Kosse in die Bybelse tyd

BybelETLIKE duisende jare gelede in die Heilige Land, in die laaste fase van die Steentyd, het die landbou ontwikkeld begin raak. Plante en diere is gevind wat gekweek en geteel kon word, en toe is hierdie spesies oor honderde jare heen geleidelik en selektief vir die mens se behoeftes “getem”. Hieronder word vertel van party van die soorte kos wat in Bybelse tye genuttig is...

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

GranaatBittersoet granaat

•  Dié soort vrug met sy rooi pitte en bittersoet sap was oorspronklik van Klein-Asië, die Kaukasus, Armenië en Persië, maar dit was bepaald teen die Middel-Bronstyd reeds in die Heilige Land gevestig. Voorbeelde van verkoolde vrugte is gevind in ’n grafkelder by Jerigo wat uit dié tyd dateer.
  
Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture (USDA)

SintpietersvisseVisse uit die meer

•  Die belangrikheid van visse vir die mense aan die oewers van die See van Galiléa in die Romeinse tyd blyk uit verhale in die Nuwe Testament. Visse was een van die vroegste bronne van kos, en daar is steeds visse gevang om die voeding aan te vul nadat die landbou begin ontwikkel het. Die foto hierby is van sintpietersvisse uit die See van Galiléa (die meer Tiberias)  in ’n viswinkel in Tiberias in die moderne Israel. Die naam sintpietersvis (Engels Sint Peter’s fish) verwys eintlik na Petrus, die visser van Galiléa wat deur Jesus “ ’n visser van mense” gemaak is.

 

Foto: David Q. Hall, geen kopiereg (openbare domein)

Druiwe en wynvateWyn van druiwe

•  Namate stede in die derde millennium vC ontwikkel het, het die destyds reeds groot en gevestigde gemeenskappe van die Levant (die kuste van Klein-Asië, Sirië en Egipte) bykomende gewasse begin kweek. Een van die belangrikste was die druif. Wingerdstokke is waarskynlik in die vorige millennium (duisend jaar) uit Anatolië soontoe gebring. Nou was daar baie wingerde, waarvan die druiwe nie net vars geëet is nie, maar ook gebruik is om wyn te maak. Palestina het beroemd geraak om sy wyne.

 

Vermoënde Kanaäniete van die laat Bronstyd het brons-wynstelle gehad wat bestaan het uit ’n beker om water uit ’n kruik te skep, ’n sif om enige onsuiwerhede te verwyder en ’n delikate drinkbeker.

 

Wynmakery het later met verloop van die eeue baie meer gesofistikeerd geraak, soos die veroudering daarvan in houtvate soos op die foto regs bo.

KnoffelKnoffel en kie.

•  In die Bybelboek Numeri word vertel hoe die trekkende Israeliete met ’n ontevrede “nou wurg ons” terugverlang het na die kosse wat hulle in Egipte agtergelaat het—onder meer preie, uie en knoffel. Daar is genoeg rede om te veronderstel dat hulle sou gevind het dat hierdie kossoorte ook volop in Kanaän gegroei het. Selfs vandag nog is knoffel en kie. noodsaaklik in die Arabiese kookkuns en word hul kenmerkende geure hoog aangeslaan.

 

Dan was Moses se Kanaän inderdaad ook ’n land van “melk en heuning”, ’n ryklik vrugbare plek met ’n lang geskiedenis van land- en tuinbou.

 

Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention

Dadels aan ’n dadelpalmVrug van Jerigo

•  Die dadelpalmboom was volop oor die hele Vrugbare Halfmaan, soos die gebied in die Midde-Ooste genoem word waar die wieg van die beskawing was. Die dadel was die stapelvoedsel van die gebied se vroeë bewoners. In Deuteronomium word na die “Jerigolaagte met sy palms” verwys. Die Jerigodadel was ’n bekende variëteit, geroem om sy sappigheid. Die foto hierby toon dadels aan ’n dadelpalmboom.

 

Foto:Stan Shebs, wat sy kopiereg daarop opgehef het (openbare domein)

SpeseryeSpeserye vir die smaak

•  In die Ou Testament is daar baie verwysings na speserye en harse. Josef is byvoorbeeid deur sy broers verkoop aan Ismaelitiese handelaars wat met hul kamele gelaai met gom, balsem en hars na Egipte op pad was. Kaneel, om kos en wyn te geur, is uit Indië ingevoer. Die foto hierby toon speserye iewers in Indië.

 

Foto: Marc Shandro, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie beskikbaar stel ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie

Verskillende soorte lensiesVeelsydige lensies

•  Lensies word al duisende jare gekweek. Dit kon in soppe, pappe en purees gebruik word, of saam met graan tot meel gemaal word om koeke te maak.  

Olyfboom en olyweOlie van olywe

•  Die olyfboom, inheems aan die Siries-Palestynse gebied, is blykbaar minstens sesduisend jaar gelede reeds aangeplant. Olyfolie is in kos, medisyne, as ’n basis vir parfuums en as brandstof in lampe gebruik. Dit het ’n vername uitvoerproduk geword en teen die Bronstyd was die maak daarvan ’n hele bedryf.

 

Foto van olyfboom: www.biblepicturegallery.com/free

Foto van olywe: Nick Fraser, 2005; vrugte van ’n olyfboom by die Dooie See in Jordanië; beskikbaar gestel in die Wikipedia-ensiklopedie ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe.

Koringare op die land, einkorn-korrels en ’n emmer-aar
  
BO, VAN LINKS: Koringare op die land, einkorn-korrels en ’n emmer-aar.

 

Foto’s: U.S. Department of Agriculture (USDA)

   

Beter koring

•  Die korrels van die vroegste soorte gekweekte koring, emmer en einkorn, het ’n harde dop gehad. Dit was maar moeilik om die doppe te verwyder deur die koring te dors. Vroeg in die Bybelse tye was hierdie soorte graan reeds deur durum-koring as die vernaamste saaigewas vervang. Hierdie soort, met sy kaal korrels ryk aan gluten, kon maklik gedors word en het ’n uitstekende meel vir brood gelewer.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad