggaam nie bly lewe nie. As die termietkoningin doodgaan, versprei die nuus soos ’n veldbrand deur die nes. Besluiteloosheid en wanorde heers dan onder die termiete. Uiteindelik vrek hulle ook.
VIR baie van die hoër diere is hul oorlewing afhanklik van die mate waarin hulle ’n behoorlike kudde kan vorm en in stand hou. Wildsbokke beweeg byvoorbeeld in troppe, en roofdiere soos leeus en luiperds val in die reël nie die trop aan nie. Die slagoffers is eerder alleenlopers (die oues, beseerdes of siekes) wat van die trop weggedwaal het.
Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture
Broeigemeenskappe onder die voëls bou gewoonlik hul neste op terreine waar roofdiere hulle nie maklik kan bykom nie. Seevoëls soos pikkewyne, seemeeue en malgasse vorm van die wêreld se grootste broeikolonies.
En wanneer ’n swerm voëls in die veld kos pik, is die kanse des te beter dat hulle ’n kat (of slang) sal sien nader kruip as wanneer hulle een-een vreet. Die kudde verleen dus beskerming teen roofvyande.
Daarteenoor jag roofdiere soos wolwe en leeus weer saam. Hulle sal nie sommer op hul eentjie ’n prooidier plattrek nie. Moordvisse span ook saam deur in troppe te jag. Hulle is bekend daarvoor dat hulle ’n klomp robbe of seevarke omsingel en keer dat dié wegkom totdat hulle ’n geskikte slagoffer aangekeer het. Só stel die kudde sekere diere in staat om kos te vind.
Nog ’n goeie rede vir die saamleef van diere, is paring. Diere en voëls kan darem soveel makliker vir hulle ’n geskikte maat uitsoek as hulle in die bondel vry as wanneer hulle alleen woon. ’n Goeie genetiese vermenging is nodig om ’n gesonde nageslag te verseker en dit kan soveel makliker in die kudde bewerkstellig word.
Dit is dus duidelik dat ’n kuddelewe besliste voordele vir sekere diere het: waar dit warmte en beskerming teen roofdiere verskaf en hulle help om kos en maats te vind, beteken hierdie saamwonery die verskil tussen lewe en dood.
... en saam-saam doodgaan IN 1858 het die Amerikaanse natuurkundige Qeorges Blond ’n enorme katastrofe op die Groot Prêrie van Noord-Amerika aanskou. Hy het ’n reuse-trop van sowat 100 000 bisons (Amerikaanse buffels) dopgehou wat vir warmte en beskutting dig bymekaar beweeg het.
’n Trop wolwe het die bisons stil-stil begin agtervolg. Aangesien die bisons so naby mekaar gebly het, kon die wolwe hulle nie bykom nie.
Die volgende aand het die natuurkundige opgemerk dat die wolwe die bisons tot op die rand van ’n steil krans gedryf het. Tot sy grootste ontsteltenis moes hy toekyk hoe die hele trop hulpeloos oor die krans tuimel. Die wolwe het toe ondertoe gehardloop na hul ontsaglike buit.
Berigte oor die dood van groot troppe diere skok steeds gereeld die wêreld. Twintigduisend Noord-Amerikaanse rendiere verdrink in Kanadese riviere. Vyfduisend wildebeeste loop onwetend na hul dood wanneer hulle die onstuimige Mararivier in Oos-Afrika probeer oorsteek!
Maar “selfmoorde” by dieretroppe is niks nuuts nie. In die vroeë jare twintig van die twintigste eeu het Cronwright Schreiner, eggenoot van die gevierde Suid-Afrikaanse skryfster Olive Schreiner, beskryf hoe ’n groot trop springbokke oor die Kalahari gesnel en in die Atlantiese Oseaan verdrink het.
Die Noorse lemmings, pelsdiere wat die Arktiese toendra bewoon, is lankal bekend daarvoor dat hulle bo-oor die kranse van die fjords sou storm en verdrink (hoewel hierdie bewering elders op die Mieliestronk-werf deur gerekende kenners weerlê word).
Maar wat veroorsaak sulke verskriklike diere-katastrofes? Pleeg diere werklik selfmoord of is hul dood blote ongelukke?
Sekere wetenskaplikes skryf die saamsterf van diere toe aan ’n gebrek aan “strategiese bewustheid”—die onvermoë om weg te breek van die normale roete wat die kudde of kolonie sedert die oertye gevolg het.
Die kariboes (rendiere) van Kanada trek byvoorbeeld nog maar steeds oor dieselfde ou weë as in die gryse verlede, ongeag hoe gevaarlik dit geword het.
Foto: U.S. National Park Service
Dis vandag niks vreemds om te hoor dat walvisse en dolfyne by ons strande uit die water “klim” en doodgaan nie. Maar reeds in 1779 is berig dat ’n Khoi-gemeenskap wat naby die monding van die Oranjerivier gewoon het, op ’n dieet van gestrande walvisse oorleef het.
Daar is minstens ’n dosyn teorieë oor hoekom walvisse en dolfyne só op die strande beland. Alles word geblameer, van ’n massiewe vermeerdering van see-alge tot fratsweer (byvoorbeeld donderstorms) en selfs die vorm van die kuslyn (vlak seebodems wat die diere sou verwar).
Party navorsers glo dat die oënskynlike massa-selfmoorde van diere ’n natuurlike metode van bevolkingsbeheer is. Dit kan byvoorbeeld byvoorbeeld gebeur dat die bestaande plantegroei hulle nie meer almal kan onderhou nie. Dit lyk of die diere aan “engtevrees” ly, en almal raak aan die hardloop—in dieselfde rigting. Hulle hardloop oor die veld op soek na groter lewensruimte—en val dan baiemaal oor die kranse en verdrink in die water daar onder.
’n Mens moet dit egter benadruk dat hierdie selfmoordteorie hoogs omstrede is. Want is sekere kuddediere werklik soms daartoe geneig om hulself om die lewe te bring? Ontvang hulIe miskien die een of ander soort prikkels of seine waarvan die mens nog geen benul het nie? Of is dit wat vir ons na trop-selfmoorde lyk, eintlik gewone, onvoorsiene rampe?
As ons die eersgenoemde moontlikheid aanvaar, weerspreek dit dan nie die einste rede waarom diere saamwoon nie—juis om te verseker dat hulle sal bly lewe? |
|||||