Kuba
— die bloed en die onreg

Straattoneel

BO: ’n Toneel in Galianostraat, Havana, Kuba.

Foto: Prof. Richard A. Muller,
Department of Physics, University of California, Berkeley,
http://muller.lbl.gov

Suid-Afrikaners het al meermale eerstehands met mense van Kuba kennis gemaak—in die apartheidsjare toe Suid-Afrikaanse troepe in Angola teen Kubane geveg het en later weer toe Kubaanse dokters na ons land gebring is om die plaaslike tekort aan medici te help verlig. Maar watter soort staat is Kuba eintlik en hoe lyk dit deesdae daar? Hier is ’n feiteverslag oor hierdie klein landjie in die Karibiese See reg onderkant die Amerikaanse staat Florida...’n eilandstaatjie met ’n lang en onstuimige geskiedenis van bloed en onreg...

Kaart

BO: ’n Kaart van Kuba.

Krediet: World Factbook van die Amerikaanse CIA (openbare besit / “public domain”), vertalings deur Mieliestronk.com


D

 
IE grasgroen loof strek ondertoe tot byna teenaan die water,’’ het Christophorus Columbus in sy dagboek geskryf nadat hy Kuba in Oktober 1492 vir die eerste keer gesien het. “... bome al langs die rivier, pragtig en groen ... met blomme en vrugte volgens hul soorte, en met tallose voëltjies wat baie soet sing ... Daardie eiland is die skoonste wat nog deur oë gesien is.’’

Die vyftiende-eeuse Kuba was inderdaad feitlik heeltemal ongerep en idillies. Dit was slegs bevolk deur mense wat uit Suid- en Sentraal-Amerika en die suide van Noord-Amerika soontoe verhuis en in algehele harmonie met hul omgewing gelewe het. Omsoom met koraalriwwe, hemelsblou baaie en sanderige strande, het die binneland met hoë berge, welige subtropiese woude, watervalle en vrugbare valleie gespog.

Dit het Columbus laat verklaar: “Dis nou maar gewis, waar daar so ’n wonderlike natuurskoon is, moet daar baie dinge wees waaruit ’n profyt gemaak kan word.’’

Profyt was al waarin die Spaanse veroweraars belang gestel het. Sowat agttien jaar ná Columbus se ontdekking van die plek het Spanje Kuba vir homself opgeëis. Daarna is die geskiedenis van die eilandstaat gekenmerk deur die massamoord op en die verslawing van die plaaslike bevolking, die totstandkoming van dorpe en goudmyne, en die verwoesting van woude om vir die plant van suikerriet, tabak, katoen en kakao plek te maak.

Binne net 130 jaar is feitlik die hele plaaslike bevolking uitgemoor, so te sê al Kuba se goud ontgin en baie van die natuurlike plantegroei tot niet gemaak. Maar dit was nog lank nie al nie...

Van Columbus tot by Fidel en
Raúl
Castro

IN DIE tyd voor Columbus is Kuba bewoon deur Indiaanse inboorlinge wat dieTaíno en die Cibone genoem is. Diego Velázquez de Cuellar het  in 1511 met die verowering van Kuba begin, ten gevolge waarvan die land ’n Spaanse kolonie geword het.

 

Spaanse veroweraars—’n voorstellingREGS: Moderne akteurs in die drag van die destydse “conquistadors” (Spaanse veroweraars), wat die Nuwe Wêreld in hul brute soeke na rykdom binnegeval het ten koste van die plaaslike volkere.

 

Foto: U.S. National Park Service

 

Mettertyd was die meeste Indiane uitgewis, waarna die Spanjaarde slawe uit Afrika begin invoer het. Anders as die res van Spaans-Amerika, sou Spanje Kuba tot in 1898 as kolonie behou, totdat die Verenigde State die Spaanse kolonisasie beëindig het..

Die VSA het naamlik die eilandkolonie in die Spaans-Amerikaanse Oorlog van dieselfde jaar verower en in 1902 formele onafhanklikheid aan Kuba toegeken. Die Amerikaners het desondanks dekades lank hul duim stewig op hul buurstaatjie gehou.

Kuba het byvoorbeeld tot 1934 ’n Amerikaanse protektoraat gebly, en selfs daarna het Amerika meermale militêr daar ingegryp. Dit was bes moontlik om te verseker dat dié strategies geleë Karibiese staat—met sy kennelike geneigdheid tot storms en woelinge—nie die Nuwe Wêreld se stabiliteit bedreig nie.

Amerikaanse troepe by Daiquirí, Kuba, ten tyde van die inval van 1898

BO: Amerikaanse troepe by Daiquirí, Kuba, ten tyde van die inval van 1898.

Foto: U.S. Library of Congress

Fidel Castro met van sy volgelinge in 1960

Ernesto “Che” Guevara

Fidel Castro op sy oudag

LINKS BO: Fidel Castro met van sy volgelinge in 1960.
MIDDEL BO: Ernesto “Che” Guevara met ’n sigaar.
REGS BO: Fidel Castro op sy oudag, op ’n foto van die Amerikaanse regering.

Foto links bo: U.S. Library of Congress. Middel bo: foto word in Kuba tot openbare besit (“in the public domain”) gereken. Regs bo: U.S. Government.

In 1952 het Fulgencio Batista vir die tweede keer diktator van Kuba geword, en in hierdie tyd het die ambisieuse Fidel Castro op die toneel verskyn, ’n stoere revolusionêr met sy eie agenda. Ernesto “Che” Guevara, ’n Argentynse Marxis, het hom by Castro se guerrilla-groep aangesluit en sy eie ideale verkondig van ’n gewapende stryd wat op die steun van plattelandse landvolk gegrond was.

Castro het uiteindelik op 1 Januarie 1959 die mag in die land gegryp—net om daarna self as onverbiddelike diktator byna ’n halfeeu lank te regeer.

Fidel Castro se omhelsing van die Kommunistiese ideologie was ’n baie seer doring in die Amerikaners se vlees. Toe hy boonop in die spannende tyd van die Koue Oorlog erg boetie-boetie speel met die Kommunistiese supermoondheid die Sowjet-Unie, was dit vir hulle al erg genoeg.

Maar toe die Sowjet-Unie so ver gaan om basisse vir die afvuur van kernvuurpyle op Kuba op te rig—reg by die VSA se voordeur—het die onthutste Amerikaners in 1962 met ’n ultimatum gereageer wat die wêreld gevaarlik op die rand van ’n Derde Wêreldoorlog laat huiwer het. Dit word trouens beskou as die naaste wat ons planeet nog aan ’n verwoestende kernoorlog gekom het.

Oktober 1962 — Amerikaanse skepe isoleer KubaLINKS: Oktober 1962 — Amerikaanse skepe isoleer Kuba om te verhinder dat die Sowjet-Unie voortgaan met sy gewraakte wapenprogram op die eiland.

Krediet: Webwerf van die Amerikaanse Vloot / US Navy website

Op die nippertjie het die VSA en die Sowjet-Unie egter ooreengekom dat die Sowjet-Unie nie langer Kuba as vuurpylbasis sou gebruik nie en dat die Amerikaners op hul beurt hul kernvuurpyle uit Turkye sou onttrek, waar dit weer vir die Sowjet-Unie ’n bedreiging was.

Ná die val van die Sowjet-Unie, in die jare negentig van die twintigste eeu, was Kuba sy belangrikste handelsvennoot kwyt, met die gevolg dat die Kubaanse ekonomie in duie gestort het. Tog het Castro gesorg dat hy stewig in die saal bly—en die land se probleme is dikwels gewyt aan die Amerikaanse handelsverbod wat reeds sedert 1961 van krag is.

In die begin van die 21ste eeu het Kuba uit sy betreklike isolasie gebreek en stewige bande met verskillende linkse regerings in  Latyns-Amerika aangeknoop.

En presies waarheen Kuba nou op pad is, sal nog gesien moet word. Waar Fidel Castro byna vyf dekades lank met ’n ysterhand geregeer het, het sy verswakte gesondheid hom genoop om in Februarie 2008 af te tree en plek te maak vir sy jonger broer Raúl Castro. Raúl is die jongste van die drie Castro-broers.

Raúl Castro

LINKS: Raúl Castro.

Foto: Agência Brasil,
’n openbare  Brasiliaanse nuusagentskap. Gelisensieer ingevolge ’n Creative Commons Atribuição 2.5 Brasil-isensie

In sy aanvaardingstoespraak het Raúl Castro belowe dat sommige van die beperkings verwyder sou word wat die Kubane in hul daaglikse handel en wandel strem. Volgens ’n amptelike aankondiging sou ’n verbod op die aankoop van rekenaars, DVD-spelers en mikrogolfoonde geskrap word.

DIe volgende opmerking van een ontleder is interessant: “In die nuwe wêreldorde begin selfs die mees benepe mense blykbaar besef dat dit niemand loon om hom teen die onstuitbare vooruitgang in die tegnologie te verset nie.”

Intussen het die VSA steeds deurentyd te kampe met ’n stroom Kubane wat die Amerikaanse droom najaag en volhardend probeer om onwettig soontoe uit te wyk—op tuisgemaakte vlotte, per vliegtuig, net om van hul minder ontwikkelde eilandstaat weg te kom en ’n nuwe lewe in die Verenigde State te begin. Só het die Amerikaanse Kuswag in die belastingjaar 2006 altesame 2864 mense voorgekeer wat die Straat van Florida wou oorsteek.

Dit gaan werklik nie so voorspoedig in hul eie land nie. Soos in die meeste ander plekke is die sentrale deel van die hoofstad Havana verslete. Daar is ’n tekort aan huisvesting en verskeie gesinne moet soms in oorvol woonstelle saamdring. Die Kubane het weinig ekstra geld.

En motors is skaars, want weinig mense kan dit bekostig. Die meeste Kubane ry fiets. Die min motors wat nog daar is, is deftige ou Amerikaanse of Russiese modelle, wat soos poedels vertroetel word. Maar om onderdele te kry, is omtrent onmoontlik.

Die middestad van Havana

BO: Die sentrale deel van Havana, of La Habana, soos die Kubane self hul hoofstad en grootste stad noem. Die vervallenheid is baie duidelik.

Foto: Henryk Kotowski,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas het en gelisensieer het ingevolge die  Creative Commons Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye verspreiding en wysiging word vergun mits die lisensiehouer te alle tye erken word.

Geografie

KUBA, in die Karibiese See, is ’n deel van die Wes-Indiese Eilande. Dit lê omtrent 140 km suid van Florida in die VSA en dieselfde afstand oos van Mexiko se Yucatan-skiereiland. Die staat bestaan uit een groot eiland en meer as 1600 kleineres; die grootste hiervan is die Eiland van die Jeug (Spaans: Isla de la Juventud), 64 km van die suidweskus. Die totale oppervlakte van die hoofland en naburige eilande is 110 861 vk. km.

Die hoofstad en grootste stad is Havana, in die noordweste. Santiago de Cuba in die suidooste is die naasgrootste stad. Buiten die Eiland van die Jeug word min van die mindere eilande deur mense bewoon.

Sowat 75 persent van die land is laagliggend, met golwende grasvlaktes, moerasse en sagte hellings. Die res is heuwel- of bergagtig. Kuba het drie hoofbergreekse, en die meeste van sy sowat 200 strome en riviere is onbevaarbaar. Daar is talle baaie met sanderige strande langs die kus, en baie van hulle vorm natuurlike hawens. Die vernaamste hawens is dié van Havana, Santiago de Cuba, Cienfuegos, Nuevitas en Guantanamo.


Klimaat en plantegroei

KUBA lê in die noordelike trope en het ’n subtropiese klimaat met warm somers en matige winters. Tussen Augustus en Oktober word die eilandstaat soms deur hewige orkane getref, wat gewasse en geboue erg beskadig en hoë branders teen die kus laat slaan.

Vanweë Kuba se subtropiese klimaat groei die plante welig. ’n Deel van die ooste is dig bebos met inheemse bome soos palm-, mahonie-, ebbehout- en Amerikaanse populier. Ander inheemse plante sluit in meelpiesangs, mango’s, pynappels, koejawels, turskvye en grenadellas.


Bevolking en taal

IN die bevolking van 11 423 952 (volgens ’n raming vir Julie 2008) is daar drie hoofbevolkingsgroepe. Volgens die sensus van 2002 is 65,1 persent van die mense blank (van Spaanse afkoms); 22 persent is van gemengde bloed, die nakomelinge van Spanjaarde en Afrikane, asook van Spanjaarde en Indiane; en 10,1 persent is swart, die afstammelinge van Afrika-slawe wat na Kuba gebring is om op die suikerplantasies te werk. Die amptelike taal is Spaans.

Onderwys

ONDERWYS is verpligtend vir alle kinders tussen ses en veertien. Die onderrig is gratis en leerlinge kry daagliks warm kos. Daar is drie universiteite in dié eilandstaat.

 

REGS: ’n Kubaanse “skoolbus”—ná die skooldag gaan hierdie leerders letterlik met perdekrag huis toe in Santa Marta, naby Varadero in Kuba.

Foto: Henryk Kotowski,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas het en gelisensieer het ingevolge die  Creative Commons Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye verspreiding en wysiging word vergun mits die lisensiehouer te alle tye erken word.

’n Kubaanse “skoolbus”

 

Politiek

INGEVOLGE die grondwet, wat in 1976 aanvaar is, is Kuba sowel ’n sosialistiese staat as ’n republiek. In wese is hy egter ’n diktatuur met ’n Kommunistiese Party,  lank gelei deur ’n oppermagtige Fidel Castro, maar nou deur sy broer Raúl. Algemene stemreg bestaan, maar binne  die wesenlike beperkings van die stelsel. Kinders van sestien jaar is reeds stemgeregtig.

Ekonomie

DIE ekonomie word deur die regering beheer. Beperkte welslae is met hervormings behaal. Nadat Fidel Castro die bewind in 1959 oorgeneem het, het die nuwe regering alle banke, nywerhede en klein sake genasionaliseer, asook meer as driekwart van die plaasgrond; die res word privaat besit.

Drie dekades lank het Kuba grootliks staatgemaak op krediete en subsidies van die gewese Sowjet-Unie. Die beëindiging van massiewe Sowjet-hulp ná 1991 het dadelik tot ’n verlaging in die lewenstandaard gelei, en die regering is gedwing om beperkte vrye inisiatief in sekere handelsektore en dienste toe te laat.

Boerdery: Die landbou is steeds die ruggraat van die ekonomie. Baie van die krag op plase word deur trekdiere verskaf.

Die regering bestuur verskeie koöperatiewe plase, waar boere saamwerk en die winste deel, en staatsplase, waar boere lone kry maar nie in die winste deel nie. Boere wat grond besit, kry geldelike hulp, maar mag hul oeste net aan die staat verkoop. Die grootte van elke plaas is beperk tot hoogtens sowat 67 hektaar. Kuba se vernaamste gewas is suikerriet wat, saam met onbewerkte suiker, omtrent 80 persent van die land se uitvoer uitmaak.

Suikerriet word geoes

BO: Suikerriet word êrens in Kuba geoes—hier vermoedelik nagenoeg sewentig jaar gelede. Vandag is suiker steeds dié eilandstaat se vernaamste gewas.

Krediet: Digitale verkleuring van ’n ou swart-wit foto waarop daar, sover bekend, geen kopiereg bestaan nie / U.S. Library of Congress


Suikerbewerking is ’n belangrike bedryf, met heelparty verspreide suikermeulens. Die naasbelangrikste uitvoerprodukte is tabak en tabakprodukte. Anders as die suikerrietplase is die tabakplase meestal in private besit. Kuba se Havana-sigare is baie bekend.

’n Tabakland

BO: ’n Tabakland in Pinar del Rio, Kuba.

Foto: Henryk Kotowski,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas het en gelisensieer het ingevolge die  Creative Commons Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye verspreiding en wysiging word vergun mits die lisensiehouer te alle tye erken word.

Ander landbougewasse is sitrusvrugte, koffie, pynappels, piesangs, broodwortel, rys, aartappels, patats, tamaties, mielies, katoen en jamaikapeper.

In onlangse jare is boerderybedrywighede deur die regering gediversifiseer. Daar word ook met beeste, skape, bokke, varke, perde en hoenders geboer.

Bosbou en vissery:  Bome is vroeër in die twintigste eeu voor die voet afgekap en dit het Kuba se woude verwoes, maar nadat nuwe aanplantings in 1960 begin is, kan die land waardevolle houtsoorte soos seder en mahonie uitvoer. Die regering besit ’n groot vloot van diepsee-vissersbote, maar baie vissers behoort tot koöperatiewe vissersake, waarin hulle saamwerk en die winste deel.

Mynbou en fabriekswese: Kuba het verskeie minerale neerslae, waaronder nikkel, chroom, koper, silwer, yster, mangaan, sout en kobalt. Die regering besit al die myne. Maar ’n gebrek aan beleggingskapitaal beteken dat die myne onderontgin is. Die eiland het voorts groot kalksteenreserwes, wat gebruik word om sement en kunsmis te maak. Daar is ook klein neerslae ru-olie en aardgas. Kuba se fabrieksprodukte sluit in die beroemde Havana-sigare, sigarette, sement, chemikalieë en kunsmis, plaasgereedskap, yster en staal, papier, skoeisel, klere, rubber en houtprodukte. Raffinaderye omskep ru-olie in petrol. ’n Belangrike bedryf is voedselverwerking, veral die verwerking van ruwe rietsuiker, en die vervaardiging van rum.

Buitelandse handel: Voor 1959 het Kuba meestal met die Verenigde State handel gedryf, maar nadat die regering beslag gelê het op alle ondernemings en fabrieke wat deur Amerikaners besit is, het Amerika ’n verbod op handel met Kuba geplaas. Kuba het hom tot die gewese Sowjet-Unie gewend, wat die Kubane gehelp het deur suiker teen kunsmatig hoë pryse te koop. Kuba se huidige belangrikste handelsvennote (volgens beskikbare inligting van 2006) is: Kanada 28 persent, China 27,9 persent, Nederland 11,1 persent en Spanje 4,7 persent.

Godsdiens

VOOR 1959 was die meeste Kubane Rooms-Katolieke. Maar die revolusionêre regering het hom ten doel gestel om die mag van die kerk te verbreek. Dit het baie priesters die land laat verlaat. Beswaarmakers is ook in hegtenis geneem. Die gevolg was dat daar ’n drastiese afname in die aanhangers van die Katolieke geloof was. Party Kubane beoefen ’n godsdiens wat Santeria genoem word, ’n vermenging van Afrika-gelowe en Katolisisme.

 

Gesondheid

MEDIESE sorg is gratis, en die land het sowat 300 hospitale. Amerikaanse sanksies het egter tot ’n gebrek aan hospitaaltoerusting en grondstowwe vir medisyne gelei. Daar was eenmaal ’n ernstige tekort aan dokters in plattelandse gebiede. Om die wanbalans te herstel, is dokters verplig om twee jaar lank op die platteland te werk nadat hulle gekwalifiseer het. Klem op mediese dienste het daartoe gelei dat Kuba mettertyd selfs dokters kon “uitvoer”, soos na Suid-Afrika. Oor hoe hierdie dokters se bekwaamhede opweeg teen dié van ons eie hoogs opgeleide medici, is al baie bespiegel.

 

Nog feite oor Kuba en sy mense

HAVANA, of La Habana, soos die hoofstad en grootste stad van Kuba plaaslik genoem word, het sy bestaan te danke aan die baie skepe wat deur die eeue heen in die uitmuntende hawe skuiling gesoek het. Teenoor die afgetakelde en oorvol woonstelle in die sentrale deel, het die ouer dele van Havana en ander stede en groot dorpe pragtige ou koloniale geboue met smeedyster-balkonne en mooi versierings in pleisterkalk. Die meeste is nietemin vreeslik vervalle.

•  Sedert 1993 word ’n sekere mate van vrye handel toegelaat, wat moderne kitskos-kettingwinkels op die groter plekke laat verrys het. Die mense sou daarna lang toue vorm om ’n kans te kry om hierdie nuwe en opwindende manier van eet te beproef.

•  Kuba is bekend vir sy talle skouspelagtige kalksteengrotte.

•  Die Kubane is lief vir karnavalle en ander feestelikhede. Hul kultuur is ’n ryke vermenging van Afrika- en Spaanse tradisies.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad