Mieliestronk-ekstra: ’n Romantiese kortverhaal
met ’n verrassende slot

 
Twee silwerstukke vir koning Midas
        

 Ter illustrasie

Ter illustrasie: gewysigde eenkleurgawe van kleuromslag van historiese klankplaat (1920) getiteld “Girl of My Dreams Song”. Krediet: U.S. Library of Congress

Jare nadat hy en die jong meisie van sy hart hul kosbare kleinoodjies vir die wêreld weggesteek het, keer die ou man terug om dit te probeer vind. En toe kry hy dit waarna hy nie gesoek het nie . . .

Kortverhaal © Mieliestronk.com  Kopiereg streng voorbehou

“E 

 

K GAAN ryk word,” sê die ou man op die verskimmelde treinbank langs my. “Ná ’n lewe van armoede gaan ek skatryk word, meneer.”

 

Hy kyk ’n oomblik na die diepgroen landskap wat hier buite verbyflits en dan weer terug na my toe. Daar is ’n vonkel in sy oë wanneer hy lakonies byvoeg:

 

“Net twee silwerstukke gaan my omtrent ’n halwe miljoenêr maak,

begryp u?”

 

Ons is op die dagtrein van Djakarta na Djokjakarta. Op die eiland Java, in die Republiek van Indonesië, reis ek as ’n Suid-Afrikaanse toeris met die wêreld se tyd tot my beskikking.

 

My bejaarde reisgenoot is, soos die meeste Indonesiërs, onteenseglik Maleis. Maar sy koperbruin vel is ook al erg gekreukel deur ’n leeftyd van vermoeienis, en die steil hare wat eens baie swart moet gewees het, is nou so flets soos doodgerypte gras. Ou oë trek op skrefies onder die Mongoleplooie van die boonste ooglede.

 

Sy naam is Barito. Hy is genoem—só het hy my vroeër al vertel—na die rivier Barito, omdat hy aan die oewer van die rivier gebore is op die eiland Borneo. Presies hoe lank gelede dit was, kan Barito nie met sekerheid sê nie. Maar dit is duidelik (en hy laat jou dit ook baie duidelik verstaan) dat hy nie meer vandag se kind is nie.

 

Sy naam is Barito, maar ek noem hom sommer koning Midas! Dis immers ons Suid-Afnkaners se swak om hovaardig byname uit te deel aan al wat voorkom, so asof elkeen van ons nie ook maar dikwels ’n spotnaam verdien me.

 

Maar Midas was mos die koning in die Griekse mitologie wat alles waaraan hy geraak het in goud laat verander het. Die ooreenkoms is miskien nie baie suiwer nie, maar Barito se obsessie oor sy besondere silwerstukke het my op ’n manier laat dink aan die legendariese Midas se beheptheid met goud.

 

Ek het in die Indonesiese hoofstad Djakarta met Barito kennis gemaak toe hy geld by my kom bedel het. Hy wou tremgeld bymekaarmaak om na die ander stad Djokjakarta te reis, het hy gesê. Daar lê ’n groot skat vir hom begrawe.

 

Ek het eers geen woord geglo van wat die ou man te vertel gehad het toe hy my daar in die straat bydam nie. Maar nadat hy sy verhaal aan my in soveel besonderhede vertel het, het ek dit so interessant gevind dat ek besluit het om nie net sy treinkaartjie na Djokjakarta te koop nie, maar ook saam met hom te gaan.

 

Die res van my vakansie in Indonesië kan ek mos net sowel op hierdie manier deurbring, het ek gereken. Boonop het ek tot dusver heelwat minder geld uitgegee as wat ek aanvanklik begroot het. Kom ons maak dan ’n bietjie pret!

 

Ou Barito (“koning Midas” ) is natuurlik in die wolke oor my vrygewigheid. Hy het selfs belowe om mildehk aan my te dink wanneer hy binnekort “skatryk” is. Maar ek het hom darem goed laat verstaan dat ek nie in sy fantasiese “erfenis” belang stel nie en dat hy ook nie die spreekwoordehke vel moet verkoop voordat die beer nog geskiet is nie.

 

Nou ry ons saam op die trein na Djokjakarta. En terwyl ’n tropiese soelte oor die geil plantewêreld langs die treinspoor draal en ’n skerp Septemberson ’n mens sugtend laat verlang na die nat, bewolkte tyd van die wes-moeson, dink ek weer aan ou Djakarta se storie/

 

Watter vreemde verhaal is dit nie!

 

JARE gelede—toe hy ’n kind en later ’n jong man was—het hy by sy ouers in Djokjakarta gewoon Hulle het van Borneo af soontoe verhuis toe hy nog baie klein was.

 

Sy pa was ’n pottebakker, wat in hul buurt ’n taamlik geëerde man was, maar nie veel meer wêreldsgoed besit het as ’n klompie poue nie. Sy ma was ’n tenger klein vroutjie met ’n hart van goud—so mededeelsaam dat sy dikwels sou honger ly om ’n vreemdeling te help wat om ’n porsie rys kom aanklop het.

 

Die jong Barito is van kleins af deur sy pa onderrig in die pottebakkerskuns, waarvoor hy eintlik maar min liefde gehad het, en van formele skoolopleiding soos ons dit vandag ken, was daar nie sprake me. Eers in latere jare sou hy homself leer lees en skryf in ’n wanhopige poging om sy lewensomstandighede te verbeter. Hy het darem vroeg al ’n bietjie Engels geleer . . .

 

Dit was toe ’n Engelsman, wat homself as ’n kolonel voorgestel het, ’n paar maande lank by sy ouers geloseer het. Wat die kolonel daar in hul geweste kom maak het, kan ou Barito hom vandag kwalik herinner, maar hy onthou dat die man ure aaneen kon gesels oor sy ervarings m dié of daardie oorlog.

 

En die kolonel het hom twee silwerstukkies present gegee.

 

Twee baie ou, blinkgevryfde, heel besonderse silwermunte.

 

Wat—só het Barito gedink—hier in Java niks werd was en niks kon koop nie.

 

Daarom het hy die silwerstukkies gaan begrawe.

 

Nee, wag, eintlik het hy die silwerstukkies eers ’n paar jaar later begrawe op daardie presiese dag toe hy en Maria beloof het om mekaar getrou te bly. Dis darem geen gebruik in Indonesië om geld onder die grond te bêre as jy en ’n meisie jul liefde aan mekaar verklaar nie, maar die dag het hy en Maria sommer besluit om so te maak Dit het so gebeur:

 

Reg agter sy ouerhuis, naby die afdak vir die poue, het hy en die buurdogter in stille liefde gestaan en die dag was ’n polsende, warm heerlikheid.

 

Hy wou haar oorlaai met juwele, maar het niks gehad om haar te gee nie, buiten die twee uitlandse silwerstukkies, wat hy die vorige dag met skoon sand weer blink gemaak het.

 

“Maria,” het hy gesê—haar ouers het die Christehke geloof aangeneem gehad, vandaar haar naam—“Maria, jy moet hierdie silwermuntjies altyd bewaar as ’n pand van ons liefde.”

 

“Nee, Barito,” het sy sag gesê. Toe het ’n deel van haar raafswart hare oor haar lieflike gesig geval metdat sy vooroor gebuk en met haar hand ’n kring op die grond gemaak het. “Begrawe hulle hier in die gruisgrond. As ek die pand moet bewaar, raak dit dalk weg, maar as die aarde dit bewaar, bly dit daar vir ewig.”

 

En haar diepdonker oë het in syne gepraat van ’n liefde wat altyd sou bly.

 

Maar dit sou nie.

 

Presies drie maande nadat hy die silwerstukies letterlik byna ’n meter diep in ’n konfytblikkie onder die grond begrawe het, het hy en sy ouers op trek gestaan na ’n nuwe tuiste ver weg in die hoofstad—en Maria wou hom skielik nie meer ken nie.
 

“Jy gaan weg, Barito, na ’n vreemde plek,” het sy afsydig gesê. “Jy gaan nou daar woon en jy gaan my vergeet. Dit is beter dat ons ons verhouding beëindig.”

 

Hy en sy ouers het weggetrek uit Djokjakarta—hy met ’n gebroke hart, maar sonder dat hy dit selfs oorweeg het om die silwerstukkies weer op te grawe.

 

Tot nou die dag—baie, baie jare en ’n leeftyd later.

 

OU BARITO het in sy plakkershuis in die Indonesiese hoofstad iemand se weggooi-koerant sit en lees toe ’n klein beriggie hom skielik soos ’n bomskerf tref.

 

“ ’n Museum in Londen,” het dit gelui, “is dringend op soek na twee verlore oud-Egiptiese silwerstukke, wat volgens die kurator van die museum minstens 3 000 jaar oud moet wees. ’n Britse professor in die argeologie is so gretig dat die silwerstukke opgespoor moet word dat hy bereid is om ’n ongelooflike honderdduisend pond vir elke silwerstuk te betaal.”

 

Dit het geblyk dat die vermiste silwerstukke deel was van die argeologiese vondste in die praalgraf van die een of ander Egiptiese hooggeplaaste (darem nie ’n farao nie). Tydens opgrawings ’n ent van die ou vloedvlakte langs die Nyl in die jare dertig, is alles uit die graftombe verwyder, waarna dit in ’n skatryk persoon se private versameling van oudhede beland het.

 

Met dié persoon se onlangse dood is alles aan die museum in Londen bemaak, maar daar is toe agtergekom dat net twee artikeltjies van die oorspronklike grafinhoud nie meer daar is nie: twee klein, oënskynlik nietige, ronde silwerstukkies, wat op die oë van die mummie in die sarkofaag gelê het.

 

Wat die doel daarvan was, weet niemand nog nie, maar een sekere professor het dit nou een van sy lewenstake gemaak om uit te vind. Dit is hy wat nou die fortuin aanbied aan enigeen wat dalk nog die silwerstukkies besit en dit vir hom sal bring.

 

“Daar is aanduidings dat ’n veel bereisde Britse offisier jare gelede die silwerstukke na die Ooste kon geneem het,” het die berig afgesluit. “Daar is afbeeldings of hiërogliewe van voëls en golwende lyne wat water kan voorstel op die fabelagtige munte, wat egter waarskynlik nie as geld in die antieke Egipte gebruik is nie.”

 

Toe het ou Barito die koerant bewend uit sy hand laat val. Hy het maar alte goed onthou hoe sy twee silwerstukkies gelyk het . . .

 

DIS SKEMERAAND wanneer ek en my bejaarde reisgenoot met die trein in die stad aankom waar hy sy jeugjare geslyt het: Djokjakarta.

 

’n Fietskar flits gevaarlik naby ons verby terwyl ons aanstap deur die strate. Iewers is daar vanaand ’n groot tradisionele dansuitvoering, blaker ’n jongeling dit teenoor die wêreld uit.

 

Ou Barito verseker my dat die ou huis van sy pa naby genoeg is om te loop. En dit staan vandag nog, daarvan het hy tevore reeds baie seker gemaak. Ons kan binne tien minute daar wees . . .

 

Tien minute later staan ons dan ook by die vervalle ou woongebou—maar dis ’n verslae ou man hier langs my. Die huis is daar wel nog, ja, maar agter waar die poue was (en hy die silwerstukkies begrawe het) loop ’n breë afvoersloot so diep as wat drie mense lank is.

 

Ou Barito stut homself teen ’n boom en dit lyk of hy wil weeklaag teenoor die sterre, maar hy uiter geen woord nie. ’n Goeie vyf minute staan hy daar roerloos.

 

Dan kom ’n jong meisie versigtig vra wat ons daar soek. Sy is pragtig met haar lang, raafswart hare, en by haar aanskoue kry ou Barito ’n tweede skok.

 

“Wat is jou naam kind?” vra hy afgetrokke, so asof hy die antwoord ken en nie juis verwag dat sy iets moet sê nie.

 

“Maria.”

 

“Waar woon jy?”

 

“Daar by daardie huis. By my grootmoeder. Sy is ’n weduwee  . . . en sy hou nie daarvan dat vreemde mense in die aand hier naby haar huis ronddwaal nie.”

 

“Sy woon al baie jare in dieselfde huis, nè?”

 

“Haar lewe lank, as dit vir u van belang is.”

 

“En haar naam is ook Maria?”

 

“Hoe het u geweet?”

 

DIE volgende more vertrek ek alleen met die trein uit die stad Djokjakarta. My bejaarde ou vriend bly hier agter.

 

Hy het hierheen gekom—na die plek waar hy jare gelede gewoon en liefgehad het—hy het hierheen gekom om ’n verlore skat te vind.

 

En hy het.

 

 •

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad