’n Laslappie van Mieliestronk

KARKATJIES: 
Wat dit veroorsaak en hoe om dit te behandel

Foto: Andre Riemann, wat sy kopiereg daarop opgehef en dit in die openbare domein geplaas het

AAN die rande van ons ooglede is ’n ry ooghare wat help om stofdeeltjies uit ons oë te hou. As die lig baie skerp is, kan hulle boonop as ’n soort skerm dien wanneer die ooglede half toegemaak word.

Hierdie hare is nie heeltemal droog nie. Hulle kry ’n vog, ’n olierige vloeistof, van sekere kliertjies. Partykeer versweer hierdie kliertjies wanneer kieme dit binnegedring het en dan noem ons die ontsteking "karkatjies".

In die geneeskunde word ’n karkatjie beskryf as ’n verswering van ’n ooghaar-follikel (of ooghaar-sakkie). Só ’n verswering, vertel die geleerdes,  word deur ’n infeksie met ’n sogenaamde stafilokok-kiem veroorsaak. Dis ’n kiem wat hom, interessant genoeg, baiemaal in ’n mens se neus tuis maak. Higiëne is dus belangrik in die voorkoming van karkatjies—soos om nie met die hande in die neus te krap en dan weer die oë te vryf nie.

Die karkatjie vorm meestal naby die binnehoek van ’n oog, maar kan ook by die basis van enige oogwimper ontstaan. Dit begin as ’n branderige, rooi knoppie aan die rand van ’n ooglid, maar verander ná 'n paar dae in ’n pynlike klein abses wat met etter gevul is. Die hele ooglid is later dik geswel. ’n Karkatjie gaan ná vyf tot sewe dae vanself oop en dan loop die etter ook uit.

Hoewel ’n karkatjie nie ’n ernstige infeksie is nie, is dit pynlik en moet dit versigtig behandel word. Die pyn kan verlig word deur watte wat in lou soutwater geweek is aan die karkatjie aan te wend. ’n Mens kan in die versoeking kom om ’n karkatjie te wil uitdruk voordat dit ryp is, maar moet dit nie doen nie. As ’n mens nie uiters skoon te werk gaan met die uitdrukkery nie, kan die beproewing versprei en dan sit die ongelukkige pasiënt met ’n hele spul karkatjies.

As die etter egter reg is om uit te kom, kan ’n mens dit aanhelp deur met die punte van baie skoon wysvingers daarop te druk. Daarna moet die hande nogeens baie goed gewas word.

Vee die bloederige etter met sneespapier af en plaas ’n antiobiotiese oogsalf in die oog.

Indien jy geneig is om gereeld karkatjies te kry, moet jy jou dokter daaromtrent raadpleeg. Die dokter kan dit dalk nodig vind om ’n kursus antibiotikum vir jou voor te skryf.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad