REGS:
Die rooi koningskrap, nog ’n knewel, is gesogte seekos. Hy kom
onder meer in die noordelike Stille Oseaan voor.
Foto: NOAA
OOP
’n bietjie langs die strand of ’n rivier, of
verken ’n rotskuil of wortelboom-moeras. Bes
moontlik gaan jy op dosyne, of dalk selfs honderde
of duisende, bisarre langbeen-skepseltjies afkom wat
tersluiks rondskarrel.
Hulle is natuurlik krappe. En so bedrywig as kan
kom. Op ’n dwars galop oor die seesand. Klouterend
oor die rotse. Besig om hulle deur smal tonnels uit
die sand uit te wurm. Aan die swem deur die water.
Of aan die waad deur vlak strome. Met daardie
imposante knypers wat hulle in die lug waai.
Krappe is van die natuur se mees aanpasbare
skepsels. In sekere wêrelddele sal ’n mens hulle aan
boomstamme sien vasklou, partymaal etlike kilometers
die land in.
Reis ’n mens na die Australiese agterveld, sal jy
hulle selfs daar aantref waar hulle in ondergrondse
gate teen die brandende woestynson skuil. En as jy
in Jamaika se bergwoude die gebladerte van ’n sekere
plant wegdruk, kan jy maklik ’n alleenloper-krap
vind in die water wat in die holte versamel het wat
deur die blare gevorm word.
REGS:
Ons Suid-Afrikaanse rivierkrappe (Potamonautes)
boer gewoonlik in slote,
riviere en damme. Hulle is dikwels te vinde in gate of
skuilplekke onder walle of klippe in die water. Van al die talle krapsoorte is seekrappe
baie volop, maar daar is betreklik min wat
hoofsaaklik in riviere woon of landdiere is.
Verwerk uit Afrikaanse Kinderensiklopedie
Krappe is skaaldiere, soos ook byvoorbeeld krewe en
garnale. Hoewel die krapsoorte verskillende
groottes, kleure, gewoontes en houplekke het, is
hulle in baie opsigte eenders.
Kyk ’n mens af na ’n krap in sy normale posisie,
sien jy slegs ’n harde rugdop, tien gelede pote en
sekere aanhangsels in die omgewing van die mond.
Maar draai hom om (uiters versigtig, hoor, jy kan dalk geknyp
word!) en jy sal merk dat daar ’n sagte,
gesegmenteerde liggaam is wat in drie hoofdele
ingedeel kan word: die kop, borsdeel (toraks) en
agterlyf.
Die kop en toraks is verbind om ’n sogenaamde
cephalothorax te vorm, na die Griekse woord
cephalo,
wat kop beteken.
Die krap se twee voorpote is baie spesiale
aanhangsels. Hulle is dikwels groter as die ander
agt pote en voor aan elkeen is ’n tweevingerige klou
of knyper. Hoewel die krap die kloue soms gebruik
om mee te loop, is hul hooffunksie om sy kos vir hom
vas te hou terwyl hy vreet. Die kloue het dikwels
saagrande om die kos makliker te kan vashou en sny.
Die bou van ’n tipiese krap
Belangrike liggaamsdele van die krap is:
1.
Die
karapaks van die krap. Dit is sy
uitwendige dop, wat uit chitien bestaan.
Chitien is ’n horingagtige stof wat ook
in die buiteskelette van byvoorbeeld
insekte, garnale en krewe voorkom. Dis
stikstof-houdend en ryk aan kalsiumsoute
wat onttrek word uit die water waarin
die krap leef. Die karapaks word deur ’n
afskeiding van die krap se opperhuid
gevorm.
2.
Twee
pare voelers, waarmee die krap voel en
ruik.
3.
Die
kake.
4.
Twee pare hulpkake.
5.
Drie pare voetkake, wat die krap gebruik
om sy kos in sy mond te prop.
6.
Twee
saamgestelde oë, wat aan bewegende
uitsteeksels geleë is. Die krap
kan sy oë uitsteek om beter te sien, en
ook intrek om dan in groefies aan die
kante van die kop beskerm te word.
7.
Vyf pare pote. Die krap loop met vier
van die pare, maar die voorste paar is
sy knypers of “hande”. Dié gebruik hy om
sy weg deur sy wêreldjie oop te baklei
of om sy prooi te vang.
8.
’n Stel kieue. Dié lê onder die
voorste deel van die karapaks en lyk
soos rye klein veertjies. Aan die
basisse van die voorpote is die openinge
waardeur die water na die kieue beweeg.
Verwerk uit Kennis-ensiklopedie |
Party krappe het ook ’n ekstra gebruik vir hul
knypers. Die mannetjie van die vioolspelerkrap—met sy een, uiters vergrote klou—gebruik dit om
’n wyfie se aandag te trek en haar na
sy gat te lok. Hy waai met sy klou om ander
mannetjies te waarsku om uit sy gebied weg te bly,
anders gebruik hy dit om hulle by te kom.
REGS:
Een van die nagenoeg honderd verskillende soorte
vioolspelerkrappe. Hulle is seekrappe wat ook deels
op land lewe. Die opmerklikste is daardie een,
yslike vergrote klou by die mannetjies.
Foto:
NOAA
Party krappe gebruik hul kloue ter verdediging.
Wanneer ’n roofdier hulle bedreig, waai hulle die
kloue in die lug rond. Hierdie magsvertoon kan werk,
maar wee die aanvaller wat hom nie daardeur laat
afskrik nie.
Die meeste krappe maak van meer passiewe taktieke
gebruik om hulle te beskerm. Een van die volopste
taktieke is kamoeflering. Die doppe van baie soorte
het kleure en teksture wat met hul omgewing
saamsmelt.
Spookkrappe lyk byvoorbeeld so baie soos die sand om
hulle dat hulle as ’t ware “voor jou oë verdwyn”.
Haarkrappe het weer “hare” wat hulle met
die wuiwende seegras laat vermeng.

BO: ’n
Spookkrap.
Foto:
Patrick Verdier,
wat vrye
gebruik vir enige doeleindes vergun
REGS:
’n Haarkrap.
Foto:
NOAA
Krappe wat nie van nature gekamoefleer is nie,
"leen" soms ’n vermomming. Sponskrappe breek stukke
seespons af en hou dit bo-oor hulle met hul twee
agterpote. Versierkrappe plaas stukkies gebreekte
skulp op hul rugdoppe—ander weer stukkies
seegras.
Selfs vernuftiger is die krappe wat anemone—seediertjies met giftige tentakels—op hul rûe
laai. Roofdiere bly weens die gif van die krap af
weg en die anemone ontvang op hul beurt weer gratis
losies van die krap.
Baie krapsoorte kruip in gate weg wanneer hulle
skrikgemaak word, óf in hul permanente tuistes óf in
gate wat hulle gou-gou in die sand grawe.
Word een van sy pote gevang, kan die krap dit afwerp
en weghardloop, net soos akkedisse met hul sterte
maak. Kort voor lank groei daar ’n nuwe poot.
Hierdie proses staan as regenerasie bekend.
Dan sal party krappe hulself ook verdedig deur daar
en dan te "vries". Nog ander sal verstommend vinnig
weghardloop.
Omdat sy knypers so beweeglik is, kan die krap ’n
groot verskeidenheid van kosse benut. Seekrappe se
prooi is klein vissies, ander skaaldiere en
weekdiere. Hulle wring die skulpe met hul kragtige
kloue oop, skeur stukke vleis af en plaas die kos in
die mond. Die aanhangsels om die mond help die kos
sny en kou.
Bewoners van rotskuile skraap alge van
rotsoppervlakke af of versnipper seewier en ander
plante met hul kloue. Dié wat op die strande leef
waar seeskilpaaie hul eiers lê, vreet die pas
uitgebroeide reptieletjies wat na die water toe op
pad is.
Baie is aasvreters wat omtrent alles sal vreet wat
deur die gety ingebring word, hetsy ’n gestrande
jellievis of ’n walvis se karkas. Sekeres verorber
ander krappe, seifs hul eie soort. Dié wat bome
klim, vreet dikwels vrugte.
Vioolspelerkrappe vreet op ’n fassinerende manier.
Hulle skep sand en modder met hul knypers op en
plaas dit in die mond. Die monddele sif die stof en
skei die kosdeeltjies van die oneetbare. Die sand
word tot koeëltjies so groot soos ertjies verwerk
wat "uitgespoeg" word. Partykeer beweeg hordes
vioolstrykerkrappe so vreet-vreet oor die strand en
laat ’n massa koeëltjies agter.
Hoewel die mannetjie van die vioolspelerkrap se
klou ideaal vir hofmakery is, is dit vir hom ’n
belemmernis met die vretery omdat dit te groot en
lomp is om kosdeeltjies op te tel. Met net een klou
wat kos kan optel, vreet die mannetjie dus twee keer
so lank as die wyfie.
Krappe loop of hardloop gewoonlik met vier paar pote
oor die strand of seebedding, hoewel vyf soms
gebruik word. Baie hardloop sywaarts pleks van
reguit vorentoe. Vier pote aan die een kant van die
liggaam buig binnewaarts en trek die krap vorentoe,
terwyl die vier pote aan die ander kant strek en
druk. Sekere krappe is swemmers en het spane aan een
paar pote.
Krappe plant seksueel voort. Sperma van die
mannetjie bevrug die eiers van die wyfie. By sekere
soorte word die eiers in ’n gat gelê. Die ouers los
hulle net so en die kleintjies moet self sien kom
klaar.
By ander dra die wyfie die eiers met haar saam in ’n
jellie-agtige massa wat onderaan haar kleef. Strand-
en landkrappe bly in dié tyd naby die water, want
die eiers moet klam gehou word.
Die wyfie se agterlyf wat gewoonlik onder haar lyf
is, word uitgevou om ’n beskermende wieg oor die
eiers te vorm. Wanneer die eiers gereed is om uit te
broei, gaan die wyfie in die water in en beweeg haar
agterlyf heen en weer om die eierhouers te help
breek en haar nageslag in die water vry te laat.
Die larwes wat uit die eiers kom, gaan deur
verskillende stadiums totdat hulle volwassenheid
bereik. Aangesien die dop nie kan rek namate die
liggaam groei nie, vervel die krap deurentyd.

LINKS BO: ’n Kraplarwe. REGS BO: Nie te
groot vir sy skoene nie, maar te groot vir
sy dop... en al wat die krap kan doen, is om die
ou dop af te werp of te “vervel”.
Foto’s:
NOAA |