|
|
|
|
Kernenergie ... en meer
Krediet vir illustrasie bo: U.S. Department of Energy (ikkustrasie aangepas)
IE mens is in staat om die kern van die atoom te kloof. Wanneer dit gedoen word, word ’n enorme hoeveelheid energie vrygestel. Die beroemde wetenskaplike Albert Einstein (1879 -1955) het die wêreld geleer dat daar in ’n baie klein bietjie materie ’n tamaai klomp energie saamgebondel is. Wanneer hierdie energie eensklaps vrygelaat word, kan ’n geweldige ontploffing volg. Dit kan ons waarneem wanneer ’n kernbom sy onnoemlike verskrikking saai. Wanneer die vrystelling stadig is, kan die splyting van die atoomkern gebruik word om elektrisiteit op te wek.
Ons beskawing en lewenstandaard hang af van voldoende kragvoorsiening. Sonder krag het ons nie ligte nie, kan ons rekenaars nie werk nie, kan ons nie ons kantore of huise behoorlik verwarm of verkoel of ons kos gaarmaak nie. Vervoer en langafstand-kommunikasie sal onmoontlik raak en fabrieke sal nie langer die goedere kan vervaardig wat ons nodig het nie. Die jongste elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika het ons terdeë laat besef hoe bitter afhanklik ons van energievoorsiening is.
’n Eeu gelede het die wêreld se energie feitlik geheel en al van steenkool en “tradisionele” bronne soos hout, die kaf van gesaaides en die mis van diere gekom. Dié is steeds belangrike energiebronne, veral in ontwikkelende lande waar twee miljard mense (tweeduisend miljoen) geen toegang tot moderne soorte energie het of dit kan bekostig nie.
Daar word geraam dat hout en dieremis jaarliks ’n hoeveelheid energie lewer wat gelykstaan aan die kraglewering van een miljard ton olie. Dit is ontnugterend om te besef dat dit 1.6 keer meer energie is as wat wêreldwyd deur kernkragsentrales gegenereer word. Die benutting van kernenergie het dus ’n geweldige potensiaal—of dit moet sterk ontmoedig word as gevolg van die gevaarlike newe-effekte... alles afhangende van hoe ’n mens nou eintlik daaroor voel.
Maar presies hoe word kernkrag opgewek? ’n Kernkragsentrale (soos ons eie Koeberg in die Kaap) gebruik uraan as brandstof. Uraan is ’n element wat in die vorm van erts op baie plekke oor die wêreld heen uit die grond gegrawe word. Dit word verwerk en die eindproduk word in lang stawe gelaai. Dié word dan in die kernkragsentrale se reaktor geplaas, waar dit vanweë atoomsplyting verwarm. As gevolg van hierdie verwarming word stoom gegenereer wat turbines laat draai. Die draaiende turbines sorg vir die opwekking van elektrisiteit.
Om oor die voordele en nadele verbonde aan die opwekking van kernkrag te besin, is ’n fassinerende studie. Dit is ook besonder belangrik, omdat die mensdom baie spoedig en dringend vir homself sal moet besluit in watter mate hy in die toekoms die atoom vir sy nypende behoefte aan krag gaan verslaaf.
Die voordele DIT is geen geheim dat die aarde beperkte voorrade olie en steenkool het nie. Dit geld veral olie. Daar is al geraam dat die olievoorrade in die vinnig produserende nie-Midde-Oosterse lande oor slegs 15 jaar kan opdroog, waarna die wêreld nog 65 jaar lank sal moet bakhand staan by die Midde-Oosterse oliemagnate. Daarna is dit bes moontlik neusie verby. Ons steenkoolvoorrade kan na raming wel nog enigiets tussen 200 tot 450 jaar hou, maar steenkool is natuurlik ’n aartsbesoedelaar van die omgewing.
Elektrisiteit sal egter steeds met kernkrag opgewek kan word wanneer die bedroë aardbewoners besig is om aan hul laaste proeseltjies olie en steenkool te peusel. Kernkragsentrales het aansienlik kleiner hoeveelhede brandstof nodig as die kragsentrales wat fossielbrandstowwe soos steenkool en olie verbrand. Slegs een ton uraan wek meer energie op as wat etlike miljoene tonne steenkool of verskeie miljoene vate olie kan vermag.
En die aarde het baie uraan. Trouens, gesaghebbendes reken dat die wesentlike herwinbare uraanvoorrade genoeg is om tot duisend jaar lank benut te word, al wil sekere doemprofete te kenne gee dit is slegs sowat vyftig jaar. Die uraan-millennium bied die mensdom oorgenoeg tyd om ander kragbronne te ontwikkel, word gesê. (Uraan kom in sy natuurlike staat as ’n mineraalerts voor. Dié kan onderaards of in sogenaamde oopgroef-myne ontgin word.)
Net soos steenkoolkragsentrales besoedel dié wat met olie werk ook die lug. Goed versorgde kernkragsentrales stel egter nie besoedelende stowwe in die omgewing vry nie, of straks in sulke nietige hoeveelhede dat dit kwalik vermeldingswaardig is.
Dat voorstanders van kernkrag dus ’n goeie saak ten gunste daarvan kan uitmaak, is seker. Drie van die vernaamste voordele van kernkragopwekking word hieronder bespreek—dan kom ’n aantal nadele aan die beurt. 1. Weinig besoedeling (met verantwoordelike bestuur) SUID-AFRIKA steun nog sterk op steenkool vir kragopwekking. Baie kragsentrales maak egter gebruik van laegraadse steenkool, wat nie net baie koolstofdioksied in die atmosfeer inpomp nie, maar ook beduidende hoeveelhede swawel. Swawel veroorsaak suurreën, met al die nadele vir die omgewing wat daarmee saamgaan. ’n Oormaat koolstofdioksied in die lug kry die skuld vir aardverwarring weens die sogenaamde kweekhuis-effek.
Namate lande na kernkragopwekking oorskakel, is daar egter betekenisvolle verminderings in die vrystelling van koolstofdioksied (CO2). Kort ná die jongste eeuwisseling is bereken dat byvoorbeeld Frankryk sedert 1970 sy vrystellings van CO2 gehalveer het en dat Japan ’n vermindering van 20% bewerkstellig het. Die vrystelling van skadelike gasse soos swaweldioksied verminder ook dramaties wanneer na kernkrag oorgeskakel word. Kernkragopwekking is dus uitermate skoon en omgewingsvriendelik. Daar is wel ook soliede afvalstowwe, wat baie radioaktief is, maar dié word in besonder dig verseëlde houers in verafgeleë gebiede geberg. Enige radioaktiewe vrystellings by die kernkragsentrale self is so uiters gering dat dit geen meetbare uitwerking het op mense wat in die nabyheid vertoef, woon of werk nie. Wetenskaplikes spreek hulle ook sterk uit teen die bewerings van hiperbewaringsbewustes dat kernkragsentrales daagliks gevaarlike hoeveelhede radioaktiewe stowwe in lug en see vrylaat. Dis glad nie waar nie, sê hulle. Die hoogs radioaktiewe verbruikte brandstof word by ’n kernkragsentrale soos ons eie Koeberg eers in afsondering onder water verkoel en geberg. Hiervandaan gaan dit na Vaalputs, sowat 600 km noord van Kaapstad in Namakwaland, ’n bergingsplek wat deur die Nasionale Energiekorporasie van Suid-Afrika bestuur word. Die Vaalputs-gebied is so dor en droog dat die jaarlikse verdamping groter as die jaarlikse reënval is. Dit beteken dat, selfs as radioaktiwiteit sou ontsnap, dit nie die grondwater kan besoedel wat miskien ’n pad na die oppervlak sou vind nie. Die afval word in slote van tien meter diep geberg en die bestraling by die oppervlak is op feitlik natuurlike vlakke en skep geen gesondheidsgevaar nie. Om veiligheidsredes is die perseel egter omhein en word dit gemonitor. 2. Standhoudend en doeltreffend SOOS ons boontoe gesien het, het kernkragsentrales per volume besonder min brandstof nodig. ’n Kernkragsentrale soos Koeberg genereer slegs 32 ton verbruikte kernbrandstof per jaar. Oor ’n lewenstyd van veertig jaar beteken dit 1280 ton. In ’n land soos Suid-Afrika, met sy ryk uraaneerslae, het ons boonop min te vrees dat verslegtende internasionale betrekkinge ons van ’n standhoudende toevoer van kernbrandstof sal afsny. Dit was ook duidelik in die sanksiejare van die apartheidstyd toe ons, ondanks ’n wêreldwye wapenverbod, selfs ons eie geheime program vir die vervaardiging van kernbomme gehad het. Suid-Afrika is onder die tien lande wat saam 96% van die wêreld se uraanreserwes besit. Ons is die vierde grootste ontginner, met Australië in die eerste plek. Weliswaar word die verrykte uraan wat by Koeberg gebruik word, tans uit Frankryk ingevoer, ten spyte van die feit dat Suid-Afrika so ’n toonaangewende uraanprodusent is. Suid-Afrika oorweeg dit nietemin om ’n uraanverrykingsprogram van stapel te laat loop om brandstof vir sy toekomstige kernkragopwekking te verskaf. Namate die tegnologie vorder, kan kernreaktors natuurlik ook verbeter word. Waar die huidige “termiese reaktors” net die isotoop uraan-235 verbrand, wat slegs 0.7% uitmaak van die uraan wat natuurlik ontgin word, kan sogenaamde “vinnige reaktors” die oorblywende 99.3% van die uraan verbrand. Een rede waarom vinnige reaktors nie gebruik word nie, is dat hulle moeiliker is om te bou. Maar die oprigting daarvan kan groter momentum kry in die mate dat uraanbenutting gesogter raak—wat kan beteken dat hulle uiteindelik die termiese reaktors sal vervang.
'n Stuk uraanerts (LINKS BO) en hoogs verrykte uraan (REGS BO).
Foto links bo: United States Geological Survey & Mineral Information Institute Foto regs bo: U.S. Department of Energy
3. Veilig (as die waaksaamheid nooit verslap word nie) IEMAND het al bereken dat die ontginning van die brandstof wat nodig is om ’n kernkragsentrale ’n jaar lank te bedryf, ’n paar honderd sterftes sal verhinder, terwyl die asse van ’n steenkoolkragsentrale dertig sterftes sal veroorsaak. En dit bring ons by die veiligheidsaspekte van kernkragopwekking. Niemand sal ontken dat die gevolge van ’n kernsmelting (Eng. meltdown) by ’n kernreaktor katastrofaal kan wees nie. ’n Mens kan maar net verwys na wat in 1986 gebeur het naby die plek Tsjernobil in die Oekraine (toe nog in die Sowjet-Unie)—’n ramp waaroor ondertoe meer vertel word. Maar waar met kundigheid en verantwoordelikheid opgetree word, kan wel gesê word dat kernkrag een van die veiligste metodes van kragopwekking is. Ooreenstemmende statistieke vir Suid-Afrika is nie so geredelik beskikbaar nie, maar 10 000 tot 50 000 Amerikaners beswyk elke jaar aan asemhalingskwale weens die verbranding van steenkool, terwyl nagenoeg 300 in myn- en vervoerongelukke gedood word. Daarteenoor het geen Amerikaner nog gesterf of ernstig beseer geraak weens ’n reaktor-ongeluk of blootstelling aan die bestraling van Amerikaanse kernkragsentrales nie. Daar is ’n aantal veiligheidsmeganismes wat die kanse vir reaktor-ongelukke baie skraal maak. ’n Reeks versperrings skei die straling en hitte van die reaktor van die buitekant. Die reaktor-kern is binne-in ’n staaldrukhouer van meer as 20 cm dik. Die drukhouer is omring deur ’n dik betonmuur. Dié is binne-in ’n verseëlde staalstruktuur, wat op sy beurt binne-in ’n staal-versterkte betonkoepel van sowat 1,20 meter dik is. Laasgenoemde is ontwerp om sulke uiterstes soos aardbewings te weerstaan, selfs bomaanvalle of die geweld van ’n straalvliegtuig wat daarop neerstort. Daar is ook talle sensors wat enige toename in straling en vogtigheid kan waarneem. Só ’n toename kan beteken dat daar êrens ’n lek is. Daar is stelsels wat die kettingreaksie in die reaktor kan beheer of beëindig, indien dit nodig sou wees. ’n Noodkernverkoelingstelsel verseker dat daar, in die geval van ’n ongeluk, genoeg verkoelingswater is om die reaktor af te koel. Die nadele 1. Die gevaar van kernsmeltings (veral as die kerninstallasie nie behoorlik beveilig is nie) HOEWEL die gevaar van kernsmeltings (Eng. meltdowns), soos ons boontoe gesien het, gering is, bestaan dit nietemin. Indien daar ’n verlies aan verkoelingswater in ’n reaktor-kern is, sal die stawe oorverhit. Die stawe wat die uraanbrandstof bevat , sal oplos, met die gevolg dat die brandstof blootgelê word. Die temperatuur sal styg weens die gebrek aan ’n verkoelingsbron. Sou die brandstofstawe tot 2800°C verhit, sal die brandstof smelt en ’n witwarm gesmelte massa sal sy pad deur die houers oopsmelt na die grond daaronder. Dit is die ergste
wat kan gebeur, maar gelukkig is daar baie veiligheidsmaatreëls om
dit te keer. Noodwaterreservoirs is ontwerp wat dadelik die
kernsplytingsaanleg moet oorstroom indien daar ’n skielik verlies
aan verkoelingswater is. Die ongeluk in 1979 by die Three Mile
Island-kernkragsentrale, naby Harrisburg in die Amerikaanse staat
Pennsilvanië, word as ’n
Hoewel die reaktor heeltemal verwoes is, het die radioaktiewe massa nooit deur die staal van die omhulsel gedring nie. ’n Dik versperring van spesiale beton kon ure lank ’n lek in die konstruksie voorkom, wat werkers genoeg tyd gebied het om die watertoevoer na die kernreaktor te herstel. In 1986 het ’n veel groter ramp mense by die kernkragsentrale van Tsjernobil in die Oekraine getref. ’n Brand het die omhulsel van die kernreaktor uiteengeskeur en lewensgevaarlike radioaktiewe stowwe in die atmosfeer vrygelaat. Altesame 31 mense is net daar dood. ’n Verdere geraamde 15 000 het weens bestraling in die omringende gebied beswyk en daar is destyds verwag dat nog duisende sou kon sterf aan kanker wat hulle as gevolg van die bestraling opgedoen het. Three Mile Island en Tsjernobil is maar net voorbeelde wat die ernstige probleme uitlig wat deur kernsmeltings veroorsaak kan word.
2. Die betreklik kort lewensduur van reaktors KERNREAKTORS het ’n lewensduur van net sowat veertig tot vyftig jaar. Daarna moet die hele aanleg gesluit en verseël word—om geslagte en geslagte lank as ’n stuk niemandsland vermy te word weens die blywende gevaar van bestraling. Dit is een van die sterkste argumente van die teenstanders teen kernkragopwekking dat ons nie sulke nekropolisse aan die nageslag durf nalaat nie. Hoe weet ons dat ons nakomelinge ons nie erg hieroor sal verwyt nie, vra hulle. Maar wat is bestraling eintlik en hoekom is dit gevaarlik? Dié verskynsel word hieronder bekyk. 3. Die gevaar van bestraling WAAR radioaktiewe materiaal ’n organisme binnedring, word die radioaktiewe atome in die organisme geïnkorporeer, wat die afsterwing van selle tot gevolg het. Die menslike liggaam bevat baie soorte selle en die bestraalde persoon kan selfs gedood word deur die verlies van ’n enkele soort van die selle in ’n lewensbelangrike orgaan. Die tegnologie bestaan nog nie om die uitwerking van bestraling om te keer nie, en die skade is dus onherroeplik gedaan. Mense wat nie te erg aan groot dosisse kernbestraling blootgestel is nie, maar tog daarvan siek word, kan simptome soos swakheid, braking, ’n verlies aan eetlus en diarree ondervind. Hulle kan ook geneig wees tot bloeding, met vermeerderde infeksies. As hierdie simptome egter so ernstig word dat komplikasies soos ontwatering, bloedarmoede en bloedstorting intree, kan hulle sterf. Op die ergste kan kernbesmetting tot siektes soos beenmurgverval, skildklierkanker en genetiese mutasies lei. Dit gaan dan gepaard met sulke simptome soos haarverlies en gangreen van die tandvleise. Nadoodse ondersoeke sal toon dat die oorledenes se bloed byna geen witbloedliggaampies bevat nie, gekoppel met akute inflammasie in die slymvliese van die keel, longe, maag en ingewande.
Soos ons gesien het, is die gevaar van bestraling weens probleme met ’n kernkragsentrale uiters skraal, maar die ongelukke by Three Mile Island en veral Tsjernobil is genoeg om ons daarvan bewus te hou dat dit wel bestaan en dat die veiligheidsmaatreëls nooit verslap kan word solank as wat die kragsentrale in werking bly nie. 4. Die gevare van die storting van hoogs radioaktiewe verbruikte brandstof DIE hoeveelheid hoogs radioaktiewe verbruikte brandstof wat êrens op veilige plekke op aarde gestort moet word, vermeerder jaarliks met sowat 12 000 metrieke ton, wat gelyk staan aan sowat honderd dubbeldekkerbusse—en nie alle kernkrag-lande beskik soos Suid-Afrika oor hoogs afgesonderde en bitter droë plekke soos Vaalputs waar die gevaarlike afval betreklik veilig geberg kan word nie. Die neweprodukte van die splyting van die isotoop uraan-235 bly duisende jare lank radioaktief en moet gestort word op verskole plekke waar daar nie mense is nie totdat hul ten minste ’n beduidende hoeveelheid van hul radioaktiwiteit verloor het. Baie ondergrondse stortingsplekke is al opgerig, net om binne maande gevul te word. Daar is so ’n nypende tekort aan stortingsplekke dat mense al selfs daaraan gedink het om dit in vuurpyle te plaas en van die aarde af weg te skiet, maar so iets sal vanselfsprekend hopeloos te duur wees. Die vervoer van die verbruikte brandstof van die kernkragsentrale na die stortingsterrein bly ook altyd ’n waagstuk, hoeveel maatreëls ook al getref word om dit so veilig as moontlik te doen. ’n Mens kan nie weet wat alles onderweg verkeerd kan gaan nie, totdat dit dalk eendag te laat is om ’n ramp te keer. Die koste van die opwekking van kernkrag MET die prys van elektrisiteit vir verbruikers onder die laagste ter wêreld, het Suid-Afrika se sterk ekonomiese groei, vinnige industrialisasie en ander faktore vroeg in 2008 tot ’n energiekrisis gelei toe die vraag die aanbod oorskry het. Die lae elektrisiteitspryse het hulself as onvolhoubaar bewys. By die skrywe hiervan (vroeg in April 2008) was daar frenetiese pogings deur ons elektrisiteitsvoorsiener, Eskom, om die prys van kragvoorsiening dramaties te verhoog—iets wat natuurlik Suid-Afrika se internasionale voordeel as die beleggingsland met die goedkoopste krag sou kon uitwis, maar wat volgens kenners onvermydelik geblyk het.
In 2007 was dit bekend dat Eskom R35.5 miljard (R35.5 duisend miljoen) of ’n gemiddelde van 17.05 c/KWh (sent per kilowatt-uur) uit sy kragvoorsiening verdien het. Eskom se kernkragsentrale Koeberg buite Kaapstad voorsien 1800 megawatt aan die landwye kragnetwerk wanneer altwee sy reaktors volstoom werk en dra sowat ses persent by tot die elektrisiteit wat Suid-Afrika verbruik. Dit beteken dat Koeberg sowat R2.13 miljard tot die inkomste van Eskom bygedra het. Uitgawes om ’n kernkragsentrale te bedryf, word nie so maklik bereken nie. Dit is weliswaar so dat kernkragsentrales in die reël besonder hoë kapitaalinsette vir die oprigting verg, maar dat die brandstofkoste laag is wanneer dit met steenkool en olie vergelyk word. Uraan moet nietemin verryk en tot brandstofelelemente verwerk word, wat sowat die helfte van die koste van die kernbrandstof uitmaak. As verstrekte syfers korrek geïnterpreteer word, het dit byvoorbeeld in Januarie 2007 in Amerika $1787 gekos om 1 kilogram reaktor-brandstof uit uraanerts te onttrek. Ook die hantering van die hoogs radioaktiewe verbruikte brandstof en die uiteindelike berging daarvan sodat dit geen gesondheidsgevaar inhou nie, moet in aanmerking geneem word. Oor hoeveel die oprigting van ’n enkele kernkragsentrale vandag kos, moet ons gaan kyk na die jongste bestellings vir sulke kragsentrales elders ter wêreld. Daaronder is die Olkiluoto-aanleg wat in 2005 deur Finland vir €3 miljard gekoop en Brittanje se Sizewell B-kernkraginstallasie wat in 1995 teen meer as £3 miljard voltooi is. Allermins goedkoop. En pryse styg by die dag. In 2007 is berig dat ’n nuwe ambisieuse kernkragprogram wat deur die Suid-Afrikaaanse regering en Eskom in die vooruitgesig gestel is altesaam sowat R400 miljard van die Suid-Afrikaanse nasie sou verg om die verskillende installasies te bou. Die storting van die afval en ander kostes sou eweneens groot bedrae uit mense se sakke jaag. Presies hoe die jongste energiekrisis hierdie planne—en die kostes—kan beïnvloed, moet nog gesien word. Veiligheidsaspekte rondom kernkrag DIE veiligheid al dan nie van kernkrag is taamlik breedvoerig bespreek in onderafdeling 3. Veilig van Die voordele en onderafdelings 1, 3 en 4 van Die nadele hierbo. Opsommend kan ’n mens sê dat kernkragopwekking onder goed beheerde omstandighede baie veilig blyk te wees. Ongelukke soos by Three Mile Island en veral Tsjernobil toon egter dat foute kan insluip en dat werkers te alle tye gereed moet wees vir gebeurlikhede. Belangrike lesse oor ontwerp en konstruksie is ook uit hierdie ongelukke geleer. Om optimale veiligheid te verseker, opereer kernkragsentrales in die Westerse wêreld ooreenkomstig die benadering dat daar veelvuldige veiligheidstelsels rondom die kernreaktor moet wees. Sleutelaspekte is:
Kernkragsentrales word ontwerp met sensors wat die kragopwekking outomaties afskakel in die geval van ’n aardbewing, en dit is ’n baie belangrike oorweging in baie dele van die wêreld. Internasionaal is daar groot samewerking oor veiligheidsaangeleenthede rondom kernkrag, veral die uitruil van ondervinding ten opsigte van die werkinge van kerninstallasies, onder die beskerming van die Wêreldassosiasie van Kernoperateurs (WANO), wat in 1989 in die lewe geroep is. Die Internasionale Kerngebeurlikheidskaal is in 1990 ontwerp vir die oordra van inligting oor kernvoorvalle en -ongelukke aan die publiek. Die skaal wissel van ’n sero-voorval vir geen beduidende veiligheidsgevaar nie tot 7 vir ’n “vername ongeluk” soos dié by Tsjernobil. Die Three Mile Island-gebeurtenis is ’n nommer 5, ’n “ongeluk met risiko’s buite die perseel” maar met geen benadeling van enigiemand nie. Op vlak 4 is ’n ongeluk wat in 1980 in Frankryk plaasgevind het, toe skade hoofsaaklik tot die installasie self beperk was. Nog ’n vlak 4-ongeluk was in 1999 in ’n brandstofverwerkingsaanleg in Japan. Die praktiese uitvoerbaarheid van kernkragopwekking VIR ’n navorsingstuk is sekere mense iewers in die buiteland gevra hoe hulle daaroor sal voel as ’n kernkragsentrale in hul omgewing opgerig word. Uit die peiling onder 290 inwoners van drie klein plattelandse nedersettings naby plekke wat vir kernkragsentrales oorweeg is, het dit geblyk dat verreweg die meeste daarteen gekant was. Hierdie bevinding oor die houding van die publiek teenoor sulke ontwikkelings, toon dat kernkrag steeds ’n oervrees by baie mense wakker maak. Indien die praktiese uitvoerbaarheid van die oprigting van ’n kernkragsentrale in ’n sekere gebied ter sprake kom, moet beplanners dus allereers die moontlike vrese van die inwoners in ag neem en dit met inligtingsveldtogte probeer besweer. Uit ’n ander oogpunt gesien, moet onder meer die volgende kardinale aspekte in ag geneem word, as besluit word of kernkragopwekking vir ’n land of streek prakties uitvoerbaar is of nie: · Beskik die owerheid oor die nodige geld vir die bou en onderhouding van die kernkragsentrale of kan die geld daarvoor gegenereer word? · Is die staat en gemeenskap polities, juridies en andersins stabiel genoeg om die groot verantwoordelikheid van ’n kernkragsentrale te dra? · Is daar ’n poel van kundige ingenieurs, bouers en wetenskaplikes wat sal sorg dat die kragsentrale aan alle internasonale standaarde sal voldoen? · Sal daar genoeg sekuriteit en polisiëring kan wees om die kragsentrale dag en nag te beveilig? · Beskik die gebied waar die kragsentrale opgerig moet word oor genoeg verkoelingswater, met ander woorde lê dit teenaan die see, ’n meer of ’n groot en standhoudende rivier wat nie in ’n droogte sal opdroog nie? · Is die gebied afgesonderd genoeg sodat die kragsentrale nie maklik vanuit die see of oor land deur vyandelike magte gesaboteer sal kan word nie? · Lê die perseel vir die beoogde kragsentrale nie dalk op ’n bewese breuk in die aardkors sodat dit deur aardbewings beskadig sal kan word nie? Die impak wat die opwekking van kernkrag op die omgewing het
Tog beïnvoed ’n kernkragsentrale die wêreld naby hom, veral omdat dit die dorstigste van alle energiebronne is en ’n enkele reaktor elke dag 35 tot 65 miljoen liter water gebruik. Verkoelingswater keer terug na die bron, wat noodwendig meebring dat daar ’n sekere styging in die temperatuur in die see, meer of groot rivier is wat die kernkragsentrale voed. Vanselfsprekend het dit ’n uitwerking op die waterlewe in die onmiddellike omgewing. Vir baie natuurkundiges is dit egter nie kommerwekkend nie.
Trouens, ons eie Koeberg is ’n toonbeeld van die lae impak wat kernkragopwekking op die omgewing kan hê. In ’n private wildtuin van 2200 hektaar wat aan die kragsentrale grens, kerjakker onder meer bontebokke en duikers saam met meer as 150 soorte voëls—ongerep en ongesteur deur die hipermoderne kookpot van radio-aktiwiteit, wat agter ondeurdringbare gewapende beton help om Kaapstad en omgewing, en by uitbreiding die hele Suid-Afrika, dag en nag aan die gang te hou.
As ’n kernkragsentrale egter deur ’n kernsmelting verwoes sou word, soos by Tsjernobil, verander sy omgewing in ’n radioaktiewe woesteny. En dis ’n heeltemal ander scenario. Dis ’n nagmerrie waarop die teenstanders van kernkrag met die mees grafiese vertellings kan voortborduur. Maar die verskriklike waarheid is dat daardie nagmerrie al eenmaal werklikheid geword het... |
|