Koue Oorlog

  Die kille dekades van
bitterheid en vrees

Truman en Stalin by Potsdam

BO: Pres. Harry S. Truman van die VSA en die Sowjet-leier Josef Stalin in 1945 in die Duitse stad Potsdam, waar oor die fundamentele administrasie van die verslane Duitsland besluit moet word. Maar dit word baie duidelik dat die Amerikaners en die Russe (wat in die Tweede Węreldoorlog bondgenote was)  voortaan glad nie meer langs dieselfde vuur sal sit nie.

Fotokrediet: U.S. Department of Defence (deel van ’n groter foto)

Dekades lank—van 1945 tot 1991—het Amerika en die res van die Vrye Weste aan die een kant en die Sowjet-Unie en sy Kommunistiese trawante aan die ander kant dreigend en bitter vyandig vir mekaar gegrom... soseer dat die węreld soms gevaarlik naby aan ’n kernoorlog gekom het...

D

 

IE Koue Oorlog... praat van ’n ystyd in internasionale betrekkinge! Die venyn en die onmin was byna tasbaar. Die twee grootste moondhede op aarde met hul onderskeie bondgenote was in so ’n bitsige vete teen mekaar gewikkel dat dit die węreld partymaal selfs op die rand van ’n verwoestende kernoorlog laat huiwer het.

Nooit tevore in die mens se lang geskiedenis is ’n toestand van “vredestydse” kilheid en antagonisme op so ’n enorme skaal ondervind nie.

Meer as veertig jaar lank het die twee supermoondhede die Verenigde State van Amerika (die VSA) en die Sowjet-Unie (die Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke of USSR) erg oorhoop met mekaar gelę—asook die lande binne elkeen van hulle se invloedsfere. Want sowel die Weste as die USSR en sy meelopers was sitadels van uitlopende ideologieë wat hoegenaamd nie met mekaar te versoen was nie.

Amerikaanse vlagDie Kommunistiese simbool van die hamer en sekel wat op die Sowjet-vlag verskyn het

LINKS: Die Amerikaanse vlag.
REGS: Die Kommunistiese simbool van die hamer en sekel wat op die Sowjet-vlag verskyn het.

Die Amerikaners, Britte en hul deelgenote was die verbete verdedigers van die Vrye Mark en die Kapitalisme. Die Sowjet-Unie en sy satellietstate het op hul beurt trou gesweer aan die Kommunisme, wat hulle as die redding van die mensdom beskou het. Die Russe het dan ook nie geskroom om veral buurlande te indoktrineer en te onderwerp waar hulle dit in hul belang geag het nie.

Self het die Amerikaners en Russe mekaar nooit militęr te lyf gegaan nie, maar die jare tussen 1945 en 1991 is gekenmerk deur wedersydse militęre opbou en hewige konflikte tussen hul onderskeie ondersteuners regoor die węreld. Die stryd was meermale geweldig fel, die botsings op verskillende plekke soms hard en bloedig. En in Westerse en Westers gesinde kringe het dit kennelik ’n maniese vrees vir die “Rooi gevaar” laat ontstaan.

“Ook in Suid-Afrika is die Sowjet-bedoelings deur die blankes gevrees en die rol wat dit gespeel het om die einde van apartheid te vertraag, word miskien vandag te dikwels oor die hoof gesien,” vertel ’n waarnemer. “Die Sowjet-Unie het die swart stryders van Suidelike Afrika so opsigtelik omarm dat sy Kubaanse lakeie in Angola beskou is as die voorpunt van die Kommunistiese spies wat ons hele subkontinent wou deurboor. Net die Sowjet-Unie se geweldige tegnologiese prestasies as ’n ruimtemoondheid het ons witmense al oorgenoeg rede gebied om doodbang vir hom te wees.”

Amerika en die Sowjet-Unie se massiewe stryd om te beslis wie die militęre meesters van die węreld was, is inderdaad selfs tot in die ruimte gevoer. Die rede was dat die een wat die oppergesag in die ruimte sou hę, hom ook as die bobaas-land op die aarde sou kon bewys. Skaars agt jaar nadat die Sowjet-Unie in 1961 die eerste mens in ’n wentelbaan om die aarde geplaas het, het die VSA met mening daarop geantwoord deur in 1969 die eerste mense op die maan te laat loop.

M

AAR by wie het die term “Koue Oorlog” eintlik ontstaan? Die “vader” was ene Bernard Baruch (1870–1965), ’n Joods-Amerikaanse finansier en ekonomiese raadgewer van sekere Amerikaanse presidente. Baruch het van die “Koue Oorlog” gepraat toe hy in 1947 in ’n toespraak na die tweestryd tussen die VSA en die Sowjet-Unie verwys het. Die beskrywende benaming het soveel ingang by  joernaliste gevind dat dit kort voor lank ’n standaard-term geword het.

Bernard Baruch, “vader” van die term Koue OorlogREGS: Bernard Baruch, “vader” van die term Koue Oorlog.

   Krediet: U.S. Library of Congress (deel van ’n groter foto)


Die oorspronge van die Koue Oorlog lę ver terug in die geskiedenis, bes moontlik nog voordat die Russiese Revolusie van 1917 tot die totstandkoming van die Kommunistiese Sowjet-Unie gelei het.  Daar was immers hoeka in die tyd van die tsare reeds opmerklike verskille in die politieke en ekonomiese stelsels van die Russe en die Weste. Maar die verskille is op die spits gedrywe in die jare 1945-1947, net na afloop van die Tweede Węreldloorlog.

Die Tweede Węreldoorlog het van 1939 tot 1945 geduur en was die vernietigendste oorlog wat nog ooit deur die mens gevoer is. Aan die een kant was die Geallieerdes, gelei deur Brittanje, Amerika, die Sowjet-Unie, China en Frankryk, en aan die ander kant die sogenaamde Spilmoondhede, naamlik Duitsland, Japan en, aanvanklik, Italië.  Duitsland en sy trawante is verpletterend in die oorlog verslaan.

Suid-Afrika het hom, vanweë sy bande met Brittanje, ook by die Geallieerdes geskaar. Benewens Brittanje, Amerika, die Sowjet-Unie, China, Frankryk en Suid-Afrika was daar nog 45 ander lande in die Geallieerde kamp.

Maar al was hulle bondgenote gedurende die oorlog, bevind die Amerikaners en Russe hulle spoedig daarna in totaal verskillende kampe, juis oor diepgaande verskille oor gebiede wat die Kommuniste oorgeneem het en waar Kommunistiese regerings gevestig is.

I

N die volgende tydlyn van die Koue Oorlog word die vernaamste gebeurtenisse in hierdie onstuimige tydvak uitgelig:

1945: Die Geallieerdes kom in die stad Potsdam in Duitsland byeen om oor die fundamentele administrasie van die verslane Duitsland te besluit. Verskillende dele van die land en die Duitse hoofstad Berlyn is deur verskillende magte beset. Die Westerse Geallieerdes raak egter agterdogtig oor die motiewe van die Sowjet-leier Josef Stalin, wat met ’n kennelike ekspansiepolitiek reeds Kommunistiese regerings gevestig het in Sentraal-Europese lande waar die Kommuniste die mag kon gryp. Die Potsdam-konferensie sou die laaste konferensie van die Geallieerde leiers wees. Baie kort ná die Potsdam-konferensie verwoes Amerikaanse kernbomme die Japanse stede Hirosjima en Nagasaki, en Japan word tot oorgawe gedwing. Stalin raak egter omgekrap omdat Amerika se pres. Harry S. Truman die Sowjet-Unie weinig ware seggenskap oor die besette Japan aanbied.

1947: Die Truman-doktrine: Amerika bied sy hulp aan lande wat deur die Kommunisme bedreig word—veral Griekeland en Turkye. Die toenmalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, George C. Marshall, kondig ’n massiewe hulpprogram aan vir die heropbouing van ’n Europa wat weens die Tweede Węreldooorlog gehawend gelaat is. Dit sal as die Marshallplan bekend staan. Marshall het duidelik die USSR in gedagte gehad in sy toespraak oor die steun aan “vrye volkere” teen “onderwerping” van buite, maar het nooit die Sowjet-Unie by die naam genoem nie.

1948: Die Kommuniste neem die mag oor in Tsjeggo-Slowakye.1)

1948: In Junie begin die berugte Sowjet-blokkade van Wes-Berlyn, die een sektor van die verdeelde stad, wat as ’n Westerse eilandjie midde-in die Kommunistiese Oos-Duitsland voortbestaan. Die Amerikaners lewer voorrade aan die geďsoleerde stad deur middel van die Berlynse Lugbrug (’n nooddiens waarin goedere met vliegtuie oor die verbode gebied vervoer is). Dit is die eerste groot Berlynse krisis in die Koue Oorlog. In Mei 1949 hef Stalin die blokkade op.
 

Berlyners kyk in 1948 hoe ’n vragvliegtuig van die Amerikaanse lugmag neerdaal om op die Tempelhof-lughawe te land

BO: Berlyners kyk in 1948 hoe ’n vragvliegtuig van die Amerikaanse lugmag neerdaal om op die Tempelhof-lughawe te land.

Fotokrediet: United States Air Force Historical Research Agency

 
1949:
Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) word in April onderteken—’n alliansie van Westerse lande wat aanvanklik nie veel meer as ’n politieke bondgenootskap is nie, maar later tot ’n geďntegreerde militęre struktuur uitgebou word. Lidlande onderneem om mekaar by te staan indien hulle van buite aangeval sou word. Die Sowjet-bedreiging is  kennelik die groot rede vir die totstandkoming van NAVO.
2)

1949: Die Westers georiënteerde Wes-Duitsland of die Federale Republiek van Duitsland (in Duits Bundesrepublik Deutschland) word in Mei gevorm uit die drie sones van die verslane Duitsland wat as gevolg van die Tweede Węreldoorlog deur die VSA, Brittanje en Frankryk beset is. Nie lank daarna nie, in Oktober, antwoord die Sowjet-Unie met sy vorming van die Kommunistiese Oos-Duitsland of die Duitse Demokratiese Republiek (in Duits Deutsche Demokratische Republik of DDR). Oos-Duitsland is geskep uit die Sowjet-sone van die besette Duitsland en die Sowjet-sektor van die ou Duitse hoofstad Berlyn. 3)

1949: Die Sowjet-Unie laat in Augustus sy eerste atoombom ontplof (’n kernbomtoets). Die mense van die węreld—met die kernbom-verwoesting deur Amerika van die Japanse stede Hirosjima en Nagsaki nog vars in die geheue—ril by die besef van wat kan gebeur as die VSA en die USSR sou besluit om mekaar met kernbomme te bestook.

REGS: Die Sowjet-Unie se eerste atoombomtoets.

 

1949: Nadat hy in die Chinese burgeroorlog geseëvier het, vestig die  Kommunistiese Party onder Mao Zedong die sogenaamde Volksrepubliek van China. Die totstandingkoming van ’n Kommunistiese regering in die land met die meeste mense op aarde, versterk die vrese by Westerse lande dat die Kommuniste doelgerig besig is om die hele węreld te probeer verower.

1950-1953: Die Koreaanse Oorlog: Korea is, net soos Duitsland, ’n verdeelde land en die Kommunistiese Noord-Korea val Suid-Korea binne. Troepe van die Verenigde Nasies, onder leiding van die VSA, snel die Suide te hulp, terwyl China en die Sowjet-Unie vir Noord-Korea ondersteun. ’n Wapenstilstand bring mee dat Korea verdeeld bly soos voor die oorlog. NAVO ontwikkel tot ’n volwaardige militęre bondgenootskap weens die persepsie dat al die Kommunistiese lande besig is om teen die vrye węreld saam te span. (Noord- en Suid-Korea is tot vandag toe verdeeld.)

Troepe van die Verenigde Nasies word in Korea ontplooi om die Suid-Korea teen die aanslag van die Kommunistiese Noord-Korea te beskerm

BO: Troepe van die Verenigde Nasies word in Korea ontplooi om die Suid-Korea teen die aanslag van die Kommunistiese Noord-Korea te beskerm. Die Koreaanse oorlog—waarin ook soldate van Suid-Afrika geveg het—was ’n uitvloeisel van die Kommunistiese ekspansiepolitiek ná die Tweede Węreldoorlog.

Fotokrediet: U.S. Department of Defence

1952: Die Sowjet-diktator Josef Stalin bied aan om oor die hereniging van Duitsland te onderhandel op voorwaarde dat ’n verenigde Duitsland neutraal bly. Gesteun van die Wes-Duitse parlement, verwerp die Westerse moondhede die aanbod.

1953: In Junie word ’n opstand van werkers in die Kommunistiese Oos-Duitsland deur Russiese tenks onderdruk.

1955: Wes-Duitsland sluit hom by NAVO aan en roep die Bundeswehr in die lewe, die eerste Duitse leër wat tot stand kom sedert die val van Adolf Hitler in die Tweede Węreldoorlog.

 

1955: As teenvoeter vir NAVO word die Warschau-verdrag in Mei as ’n Sowjet-inisiatief in Warschau, Pole, onderteken. Die organisasie van die Warschau-verdragslande bestaan uit die Kommunistiese state van Sentraal- en Oos-Europa, en daar is ’n politieke sowel as ’n militęre vleuel.

1956: In die Kommunistiese Hongarye kom Hongare in Oktober-November landwyd spontaan in opstand teen hul Stalinistiese regering en die Sowjet-beleide wat op hulle afgedwing word. Die Hongaarse Revolusie van 1956 word hardhandig deur die Sowjet-Unie beëindig.

1956: Die Suez-krisis: Nadat Egipte die Suez-kanaal probeer nasionaliseer het, beset Israel, Frankryk en Brittanje die kanaalsone en word Egiptiese vliegvelde gebombardeer.
Nikita ChroesjtsjofDie Sowjet-leier Nikita Chroesjtsjof
(foto REGS) dreig dat hy kernwapens teen Londen en Parys sal gebruik.

1957: Spoetnik 1, die aarde se eerste kunsmatige satelliet, word in Oktober deur die Sowjet-Unie gelanseer. Dit bly in ’n wentelbaan tot 4 Januarie 1958. Dié tuigie van slegs 83,5 kg is weinig meer as ’n blink stukkie Kommunistiese propaganda, maar dit lui die ruimte-eeu in en ruk die VSA uit sy waan dat hy tegnologies oppermagtig is.

1959: Fidel Castro gryp op 1 Januarie 1959 die mag in Kuba—om daarna as onverbiddelike diktator byna ’n halfeeu lank oor dié eilandstaatjie te regeer. Castro se omhelsing van die Kommunistiese ideologie en veral sy boetie-boetie-spelery met die Sowjet-Unie word ’n baie seer doring in die Amerikaners se vlees omdat Kuba so naby aan die VSA geleë is.

1961: Wostok 1 word in April deur die Sowjet-Unie gelanseer met Joeri Gagarin aan boord—die eerste mens in die ruimte. Hy wentel een maal om die aarde. Die VSA besef dat slegs die stuur van mense na die maan hierdie ruimte-prestasie van die Russe sal kan oortref.

1961: Die bou van die gewraakte Berlynse Muur begin in Augustus. Klik hier vir ’n volledige Mieliestronk-artikel oor die Berlynse Muur.

1962: Die Kubaanse krisis: Toe die Sowjet-Unie so ver gaan om basisse vir die afvuur van kernvuurpyle op die eilandstaat Kuba op te rig—reg by die VSA se voordeur— reageer die onthutste Amerikaners met ’n ultimatum wat die węreld gevaarlik op die rand van ’n Derde Węreldoorlog laat huiwer. Dit word trouens beskou as die naaste wat ons planeet nog aan ’n verwoestende kernoorlog gekom het.

Isolasie van KubaREGS: Oktober 1962—Amerikaanse skepe isoleer Kuba om te verhinder dat die Sowjet-Unie voortgaan met sy gewraakte wapenprogram op die eiland.

Krediet: Webwerf van die Amerikaanse Vloot / US Navy website
 

1963: Die VSA, Brittanje en die Sowjet-Unie kom ooreen om oppervlak- en onderwater-kerntoetse op te skort.

1965: Viëtnam is, soos Duitsland en Korea, ’n verdeelde land en die gewelddadige pogings van die Kommunistiese Noorde om die Suide oor te neem, laat die VSA besluit om troepe na Suid-Viëtnam te stuur. Meer as twee miljoen mense sal in die Viëtnamese Oorlog sterf, die meeste van hulle burgerlikes. Amerika onttrek sy troepe in 1973 en twee jaar later word Suid-Viëtnam deur die Kommuniste oorgeneem.

1968: Troepe van die Warschau-verdragslande (kyk boontoe by 1955) onderdruk die lente-opstand in Praag in die Kommunistiese Tsjeggo-Slowakye.

1969: Neil Armstrong en Edwin Aldrin jr. van die VSA se Apollo 11 word in Julie die eerste mense wat op die maan land en daarop rondloop. Die Amerikaners bewys uiteindelik dat hulle die meesters van die ruimte is.

1969: Die VSA en die Sowjet-Unie begin oor die vermindering van strategiese kernwapens onderhandel, maar hoewel die samesprekings uiteindelik met verskeie verdrae eindig, duur die wapenwedloop voort.

Willy Brandt1970: Hierdie jaar word gekenmerk deur die begin van die sogenaamde Ostpolitik, ’n beleid van toenadering tot die Oosterse blok waarvan die Wes-Duitse kanselier Willy Brandt (foto REGS) ’n voorvegter is. Die beleid werp sy eerste vrugte af toe die Duitsers en Russe ’n verdrag sluit wat die gebruik van geweld verwerp.

1980: Nadat die Sowjet-Unie Afganistan in 1979 binnegeval het, stel die VSA sanksies teen die Russe in en boikot die Amerikaners die Olimpiese Spele in die Russiese hoofstad Moskou.

1983: Die VSA se pres. Ronald Reagan kondig die ontwikkeling van ’n węreldwye "Star Wars"-missielverdedigingstelsel aan om Amerika teen vyandelike kernmissiele te beskerm.

1985: Die Sowjet-leier Michail Gorbatsjof begin die buitelandse beleid van Sowjet-Unie verander.

1987: Gorbatsjof en Reagan kom ooreen om met alle landgebaseerde tussenafstandsmissiele weg te doen.

Ronald Reagan en Michail Gorbatsjof in gesellige luim langs ’n kaggelvuur

BO: Die VSA se pres. Ronald Reagan en die Sowjet-leier Michail Gorbatsjof in gesellige luim besig met samesprekinge. Die vuur in die kaggel sou as sinnebeeldig beskou kan word van die “wegsmelting” van die “koue era”.  Wie het ’n aantal dekades vroeër gesę die Amerikaners en die Russe sou nooit weer langs dieselfde vuur sit nie!

Fotokrediet: U.S. White House / U.S. Gov.

1989: Die Berlynse Muur val in November. Die Muur het nie net ’n staatkundige wig tussen Oos- en Wes-Duitsers ingedryf nie, dit het ook dekades lank mense van hul vriende, selfs familielede en geliefdes afgesny. Baie wat oor die Muur na vryheid probeer klouter het, is summier deur die Kommunistiese grenswagte doodgeskiet. Maar die meeste Duitsers het ook nooit ophou hoop op die val van die Muur en die hereniging van hul volk nie. En uiteindelik het dit gebeur.

1991: Die Warschau-verdrag word ontbind. Gorbatsjof bedank en die Sowjet-Unie verdwyn van die węreldkaart deurdat dit in Desember in vyftien onafhanklike state uiteenspat. Die Russiese Federasie (allerweë Rusland genoem) is die grootste brokstuk van die ou USSR en is dan ook sy vernaamste erfgenaam.

________________

1) Tsjeggo-Slowakye is vandag die Tsjeggiese Republiek en Slowakië, nadat die land op 1 Januarie 1993 vreedsaam in twee verdeel het.

2)  NAVO het sedert 1949 sy ledetal reeds ses keer vergroot en, ondanks die beëindiging van die Koue Oorlog en die ontbinding van die Sowjet-Unie, bly voortbestaan. Daar is in 2008, toe hierdie artikel geskryf is, 26 lande wat aan die organisasie behoort, te wete die VSA en Kanada in Noord-Amerika en 24 Europese lande. Drie NAVO-lande beskik oor kernwapens, te wete die VSA, Brittanje en Frankryk.

3)  In Oktober 1990, vanweë die val van die Kommunisme in Oos-Europa, is Oos-Duitsland ontbind en het hy ’n deel geword van die Federale Republiek van Duitsland. Daardeur het Duitsland, nadat hy langer as veertig jaar verdeeld was, uiteindelik weer een land geword.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad