BLOUKRAAN: SA se nasionale voël 
Die verbete stryd vir ons 5c-voël5c-stuk 

Bloukraan
O
ns nasionale voël, die bloukraan (wat slegs in Suider-Afrika in die vrye natuur voorkom), en sy plaaslike familielede, die lelkraan en die mahem, is baie hoog op die lys van voëls wat beskerming nodig het. Lank verby is die tye toe hulle in hul derduisende op ons vlaktes te sien was. ENGELA DUVENHAGE van Kaapse Natuurbewaring skryf hieronder vir ons van die volgehoue pogings om ons nasionale voël, wat ook op op ons 5c-muntstuk verskyn, te red...



TEEN ’n rotshang naby Ha Khotso in Lesotho is ’n skets van twee bloukraanvoëls, geteken deur ’n lid van ’n San-stam wat vroeër in dié bergomgewing geleef het. Die San het geglo dat die bloukraanvoël eens ’n meisie was, in die "voortye", toe diere en voëls mense was. Volgens hulle was sy die beskermer en oppasser van kindertjies.

In die Xhosa-kultuur word geglo dat as ’n jagter een van hierdie grasieuse voëls doodmaak, ’n lid van sy familie kan sterf, en net lede van die Zoeloe-koningshuis mag dié voëls se lang stertvere in hul hooftooisels dra. Vandag word hierdie voëls steeds gesien as ’n teken van vrede en stabiliteit en is hulle so ’n gepaste simbool vir Suid-Afrika as ons land se nasionale voël. In die Oos-Kaap is selfs ’n dorp, Indwe, na dié grysblou voël genoem.

Dit is net in Suider-Afrika waar jy bloukraanvoëls in die natuur sal sien -– nêrens anders ter wêreld nie! Ons subkontinent is ook die tuiste van twee ander kraanvoëlspesies, die mahem met sy goue stralekrans en die hoogs bedreigde lelkraanvoël met sy kenmerkende rooi kenflap.

Mahem
BO: Die mahem is die algemeenste kraanvoëlsoort in Afrika. Sy Afrikaanse naam is afgelei van die geluid, "mahem", wat hy maak.

Lelkraan
BO: Die lelkraanvoël (Wattled crane) is Afrika se mees bedreigde kraanvoëlsoort, met net sowat 13 000 wat nog in vleilandgebiede van Suid-Sentraal-Afrika, Ethiopië en die Zambezi-vlakte voorkom. Die lel onder die voël se bek rek en krimp as hy kwaad word.

Wees gerus op die uitkyk vir bloukraanvoëls op die kort grasvelde en geploegde landerye van veral die Wes- en Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Noord-Vrystaat en Gauteng. ’n Klein  bevolking woon ook op die Etoshapanne in Namibië.

As jy nog nooit een van hierdie langbeenvoëls voëls in lewende lywe gesien het nie, kan jy gerus net in jou beursie loer.  Die bloukraanvoël pryk op 5c-muntstukke -- en word selfs soms die vyfsentvoël genoem! Hierdie voëls is gewis meer as vyf sent werd, en word ongelukkig as bedreig beskou omdat hul getalle oor die afgelope dekades so drasties gedaal het.

Daar was ’n tyd toe byna 100 000 van hierdie voëls oor Suidelike Afrika versprei was.

"Sedert die vroeë jare tagtig het hul getalle, veral buite die Suidwes-Kaap, met byna 80 persent afgeneem," reken Kevin Shaw, voëlkundige van Kaapse Natuurbewaring.

Dit is die gevolg van die veranderinge van hul habitat, veral weens boerdery, die versteuring van hul neste, en vergiftiging. Gevalle is al aangemeld waar tot 600 voëls op een slag vergiftig is, wat gewis ’n gevoelige slag is vir ’n bevolking wat op sowat 20 000 voëls wêreldwyd geskat word. Kraanvoëls kan ook baie seerkry of hulle selfs doodskok as hulle in oorhoofse kragdrade of heinings vasvlieg.

BloukraanLINKS: Bloukraanvoëls is een van vyftien kraanvoëlspesies wat wêreldwyd op al die vastelande buiten Suid-Amerika en Antarktika gevind word. Hulle is egter die enigste van dié langbeenvoëls wat eksklusief in Suider-Afrika woon.

Bewaringslui probeer al jare lank om kraanvoëls te beskerm. Die Suid-Afrikaanse Kraanvoëlwerkgroep is deur die Trust vir Bedreigde Wildlewe  (Endangered Wildlife Trust) gestig om te verseker dat die nodige navorsing, bewaringsprojekte, voëltellings en bewusmakingswerk gedoen word. Vanweë die samewerking tussen boere, provinsiale bewaringsorganisasies soos Kaapse Natuurbewaring en groepe soos die Overberg-Kraanvoëlgroep, die KwaZulu-Natal-Kraanvoëlgroep en die Hoëveld-Kraanvoëlgroep is al baie sukses behaal.

Ons land se wette beskerm alle kraanvoëls, en daarom mag jy nie een aanhou, doodmaak of sy eiers uithaal sonder ’n permit en toestemming van jou provinsiale natuurbewaringsowerheid nie. Betreklik min van hierdie voëls broei egter in natuurreservate of nasionale parke, en dus is hul voortbestaan grootliks in die geduldige hande van die grondeienaars op wie se plase hulle leef.

 

DAAR is darem goeie nuus ook. Die Wes-Kaap raak beslis een van die gewildste kuierplekke vir hierdie elegante voëls, en veral in die Overberg-omgewing en Swartland is hul getalle besig om toe te neem.

Voordat hierdie streke in graanproduserende gebiede ontwikkel het, was hier nie so baie kraanvoëls nie, omdat dit vir hulle moeilik was om met hul lang bene deur die kniehoogte-renosterveld te loop, en om tussen die hoë bosse na kos te soek. Met die ploeg van lande moes kraanvoëls in die winter wanneer die koring te hoog geraak het na die kaal braaklande skuif, of heeltemal uit die gebied trek.

Die afgelope paar jaar het die Overbergse boere egter hul boerderymetodes aangepas van ’n koring/braakstelsel na ’n stelsel van koring/droëlandweiding, waar lande al om die twee jaar met óf koring óf weiding vir skape geplant word. "Dit pas bloukraanvoëls baie goed, want nou kan hulle trek na die nabygeleë lande waar weiding vir skape gesaai is," verduidelik Shaw. ’n Verdere bonus is dat die boere hul skape voer, en dat die kraanvoëls kan saamvreet aan voer wat rondom die krippe val.

Gewoonlik maak groot voëlsoorte soos die bloukraanvoël net een kuiken groot.  "Hier in die Caledon-omgewing is dit egter soos ’n kraanvoëlfabriek.  Ons het al selfs drielinge, wat baie skaars is, gekry," sê Shaw.  Oor dié uitsonderlike vrugbaarheid in ’n gebied waar so baie broeipare voorkom, skud Shaw maar net sy kop. "Ons weet nie sonder twyfel waarom die broeipare in hierdie omgewing so suksesvol aanteel nie."

Kraanvoëls is goeie voorbeelde van moderne ouers. Albei geslagte help met die bou van ’n nes, asook die uitbroei en grootmaak van kleintjies. Gespikkelde roomkleurige eiers, meestal twee op ’n keer, word gewoonlik gelê in ’n vlak nes wat met stoppels en klein klippies omring is. Die eiers broei binne 33 dae uit. Die kleintjies kan eers ná drie maande vlieg, en hul ouers versorg hulle byna ’n jaar lank voordat hulle vir hulself kan sorg.

Vir die toerismemense van die Overberg is die bloukraanvoël ’nBloukraan op 'n VN-seël besondere simbool, want dis veral in die wintermaande dat jy groot groepe van hierdie voëls hier sien saamdrom by damme en op geploegde lande. In die somermaande is die bloukraanvoëls glad nie so sosiaal soos in die winter nie -- inteendeel. Dan sien ’n mens net broeipare saam, terwyl dit slegs die voëls is wat nie broei nie wat in klein troppies saamloop.

ILLUSTRASIE HIERBY: 'n Bloukraanvoël op 'n seël wat in 1997 deur die Verenigde Nasies se Posadministrasie (UNPA) uitgereik is. Dit was 'n deel van 'n reeks seêls (in verskillende tale) wat bedreigde fauna uitgebeeld het.


Bloukraanvoëls is ’n bate -- gee hulle die beskerming en steun wat hulle verdien!


      
     
Nuttige skakels vir nog inligting indien jy internet-toegang het

  • Vir nog inligting oor natuurbewaring klik hier en besoek die webwerf van Kaapse Natuurbewaring.

  • Vir inligting oor kraanvoëls wêreldwyd klik hier en besoek die webwerf van die International Crane Foundation.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad