|
BO en HEEL BO: Koring op die land. Foto bo: North Carolina Department of Agriculture & Consumer Services: NCDA&CS |
||
ROE net ’n bietjie hier, my ou man,” sê die voorwêreldse swarthaar-vrou voor die bek van die grot. “Ek het vir jou ’n pap gemaak van die snaakse klomp graskorrels wat ek hier onder in die vlei gepluk het.” “Gmf,” snork haar woes-bebaarde lewensmaat en ruk hom skielik op. Dink sy ou beste dan hy jag nie goed genoeg dat hul gesin nou verplig word om gras te eet nie? Maar hy dolwe tog met sy vuil hand in die klapperdop-houer wat sy vir hom aangegee het en dan proe-proe hy versigtig aan die rare pappery van fyngestampte grassaad en water. “Mmm,” mymer die grotman... en toe sprei ’n geelwit glimlag onder sy ruwe baard uit. “Mmmmmmm!” verkondig hy uitgelate en dans ’n vinnige riel om die hardekoolvuur. Dat hy sy primitiewe smaakkliere gekielie is, is nie alte altemit nie. Toe verslind hy die hele bak met pap gretig en binne sekondes—net om sy vrou daarna vlei toe te jaag om vir hom nog graskorrels te gaan pluk. Toneeltjies soos dié kon hulle heel moontlik in verskillende wêrelddele afgespeel het namate verskeie mensegroepe in die voortyd geleer het dat sekere grasse van die veld ’n heel vullende voedselbron kon wees. Van toe af is die eetbare korrels van allerhande grassoorte beproef, gesaai, gekruis, verdedel en weer veredel totdat gevind is dat rys, mielies, rog, hawer, gars, sorghum en nog ander tipes met groot vrug as graangewasse verbou kan word. Maar uiteindelik was dit koring wat hom as die bobaas-graan van die aarde se gematigde streke bewys het—’n onderskeiding wat hy vandag ná al die vele millenniums steeds behou. Hoewel dit primêr tot ’n meel vir brood en ander soorte gebak gemaal word, word koring ook in brouerye, stokerye en as veevoer gebruik. En, glo dit, dit kan selfs as ’n plaasvervanger vir koffie dien! Ook
in Suid-Afrika is hierdie graansoort onontbeerlik. Vanweë die omvang van die
verbruik en die voedingswaarde van brood en ander verwerkte
koringprodukte, word dit saam met mielies as ’n stapelvoedsel in ons
land beskou.
DAAR is vandag geweldig baie koringspesies, wat geklassifiseer word volgens die getal chromosome wat in die vegatiewe sel voorkom. Drie reekse word onderskei, te wete einkorn met 14 chromosome, emmer met 28 en broodkoring met 42 chromosome. Koringspesies verbaster betreklik dikwels in die natuur. Seleksies van die beste variëteite vir kweking het oor talle eeue in baie verskillende streke plaasgevind. Oorblyfsels van sowel emmer as einkorn wat van die sewende millennium vC dateer, is deur argeoloë tydens opgrawings in die Midde-Ooste gevind. Emmer is reeds in Egipte gekweek voordat die land sy dinastieë gehad het, terwyl dit in die prehistoriese Europa saam met onder meer gars en einkorn gekweek is. Broodkoring is by 'n perseel uit die sesde millennium vC in Suid-Turkistan geïdentifiseer en 'n broodkoringsoort is ook by Knossos in Kreta gevind.
LINKS BO: Are van moderne
gekweekte emmer.
Foto links bo:
ARS / U.S. Department of Agriculture KORING is ’n
eenjarige gewas en twee seisoensvorms, te wete winter- en lentekoring,
word verbou. In Suid-Afrika is daar nie so ’n duidelike skeidslyn
tussen winter- en lentekoring as in die kouer lande nie en word die
meeste koring in die herfs gesaai. Dit word in bykans elke provinsie
verbou, wat dan ook van die gewas se besondere aanpasbaarheid getuig. Die
Wes-Kaap, Vrystaat en die gewese Suid-Transvaal is egter ons groot
koringproduserende gebiede. Koring
word op ploeglande gesaai waar die graanplant mettertyd Party soorte koring het ’n sterk uitgroeisel, bekend as baard, ander weer nie (kyk illustrasie hierby). Ongeag die soort, dra die meeste koringare van dertig tot vyftig korrels. ’n Opspraakwekkende variêteit of kultivar wat egter ’n aantal jare gelede in ’n afgeleê streek van China gevind is, beloof om tot drie keer meer korrels te lewer. Nadat
die kaf van die koring geskei is, word die korrels gedroog, skoongemaak en gegradeer voordat dit uitgevoer of na
die meulens gestuur word om tot meel gemaal te word. Partykeer word
koring ook na fabrieke gestuur, waar dit in nywerheidsprodukte of
veevoer ingewerk word. Koringmeel word verwerk tot brood en ander belangrike mensevoedsels soos pasta, pannekoeke, ontbytkosse, koek en beskuit.
Hoe koringverbouing hier in DIE
EERSTE gesaaide koring in Suid-Afrika is reeds op 13 Januarie 1653
geoes, minder as ’n jaar nadat Jan van Riebeeck met sy span Europese
setlaars hier voet aan wal gesit het. Dit toon die prioriteit wat
hierdie graansoort reeds destyds geniet het. Daardie eerste lappies
koring is waarskynlik naby die Kasteel gesaai, miskien nog voordat
Van Riebeeck sy groentetuin
aangelê het. In daardie
beginjare het die koringboere maar erg gesukkel. Daar was talle probleme met
variëteite wat nie lekker aan die Kaap geaard het nie, asook met
koringsiektes en die baie winterreën, onder meer. In die eerste halfeeu is daar dan
nie eens genoeg koring vir eie
gebruik gekweek nie, wat nog te sê om in die behoeftes van die
verbyvarende skepe te voorsien. Trouens, dit was eers in 1968,
’n stuk of drie eeue later, dat Suid-Afrika hierin selfvoorsienend
geraak het. Nadat die vroeë
pioniers die binneland ingetrek het, het koringverbouing uitgebrei het
na gebiede waar hierdie graansoort veel beter geaard het. Teen 1752 is
die gewas al in bekende koringstreke soos die Swartland by
Riebeek-Kasteel, Piketberg en Malmesbury gekweek, asook in die Rûens by
Botrivier en Riviersonderend. Teenswoordige
koringboere sal heel waarskynlik skeef opkyk oor die destydse oestyd wat
in Januarie plaasgevind het. In die winterreënstreek van ons land word koring immers in
Oktober en November geoes, gewoonlik net nadat die laaste winterreën
uitgesak het. Kenners sê die toenmalige weerpatrone en variëteite het
waarskynlik ’n rol gespeel om die
boere later te laat oes as vandag.
Die Koringmuseum in Moorreesburg ’N BESOEK aan
Moorreesburg se Koringmuseum kan ’n mens moontlik heelwat van koring
leer wat jy nooit geweet het nie. As dit so moet gebeur dat jy die een
of ander tyd daardie deel van Suid-Afrika besoek, kan jy gerus daar
inloer. ’n Rubriekskrywer van ’n bekende koerant bestempel dit as
een van ons land se interessantste klein museums wat ’n mens herinner
aan die belangrike rol wat koring in die geskiedenis gespeel het. “Daar is in die
museum onder meer ’n paar koringkorrels wat uit die jaar 3000 v.C. dateer.
Dit is egter nog jonk in vergelyking met oorblyfsels van koring wat met opgrawings gevind is. Volgens navorsers
is die gewas einkorn, een van die voorouers van koring, in die Brons- en
vroeë Ystertydperke oor groot gebiede van Europa en die Nabye Ooste
verbou,” skryf die joernalis. “Die museum
huisves ook implemente wat sedert 1818 vir die verbouing van
koring in Suid-Afrika gebruik is: trekkers, sekels, sense, dorsmasjiene,
ploeë en wanmasjiene. Vir die hele gesin is ’n uitstappie na die museum
leersaam en interessant...”
Koringsiektes en -plae KORINGSIEKTES hou verband met parasitiese swamme. Weens ernstige plaaslike siektes soos roes, vaalblaar en vrotpootjie is baie teeltwerk al gedoen om variëteite te kry wat daarteen bestand is. Tot oormaat van ramp word graan vanselfsprekend ook deur verskeie soorte insekte verniel en is die gebruik van insektedoders baiekeer noodsaaklik, al sou dit vir bewaringsbewustes die minder wenslike opsie wees.
Ons daaglikse brood—die belangrikste koringproduk BROOD kan met reg ’n wonderkos genoem word. Daar is natuurlik verskillende soorte met wisselende hoeveelhede semels en byvoegings. Wit-, bruin- en volkoringbrood is ons bekende soorte. Veselryke brood word dikwels aanbeveel, omdat dit ’n groot rol kan speel om hardlywigheid te bekamp.
Brood
verskaf voorts proteïene, vitamiene en minerale aan die liggaam. Dit is
ook arm aan vet en help nie met die vorming van cholesterol nie. Die
B-vitamiene en minerale wat veral in bruin- en volkoringbrood voorkom,
help die liggaam om die energie wat van die koolhidrate afkomstig is, te
benut en dit voorkom ook siektes. Dit is dan die wenstorie van die nederige koringkorrel wat hom veral in Westerse lande as koning van die grane gevestig het. Maar ons dink nie dikwels daaraan waar ons daaglikse brood (soos in die Onse Vader-gebed) werklik vandaan kom nie...
BO: Ons daaglikse brood... Detail van foto deur Peggy Greb / ARS / U.S. Department of Agriculture |
||