| Kinderregte:
stryd om erkenning van jeug se menswaardigheid Ons lewe in die eeu van die kind... hoekom is daar dan steeds derduisende veronregte kinders?
Nooit in die geskiedenis was kinderregte so in die kollig as juis nou nie... maar nooit tevore het daar ook so ’n plig op veral tieners gerus om hul medeverantwoordelikheid vir ’n geordende samelewing te besef nie... |
||||||
KOOLGAAN
vroeër was glad nie soos dit vandag is nie,” het jy moontlik al ’n
ouerige persoon ewe droefgeestig hoor vertel. “Stout of lui seuns moes
dikwels buk vir ses van die beste, wanneer die onderwyser die En
dan borduur die verteller grafies voort: “Kinders is ook baiemaal teen
die kop geklap dat hulle ore getuit het of—as hulle erg opstandig
was—sommer hardhandig uit die klaskamer uitgeboender. Nee kyk,
vanmelewe se onnies het nie twak gevat van kabeljoue nie!” (’n
verwronge idoom à la Oubaas van die TV se 7de Laan). Dankie,
tog, dink jy stellig, dat daardie dae verby is. Totdat die verteller se
indrukke oor vandag se onderwys jou selfs nog méér ontstel... “Noudat
die onderwysers se dissiplinêre magte ingekort is,” vervolg hy,
“gaan dit verskriklik in baie skole. Die bordjies is heeltemal
verhang, man. Die kinders is nou kaatjies van die baan in menige
klaskamer en talle onderwysers se moreel is plat op die grond. Hulle kan
nie hul werk gedoen kry nie, want as hulle net skeef na ’n leerder
kyk, ontbied dié sy ma of pa
summier met ’n selfoon na die skool. Ek sê jou, in die naam van
‘kinderregte’ word baie onderwysers se gesag vandag verkrag. Erger
nog, skoolonderrig word ’n kolossale klug.” Nou
ja, tot sover die ouerige persoon se waarnemings. Nie
almal sal oor alles met hom saamstem nie, maar met sy sêgoed het hy wel
twee onrusbarende, heel uiterste pole in die onderwyssisteem uitgelig.
Gelukkig was nie een daarvan darem nog ooit die norm waarna enige
verantwoordelike kind of grootmens sou wou strewe nie. Net
soos van volwassenes verwag word om kinderregte te eerbiedig, is dit ook
kinders se taak en plig om die regte van hul leerkragte in ere te hou.
As daar nie wedersydse respek vir mekaar se menswaardigheid is nie,
kweek ons ’n samelewing vol onverdraagsaamheid en die lelikste
konfrontasies. Elke beskawing is immers geskoei op die agting van
meerderes en minderes vir mekaar. Soos
iemand dit al gestel het: "Kinderregte behels ook die reg om
toegelaat te word om jou ouers en onderwysers te respekteer. Dit is ’n
begrip wat ons by ons jeug moet inskerp sodat hulle dit nooit sal
vergeet nie." Maar
wanneer is lyfstraf dan in Suid-Afrikaaanse skole afgeskaf? Dit was
eintlik ook nie so baie lank gelede nie... Die
nuwe inisiatiewe vir die beskerming van die kind MET
die beëindiging van apartheid en die aanvaarding van Suid-Afrika se
nuwe grondwet in 1994, is nie slegs die lat op skool verbied nie, maar
ook die rottang as straf vir jeugoortreders wat in die hof beland het.
Net in 1993 is lyfstraf ’n massiewe 43 000 keer vir jeugmisdade
uitgedeel en die nuwe owerheid het gereken dis onmenswaardig om kinders
só te pynig.
“Kinders
word onwettig gebruik as arbeiders en sekswerkers en hulle het tot nou
geen ordentlike beskerming gehad nie,” het me. Josephine Tshivase,
voorsitter van die portefeuljekomitee vir maatskaplike ontwikkeling, gesê
toe die Kinderwet in Junie 2005 in ons parlement gedebatteer is. Al
hierdie maatreëls is natuurlik in ooreenstemming met ’n wêreldwye
tendens om die kind van die moderne tyd sy of haar regmatige plekkie in
die son te gun. In die afgelope dekades was daar trouens verskillende
internasionale en plaaslike inisiatiewe om juis dit te doen. In November
1989 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies hierin
voorgegaan met die sogenaamde Konvensie oor Kinderregte, wat in
September 1990 van krag geword het nadat die vereiste aantal lande dit
bekragtig het. Die
VN se Konvensie oor Kinderregte DIE
Konvensie oor Kinderregte van die Verenigde Nasies is ’n
internasionale akkoord waarin die burgerlike, staatkundige, ekonomiese,
maatskaplike en kulturele regte van kinders uiteengesit word. In
41 omvattende artikels word onder meer verklaar dat die lande wat hulle
daartoe verbind, moet verseker dat kinders sonder enige diskriminasie op
spesiale beskerming en hulp moet kan reken. Kinders moet toegang hê tot
sulke dienste soos onderwys en mediese sorg, en hulle moet hul
persoonlikhede en talente tot die uiterste van hul vermoëns kan
ontwikkel. Hulle
moet toegelaat word om in ’n omgewing van geluk, liefde en begrip
groot te word. Hulle moet oor hul regte ingelig word, dit moet vir hulle
toeganklik wees en hulle moet dit aktief vir hulself kan toe-eien. Die
Konvensie verbied dit dat die doodstraf aan kinders opgelê word. Die
meeste lidstate van die Verenigde Nasie het die Konvensie bekragtig, óf
deels óf in sy geheel. Suid-Afrika het in Junie 1995 sy stempel daarop
geplaas, nie lank ná die eerste nie-rassige
verkiesing van 1994
nie.
Die
Konvensie stel die kind se behoeftes en regte voorop—bo dié van die
ouers en andere. Dit vereis dat lande in die beste belang van die kind
optree. Hierdie benadering verskil van die gemene reg in baie lande waar
kinders en vroue voorheen tradisioneel as besittings of goedere beskou
is waaroor die families kon stry. Dit kom daarop neer dat wette oor
kindertoesig en voogskappe meermale heeltemal verander moet of dat
bestaande wette ten minste met vernuf geplooi moet word om aan die
Konvensie se riglyne te voldoen. In
Suid-Afrika het die aanvoorwerk wat met die VN se Konvensie oor
Kinderregte gedoen is, onder
meer neerslag gevind in die Projek vir Kinderregte, wat in die Sentrum
vir Gemeenskapsreg aan die
Universiteit van Wes-Kaapland gesetel is. Die
Projek vir Kinderregte beywer hom vir die erkenning en beskerming van
kinderregte binne die raamwerk van die Konvensie, die Suid-Afrikaanse
grondwet en ons vasteland se eie insiatief in hierdie verband, te wete
die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind. Dié is in 1990 aangeneem deur die
Organisasie vir Afrika-eenheid, die voorganger van die Afrika-Unie wat
in 2002 gestig is. Suid-Afrika se bekragtiging in November 1999 van
hierdie Afrika-handves is deur alle partye in ons Nasionale Vergadering
goedgekeur. Maar
dis interessant dat Suid-Afrikaanse kinders self reeds in 1992 die
erkenning van hul regte opgeëis het. Dit was met die baanbrekende
sogenaamde Kinderhandves van Suid-Afrika... Die
Kinderhandves van Suid-Afrika
ALLE
kinders is gelyk geskape en is geregtig op basiese menseregte en
vryheid. Alle kinders het die reg op respek, spesiale sorg en beskerming
namate hulle ontwikkel en groei. Hierdie boodskap is in die voorrede
vervat van die Handves van Kinderregte, wat van 27
Mei tot 1 June 1992 op Somerset-Wes in die
Kaap opgestel is. Dit is gedoen deur meer as 200 kinders self wat van
oor die hele land gekom het, tieners van tussen twaalf en sewentien jaar
wat alle rassegroepe verteenwoordig het. Die
handves het uit tien artikels bestaan. Dit het gehandel oor die regte
van kinders in onder meer gesinsverband, die voortslepende geweld in ons
land, gesondheid en welsyn, opvoeding, kinderarbeid en hawelose kinders.
Dit is saamgestel nadat die kinders in die klompie dae waarin hulle saam
was verskeie besprekingsgroepe gevorm het. Hierdie
Internasionale Spitsberaad oor die Regte van Kinders in Suid- Afrika is
gereël deur die kindertydskrif Molo Songololo en die Universiteit van
Wes-Kaapland se Sentrum vir Gemeenskapsreg in oorleg met Unicef (die
United Children’s Fund) en die NCRC (National Committee on the Rights
of Children). Wyle
mnr. Dullah Omar, die destydse direkteur van die Sentrum van
Gemeenskapsreg aan die UWK, het die versekering gegee dat dié handves
nie net 'n ``dooie stuk papier'' sou bly nie. Hoeveel het nie gebeur
sedert hy hierdie belofte gemaak het nie! Tog
word kinderregte vandag nog oor die wêreld heen misken, in sekere
gemeenskappe weliswaar minder as in andere. Maar presies wat word dan
alles aan kinders gedoen dat soveel mense dit nodig vind om so kragdadig
vir hulle in die bres te tree? Die voorbeelde hieronder is al erg
genoeg, sonder om in veel besonderhede oor elkeen uit te wei. Enkele
voorbeelde van die miskenning van kinderregte KINDERSOLDATE:
Wêreldwyd—só word beweer— is daar vandag meer as 300 000 kinders
wat in 35 lande as soldate by gewapende konflikte gebruik word. Hierdie
kindersoldate word aan die gevegsfronte ingespan of op ander maniere in
binnelandse leërs of rebellemagte aangewend. In Afrika alleen is daar
glo 120 000 kindersoldate. Kindersoldate
is natuurlik niks nuuts nie en selfs die Boere in die Anglo-Boeroorlog (1899-1902)
het hul sogenaamde penkoppe gehad—seuns van jonger as sestien wat sy
aan sy met hul pa’s, ouer broers en oupas in die veld was. Party van
hierdie penkoppe het hulle selfs as vernuftig bewys, soos die
agterryertjie genaamd Gesiggie, wat op ’n keer met vier gevange
Engelse by sy Boerelaer opgedaag het. "Hoe het jy dit
reggekry?" is aan hom gevra. "Ek het hulle omsingel," het
hy geantwoord. Maar
dan was daar ook die gevange pennekoppe wat saam met die
hardebaard-Boere deur die Engelse as krygsgevangenes na plekke soos die
eiland St. Helena uitgeban is. Om nie te praat van die duisende kinders
wat in dieselfde oorlog in Engelse konsentrasiekampe in Suid-Afrika
gesterf het nie. Die
volkereg duld genadiglik vandag nie meer sulke vergrype teen kinders
nie, maar in die praktyk gebeur dit nog. KINDERHUWELIKE:
Dit is ’n
praktyk waarvolgens die ouers van ’n jong kind (selfs ’n baba) ’n
toekomstige huwelik met ’n
|
||||||
|
||||||
|
Bepalings oor kinders in artikel 28 van hoofstuk 2 (Handves van Regte) in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika:
(a) op ’n naam en nasionaliteit vanaf geboorte; (b) op gesinsorg of ouerlike sorg, of op gepaste alternatiewe sorg wanneer die kind uit die gesinsomgewing weggeneem word; (c) op basiese voeding, skuiling, basiese gesondheidsorgdienste en maatskaplike dienste; (d) om teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering beskerm te word; (e) om teen uitbuitende arbeidspraktyke beskerm te word; (f) om nie verplig of toegelaat te word om werk te verrig of dienste te lewer nie wat—
(g) om nie aangehou te word nie, behalwe as laaste uitweg, in watter geval, benewens die regte wat ’n kind kragtens artikels 12 en 35 geniet, die kind slegs vir die kortste gepaste tydperk aangehou mag word, en die reg het om—
(h) om, in siviele verrigtinge wat die kind raak, deur die staat op staatskoste van ’n regspraktisyn voorsien te word indien dit andersins tot wesenlike onreg sou lei; en (i) om nie regstreeks in gewapende stryd gebruik te word nie, en om in tye van gewapende stryd beskerm te word. (2) ’n Kind se beste belang is van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak. (3) In hierdie artikel beteken "kind" iemand onder die ouderdom van 18 jaar. |
||||||