|
Artikel vir Mieliestronk.com nagesien deur prof. dr. Ansie Dippenaar-Schoeman, wat ook die foto’s van Suider-Afrikaanse spinnekoppe verskaf het. Dr. Dippenaar-Schoeman is spesialiswetenskaplike by die Spinnekopnavorsingsentrum van die Landbounavorsingsraad, Pretoria. |
||||||||||
Liefste bruidegom,
|
||||||||||
|
BO: Die bruin knopie Latrodectus geometricus is kosmopolities, Hulle kom in baie lande voor en is nie inheems in Suidelike Afrika nie, maar is van ’n onbekende plek af hierheen ingevoer of het na ons wêrelddeel verhuis.
• Daar is meer as dertig spesies van die knopiespinnekoppe op aarde. In Suid-Afrika kom ses spesies voor wat in twee groepe verdeel word, naamlik die vier swart knopies wat as baie giftiger beskou word as die twee soorte bruin knopies. Die swart knopies is heeltemal swart met rooi patrone bo-op die agterlyf. Die bruin knopies se kleur kan egter varieer van roomkleurig of geelbruin tot donkerbruin of swart, en selfs grys, maar hulle het altyd ’n baie duidelike rooi-oranje uurglas-patroon onder die pens.
LEIN maar bitterlik vol venyn—só is die knopiespinnekop. Trouens, hul gif kan per volume giftiger wees as die gifstowwe van slange... druppel vir druppel glo kragtiger as dié van ratelslange en kobras. Só is vroeër, miskien ietwat alarmisties, in sekere publikasies beweer.
Daar is ook al gesê dat die knopie se gif gevaarliker kan wees as dié in die angels van die aarde se gevaarlikste skerpioene.
Hoe sterk die gif egter werklik is, is debatteerbaar, maar ons moet verstaan dat hierdie kalant nie om dowe neute giftig is nie. Knopiespinnekoppe het hierdie sterk gif nodig omdat hulle as predatore (roofdiertjies) ’n baie belangrike rol in die beheer van pes-spesies speel.
Elkeen wat dus ’n veldtog op tou wil sit om alle knopies voor die voet te verdelg, moet eers baie mooi dink wat hy of sy in die proses aan die brose ewewig in die natuur gaan doen.
Die
argument dat knopiespinnekoppe soos terroriste daarop uit is om
mense by te kom, hou in elk geval nie steek nie. Hulle is skugter
skepseltjies. Boonop is hulle baie klein in verhouding tot die
mens en skei hulle persentasiegewys soveel minder van hul gif in jou
liggaam af wanneer hulle jou byt.
Maar om knorrig oorlog te verklaar teen die “verpestelike” knopie sal eenvoudig nie deug nie. Wees waaksaam, maar moenie oorboord gaan nie. En bewaar waar jy enigsins kan.
ONS land se vier swart knopiespesies, wat die meer giftige spesies is, kom meer in die natuurlike veld voor, teenoor die bruin knopie wat om huise woon en as minder giftig beskou word. Wat meer sê, farmakoloë van die Tygerberg-hospitaal in die Kaap het al deur navorsing vasgestel dat die bruine se gif maar net sowat ’n derde so sterk as dié van die swarte is.
Genadiglik is daar ’n doeltreffende antiserum teen die gif van hierdie tipe spinnekoppe. Word jy deur ’n knopie gebyt, moet jy dus liefs dadelik na jou dokter gebring word, of na ’n ander medikus of die ongevalle-afdeling van jou naaste hospitaal. Vir veral kinders, siekes en ouer mense kan só ’n byt wel baie gevaarlik wees.
As dit moontlik is, moet jy tog daardie één karnallie doodmaak wat jou lewe kom versondig het. Bring dit dan met jou saam sodat dit uitgeken kan word, want straks is dit nie ’n knopie nie en kan jy voorkom dat jy dalk onnodig die antiserum ontvang.
Plaaslik word die antiserum teen knopiespinnekop-gif deur die Suid-Afrikaanse Instituut van Entstofproduseerders (South African Vaccine Producers Institute) in Edenvale aan die Oos-Rand in Gauteng vervaardig. Dit kan ook van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mediese Navorsing in Johannesburg verkry word. NÁ byte deur die Suid-Afrikaanse spesies is die volgende simptome kenmerkend by hul menslike slagoffers: • Skerp brandpyn ná byt.
BAIE BELANGRIK, WANT DIT VERSKIL VAN DIE BYT VAN DIE ANDER
MEDIES BELANGRIKE SPINNEKOPPE
WAT NIE SEER IS NIE. (Let egter ook op dat dit nie vir alle
spinnekoppe geld nie, net vir die medies belangrike soorte.) Slegs in 70% van die gevalle is die bytplek sigbaar. Vir stedelinge en dorpenaars is dit ’n seën dat die swart knopiespinnekop hier by ons, soos ons gesê het, in die reël in die veld voorkom—in byvoorbeeld natuurlike fynbos en sulke plekke. Ewe gerusstellend is dat hy jou nie van bloeddorstigheid sal bespring nie en jou selde sal byt tensy jy hom vasdruk of bedreig.
Dit is
voorts belangrik om te meld dat nie-kenners baiemaal die sogenaamde
vals knopie vir ’n knopiespinnekop aansien. Die vals knopie (Theridiidae Steatoda sp.) is swart,
lyk soos die knopie en het dieselfde grootte, maar is sonder enige
patrone en die pote is effens korter as dié van die knopie.
’n Vals knopie (LINKS BO) en ’n vals huisknopie (REGS BO).
Ons het reeds genoem dat ons wêrelddeel twee groepe knopiespinnekoppe huisves, naamlik die swartes en die bruines. Hierdie groepe word inderdaad ruweg op grond van hul kleur van mekaar onderskei. Die swart knopie is heeltemal swart met rooi patrone bo-op die agterlyf. Die “bruin” knopies se kleur kan egter varieer van roomkleurig of geelbruin tot donkerbruin of swart, en selfs grys, maar hulle het altyd ’n baie duidelike rooi oranje uurglas-patroon onder die pens. Suidelike Afrika se swart spesies is:
Die twee soorte “bruines” is:
. DIT is verder interessant, maar seker nie verbasend nie, dat ons knopiespinnekoppe se boeties en sussies kruis en dwars oor die wêreld aangetref word... en ook gevrees word. In die einste genus Latrodectus, in die familie Theridiidae, is daar naamlik meer as dertig erkende giftige spesies.
En waar mense baiemaal na dié geniepsige dierasietjie as ’n “hy” verwys wanneer hulle daaroor praat, moet hulle mos eintlik “sy” sê. Die wyfie is mos die eintlike byter, want slegs haar bytdele is kragtig genoeg om die menslike vel te deurboor. Sy is ook heelwat groter as haar bleker (en bleeksielige) Jan Salie-mannetjie, wat nie maklik raakgesien word nie, behalwe miskien as hy hom naby ’n wyfie bevind.
As ’n mens boonop verneem dat die wyfies dikwels die mannetjies harteloos doodmaak nadat hulle gepaar het, is dit nie verrassend dat die knopiespinnekoppe in die VSA en elders “swart weduwees” genoem word nie. (Anders as wat baiemaal gedink word, kan die mannetjies egter steeds daarin slaag om nog wyfies te bevrug as hulle op die een of ander manier betyds kan wegkom van hul kannibaalse bruide.)
In Noord-Amerika is daar verskillende soorte swart knopies, soos die suidelike, noordelike en westelike tipes, maar hulle staan almal beked as “black widows”. Die “southern black widow” is die bekendste.
Foto: K. Korlevic, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain at Wikimedia Commons”)
In Australië heet knopiespinnekoppe weer “red back spiders” of “redbacks”, terwyl hulle in die Arabiese wêreld bekend staan as jokkie-spinnekoppe en in Rusland as swart wolwe. Die Nieu-Seelanders praat van die Katipo of “night stinger”.
REGS BO: ’n Amerikaanse “black widow” besig om ’n web te weef om insekte te vang.
Foto: U.S. National Park Service
DIE knopieswyfie lê haar eiers in sakkies, wat sy aan die kant van haar web vasheg. Ná ’n week of twee, drie broei haar swetterjoel kleintjies uit—miskien meer as honderd uit ’n enkele sakkie.
Die piepklein kleintjies ry letterlik op die winde totdat hulle ’n plek vind waar hulle hulle kan vestig. Daar sal hulle verskeie kere vervel, hul eie web bou en op hul beurt paar en vermenigvuldig. Hulle kan tussen ’n jaar en een en ’n halwe jaar bly lewe en sal in dié tyd van allerhande insekte leef.
En hulle sal nie huiwer om hul gif te gebruik as ek en jy met hulle lol en hul voortbestaan bedreig nie. Mense op uitstappies wat byvoorbeeld al die bossiewêreld hurkend gebruik het om die nodige te doen, sal kan getuig hoe verskriklik onaangenaam hul kaalbas-kennismaking met ’n knopiespinnekop was.
Om twee bekende uitdrukkings in ’n nuwe verband aan te wend: Al skop jy hierdie soort goggas miskien nie agter elke bos uit nie, is dit raadsaam dat jy waaksaam sal bly in die veld en altyd sal kyk waar lê die knoop! |
||||||||||
|
BELANGRIK: Inligting in die artikel hierbo moet nie gebruik word tydens enige mediese noodgeval of vir die diagnose of behandeling van enige mediese toestand nie. Slegs ’n dokter of ander verpleegkundige moet vir die diagnose en behandeling van alle mediese toestande geraadpleeg word. |
||||||||||