’n Deel van die teks van hierdie artikel kom uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
BY
hul primitiewe smeltkroes swoeg ’n groepie Midde-Oosterse baardmanne tot
in die skemeraand oor die vuur. Hulle het klonte tin-erts en koper in fyn
stukkies opgebreek—dit laat saamsmelt deur die kole met ’n blaasbalk
tot ’n witwarm gloring aan te jaag. Die gesmelte brons wat hulle verkry,
word in ’n gietvorm gegiet. Dis
toe een van die ruwe werkers ’n slag sy moeë spiere rek en hemelwaarts
kyk dat hy die skouspel sien. Skuins bokant die westerkim, in al sy
kosmiese glorie, hang ’n ligtende ''ster'' met ’n stert in die stille
skemering van die vroegaand. ’n
Teken? ’n Voorbode? ’n Seker bewys van ’n komende onheil? Bedug gooi
die bronssmelters hul gereedskap neer en slaan voet in die wind na hul
naaste toordokter om te hoor wat aan die gang is. Nagenoeg
vier millenniums later, in ons tyd,
verskyn dieselfde komeet vir
die eerste keer weer in die naghemel en is dit ’n
sterrekundige sensasie. Dis hoe groot die omwentelingsbaan kan wees van
komete, wat as die swerwers van die sonnestelsel beskryf kan word. In
teenstelling met die planete, wat min of meer in sirkels om die son
wentel, beweeg die komete in enorme elliptiese bane. Nóú
is hulle digby die son, dán weer vort die ruimte in om hul draai
tientalle, honderde of duisende jare later in die donker ongenaakbaarheid
anderkant die buiteplaneet Pluto te gaan maak. Komete
is konglomerate van puin en ys, ''vuil sneeuballe'' as 't ware, met kerne
wat eintlik verrassend klein is. Só was die deursnee van Hale-Bopp, wat
80 persent water was, en in die laat twintigste eeu hier by ons gekuier
het, maar omtrent 40 km. Vergelyk dit met die aarde se ekwatoriale
deursnee van 12 756 km en die ontsaglike 1 392 000 km van die son. (Die
kern van geroemde komeet van Halley [kyk
onderaan hierdie bladsy] wat ons met sy laaste besoek bra
teleurgestel het, was slegs ’n petieterige 20 km breed.) Komete
ontwikkel ook slegs sterte wanneer hulle naby die son kom. Dit is dan
wanneer die sonlig die gasse in die komeet begin verwarm. Die sonwind
tref ook die komeet met ’n duiselingwekkende snelheid, waardeur die
gasdeeltjies in geleerde taal geïoniseer en as ’n reguit stert
uitgeskiet word—weg van die son af. Die stert is dus, om dit so te stel, eintlik ’n groot bohaai oor niks. Want as ’n mens jou iets wil voorstel wat byna nie eens bestaan nie, is dit só ’n skimagtige maar veel geprese stert. ’n Mens kan sê die stert se deeltjies is omtrent so yl versprei soos ’n handjievol mielies op ’n hele hektaar grond, ’n dun sweempie dampe in ’n onmeetlike uitgestrektheid, miljoene kilometers lank.
REGS: Halley se komeet kan een maal elke sowat 76 jaar met die blote oog gesien word wanneer hy sy draai naby aan die son kom gooi. Dan gebeur wat tipies met ’n komeet gebeur wat naby die son kom. Die son se hitte laat van die ys op die oppervlak van die kern verdamp sodat gas en stofdeeltjies in die ruimte uitgewerp word. Hierdie gas en stof (Engels "dust") vorm ’n newelmassa om die planeet se kern. Die newelmassa staan bekend as ’n koma. Sonstraling druk stofdeeltjies weg van die koma en hierdie deeltjies vorm ’n stert wat die stofstert genoem word. Terselfdertyd skakel die sonwind sekere van die komeet se gasse om in ione of gelaaide deeltjies. (Die sonwind is ’n stroom elektriese gelaaide deeltjies wat blitsvinnig uit die son vloei.) Die ione skiet ook weg van die komeet se koma af en vorm ’n ioonstert. Omdat komete se sterte—wat ook roeie genoem word—deur die sonstraling en die sonwind gedruk word, wys hulle altyd weg van die son. Party sterte kan tot meer as 150 miljoen kilometer ver strek. Die lewe van ’n komeet
Wetenskaplikes reken dat kortperiode-komete afkomstig is van ’n string voorwerpe in ’n komeetwolk wat die Kuipergordel genoem word, wat anderkant die wentelbaan van Pluto in die naaste buitewyke van die sonnestelsel lê. Die aantrekkingskragte van die buiteplanete kan voorwerpe uit die Kuipergordel loswikkel en na die binnekant van die sonnestelsel laat beweeg , waar hulle dan aktiewe komete word. Langperiode-komete kom op hul beurt van ’n ander komeetwolk, die sogenaamde Oortwolk, ’n byna bolronde versameling ysige liggame (“vuil sneeuballe’’ van ys en stof) doer ver in die verste donker buitewyke van die sonnestelsel. Trouens, hierdie bron van komete is sowat duisend keer verder van die son af as die wentelbaan van Pluto. Die Oortwolk is verreweg die grootste van die twee komeetwolke en die meeste komete kom hiervandaan. Swaarteveld-interaksies met verbygaande sterre kan veroorsaak dat sy ysballe die sonnestelsel binnedring en aktiewe komete word. Hulle is egter as’t ware maar net die puntjies van ’n massiewe ysberg wat die sonnestelsel omring! Komete verloor ys en stof elke keer wanneer hulle na die binneste deel van die sonnestelsel terugkeer en laat spore van stofpuin agter. Wanneer die aarde deur een van hierdie spore beweeg, word die puin gesien as meteore ("verskietende sterre") wat in die atmosfeer uitbrand. Uiteindelik verloor party komete al die ys in hul samestelling en verbrokkel hulle tot stofwolke of verander hulle in brose, onaktiewe voorwerpe wat met asteroïdes ooreenstem.
Kan
’n komeet teen die aarde bots? DIE
lang, ovaalvormige wentelbane van komete kan inderdaad die byna
sirkelvormige bane van die planete kruis. En
sommige van die asteroïdes
waarvan die wentelbane dié van die aarde kruis, kan moontlik die
rotsagtige oorblyfsels van verbrokkelde komete wees.
Wat meer sê, baie van die impakkraters in die sonnestelsel is deur botsings met komete veroorsaak. In 1994 het brokstukke van die komeet Shoemaker-Levy 9 die digte atmosfeer van die reuse-planeet Jupiter met snelhede van sowat 210 000 km/h gepeper. Toe hulle teen die planeet gebots het, is vuurballe groter as die aarde deur die massiewe ontploffings opgewerp.
Maar hoe groot is die kans dat ’n komeet-aarde-botsing in ons leeftyd kan gebeur?
Party
mense raak reeds om die vreemdste redes paniekbevange wanneer ’n komeet in die hemelruim
verskyn. Pleks van dit te aanvaar as ’n blote sterrekundige fenomeen,
lees hulle allerhande vreemde ''boodskappe'' in die verskynsel—partykeer
met noodlottige gevolge.
Só
was die wêreld ’n klompie jare gelede geruk toe 39 sektelede in Kalifornië saam selfmoord
gepleeg het met die koms van die komeet Hale-Bopp. Hulle het naamlik geglo daar is ’n ruimteskip in die komeet se
stert, wat hulle ná hul dood sou wegvoer na ’n hoër evolusionêre
vlak. En
in 1910, toe die aarde ongeskonde deur die stert van die komeet van Halley
beweeg het, het baie vreesbevange mense gedink dit is die einde van die wêreld
en ook selfmoord gepleeg.
Daar
is wel wetenskaplikes wat vermoed dat die aarde elke 22 miljoen jaar ’n
hoogs rampspoedige ontmoeting met die een of ander hemelliggaam het. Die
skielike verdwyning van die dinosourusse, sê hulle, kan aan een só ’n
botsing toegeskryf word. Die volgende skermutseling verwag hulle oor so
elf miljoen jaar.
Wat ’n mens herinner aan die reaksie van ’n grapjas toe hy dit aan hom vertel is: "Sjoe, dankie tog, ek was net bang dit kan dalk reeds oor een miljoen jaar gebeur!" |
||||||
|
Halley
se komeet—waar die naam vandaan kom
Krediet: U.S. Library of Congress HALLEY
se komeet, die beroemdste periodieke komeet, is genoem na die Britse
sterrekundige Edmund Halley. Halley het vasgestel dat ’n helder komeet
wat in 1682 verskyn het in der waarheid in ’n elliptiese baan beweeg wat
hom op gereelde tye weer en weer na die binnekringe van ons
sonnestelsel—en dus binne sig van ons aardmense—bring. Volgens
sy berekeninge was dit dieselfde komeet wat in 1456, 1531 en 1607
waargeneem is. Deur gebruik te maak van Newton se teorie oor
swaartekrag—en met inagneming van die invloed van die swaartekragte van
die groot planete Jupiter en Saturnus op die komeet se baan—kon Halley
voorspel wanneer die komeet weer sou verskyn.
|
||||||