|
Daar
is meer knaagdier-spesies as spesies in enige ander soogdier-orde—meer as 400
genera en sowat 2000 spesies wat wyd en syd oor die aarde versprei is.
Die bekendstes is natuurlik die rot en die skugter muis in jou
huis.
Maar dan is daar ook nog die
1,3 meter lange hondagtige kapibara, die dambouer-bewer, die slapende
relmuis, die vlieënde eekhorinkie... ’n bonte menigte... •
In hierdie besonder omvattende artikel word
gekyk na knaagdiere en hul drie subordes: die eekhoringagtiges, die
muisagtiges en die ystervarkagtiges. |
|||
|
Foto: Yellowstone / U.S. National Park Service
PRAAT
van ’n respektabele "begrafnis"... en dit nogal vir ’n dier.
Maar vir die woud-Indiane van Amerika was die bewer nie sommer so ’n dier nie.
’n Mens kan maar net lees wat ene Grey Owl geskryf het, die
beroemde half-Indiaanse pelsjagter wat sy avonture in Kanada in die 1930’s opgeteken het... Nadat
’n bewer doodgemaak was vir sy pels, het hy vertel, is die
"lyk" met groot agting uitgelê, ’n
sonderlinge
ritueel waarin die kadawer kwansuis gemaklik gemaak is. Die
voorpote, agterpote en stert, wat afgesny is toe die pels verwyder is,
is langs die lyf neergelê, of miskien bo-op geplaas. Waar
moontlik, is die "ontslapene" dan deur ’n gat in die ys laat
sak. Bewers wat vir hul vleis doodgemaak is, se knieskywe is weer
verwyder en die oorskot seremonieel verbrand. En
as enigiemand taktloos genoeg sou gewees het om te vra waarom doen hulle dit,
sou die Indiane geantwoord het: "Ozaam tapskoche anicianabe, mahween—omdat hulle so baie nes Indiane is..." Baie
net soos mense? Daar is dié wat vandag nog glo bewers is besonder
intelligent en kan redeneer. Maar navorsing het getoon dat hierdie
lede van die soogdier-orde Rodentia—die knaagdiere—geen
groter verstandelike vermoëns as hul knaagdier-neefs die rotte en
muise het nie. Knaagdiere
is die volopste van alle soogdiere, sowel wat hul getalle as hul
verskeidenheid betref. Tussen ’n derde en die helfte van alle lewende
landsoogdiere behoort tot hierdie orde. Hulle
wissel van die 1,3 m lange hondagtige kapibara van Suid-Amerika tot die
10 cm korte noordelike dwergmuis van Amerika, van die dambouer-bewer
en die slapende relmuis tot die vlieënde eekhorinkie en die lemming. Byna
oral op aarde sal jy knaagdiere vind—en nou praat ons nie net van
rotte en muise nie. Laasgenoemdes trek wel altyd die meeste
aandag omdat hulle soveel gesaaides verniel en siektes dra. Maar die
meeste knaagdiere lei interessante en onopvalllende lewens in die hoeke
en skeure van bosstreke, digte oerwoude, ruwe woestyne en besneeude
gramadoelas. Dis ook nie verniet dat ons hulle KNAAG-diere noem nie. Daardie tande is immers hul opvallendste eienskap. Met twee bo- en twee onder-snytande wat soos beitels gevorm is, word kleingeld gemaak van harde voorwerpe. Hoewel
die tande aan die punte wegslyt, bly hulle groei solank die dier leef en
verslyt hulle net wanneer hy oud is. Daar is ook kiestande en
voorkiestande waarmee gekou word.
Knaagdiere het besonder sterk tande en dit is bekend dat rotte al selfs gate in loodpype gebyt het. Bekyk ’n mens die skedel van byvoorbeeld ’n rot (foto HIERBY) is die breë, skerp, beitel-agtige snytande opvallend. Die voorvlak van elke snytand bestaan uit emalje, terwyl die agtervlak uit sagte dentien bestaan wat met die kouery wegslyt sodat die tande gedurig skerp bly. Knaagdiere het nie oogtande nie en daar is ’n gaping tussen die sny- en kiestande.
Dierkundiges deel knaagdiere in drie subordes in, op grond van die onderskeie strukture en posisies van hul kaakspiere. So kry ons dan: 1)
die Sciuromorpha of eekhoringagtige knaagdiere; 2)
die Myomorpha of muisagtige knaagdiere; 3)
en die Hystricomorpha, of ystervarkagtige knaagdiere. 1.
Eekhoringagtige knaagdiere
ANDERS
as wat die naam te kenne gee, lyk baie eekhoringagtige knaagdiere glad
nie soos eekhorings nie.
Foto: U.S. Department of Agriculture Eekhorings
is natuurlik wel lede van die groep, maar ook bewers, bergbewers (wat
nie regtig bewers is nie, maar graafdiere van Noord-Amerika),
beursgofers, kangaroerotte en ons eie springhaas. Daar is ’n stuk of 365
spesies. Drie lede van die groep, te wete eekhorings, springhase en bewers, word hieronder van naderby bekyk. Eekhorings
EEKHORINGS word regoor die wêreld gevind, buiten in Australië,
en sluit die "chipmunk" of tjipmonk (Amerikaanse eekhorinkie),
"woodchuck" (Virginiese marmot) en marmot in. Met sowat 250
spesies wêreldwyd is hulle een van die grootste knaagdierfamilies.
Ses spesies is inheems in Suidelike Afrika en een, die gryseekhoring, is
ingevoer.
Die
gryseekhoring se oorspronklike tuiste is Noord-Amerika, maar hy is in
die negentiende eeu na Brittanje gebring en toe, met die eeuwisseling,
deur Cecil John Rhodes na Suid-Afrika. Soos
die meeste eekhorings is
hy
bedags aktief. Hy soek dan vrugte, lote, sade, bas en swamme, en
partykeer selfs voëleiers. Hy hiberneer nie (maak nie ’n winterslaap
deur nie) en kan nie genoeg energie opgaar om lang rukke sonder kos te
lewe nie. Hy
leef in bome, hoewel sekere eekhorings op die grond woon en gate grawe. Afsonderlik
van die eekhorings is daar die familie van die skubstert-eekhorings,
waarvan daar nege spesies is. Hierdie eekhorings het ’n sweefvel of
membraan tussen die ledemate, wat tot by die stert strek, en twee rye
skubbe onderaan die stert wat keer dat die sewende dier gly wanneer hy
op ’n boomstam land. Springhaas
MET die eerste kyk lyk die springhaas soos
’n dwergkangaroe. Om
tot die verwarring by te dra, word hy boonop ’n haas genoem (wat hy
nie is nie). Maar
hierdie oulike eekhoringagtige knaagdier kan darem daarop roem dat hy
uniek is. Daar is net een spesie.
Foto deur Ancheta Wis, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web uitgeplaas het en kopiëring en modifikasie vergun ingevolge die Creative Commons 2.0 License
Sy
tuiste is die oop grasvlaktes van Suider- en Oos-Afrika, waar hy ’n ingewikkelde netwerk van gate in die grond grawe om vir sy vyande weg te
kruip. Want vyande is daar baie: slange, uile, muishonde. Selfs vir
koning leeu is die springhaas ’n smaaklike kitshappie, en die San-volk
(Boesmans) geniet hom ook. Die
spring in die naam springhaas is natuurlik nie om dowe neute daar nie.
Daardie lang agterbene is omtrent vier keer so lank as die voorstes, en
die balanserende stert help hom om blitsvinnig te beweeg. Spring-spring
op die agterpote lê hy oop met lae spronge van drie, vier meter lank.
Die langste spronge wat al opgeteken is, was omtrent agt meter. Bewers
MIN Suid-Afrikaners het al ooit
’n bewer in lewende lywe gesien
(kyk foto by die begin van hierdie
artikel). Maar vra enige skrander skoolkind waarvoor bewers veral bekend is, en hy
sal bes moontlik antwoord dis vir bome afknaag en waterstrome opdam daar
in die noorderwêrelde waarin hy voorkom. Soos
die mens benut die bewers groot dele van hul habitat om hulle van kos en
’n geskikte woonplek te voorsien. Met
hul snytande word merkwaardig groot bome en takke afgekou. Dié word
dan saam met modder, stokke en klippe gebruik om damwalle oor vinnig
vloeiende strome in hul omgewing te bou. Die
gevolg is dat die gebied agter die wal oorstroom—en ’n groot moeras
geskep word wat ryk aan waterplante, insekte, voëls en visse is. Daar
is twee egte bewersoorte, die Noord-Amerikaanse en die Europese bewer.
Amerikaanse bewers maak ’n lêplek in ’n eiegemaakte "eiland"
agter die damwal, terwyl Europese bewers dit meestal verkies om gate in
die oewers te grawe. Altwee
bewersoorte was eenmaal wyd verspreid in hul hougebiede, maar hulle is
oor die eeue heen so meedoënloos gejag dat hulle in die negentiende eeu
op die rand van uitwissing was. Baie van Noord-Amerika se vroegste
verkenners was in der waarheid bewerjagters. Bewers
is deels om hul waardevolle pelse en vleis gejag, maar veral vanweë
die sterk ruikende, olieagtige stof in die bewer-onderbuik, wat castoreum
genoem word. Hierdie stof was in die sestiende en sewentiende eeu ’n gesogte parfuum en medisyne. Gelukkig
vir die bewer het bewaringsmense besef wat besig was om te gebeur en
gesorg dat die owerhede streng beperkings op bewerjag plaas. Die
Europese bewer kon weer in sekere van sy ou gebiede aanwas—van ’n paar honderd in die begin van die twintigste eeu tot tienduisende kort
voor die eeuwisseling. • • • • • 2.
Muisagtige knaagdiere KLEIN
muisies kan wel grote ore hê, maar ook ’n oor vir musiek? Mos te laf
woorde, sal die meeste mense sê! Maar dis wat die beroemde
natuurkundige J.G. Woods bedoel het toe hy in die middel van die
negentiende eeu te kenne gegee het dat ons bekende huismuis blykbaar
"grootliks ontvanklik" vir skone tone is. Woods
het naamlik vertel van ’n man wat viool gespeel en ’n rnuis op die vloer
sien rondspring het asof hy dol begeesterd is. Die nuuskierige man het
aanhou speel en nie lank daarna nie het die malle muis dood
neergeslaan. Dit was vermoedelik van al die uitputting weens sy musikale
kaperjolle. Wood
se storie van die dansende muis is ’n hele eeu lank as onsin afgemaak.
Maar latere navorsing oor muise se gedrag het getoon dat hulle uiters
gevoelig vir hoë klanke is. Trouens, hulle kommunikeer ook
met
mekaar deur middel van klanke ver buite die grens van die menslike
gehoor Party
huismuise word so deur aanhoudende en baie hoë klanke geaffekteer dat
hulle stuipes kry wat hul dood kan beteken. Dis
nie net die skynbaar kunssinnige muis wat sulke toevalle kry nie. In
Japan is daar ’n soort wat die walsende muis genoern word, vanweë sy
rare hebbelikheid om in kringe rond te hardloop. Hierdie gedrag word
deur ’n gehoorgebrek veroorsaak. Daar
is tot muise wat sing. As jy so twintig meter van hulle staan en
luister, is dit kompleet of jy voëls hul liedjies hoor aanhef. Die
geluide word glo egter deur siek longe of ’n kwaal in die strottehoof
veroorsaak. Muise
behoort tot die groep knaagdiere wat die Myomorpha, of muisagtige
knaagdiere, genoem word. Hierdie groot groep wat uit meer as duisend
spesies bestaan, sluit ook die relmuise, rotte, hamsters,
woestynspringmuise, nagmuise, lemmings, vleirotte en sekere soorte
molrotte in. Getrou aan hul naam lyk muisagtige knaagdiere soos muise. Ons
kyk hieronder na muise en rotte, asook hamsters en ’n winterslaper, die
Europese relmuis. Muise
en rotte
|
Rotte, muise—wat is die verskil? ROTTE
en muise sluit ’n groot verskeidenheid van klein en mediumgroot
knaagdiere in wat tot die families Muridae en Crecitidae
behoort. En al onderskeid wat ’n mens baiemaal tussen rotte en
muise kan tref, is om te sê dat muise klein en rotte groter is. Daar
is wel al sekere wetenskaplike onderskeide gemaak, soos dat egte
rotte ’n stert met minstens 210 en hoogstens 260 skubringetjies
het, teenoor egte muise se stert met minstens 180 skubringetjies.
Maar in die volksmond lê die verskil tussen muis en rot nie so
duidelik nie. ’n Mens kry ook talle diertjies wat rotte en muise
genoem word wat maar net so verlangs familie van egte rotte en
muise is. |
Hiervandaan
het hy van land tot land versprei, eers in die karavane wat die
woestyne oorgesteek het en toe in skepe. Uiteindelik het hy hom ook in verre
lande soos Suid-Afrika ingevroetel en nou is hy hier ook so tuis soos...
nou ja, ’n muis.
Hoewel
party huismuise wel nog in die vrye natuur leef, is die meeste in of
naby die mens se geboue ingeburger. Hier sak hulle toe op enigiets
vreetbaars, van opgebergde kosse tot seep en kerse, hoewel hulle graan
en graankosse verkies.
Omdat
hulle so klein, rats en wakker is—en boonop nog nagdiertjies ook—oorleef hulle des te makliker langs hul menslike bure. Hulle pas hulle
trouens so geredelik by die mens se omgewing aan dat hulle selfs langer
pelshare ontwikkel wanneer hulle in ongure plekke soos koelpakhuise moet
bly leef.
Navorsing
het getoon dat muise wat in koelkamers uitbroei, korter sterte het (wat
nie so baie hitte uitstraal nie) en met groter harte bedeel is (wat op ’n
hoër metaboliese werking dui).
Die
grootste probleem wat die mens
met
huismuise het, is dat hulle kos
met
hul urine en mis besoedel en
siektes
aan ons kan oordra.
Baie
ander soorte muise en rotte doen dit
ook.
Die
woord "muis" kan teruggevoer word tot by die ou Sanskrit-woord
vir "dief". Reeds in antieke tye was dié diertjies al berug
as kosstelers.
Die
berugste rot is die swartrot, Rattus rattus, wat volgens
navorsers in die
veertiende eeu onwetend die dodelike builepes aan 25 miljoen mense
oorgedra het deur middel van die bloedsuier-vlooi Xenopsylla
cheopsis.
Rotte
en muise teel geweldig vinnig aan. Muise wat in geboue skuil, plant
byvoorbeeld die hele jaar voort en kry van veertig tot tagtig kleintjies
per jaar. Dit klink geweldig baie, maar hul oorstroom darem nie die wêreld
nie, want omtrent 99 persent van die rotte en muise vrek voordat hulle
volwasse
is.
Sowel muise as rotte maak hul neste van enige beskikbare stof soos strooi, sakgoed, papier, ou lappe en ander sagte materiale. Die kleintjies kom kaal, blind en hulpeloos in die wêreld en ma moet sorg.
BAIE kinders ken die goudhamster. As die kind self nie só ’n diertjie as
’n troeteldier besit nie, ken hy moontlik iemand wat wel een
het. Dog die goudhamster is maar net een van veertien soorte hamsters.
Soos
hamster-eienaars weet, is hulle alleenlopers en die mannetjies en wyfies
kom net bymekaar wanneer hulle paar. Sou troetel-goudhamsters bymekaar
gelos word nadat hulle gepaar het, maak die wyfie gewoonlik die
mannetjie dood.
REGS:
’n Hamster.
Foto: NGS / NOAA
Maar
alle spesies is nie dieselfde nie. By gryshamsters, byvoorbeeld, bly
die mannetjie sowat tien dae ná die paring by die wyfie.
Hulle
is meestal vegetaries en vreet graan, vrugte, plantwortels en blare. Die
gewone hamster vul sy dieet met paddas en insekte-larwes aan.
Hamsters
is wel winterslapers, maar anders as die ware hiberneerders bou hulle
nie vetreserwes op vir energie nie. Pleks daarvan word hulle omtrent
een maal per week wakker om kos te vreet wat hulle voor die winter
opgegaar het.
Terwyl
hulle slaap, daal hul liggaamshitte van sowat 32 grade C tot omtrent 4,
hul polsslae van 400 per minuut tot 4, en hulle haal net so twee keer in
’n minuut asem.
Hamsters
prop soveel kos as moontlik in hul kieste sodat hulle nie soveel
lewensgevaarlike togte tussen die kosbron en hul nes hoef af te lê nie.
Partykeer is die kieste so vol dat hulle eintlik potsierlik lyk. Die kop
van ’n gryshamster wat volgens een waarnemer sojabone onder sy wange gebêre
het, het as gevolg daarvan tot ’n derde die grootte van sy lyf uitgepof.
In
party dele van die wêreld plunder mense hamstergate vir die kos wat die
diertjies daarin opgegaar het. Arm Chinese landvolk verkoop selfs die
graan wat hulle van gryshamsters gebuit het.
Hamsters
het nog ’n nut vir hul kieste: daar word vertel dat gewone hamsters die
kieste bol sodat hulle dit as lugkussings kan gebruik om bo te bly
terwyl hulle swem. Die troetel-goudhamsters, daarenteen, kan nie water
verduur nie en vrek wanneer hulle daaraan blootgestel word.
REGS:
’n Relmuis.
Foto: American Museum of Natural History (digitaal verkleur)
Namate
die winter nader kom, ondergaan sy
liggaam
belangrike fisiologiese veranderings wat hom elke dag ál langer laat
slaap. Terselfdertyd word die relmuis vreeslik vraatsugtig en vreet hy
totdat hy byna sy gewig verdubbel het.
Eindelik
vloei die daaglikse slape in een, lang winterslaap saam.
Opgekrul
in ’n balletjie in sy knusse nes, vertraag sy hart- en polsslag, en sy
liggaamstemperatuur daal tot naby vriespunt.
Terwyl
hy slaap, word sy opgegaarde vet stadig verbrand om hom genoeg energie
te gee om te bly leef. Af en toe word hy wakker en vreet kos wat hy vir
hom in sy nes versamel het. Hoe langer die winter, des te langer
hiberneer die relmuis. As dit vir ’n rukkie warm raak tydens die winter,
kan die diertjie wakker word en sy vetreserwes opgebruik—en dan
doodgaan wanneer die koue terugkeer.
Ander
knaagdiere wat ten volle hiberneer, is onder meer aardmarmotte,
springmuise en grondeekhorings van Amerika.
•
Die vleis van die vet relmuis van Brittanje is in die Romeinse
tye as ’n lekkerny beskou. Voor ’n fees is die knaagdiere in erdekruike
geplaas en akkers en kastaiings gevoer. ’n Tyd gelede is berig dat drie
vet relmuise binne slegs tien weke 272 kersies, 92 pere, 64 appels, 42
appelkose, 58 pruime, 25 druiwekorrels, 526 appelliefies en ontelbare
pampoenpitte gevreet het.
•
Die grootste rot op aarde is die 40 cm lange (kop en stert
uitgesluit) dunstert-wolkrot van die Filippyne.
•
Jong bosmuise van Europa en Asië is met klankalarms toegerus wat
"afgaan " wanneer die temperatuur verander. Wanneer hulle te
koud begin kry, maak hulle sogenaamde ultraklanke om hul ma daarvan te
laat weet.
•
• •
• •
3.
Ystervarkagtige knaagdiere
DIS
darem ’n Babelse naamsverwarring oor ’n alte klein diertjie. In
Afrikaans noem ons hom ’n marmotjie en in Engels ’n guinea pig,
maar in werklikheid is hierdie skepseltjie nóg ’n marmot nóg ’n vark.

Marmotte
is eekhoringagtige knaagdiere en winterslapers, waarvan daar ’n stuk of
agt spesies is wat oor groot dele van die Noordelike Halfrond voorkom.
In Europa kry ons die Alpe-marmot, en "marmot" beteken dan ook
heel waarskynlik "bergmuis". Die Latynse woord vir ’n muis en
’n berg is immers mus (genitief, muris) en mons (gen. montis)
onderskeidelik.
Die
marmotjie, daarenteen, is familie van die ystervark. Hy het stellig sy
naam gekry omdat hy sy naamgewers so baie aan die marmotte herinner het,
maar eintlik is hy ’n knaagdiertjie uit Suid-Amerika wat tot groot
hoogte mak gemaak is. Hy is trouens ’n gewilde troeteldiertjie en daarby
baie waardevol in biologiese navorsing.
Maar
waar kom hy dan weer aan die Engelse naam guinea pig? Die woord
kom, só word vertel, van die Portugese guine, wat oorspronklik
na ’n streek aan die Wes-Afrikaanse kus verwys het.
Toe
Christopher Columbus
die
noordooskus van Suid-Amerika bereik het, het hy glo die land na die
suide Guiana (vandag Guyana) genoem, en die betekenis van die woord
uitgebrei tot enige verafgeleë en onbekende land. Toe die Spanjaarde
Suid-Amerika in die veertiende eeu verken het, het hulle gevind dat die
Inkas ’n bra oulike klein diertjie getem het. Nederlandse handelaars het
later van die diertjies Europa toe gebring... "guinea
pigs",
oftewel "varke" uit ’n verre en taamlik onbekende land!
Waar
marmotte tot die Sciuromorpha behoort, behoort marmotjies tot die
suborde Hystricomorpha.
In
die natuur lewe die marmotjies in klein groepies van tussen vyf en tien,
in gate wat ander diere verlaat of wat hulle self gegrawe het. Hulle is
meestal nagdiertjies en vreet allerhande soorte plantkosse.
Wapens
het hulle nie, hulle is
baie
mak en kan nie vinnig hardloop nie. Geen wonder hulle is sulke goeie
troeteldiere nie.
Daar
is ’n groot verskeidenheid van ystervarkagtige knaagdiere. Hulle wissel
van bekendes soos die marmotjie en ystervark tot minder bekende en bra
bisarre soorte soos kapibaras (watervarke), die molrotte van Afrika
(sekere spesies), moerasbewers, chinchillas, agoeti’s, pakas,
chinchillarotte, stekelrotte, dassierotte en ander.
REGS:
’n Moerasbewer (ook bewerrot of nutria genoem). Hy is ’n
groterige soort knaagdier wat soos die bewer lyk en in die reël
’n massa van sowat vyf tot sewe kilogram haal. Moerasbewers, wat
inheems in Suid-Amerika is, maar nou ook in verskeie state in die
VSA aangetref word, kom onder meer in varswater- en brakkerige
moerasse, plaasdamme en riviere voor. Hulle teel ontsettend vinnig
aan. In 1938 is twintig moerasbewers byvoorbeeld die Amerikaanse
staat Louisiana binnegebring en binne twintig jaar was daar meer
as twintig miljoen. Hierdie diere lewe feitlik net van plante en
is so vraatsugtig dat hulle daagliks omtrent 25 persent van hul
liggaamsgewig verober.
Foto: U.S. Fish & Wildlife Service |
Die
twee grootste soorte ystervarkagtige knaagdiere, ystervarke en kapibaras, word hieronder van
naderby bekyk.
YSTERVARKE is veral bekend
vir daardie lang, skerp penne waarmee
hulle hulle beskerm. (Kyk die kassie Doring in die vlees
hieronder.)
Doring
in die vlees
YSTERVARKPENNE word gevorm uit steekhare wat saamgegroei het. Die
punte is so skerp dat stamme in Afrika hulle eenmaal as pylpunte of
pyle gebruik het. Daar is ook lang borselhare wat van bo sy kop af na
die skouers toe oorloop. Die stertpunt is met ’n "ratelaar"
gewapen.
Die
penne van die ratelaar verskil van spesie tot spesie, maar by die
kuifystervark is hulle soos oop wynglase gevorm wat met slanke stele aan
die lyf vas is. Wanneer die knaagdier sy stert skud, skud die penne teen
mekaar en word die kenmerkende geratel gehoor. Word
’n ystervark deur ’n aanvaller bedreig, probeer hy eers die vyand
afskrik deur sy penne te laat regop staan en hulle woes te ratel. As dit
geen uitwerking het nie, sal die knaagdier die teenstander agteruit
tromp-op loop om hom met sy penne te deurboor. Daar
was vroeër die geloof dat die ystervark sy penne kan uitskiet, maar dis
’n wolhaarstorie. Ystervarkpenne
is ware dorings in enige vlees. Die punte breek maklik af en die
aanvaller sê behoorlik les op. By sekere
spesies
het die penne selfs weerhake, sodat dit byna onmoontlik is om hulle te
verwyder as hulle eers sit. Penwonde
raak ook dikwels ontsteek sodat die aanvaller naderhand doodgaan. Dit
kan ook gebeur dat die penne ’n roofdier se bek só deurboor dat hy dit
nie kan oop- of toemaak nie en dus van die honger vrek. Nuwe
penne groei gou weer om dié te vervang wat die ystervark verloor het.
Hoewel hierdie knaagdier hom nogal goed teen roofdiere kan verweer, kan
hy nie veel uitrig teen die mens wat hom soms vir sy vleis jag nie. |
Daar
is twee families: die ystervarke van die Ou Wêreld, met omtrent 20
spesies, wat in Afrika, dele van Europa, Indië en Suid-Asië aangetref
word; en die Nuwe Wêreld se ystervarke (minstens 23 spesies) van Noord-
en Suid-Amerika.
Die
ystervarke van die Ou Wêreld is in die reël groot en stewig, met kort
bene en lang,
skerp
penne aan die lyf. Die lyf en stert is ook met hare bedek. Almal hou in
ondergrondse tonnels en klim nie boom nie.
Die ystervarke van die Nuwe Wêreld het korter penne as hul Ou Wêreldse neefs en is kranige boomklimmers. Hulle het ook breër sole en ’n breë, beweegbare kussing pleks van ’n eerste toon aan die agterpoot. Sekere Suid-Amerikaanse ystervarke kan selfs aan die stert hang.

BO: ’n Ystervark.
Foto: U.S. Department of Agriculture
Die
Kaapse ystervark, Hystrix africaeaustralis, is die enigste
ystervark wat in Suider-Afrika
voorkom.
Hy word tot 85 cm lank
en
is een van die grootste knaagdiere.
Die
meeste ystervarke is naglopers, wat verskeie soorte plante en boombas
vreet.
Die
kapibara is ’n knaagdier. Nogal die wêreld se grootste ook. Party is
tot 1,35 m lank. Dit was die vroeë Europese ontdekkers in Suid-Amerika—waar hy voorkom—wat hom
’n watervark genoem het, maar die
plaaslike Indiane het ’n gepaster naam vir hom gehad: kapibara, oftewel
"meester van die grasse".
REGS:
Die kapibara, die wêreld se grootste knaagdier.
Foto: NOAA's Office of Global Programs
Kapibaras
hou dan ook in die digte bosgasies om mere en riviere waar hulle
waterplante vreet en dikwels pensdiep in die water staan terwyl hulle
wei. Hulle woon gewoonlik in groepe onder ’n mannetjie wat sy gebied
afbaken met die afskeiding van ’n reukklier op sy neus.
Water
speel ’n wesenlike rol in hul lewe. Wanneer gevaar dreig, probeer
hulle die roofdier ontwyk deur onder die water te swem met die neusgate
wat bo die oppervlak uitsteek. Hoewel hy ’n goeie swemmer is, is die
kapibara se bou ongewoon vir ’n waterdier: die tone is net deels met
swemvliese toegerus en die Iyf is nie gestroomlyn nie.
Maar
soos die seekoei het die kapibara baie opgegaarde vet in sy lyf, en die
vetweefsel balanseer die gewig van sy beendere om hom ’n grasieuse
swemmer te maak.
Dis
nie net vir kos en skuiling dat die kapibara van water afhanklik is
nie. Daarsonder word sy vel droog en ontwikkel hy spoedig oop sere. Dis
dié dat hy op snikhete middae so graag in modder en watergate baai,
byna verskuil tussen drywende plante, en nie weer sy verskyning maak
totdat dit koeler is nie.
In
landboustreke vreet die kapibaras gesaaides en ding hulle met die vee om
weiding mee. Oor die jare heen is hy kwaai gejag en vandag is hierdie
knaagdier skaars.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad