|
DIE kat kom terug, lui die ou gesegde. Dié sêding het bes moontlik ontstaan by die feit dat jy hierdie viervoetige huisdier
per motor selfs in Boesmanland kan gaan aflaai, maar dat hy altyd weer sy pad terug na sy menslike base sal wil vind.
Tog is dit insiggewend dat ou Felis silvestris catus
(LINKS) se voorsate eenmaal glad nie so gerieflik by die menseras gewoon het as vandag nie. Hulle was wilde klein dierasies wat jy beslis nie sonder handskoene kon pak nie.
Maar wanneer het die kat dan oorlams geraak en hom by die mens kom tuis maak? Volgens navorsers wat pas die graf van ’n antieke huiskat in Ciprus opgegrawe het, het mense reeds minstens 9500 eeue gelede katte as troeteldiere getem.
Dié karkassie uit die Steentyd is blykbaar versigtig langs ’n menselyk geplaas, saam met offerande soos sierade en klipgereedskap.
Geskiedkundiges het tot heel onlangs nog altyd gedink dat die ou Egiptenare sowat 4000 jaar gelede die eerste mense was wat die kat as huisdier begin aanhou het. Maar getuienis
toon dat katte lank tevore reeds buite Egipte kultureel belangrik was. Klip- en kleibeeldjies van katte wat tot 10 000 jaar gelede gemaak is, is immers al in Sirië, Turkye en Israel gevind.
Die eerste katbeendere wat argeoloë vroeër op Ciprus gevind het, was reeds van besondere belang omdat hierdie eiland in die Middellandse See geen inheemse kattespesie het nie. Dit het naamlik aangetoon dat mense katte van die hoofland na die eilande geneem het. Tog kon kenners nie besluit of hierdie katte wild of mak was nie.
Nou het Franse navorsers die meer as 9000 jaar oue oorblyfsels van ’n kat op die antieke dorpie Shillourokambos op Ciprus gekry—en die maniere waarop dit begrawe was, dui daarop dat die kat ’n troeteldier was. Sy oorskot was slegs 40 cm van ’n ou mensegraf waarin ook voorwerpe soos gepoleerde klippe en seeskulpe was.
Boonop is die geraamtes van die mens en die kat op ’n identiese wyse bewaar. Die koppe van die geraamtes lê altwee na die weste, en dit kon doelbewus só gedraai gewees het. Die argeoloë reken dat die kat doodgemaak kon gewees
het om sy baas tot in die graf te volg. Dit sou vir vroeë landbougemeenskappe sin gemaak het om katte aan te hou, omdat sulke diere die muise sou gevang het wat die mense se kosbare graan opgevreet het.
Hoe ook al, die wilde voorsaat van die huiskat het hom na alle waarskynlikheid in ’n woestynagtige klimaat bevind, want ons troetelkatte gedra hulle taks soos woestyndiere. Hulle hou van hitte en om in die son te lê. Hul ontlasting is gewoonlik baie droog en katte verkies dit om
hul mis in sanderige plekke te begrawe.
Katte is ook in staat om lang rukke roerloos te bly staan, gewoonlik wanneer hulle hul prooi dophou. Daar is steeds klein wildekatte in Noord-Afrika, wat waarskynlik voorsate van vandag se getemde rasse is.
Trouens, party van die vroegste mak katte kon soos die Afrika-wildekat
Felis silvestris lybica op die foto
LINKS gelyk het. Die bou en
selfs geraamtes van huiskatte en wildekatte is baie eenders.
Maar al word Egipte dan nou nie meer as die huiskat se eerste tuisland beskou nie, kan niemand ontken dat die kat ’n belangrike rol in daardie ou kultuur gespeel het nie. Die Egiptenare het katte as verpersoonlikings van die godin Bast beskou en die doodmaak van ’n kat is met die dood gestraf. Katte wat gevrek het, is partykeer net soos mense gemummifiseer.
In die Middeleeuse Europa is katte egter weer dikwels as die meelopers van hekse beskou. Vandag is daar steeds party mense wat glo dat wit katte ongelukkig is, of dat dit ongelukkig is as ’n swart kat jou pad kruis, of selfs dat swart katte geluk voorspel. Alles die onsinnigste, bogterigste bygelowe!
Soorte huiskatte en die bou en aard van die huiskat
DAAR is baie bekende huiskat-rasse, elk met eiesoortige erflike eienskappe, soos die Persiese kat, Angora-kat, Siamese kat, Birmaanse kat, Egiptiese kat en ander. Sowat veertig rasse word internasionaal erken. Maar weens die baie verbasterings in dig bevolkte gebiede, word katte dikwels op grond van hul pelse slegs as van ’n lang- of korthaarras aangedui.
Soos alle lede van die katfamilie
(byvoorbeeld die tier en, op die foto REGS,
die luiperd) het die huiskat intrekbare kloue en ’n kompakte, gespierde en hoogs soepele liggaam.
Die huiskat kan uitstekend onthou en toon ’n besondere aanleg om deur waarneming en ondervinding te leer.
Klik hier
vir ’n tamaai groot foto van ’n tier. Die
beeld behoort in ’n afsonderlike venster te verskyn.
Foto deur verskaffer aangedui as in die openbare domein.
Verskillende soorte huiskatte is liggaamlik baie eenders, in teenstelling met die ander gewilde huisdier, die hond, wat byvoorbeeld van ’n piepklein chihuahua tot ’n logge Groot Deense hond kan wissel. Dis tipies van katte om iets tussen vyf en sewe kilogram te weeg—selde meer as nege kilogram. In gevangenskap lewe hulle meestal tien tot vyftien jaar, hoewel die oudste een, sover bekend, ’n verstommende 34 jaar gehaal het. Huiskatte lewe in die reël langer wanneer hulle binnenshuis gehou word en as hulle gesteriliseer of gekastreer ("reggemaak") is.
Die lyf van die huiskat is uiters buigbaar. Daar is meer as 230 beendere in ’n katgeraamte, teenoor slegs 203 in die veel groter menslike skelet. Dis interessant dat die kat die lyf se posisie instinktief korrigeer wanneer sy kop nie haaks met die grond is nie. Wanneer hy dus van ’n redelike hoogte af op die grond val, land hy altyd op sy pote, al was hy ook op sy rug toe hy geval het.
Met sy soepel rugstring slaan hy ’n bolmakiesie in die lug en, as daar genoeg spasie is, verslap sy spiere vir die minste moontlike besering wanneer hy die grond tref. Die stert sorg vir ewewig wanneer hy spring of val.
Die kat se sintuie is skerp—en heelwat anders as die mens s’n. Die sig is ideaal vir jag, veral snags. Benewens die feit dat hy uitstekende nagvisie het, kan hy ook afstande met ’n besondere akkuraatheid skat. Die dagvisie van die kat is nie so goed as dié van mense nie. Hy sien makliker dat iets beweeg as dat hy die besonderhede van voorwerpe kan waarneem. Daar word ook gemeen dat hy slegs ’n beperkte reeks kleure kan sien.
Sy gehoor is uiters skerp en hy kan ’n hele reeks klanke waarneem, maar sy ore is tog minder sensitief vir die laer frekwensies. Dit kan dalk die rede wees waarom party huiskatte eerder op vrouestemme as op manstemme reageer.
Die smaaksin van die kat is iets besonders. Hy kan kwalik proe as kos soet is, maar is besonder gevoelig vir geringe veranderings in die smaak van water. Sy tong is so grof dat hy daarmee die vleis van bene kan afskraap, terwyl hy ook homself daarmee skoonlek.
Die snorbaard is ’n belangrike tasorgaan. Dit is gevoelig by die geringste aanraking en selfs in ’n baie dowwe lig kan ’n kat sy pad daarmee voel.
Ewe skerp is die kat se reuksin, wat van kardinale belang is by die vind van kos en by paring. Mannetjies kan byvoorbeeld ’n bronstige wyfie honderde meters ver ruik—die rede vir daardie lawaaierige konserte in die nag wanneer die katte so skreeu dat geen mens kan slaap nie.
Die geluid wat ’n kat maak, word as "miaau" aangedui—en, soos almal weet, is dit ’n taamlik getroue klanknabootsing. Katte kan egter ook spin. Hierdie gespin is ’n eienaardige, brommende geluid wat die kat maak as hy rustig asemhaal.
Die huiskat raak gewoonlik geslagsryp wanneer hy of sy nege of tien maande oud is. Die wyfies is verskeie kere per jaar bronstig en die draagtyd, nadat hulle gedek is, is sowat 65 dae. Daar is gemiddeld vier katjies—wat blind, doof en hulpeloos in die wêreld kom—in ’n werpsel. Hul ogies gaan ná agt tot tien dae oop. Op sowat ses weke raak hulle gespeen.
Nut en nadeel van katte
KATTE het hulle reeds feitlik regoor die wêreld tuis gemaak—van snikhete dorslande tot ysige eilande, waar hulle ’n langer haarkleed bekom het om die koue te verduur.
Hulle is gesogte troeteldiere, en nie verniet nie, maar die groot probleem kom wanneer katte toegelaat word om onbeheerd aan te teel. Volgens sekere ramings is daar byvoorbeeld 77, 7 miljoen katte in Amerikaanse huishoudings, met nog 60 tot 100 miljoen wat los rondloop. Die verwoesting wat veral die rondlopers onder voëlbevolkings saai, is onberekenbaar.
Ook in Suid-Afrika het katte bepaald al hul deel gedoen om skaars klein dierspesies tot by uitsterwing te vang.
Daarteenoor is katte steeds onmisbaar op byvoorbeeld graanplase waar hulle keer dat muise en rotte ons kosbare mielies of koring verslind. Mens en kat lewe dus daar as’t ware in "simbiose" saam—’n intieme saamlewing waaruit altwee voordeel trek. Die kat hou sy base se omgewing vry van ongewenste knaagdiere en in ruil daarvoor geniet hy die betreklike veiligheid van ’n menslike nedersetting.
Wee
die arme drommel wat dit sal waag om my in die donker te
knyp! |
Maar, interessant genoeg, het die huiskat se wilde voorouers nie saam-saam gejag of vir hul eie veiligheid in ’n trop saamgelewe soos die voorouers van die hond nie. Dit kan die rede wees, reken waarnemers, waarom katte nie die begeertes van mense "begryp" soos honde dit doen nie.
Dit kan ook bydra tot die waarneming onder troeteldierbase dat katte sowel afsydiger as selfgenoegsamer as ander troeteldiere is. Tog kan katte baie liefderyk teenoor hul eienaars wees. Dit is veral die geval wanneer hulle van vroeg-vroeg af vertoetel en aanhoudend verwen word.
O, die kat hou koers!
DIE kat wat altyd terugkom, het, soos ons hierbo gesien het, al spreekwoordelik geword—en ook lankal reeds
’n liedjieskrywer tot ’n treffer geïnspireer:
Ooo... die kat kom terug,
hy wil nie langer bly,
die kat kom terug,
hy het genoeg gevry,
die kat kom terug,
ja, glo my dit is waar,
die anderdagmôre was die kat weer daar!
Daar is baie verhale van katte—en natuurlik honde ook—wat van hul eienaars geskei is, maar toe oor berge, dale en riviere na hul base toe teruggekeer het.
Dit lyk of daar by dié diere verskillende faktore in die spel moet wees wat hulle so besonder rigtingvas maak. Só vertel Desmond Morris in sy boek Cat Watching van
’n Duitse dierkundige se proefneming met huiskatte. Hy het hulle in bokse gelaai en kruis en dwars met kronkelpaaie in hul tuisstad met hulle rondgery en hulle toe iewers in
’n stikdonker doolhof afgelaai.
En wat doen die katte toe? Elkeen kies uit 24 uitgange uit die doolhof die een wat die naaste aan sy huis is.
Die katte het ’n ''geheuekaart'', het ander wetenskaplikes gereken. So ver as wat daar met hulle kronkels en draaie gemaak is, het hulle dit in hul brein gekorrigeer om rigting te behou.
Amerikaanse navorsers het hierna sekere katte bedwelm en hulle vas aan die slaap ''ontvoer''. Maar die katte kon steeds hul pad terug huis toe kry. Nou ja,
dit wys jou hoe min ons nog
regtig van hulle weet... so min as ’n kat van saffraan dalk?
|

BO:
Katte-kamoeflering. Met sy strepe verdwyn hy byna tussen die
klippe waarop hy lê. Hierdie verlangse neef van die huiskat is
’n oselot, ’n soort tierkat van Suid- en Sentraal-Amerika.
Foto: Tom Smylie /
US Fish and Wildlife Service |
|