|
Konveksie
speel ’n volmaakte rol om ons planeet as.’t ware soos ’n lewende
organisme te laat funksioneer. Boonop kan konveksie hom in alle groottes
manifesteer. Dit kan oor slegs enkele millimeters plaasvind of op ’n
skaal groter as die aarde op die oppervlak van die son. Maar oral werk
dit op dieselfde manier… |
|
NS
dink nie maklik so daaraan nie, maar ons bestaan op aarde word baie
dikwels deur kringlope beheer. Daar is die siklusse van dag en nag, van
mooiweersdae en reën, van somer en winter, van geboorte en dood en dan
weer die geboorte van nuwe geslagte.
Om
dit te doen moet ons begin by die eienskap van hitte om nie op een plek
te bly nie, maar om te versprei. As hitte nie hierdie vermoë gehad het
nie, sou die hele geskape werklikheid so totaal anders gewees het dat
ons geen denkbeeld daarvan kan vorm nie. Die
drie maniere waarop hitte oorgedra word
As
jy jou vinger op die warm plaat van ’n stoof druk, sal jy
deeglik besef wat geleiding is omdat die plaat blitsig sy warmte na jou
veel kouer vinger sal gelei. Hitte-oordrag deur straling vind, sover dit
ons aardbewoners aanbetref, weer veelal plaas deurdat die son die aarde
verwarm. Maar as jy die ketel aanskakel om koffie te maak, sal die
water in die ketel self weens die verhitting in beweging kom en al hoe
vinniger beweeg namate die hitte toeneem. Daardie rondomtalie-beweging
is konveksie. Konveksie
kan nie in vaste stowwe plaasvind soos by geleiding nie, maar net in
vloeistowwe (byvoorbeeld water) of in gasse (soos dié van die lug). Konveksie
van naderby bekyk
PARTYKEER
kan ’n enkele fisiese proses in die natuur ’n hele verskeidenheid
van werkinge verklaar. Konveksie is só ’n proses. Dit kan hom in alle
groottes manifesteer. Konveksie kan oor slegs enkele millimeters
plaasvind of op ’n skaal groter as die aarde op die oppervlak van die
son. Maar dit werk oral op dieselfde manier. Om
die uitwerking te begryp wat sonverhitting, lugvogtigheid en die oseane
op die weer en klimaat het, moet ’n mens ook die konsep van konveksie
baie mooi verstaan. Presies wat is dit? Die
oordrag van hitte deur lugstrome word konveksie genoem. Die oordrag van
hitte deur waterstrome staan ook bekend as konveksie. Konveksie
is doodeenvoudig die vloeiing van hitte in ’n gas of vloeistof deur
die werklike
beweging van daardie gas of vloeistof self.
Só
word ’n stroom, wat ’n konveksiestroom genoem word, in die gas of
vloeistof opgewek. Hitte sal aanhou om by wyse van konveksie te beweeg so lank as wat daar temperatuurverskille in ’n gas of vloeistof is. In
die winter vind ons dikwels dat geboue aan die binnekant deur middel van
konveksie verwarm word. Verwarmde lug word deur ’n verwarmer naby die
vloer in ’n vertrek ingeblaas en die warm, dunner lug styg op. Koeler
omringende lug vul die leemte aan die onderkant, maar styg self ook op
nadat dit deur die verwarmer beweeg het en verwarm is. Hierdie
lugsirkulasie of konveksiestroom bring mee dat die hele kamer spoedig
lekker warm is. Daar word ook van konveksietrome gebruik gemaak om myne te help ventileer. Konveksie
in die aarde se atmosfeer
STRALING
en geleiding sowel as konveksie is betrokke by die verwarming van die
aarde se atmosfeer. Die
son skyn op aarde—straling—en verhit die aardoppervlak. Hierdie
hitte word deur geleiding van die aardoppervlak na die lug oorgedra. Maar sodra die hitte die
lug bereik, wat natuurlik ’n mengsel van gasse is, neem die proses van
konveksie oor. Wanneer
’n luglaag genoeg hitte van die aardoppervlak ontvang, sit dit uit.
Dit raak dunner en ligter en styg gevolglik op. Kouer, swaarder lug wig
daaronder in en word eweneens verhit waardeur dit ook opstyg. Die
verwarmde, stygende lug verkoel wanneer dit die hoër, kouer vlakke van
die atmosfeer bereik en raak weer digter. Omdat dit nie kan afsak deur
die lug wat steeds van onder af opwaarts gevoer word nie, sprei dit
sywaarts uit en begin dan eers neerdaal. Wanneer
dit weer die oppervlak bereik, word dit opnuut verwarm en nogmaals deel
van die stygende lugkolom. Hierdie konveksiestrome veroorsaak plaaslike
briese, winde, siklone en donderstorms en, op ’n groter skaal, die wêreld
se groot lugsirkulasies. ’n Enkele gebied van stygende en dalende lug
word ’n konveksie-sel genoem. Hitte gaan verlore weens straling in die
ruimte.
Maar
konveksie kan ook droog wees, soos op ’n sonnige dag in die woestyn.
Die son verhit die grond en konvektiewe lugstrome help om die oormaat
hitte van die oppervlak af weg te voer. Trouens,
sowel droë as vogtige konveksie help om die aarde ’n leefbare plek te
maak deur ’n groot deel van oppervlakhitte na hoog in die atmosfeer te
verplaas. Daar is al bereken dat, as daar geen konveksie was nie, die
gemiddelde oppervlaktemperatuur van die aarde sowat 52 grade Celsius sou
gewees het pleks van die huidige 15 grade. Reën
as gevolg van konveksie
DIE tipiese donderstorm wat deur konveksie veroorsaak word, gebeur wanneer die warm son ’n groot massa vogtige lug naby die grond verhit het. Hierdie lug styg op, dy uit en verkoel. Die verkoeling laat die waterdamp in die lug kondenseer, waardeur ’n cumuluswolk gevorm word. (Klik hier vir artikel oor wolke.) Indien die proses voorduur, bereik die kruin van die wolk dikwels ’n hoogte van 6,5 km bokant die basis en die kruin sprei in die vorm van ’n aambeeld uit (foto HIERONDER).
Foto:
HERBERT CAMPBELL / NOAA CENTRAL LIBRARY / NWS Die
onstuimige lugstrome binne-in die wolk veroorsaak ’n gedurige
opbreking en hereniging van die reëndruppels, waardeur hael dalk gevorm
kan word, en genereer sterk elektriese ladings wat as weerlig ontlaai.
Namate die storm ’n gebied nader, word die sagkense stroom warm lug
wat die wolk voed, vervang deur ’n sterk, koue windvlaag vanuit die
teenoorgestelde rigting wat van die basis van die wolk af waai. Stortreën
begin val, wat verminder namate die storm hom uitwoed. Donderstorms
vind die meeste plaas in die aarde se vogtige, warm trope (op party
plekke is daar tot sowat 200 per jaar) en selde in die poolgebiede.
Plek-plek op die groot Suid-Afrikaanse plato word verskeie donderstorms
in ’n jaar beleef, maar langs die kus van byvoorbeeld die Wes-Kaap is
daar gewoonlik baie minder. Die
rol van konveksie in die ontstaan van land- en seewinde
KONVEKSIE
veroorsaak ook die briese langs die kus. Op ’n warm somerdag bak die
son die land en raak dit
warmer as die see. In die namiddag gee die land ’n deel van sy hitte af aan die lug. Die warm lug oor die land styg op. Koel lug
beweeg van die see af in oor die land. Hierdie koel lug is ’n seewind. In
die nag, onder ’n wolkelose hemel, koel die land vinniger af as die
see. Die lug oor die land raak koeler as die lug oor die see. Die koeler
landlug beweeg seewaarts. Dit word ’n landwind genoem. As
jy naby die see woon, of daar vakansie hou, kan dit interessant wees om
op hierdie veranderings in die windrigting te let. Die
aarde se kolkende seestrome wat as gevolg van konveksie aan die maal bly KONVEKSIE
op ’n enorme skaal hou ook in die aarde se oseane aan die maal.
Trouens, die grootste
waterstrome op aarde is nie die riviere op die land nie, maar die
seestrome in die see. Die
seewater in die omgewing van die ewenaar word sterk deur die son verhit.
Die warm water is ligter in massa as die koue water na die suide en
noorde. Dit lei tot magtige seestrome wat ál langs die vastelande heen
vloei en die klimate van aangrensende landstreke beïnvloed afhangende
daarvan of hulle warm of koue strome is.
Die
rigting van die seestrome word egter ook deur ander dinge bepaal, soos
heersende winde, landvorms en die draaiing van die aarde om sy as. In
die reël is die kolking soos die horlosiewysers loop in die Noordelike
Halfrond en andersom in die Suidelike Halfrond. Aan
Suid-Afrika se weskus vloei die koue Benguelastroom noordwaarts na die
ewenaar, terwyl die warm Mosambiekstroom langs ons ooskus suidwaarts
beweeg. En
die konveksiestrome in die vuurwarm maag van die aarde
ONS dink dalk aan die aarde as ’n groot ronde bal van soliede gesteentes, maar dit is allermins die geval. Dit is slegs die boonste "skilletjie", wat ons die aardkors noem, wat uit vaste silikaatgesteentes bestaan. Hierdie aardkors is net tussen vyf en sewentig kilometer dik, maar die straal van die aarde, dit wil sê die afstand van die oppervlak na die middelpunt is ’n hele 6371 kilometer. Onder
die aardkors lê die sogenaamde aardmantel. Dit strek sowat 2900
kilometer ondertoe en bevat ook baie silikate, wat vanweë die groot
hitte in ’n plastiese, plooibare of sê maar taai-vloeibare toestand
is. Verder
tot by die middelpunt lê die aardkern, waarvan die buitenste deel ’n
gloeiend warm inferno van hoofsaaklik vloeiende yster is. Maar op ’n
diepte van sowat 5100 kilometer stol selfs die yster onder die geweldige
druk (omtrent 3,2 miljoen atmosfere!), met die gevolg dat die aarde wel
’n vaste bal in sy kern het. Baie
wetenskaplikes is dit eens dat daardie ronde binnekern uit soliede yster
of yster-nikkel in ’n feitlik suiwer vorm bestaan—’n bal met
straal van meer as duisend kilometer en dus ’n deursnee van by die
twee en ’n halwe duisend kilometer. Kon ons maar net ’n deeltjie van
al daardie yster ontgin het! En
die aarde se ingewande is gedurig aan die roer. In die buitekern, reken
geoloë, is daar lewendige konveksiestrome deurdat die vloeibare yster
van die superverhitte binnekern af opstyg en daarna neerdaal as dit
kouer word—net om weer op
te styg. Hierdie
eindelose kringloop het ’n dinamo-effek. Dit skep ’n magneetveld wat
tot ver buite om die aarde strek. Die magneetveld help ons planeet
beskerm teen vyandig gelaaide deeltjies wat die son vurig na ons toe
uitwerp. Alles getuienis van die wonderlike harmonie in die skepping.
Die
aardkors is nie alles in een stuk soos die buitekant van ’n tennisbal
nie, maar bestaan in der waarheid uit verskillende plate, omdat die
rotsagtige oppervlak plek-plek gebars het. ’n Mens kan aan die plate
dink as reusagtige vlotte van ligter gesteentes wat op ’n see van
sagter en digter gesteentes dryf. En
hierdie see bly net soos die oseaan van water aan die beweeg... deur die
natuurverskynsel van konveksie wat ons planeet op verskillende maniere
so wonderlik bewoonbaar vir lewende wesens maak. |
|
|
Het
jy geweet?
ONVEKSIE
kom ook in die son voor. Op ’n hoëresolusie-witligfoto van die son
sien ’n mens ’n patroon wat nogal na graankorrels lyk. Hierdie
korrelrigheid word deur baie groot konveksieselle veroorsaak. Die helder
middeldeel van elke sel is die kruin van ’n stygende kolom warm gas.
Die donker rande van elke korrel is die afgekoelde gas wat begin
neerdaal om herverhit te word. Hierdie korrels is so groot soos die
aarde en groter. Hulle is gedurig besig om te ontwikkel en te verander. |
|