|
|
UURSPUWENDE berge is lewende verskrikkings. Wat se nut kan hulle hoegenaamd hê? As jy nie weet nie, en miskien selfs ’n keer of wat hieroor gewonder het, sal die antwoord jou bes moontlik verras. Vulkane maak talle verskillende dinge—of help om dit te maak—van plofstof tot menslike liggame soos joune!
Dalk
ken jy selfs die verhaal van die onverskrokke Spanjaard wat hom in ’n
mandjie in die krater van ’n vuurspuwende berg in Suid-Amerika laat
afsak het. Dit was toe sy makkers swawel nodig gehad het om kruit te
maak. Hy het van die noodsaaklike swawel van die krater se kranse
afgekrap. Maar hoe kan jy nou glo dat jy konsuis van lawa gemaak is? Of
dat daar lawa in jou liggaam is? Hokaai,
eers. Só
’n
bewering het ons
darem nooit gemaak nie! Tog bly dit ’n feit dat vuurspuwende
berge tot die vorming van ons liggame bygedra het—iets wat ’n mens
met loutere verwondering vervul oor die ondeurgrondelike weë van die
Skepper. Dis werklik so dat daar in elkeen van ons stowwe is wat in
vergange millennniums uit die gloeiend warm maag van die aarde opgerisp
is. WIE al ooit ’n lawastroom sien vloei het, sal die volgende beskrywing daarvan waardeer: Uit die krater van swart, borrelende aardmassas stort ’n goue rivier wat stadig vloei soos heuning. Die "water" van die rivier is so dik en taai dat groot klippe daarop dryf as jy dit daarin gooi, en soos proppe na die valleie meegevoer word.
Geen
mens kan selfs ’n oomblik langs hierdie ontsettend warm rivier bly
lewe nie. Maar namate dit laer langs die vuurspuwende berg se hang
afspoel, verkoel die boonste lae in die koel lug en word dit met kool en
as bedek. Soms koek die drywende gemors saam, sodat ’n mens slegs deur
die barste die vurige rivier daar onder kan sien vloei. Maar meestal is
die bo-drywende goed gebreek en los. Dit rol en gly met krakende geweld
oor mekaar.
Soos
alle riviere vloei hierdie lawastroom ook na laer liggende vlakke. Dit
rol deur holtes en vul dit op. Dit sis deur waterstrome sodat die stoom
soos rookwalms in die lug opborrel. Soms stort dit oor ’n krans en
verander wat voorheen 'n waterval was, in ’n vuurval en vul dit die
poel daar onder met blokke verkoelde lawa. Tuine
en landerye word deur die rivier van vuur verswelg. Langsaam maar seker
rol die gloeiende lawa daaroor en verbrand alles in sy pad. Huise word
verpletter, woude aan die brand gesteek en die gas en vog in die boomstamme
word sissend die lug ingeblaas. Eienaardig
genoeg word sulke brande dikwels gestig sonder dat die gloeiende lawa
die bome self bereik. Dit vloei om die stamme en steek die bome deur sy
hitte aan die brand totdat net swart stompe oorbly. Maar die vog wat in
die vorm van stoom uit die bome kom, blaas so hard teen die lawa aan dat
dit nooit aan die stam self raak nie. Net ’n ronde gat bly in die
middel van die lawa oor waar die boom voorheen
gestaan
het. Partykeer
spoeg die lawa ook stromende vuur tussen die takke van die bome in, wat
dan later soos linte van kool en as bly hang. Maar die stomende vog uit
die takke keer dat die stromende vuur dit heeltemal verbrand. Gewoonlik
word net die bas verskroei. SULKE
swart, vernietigende massas wat langs die hange van ’n vuurspuwende
berg afrol... elke waarnemer sal moet saamstem dit die aakligste en
onvrugbaarste skouspel op aarde is. Maar wie ook al die planteweelde en
suksesvolle boederybedrywighede teen die hange van ’n vulkaan aanskou
het, sal ook weet watter fantastiese rykdom daar in vulkaangrond skuil.
Om die waarheid te sê is hierdie grond (wat
vroeër lawa of as was) gewoonlik van die vrugbaarste ter wêreld. Op
die eiland Madeira is die bogrond byvoorbeeld so dun dat ’n mens
skaars vyf tot agt sentimeter daarin grawe voordat jy op die soliede
lawarots afkom. Partykeer vind ’n mens nog harder swart glas wat die
vulkaan gevorm het --
dieselfde swart glas waaruit die ou Mexikane eeue gelede hul swaarde en
pyle gevorm het omdat hulle geen staal gehad het nie. En tog is hierdie
grond so vrugbaar dat die wingerde waarvan die beroemde Madeira-wyn
gestook word, so welig soos onkruid groei. Die wondere van die natuur
ken inderdaad geen perke nie. Diep
onder die aarde, onder die wortels van die berge, is Moeder Natuur
gedurig besig om, soos ’n chemikus in sy laboratorium, al die rotse
saam te smelt wat die afwerpsels van die ou wêrelde is. As hulle altyd
diep onder in die ingewande van die aarde gebly het, sou hulle geen
waarde hoegenaamd gehad het nie. Maar in die oop wêreld is hulle van
onskatbare diens vir die mens. Jaar
ná jaar—deur die verspoelende werking van die reën en riviere en
die onnadenkende optrede van die mens—spoel miljoene tonne vrugbare
aarde see toe. Indien ons hierdie goeie grond behou het, sou soveel meer
plante en bome kon gegroei en kos vir mense en diere kon voortgebring
het. Maar
gelukkig vir die aarde se lewende wesens
is die natuur onophoudelik besig om die nimmereindigende verlies bo op
die planeet aan te vul. In die ingewande van die aarde word eenstryk gewoel
en gewerskaf. Die resultaat is die vuurspuwende berge, wat nuwe grond as
’t ware soos bemesting vir die bo-kors van die aarde uitstort. Só
word die krag van die bo-laag van die grond waaruit ons leef, gedurig
aangevul en versterk. In
hierdie lawarots en -as wat die natuur van diep uit die aarde uitspoeg,
is daar sekere bestanddele waarsonder die mens nooit sal kan bly lewe
nie—waarsonder geen koringstoel of mielieplant of graspolletjie ooit
sal kan groei nie. Sonder
potas, sonder magnesium (wat altwee in ons bloed voorkom), sonder die
silika wat die stamme van koring en van gras versterk sodat hulle hard
is en regop kan staan; en waarskynlik sonder die koolsuurgas wat uit
vuurspuwende berge kom, deur die blare van plante opgeneem word en dan,
deur die geheimsinnige werkinge van die natuur, tot soliede hout verwerk
word— sonder al hierdie
dinge, en nog veel meer, wat almal uit vuurspuwende berge kom, kan
hierdie pragtige aardbol van ons nooit voortbestaan nie. Natuurlik
is die lawa hard en bar kort nadat dit afgekoel het. Maar die natuur
bring dadelik sy wondergraaf —die reën—te voorskyn. Jaar ná jaar, eeu ná eeu, spit en bewerk hy
daardie harde, barre rots totdat dit in die vorm van vrugbare bemesting
oor die grond versprei is. As die natuur dus soms ru en vernietigend te
werk gaan om verlore krag aan die aarde terug te gee, is hy
terselfdertyd ’n wonderlik hulpvaardige werker. DINK
nou aan die merkwaardige feeverhaaltjie—elke woord die reine waarheid—wat ’n mens sal kan vertel oor die avonture van een greintjie potas
of enige ander mineraal, so groot soos 'n speldekop, in die verwoestende
lawastroom wat hierbo beskryf is. Dink
daaraan hoe dit begin—as gesmelte rots diep in die maag van die
aarde; hoe dit dan opgeruk en oor die aarde uitgewerp word; hoe die reën
deur al die eeue daarop neergiet en telkens die krag van die greintjie
potas wegspoel en stadig laat deursypel na die wortels van ’n groot
boom. Dink
hoe dit deur die wortels in die stam van die boom opgeneem word en die
volgende jaar tot kosbare hout verhard; hoe die boom later afgekap en in
die vorm van houtblokke in die wintermaande in ons kaggels verbrand
word. Daar,
tussen die as, lê die greintjie potas nou. Saam met die as word dit
uitgeskraap en oor die grond uitgestrooi. Daar spoel die reën dit in
die aarde terug en neem die wortels van die een of ander plant dit op
sodat dit nogmaals, ná al die avonture, weer plantaardige stof is. En
dan kom ’n konyntjie, vreet die plant en die swerwende greintjie word
deel van die konyntjie. Maar op ’n goeie dag skiet ’n wrede valk op
die arme konyntjie af en verslind dit. ’n Boer skiet die valk. Dodelik
gekwes val dit in ’n rivier en word na die see meegevoer. Daar ontbind
die liggaam van die valk en die greintjie potas sink andermaal in die
seewater af en word deel van die modder op die seebodem.
Foto: OAR / National Undersea Research Program En
nou, eindig die omswerwinge van die greintjie daar? Moenie glo nie! Niks
op aarde bly in dieselfde vorm voortbestaan nie. Daardie greintjie kan
dalk honderd of duisend jaar op die seebodem bly lê, maar die dag kan
eindelik aanbreek wanneer die magte van die natuur andermaal begin werk. Langsaam
maar seker, deur al die vlietende eeue heen, sak die een modderlaag op
die ander neer. Deur die swaar gewig, of miskien vanweë die hitte
binne-in die aarde, verander daardie modderlae tot harde rots. Ná eeue
kan die natuur dalk besluit om daardie rots weer te smelt en uit te
blaas. Deur die bek van ’n vuurspuwende berg skiet daardie greintjie
weer die lug in, waar dit opnuut die ou proses sal deurmaak en ons aarde
sal bevrug soos dit duisende jare tevore gedoen het. Die
natuur kan baie soorte dinge uit dieselfde materiaal vervaardig. Dit kan
die greintjie só verwerk en omvorm dat dit deel van ’n kosbare
edelsteen word. Die mens kan dit dalk uit die rots kap of in ’n
rivierbedding uitsif, dit poleer en monteer sodat dit eendag in die
pragtige ring aan ’n vrou se vinger pryk. Dink
weer na oor hierdie wonderbaarlike proses: vuur verander die steen—die steen word grond—die grond voed die plant—die plant voed die
dier—die dier keer terug tot die aarde—die aarde versteen tot klip— en die klip word gesmelt deur vuur. Só gaan die proses
onafgebroke voort Só
gebeur dit elke dag, en só moet dit gebeur. Want elke ding wat gebore
of geskape word, verander deur die tyd en sterf op sy tyd totdat die
Laaste Dag van hierdie nietige aardbol eendag sal aanbreek. Só
verander alle dinge en kom tot ’n einde. Só moet ons liggaam ook
verander en sterf—maar nie ons nie. Want aan ons sterflike liggaam
het die Almagtige Vader ’n Siel gegee. Oor daardie siel het al die
merkwaardige magte van die natuur geen seggenskap nie. Want die Siel is
nie soos die liggaam aan tyd en ruimte gebonde nie en verdwyn dus ook
nie in tyd en ruimte nie. Die
siel leef ewig voort, want ons is kinders van die Lewende God wat aan
elkeen van ons ’n verganklike, vleeslike liggaam gegee het, maar aan
elkeen ook sy onverganklike bestaan in die Hiernamaals sal skenk. |
|