|
BLOUKRAAN:
SA se nasionale voël |
||
|
|
||
|
TEEN
’n rotshang naby Ha Khotso in Lesotho is ’n skets van twee
bloukraanvoëls, geteken deur ’n lid van ’n San-stam wat vroeër in
dié bergomgewing geleef het. Die San het geglo dat die bloukraanvoël
eens ’n meisie was, in die "voortye", toe diere en voëls
mense was. Volgens hulle was sy die beskermer en oppasser van
kindertjies. In
die Xhosa-kultuur word geglo dat as ’n jagter een van hierdie
grasieuse voëls doodmaak, ’n lid van sy familie kan sterf, en net
lede van die Zoeloe-koningshuis mag dié voëls se lang stertvere in hul
hooftooisels dra. Vandag word hierdie voëls steeds gesien as ’n teken
van vrede en stabiliteit en is hulle so ’n gepaste simbool vir
Suid-Afrika as ons land se nasionale voël. In die Oos-Kaap is selfs
’n dorp, Indwe, na dié grysblou voël genoem. Dit
is net in Suider-Afrika waar jy bloukraanvoëls in die natuur sal sien
-– nêrens anders ter wêreld nie! Ons subkontinent is ook die tuiste
van twee ander kraanvoëlspesies, die mahem met sy goue stralekrans en die hoogs bedreigde lelkraanvoël met
sy kenmerkende rooi kenflap.
Wees
gerus op die uitkyk vir bloukraanvoëls op die kort grasvelde en
geploegde landerye van veral die Wes- en Oos-Kaap, KwaZulu-Natal,
Noord-Vrystaat en Gauteng. ’n Klein bevolking woon ook op die Etoshapanne in Namibië. As
jy nog nooit een van hierdie langbeenvoëls voëls in lewende lywe
gesien het nie, kan jy gerus net in jou beursie loer.
Die bloukraanvoël pryk op 5c-muntstukke -- en word selfs soms
die vyfsentvoël genoem! Hierdie voëls is gewis meer as vyf sent werd,
en word ongelukkig as bedreig beskou omdat hul getalle oor die afgelope
dekades so drasties gedaal het. Daar
was ’n tyd toe byna 100 000 van hierdie voëls oor Suidelike Afrika
versprei was. "Sedert
die vroeë jare tagtig het hul getalle, veral buite die Suidwes-Kaap,
met byna 80 persent afgeneem," reken Kevin Shaw, voëlkundige van
Kaapse Natuurbewaring. Dit
is die gevolg van die veranderinge van hul habitat, veral weens
boerdery, die versteuring van hul neste, en vergiftiging. Gevalle is al
aangemeld waar tot 600 voëls op een slag vergiftig is, wat gewis ’n
gevoelige slag is vir ’n bevolking wat op sowat 20 000 voëls wêreldwyd
geskat word. Kraanvoëls kan ook baie seerkry of hulle selfs doodskok as
hulle in oorhoofse kragdrade of heinings vasvlieg.
Bewaringslui
probeer al jare lank om kraanvoëls te beskerm. Die Suid-Afrikaanse
Kraanvoëlwerkgroep is deur die Trust vir Bedreigde Wildlewe
(Endangered Wildlife Trust) gestig om te verseker dat die nodige
navorsing, bewaringsprojekte, voëltellings en bewusmakingswerk gedoen
word. Vanweë die samewerking tussen boere, provinsiale
bewaringsorganisasies soos Kaapse Natuurbewaring en groepe soos die
Overberg-Kraanvoëlgroep, die KwaZulu-Natal-Kraanvoëlgroep en die Hoëveld-Kraanvoëlgroep
is al baie sukses behaal. Ons
land se wette beskerm alle kraanvoëls, en daarom mag jy nie een aanhou,
doodmaak of sy eiers uithaal sonder ’n permit en toestemming van jou
provinsiale natuurbewaringsowerheid nie. Betreklik min van hierdie voëls
broei egter in natuurreservate of nasionale parke, en dus is hul
voortbestaan grootliks in die geduldige hande van die grondeienaars op
wie se plase hulle leef. •••
•• •
• • •
• • •
• DAAR
is darem goeie nuus ook. Die Wes-Kaap raak beslis een van die gewildste
kuierplekke vir hierdie elegante voëls, en veral in die
Overberg-omgewing en Swartland is hul getalle besig om toe te neem. Voordat
hierdie streke in graanproduserende gebiede ontwikkel het, was hier nie
so baie kraanvoëls nie, omdat dit vir hulle moeilik was om met hul lang
bene deur die kniehoogte-renosterveld te loop, en om tussen die hoë
bosse na kos te soek. Met die ploeg van lande moes kraanvoëls in die
winter wanneer die koring te hoog geraak het na die kaal braaklande
skuif, of heeltemal uit die gebied trek. Die
afgelope paar jaar het die Overbergse boere egter hul boerderymetodes
aangepas van ’n koring/braakstelsel na ’n stelsel van koring/droëlandweiding,
waar lande al om die twee jaar met óf koring óf weiding vir skape
geplant word. "Dit pas bloukraanvoëls baie goed, want nou kan
hulle trek na die nabygeleë lande waar weiding vir skape gesaai
is," verduidelik Shaw. ’n Verdere bonus is dat die boere hul
skape voer, en dat die kraanvoëls kan saamvreet aan voer wat rondom die
krippe val. Gewoonlik
maak groot voëlsoorte soos die bloukraanvoël net een kuiken groot.
"Hier in die Caledon-omgewing is dit egter soos ’n kraanvoëlfabriek.
Ons het al selfs drielinge, wat baie skaars is, gekry," sê
Shaw. Oor dié
uitsonderlike vrugbaarheid in ’n gebied waar so baie broeipare
voorkom, skud Shaw maar net sy kop. "Ons weet nie sonder twyfel
waarom die broeipare in hierdie omgewing so suksesvol aanteel nie." Kraanvoëls
is goeie voorbeelde van moderne ouers. Albei geslagte help met die bou
van ’n nes, asook die uitbroei en grootmaak van kleintjies.
Gespikkelde roomkleurige eiers, meestal twee op ’n keer, word
gewoonlik gelê in ’n vlak nes wat met stoppels en klein klippies
omring is. Die eiers broei binne 33 dae uit. Die kleintjies kan eers ná
drie maande vlieg, en hul ouers versorg hulle byna ’n jaar lank
voordat hulle vir hulself kan sorg. Vir
die toerismemense van die Overberg is die bloukraanvoël ’n ILLUSTRASIE HIERBY: 'n Bloukraanvoël op 'n seël wat in 1997 deur die Verenigde Nasies se Posadministrasie (UNPA) uitgereik is. Dit was 'n deel van 'n reeks seêls (in verskillende tale) wat bedreigde fauna uitgebeeld het. Bloukraanvoëls is ’n bate -- gee hulle die beskerming en steun wat hulle verdien! |
||
|
|
||