Kannibalisme in die diereryk

Opskrif: Vraat vreet maat
 
Kunstenaar se voorstelling van die Madagaskar-dinosourus Majungatholus atopus, wat weglę aan die oorblyfsels van ’n oerdier van sy eie soort

BO: ’n Kunstenaar se voorstelling van ’n majungasourus,  ’n dinosourus van Madagaskar, wat weglę aan die oorblyfsels van ’n oerdier van sy eie soort. Volgens navorsers is daar genoeg getuienis in die vorm van tandmerke op gevonde beendere dat hierdie soort dino­sourus ’n kannibaal was.

Kunstenaar en bron: Demetrios M. Vital / Newsroom: Press Release,  Office of Legislative and Public Affairs (OLPA), U.S. National Science Foundation
 

Talle diere sal niks daarvan dink om ander diere van hul eie soort—selfs hul eie ouers of kinders of “huweliks­maats”—met huid en haar op te vreet nie. Navorsers het ’n tyd gelede bekend gemaak dat ook ’n dinosourus van Madagaskar in die gryse verlede ander lede van sy spesie verslind het. Maar hoekom doen diere dit? Hoe paradoksaal dit ook al klink, is dit juis die vreet van gelyksoortiges wat soms die oorlewing van ’n spesie verseker...


M

ADAGASKAR, die groot eiland aan die suidoostekant van Afrika, was in die afgelope tyd meermale in die nuus weens sy politieke woelinge. Maar as daar vandag baie nie-Malgasse is wat ietwat ongemaklik sal voel om daar te woon, wonder ’n mens hoe enige vredeliewende skepsel ooit in die tyd van die dinosourusse op hierdie eiland sou kon oorlewe het.

Madagaskar was in die oerverlede ’n bitter gevaarlike plek. Krokodille het in die riviere gewemel en ’n byna agt meter lange vleisvretende dinosourus het oor die landskap gesluip. Hy was ’n sogenaamde majungasourus (aanvanklik Majungatholus atopus genoem). Soos die meeste dinosourus-karnivore het hierdie monsteragtigheid tande gehad wat goed gevorm was om vleis te verskeur. Maar tot betreklik onlangs was geleerdes nog onseker oor presies wat die majungasourus eintlik op sy spyskaart gehad het.

Sekere navorsers het egter met die antwoord gekom: volgens hulle is daar genoeg getuienis dat hierdie gedrog ’n kannibaal was. Die tandmerke op beendere wat by twee afsonderlike opgrawingsplekke gevind is, toon dat hy nie geskroom het om reptiele van sy eie soort  te vreet nie. Daar is darem tekens dat hy ook die oorskot van plantvretende dinosourusse verorber het.

Maar kannibalisme was natuurlik nie net beperk tot die dinosourusse van ouds nie. Dit kom steeds in ’n groot deel van die diereryk voor, by baie spesies. Selfs by skrander primate soos die sjimpansee, soos die beroemde Engelse dierkundige Jane Goodall (gebore 1934) dit op ’n keer met afgryse ervaar het.

Me. Goodall was op ’n sekere dag baie opgewonde oor die geboorte van ’n baba-sjimpansee in die Gombe-wildtuin in Tanzanië. Toe hoor sy tot haar ontsteltenis dat ’n volwasse sjimpansee die kleintjie doodgemaak en verslind het.
 
Gilka, die ma, was besig om haar bondeltjie vreugde te soog toe Passion, ’n ander ma, haar bestorm. Gilka het al gillende op die vlug geslaan, maar Passion het haar ingehaal, aangevat, die kleintjie gegryp en doodgemaak.
 
Mense het met groot weersin staan en kyk hoe Passion in die klein lyfie ingebyt en die bloederige vleisies met haar eie twee kinders gedeel het.
 
Jane Goodall se navorsing oor sjimpanseegedrag geniet węreldwye erkenning, en haar beskrywing van die kannibalisme het reeds destyds in 1975 opslae gemaak. Dog vir dierkundiges is kannibalisme by diere ook ’n hoog interessante verskynsel wat al tot verskillende navorsingstukke en ander geskrewe werke gelei het.

Mak sjimpansee wat wreedaardig geword hetLINKS:  Nie ’n kannibaal-sjimpansee soos dié wat Jane Goodall so ontstel het nie, maar ’n ander een wat onlangs onverwags gewelddadig geraak en getoon het dat ’n mens nooit oorgerus kan wees sover dit diere aangaan nie, nie eens primate nie. Sy naam is Travis en hy was ’n gewilde karakter op sy tuisdorp wat in televisie-advertensies opgetree en vir foto’s geposeer het—totdat hy ’n 55-jarige vrou in die Amerikaanse staat Connecticut aangeval het. Sy is só beseer dat sy ’n gesigsoorplanting oorweeg het. Ná die aanval het die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers in Februarie 2009 ’n wetsontwerp goedgekeur wat onder meer enigiemand verbied om primate in te voer, uit te voer, te koop of aan te skaf. Die Jane Goodall Institute is onder die organisasies wat hierdie wetgewing gesteun het.

Detail van ’n foto by U.S. House.gov / Webblad U.S. Congressman Mark Steven Kirk

MAAR presies waarom vreet sekere diere dan hul eie soort? In die boek Animalwatching deur die Britse geleerde Desmond Morris, uitgegee deur Crown Publishers, vind ’n mens sekere verklarings vir en tewens van die boeiendste voorbeelde van hierdie soort gedrag. Baie van die waarnemings wat hieronder volg, kom dan ook uit dié boek. By sommige diere, word vertel, is kannibalisme die gevolg van verhoogde stres, by ander vind dit gereeld plaas, of daar nou spanning is of nie.
 
Miskien die grillerigste voorbeeld van hierdie handelwyse vind ’n mens by sekere haaie, byvoorbeeld die sandtierhaai (Carcharias taurus), wat węreldwyd in kuswaters voorkom.

Die wyfie van hierdie spesie raak dragtig uit eiers wat binne-in haar twee baarmoeders uitbroei. Die embrio’s ontwikkel tot fetussies wat ewe bloeddorstig op mekaar begin jag maak. Hierdie ongebore haaitjies binne-in die ma is nou alreeds met vlymskerp tandjies toegerus, en daar is al berig dat bioloë se vingers dit moes ontgeld toe hulle in die pense rondgevoel het van haaiwyfies wat gevang was.
 
Die kleiner en swakker fetusse word meedoënloos deur die groteres en sterkeres in die twee baarmoeders verskeur en verslind, totdat daar uiteindelik slegs een goed gevoerde fetus in elke baarmoeder oorbly—knuppeldik gevreet aan al sy of haar ongebore boeties en sussies.

Omdat daar geen ander lede van die ongebore groepe meer oor is om te vreet nie, sorg die ma-haai verder vir haar twee langslewende klein vrate deur steeds eiers te produseer wat hulle kan vreet. Ná twee jaar is die ongebore haaie reeds bielies van sowat ’n meter lank. Hulle is klein ewebeelde van hul ma wat ten volle in staat is om vir hulself te sorg nadat sy hulle in ’n lang geboorte met die groot seewęreld daarbuite laat kennis maak het.

En reeds wanneer hulle die eerste lewenslig aanskou, kan ’n mens sę, het die gewetenlose jong seediere bloed aan hul hande... ekskuus, aan hul haaibekke. Praat van sibbemoorde en kannibalisme in die heel ergste graad.

’n Sandtierhaai

BO: Die sandtierhaai, waarvan die ongebore kleintjies mekaar binne-in die ma opvreet voordat hulle nog gebore word. Die sterkste een in elk van haar twee baarmoeders oorleef—dik gevreet aan die boeties en sussies.

Foto: Paula Whitfield / NOAA

DIE kleintjies van sekere ander diersoorte draai op hul beurt teen hul hardwerkende ouers. Sodra die volwassenes hul rol as lewegewers en beskermers volvoer het, is hulle nog net goed genoeg om harteloos opgevreet te word.
 
Die wyfie van een soort spinnekop vrek voordat haar kleintjies hul kokon verlaat. Wanneer hulle eindelik te voorskyn kom, vreet hulle haar op. Só kry hulle hul eerste ontbyt as ’t ware op ’n skinkbord voordat hulle moederloos koers kry om hul nuutgevonde węreld te gaan verken.

Dit herinner aan die waarneming van ’n Suid-Afrikaner wat ’n skerpioenwyfie lewend gevang en haar in ’n flessie toegemaak het. Veel later het hy weer op die flessie afgekom en gesien dat daar nie meer een groot skerpioen daarin is nie, maar ’n aantal kleintjies. Van die ma was daar geen teken meer nie. Die kleintjies wat ná haar gevangeneming in die węreld gekom het, moet mamma met dop en al opgevreet het om self aan die lewe te bly.

DIE omgekeerde—waar ouers hul kleintjies vreet—kom baie meer dikwels voor in die natuur. Dit gebeur veral wanneer die volwasse diere aan oormatige spanning onderwerp word, soos in ongunstige toestande of wanneer die een of ander dier naby die nes of lęplek kom.
 
Die verskynsel van volwasse diere wat die kleintjies van hul eie soort doodmaak, is al waargeneem by ’n aantal roofvoëls, meeue, kraaie en ooievaars. Dit is iets algemeens by soogdiere, veral vleisvreters en knaagdiere.

Die skrywer van hierdie artikel onthou byvoorbeeld die keer uit sy jeug toe sy gesin se getroue spanjoelhond, ’n wyfie, kleintjies gekry en daarna haar eie kroos goedsmoeds in die grond gaan begawe het. Later het sy waarskynlik na die kleintjies verlang en hulle weer gaan opgrawe, maar toe was hulle natuurlik reeds dood. Dit was miskien egter meer ’n geval van “instinktiewe manslag”, want ou Pexy kon nie daarvan gedroom het om haar spruitjies leed aan te doen nie. Opvreet sou sy hulle in elk geval nooit nie.
 
Maar die boomskeerbek—en hier word waarskynlik verwys na die gewone boomskeerbek of Tupaia glis, een van grootste van die boomskeerbek-soogdiertjies van die tropiese woude van Suidoos-Asië—hierdie boomskeerbek kan glo wel haar kleintjies opvreet as sy die dag te veel “op haar senuwees” raak.

In Animalwatching word vertel dat mamma boomskeerbek ’n spesiale klier aan die bors het wat iets soos ’n beskermende geur afskei. Die geur wat sy aan haar babas oordra, verkondig die boodskap: “Ek is ’n baba en ek smaak nie lekker nie.” Maar indien die ma nalaat om haar kinders met hierdie geur te merk, stuur hulle die volgende inligting uit: “Ek is net ’n stuk vleis.” Sonder om te huiwer verorber sy hulle.
 
Indien toestande spanningsvol raak, skei haar borsklier niks meer af nie en sy kan nie langer haar kleintjies met haar geur merk nie. Hulle ruik dus nie na kleintjies nie en word kort voor lank opgevreet.

Die boomskeerbek-wyfie is in elk geval blykbaar geen wafferse ma nie, as ’n mens lees wat op die webwerf van die Dierkunde-museum van die Universiteit van Michigan oor haar vertel word. Sy besoek haar kleintjies slegs een maal elke 48 uur om hulle tien minute tot ’n kwartier lank met ’n bietjie melk te voed.

Geen wonder sy verander so maklik in ’n kindervreter nie.

’n BoomskeerbekREGS: ’n Boomskeerbek.

Foto deur Stavenn,
wat ’n ietwat groter weergawe daarvan op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldye web gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word.


In een spesiale geval kan kleintjies deur hul ouers gevreet word selfs wanneer die laasgenoemdes nie oormatige spanning ervaar nie. Dit gebeur wanneer die kleintjies se pa sy heerserstatus verloor en deur ’n nuwe mannetjie vervang word.
 
Die nuwe heersers verslind die kleintjies van die ander mannetjies. Die doel is om die wyfies weer bronstig te maak. Hulle kan dan deur die nuwe mannetjies bevrug word sodat die volgende werpsels die nuwe mannetjies se gene sal dra. Dit gebeur dikwels by leeus, waar ’n jonger en sterker mannetjie die trop van ’n ouer mannetjie oorneem.
 
BENEWENS kleintjies wat kleintjies, kleintjies wat volwassenes en volwassenes wat kleintjies vreet, is daar ook ’n paar skouspelagtige gevalle van volwassenes wat volwassenes verslind. Die berugste voorbeeld is die dodelike paringsdaad van die hottentotsgot, ’n verskynsel wat seksuele kannibalisme genoem word.

Hottentotsgotte vreet nie net feitlik alle ander goggas nie, maar gereeld ook ander hottentotsgotte. En, glo dit, dit gebeur die meeste gedurende paring. Die wyfie, met die mannetjie op haar rug, kan haar kop effens draai en haar voorpoot om die mannetjie se nek plaas. Dan byt sy koeltjies sy kop af.

By sekere soorte is hierdie merkwaardige kannibalisme glo noodsaaklik vir paring, omdat die mannetjie slegs kan paar nadat sy kop en nek af is. ’n Koplose hottentotsgot kan die paringsdaad voortsit omdat die senusentrums wat met die oordra van sperma te doen het, in die agterlyf geleë is en onafhanklik van die brein funksioneer. Doller as kopaf kan dit wel, in die geval van die mannetjieshottentotsgot.

Die stomme mannetjie sal egter nooit weet dat sy liggaam sy spruite help voed wat binne-in die wyfie aan die vorm is nie. Een bioloog het gesę dat dit ’n bra wrede manier is om die bruidegom vir die bruilofsfees te laat betaal.

Hottentotsgotte: wyfie verslind mannetjie

BO: ’n Hottentotsgotwyfie verslind die pa van haar kinders wat nog in die węreld moet kom.

Tersaaklike detail van ’n foto deur Dave Parker,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software gepubliseer word

 
Ook die wyfie van die knopiespinnekop is ’n berugte manvreter. Sy is boonop opmerklik groter as haar petierige mannetjie, wat taks met sy lewe moet boet omdat hy haar so bekoorlik gevind het. Nie verniet dat knopiespinnekoppe
in die VSA en elders “swart weduwees” genoem word nie.

Spinnekopkrappe: mannetjie vreet wyfieLINKS: Asof hy wil wraak neem oor die droewige uiteinde van sekere landgebonde spinnekop-bruidegomme op hul troudag, is hierdie meneer spinnekopkrap besig om ’n vroutjie van sy eie krapspesie pens en pootjies op te vreet.

Foto: Ocean Explorer / NOAA
  

Soos die hottentotsgotwyfie is daar ook ander insekbruide wat tydens die huwelik as moordenaresse van hul bruidegomme ontpop, maar die wyfie wag gewoonlik dat die paring verby is voordat sy die mannetjie verorber. Hierdie patroon van kannibalisme is al waargeneem by sekere krieke, sprinkane, mierleeus en grondkewers.
 
By sekere soorte vlieë is daar ’n ekstra verfyning. Die mannetjies draai ’n klein kospakkie toe en gee dit as trougeskenk vir die wyfie. Die verpakking is belangrik, want dit duur ’n hele tydjie voordat sy dit kan oopkry en intussen kan die mannetjie met haar paar sonder om opgevreet te word.
 
By sekere spesies is die mannetjie se geskenk nie so gul nie, omdat hy die prooi droog suig voordat hy dit vir sy bruid gee. Wanneer die omhulsels af is, moet hierdie meneer dus ręrig spore maak.
 
By nog ’n spesie is die mannetjie se present selfs nog kariger. Hy draai niks toe nie en gee sy wyfie ’n leë kokon om oop te maak. Nodeloos om te sę moet dié karnallie van ’n kansvatter baie vinnig te werk gaan.
 
OFSKOON kannibalisme al by ver oor die honderd verskillende soorte diere aangeteken is— en dit sluit nie diere in wat in spanning verkeer of hulle in toestande bevind waar hulle mekaar verdring nie—sal dit volgens die boek Animalwatching verkeerd wees om hierdie verskynsel se belangrikheid in die dierewęreld te oordryf.
 
Veel belangriker, word gesę, is die merkwaardige feit dat diere juis nie graag ’n kwesbare lid van hul eie spesie sal vreet nie. Honger ouers moet in die versoeking wees om hul eie eiers of kleintjies te verorber, maar hul ouerdrange keer dat dit gebeur.
 
’n Pragtige voorbeeld van hierdie sorgsaamheid is waargeneem by ’n juweelvis-mannetjie wat sy kleintjies haastig bymekaargemaak en hulle in sy bek na die veiligheid van sy nes gedra het. Hy het pas nog een van sy rondloper-kleingoed opgeskep of hy sien ’n sappige wurm in die water neerdaal.
 
Die versoeking was darem net te sterk, en toe skep hy die wurm ook maar op. Maar nou was pappa in die allerverskriklikste dilemma. In sy vleisvreter-bek was een van sy kosbare kleintjies sowel as ’n gesogte vangs. Indien hy dit sou waag om te sluk, sou dit die heel laaste sien van sy eie klein visvlees en bloed wees.
 
’n Oomblik lank aarsel hy.

Toe spoeg hy sagkens altwee uit.

Kind en wurm drywe ’n kort rukkie voor hom in die water. Hy raap die wurm haastig op en sluk dié so vinnig as moontlik in.
 
Daarna skep hy weer sy kleintjie op, swem terug na sy nes toe en spoeg die klein vissie tot in veiligheid.

Wie’t ooit gesę ’n stomme vis is te onnosel om te redeneer!
  

’n Juweelvis


BO: ’n Juweelvis.

Foto deur Zhyla,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software gepubliseer word

En ten slotte enkele paragawe oor kannibalisme by die mens...

T

OE reddingswerkers in 1972 uiteindelik die plek in die besneeude Andesgebergte bereik waar die rugbyspan van Uruguay in ’n vliegtuig neergestort het, begroet ’n gruwelike toneel hulle. Daar is onmiskenbare tekens dat die oorlewendes van die ramp sekere van die liggaamsdele van hul dooie makkers geëet het.

Maar omdat die manne dit klaarblyklik gedoen het om 72 dae lank in die onherbergsaamheid te kon oorlewe, is daar ’n mate van aanvaarding van wat hulle gedoen het. ’n Mens eet nie ’n dooie mens nie, dog as dit die enigste manier is om self nie te sterf nie, wat doen jy?

Oorlewendes van 1972 se lugrampREGS: Oorlewendes van 1972 se lugramp by die wrak van die vliegtuig in die Andesgebergte.

Foto openbare besit (“in the public domain”) in Argantinië omdat die kopiereg daarop verval het

 

In die geskiedenis is daar dan ook baie voorbeelde van mensvretery tydens hongersnood of ander tydperke van ernstige tekorte. Die moderne mens keur dit goed nie, maar kan hom tog indink in situasies waar erge nood nie slegs leer bid nie, maar die ellendelinge tot die verskriklikste uiterstes kan dryf.

Mensvretery as ’n ritueel word egter vandag feitlik oral ten sterkste afgekeur. Om nie eens te praat van die kannibalisme van versteurde of hoogs wanaangepaste boosdoeners wat af en toe op die voorblaaie van veral die sensasiepers uitgebasuin word nie.

Oor presies hoe wydverspreid rituele mensvretery in die verlede voorgekom het, is geleerdes dit nie eens nie. Daar word nietemin gereken dat byvoorbeeld die Asteke van ou Mexiko dit op groot skaal beoefen het. Dit sou ’n deel gevorm het van ’n godsdienstige offering van oorlogsgevangenes—’n gebruik wat as eksokannibalisme bekend staan, oftewel die eet van vreemdelinge of vyande.

Daarteenoor lyk dit of die Australiese inboorlinge (“Aborigines”) vroeër deel gehad het aan ’n heelwat matiger vorm van mensvretery, naamlik endokannibalisme. Dit behels die eet van vriende en familielede, wat gewoonlik reeds dood is. Die ou Australiërs sou die lyk van ’n gestorwe familielid geëet het om—soos hulle geglo het—sy siel toe te laat om voort te lewe.

En dan, iewers tussen die stryd om oorlewing en rituele, was daar die kannibalistiese praktyke wat die Fore-stam van Papoea-Nieu-Guinee etlike dekades lank en tot in die helfte van die twintigste eeu nog beoefen het. Waar die mans van hierdie stam hul etes van bone en patats met die vleis van kleinwild aangevul het, het die vroue en kinders hul proteďen ingekry deur weg te lę aan die harsings van onlangs gestorwe stamlede.

Vandag is die Korowai van Nieu-Guinee een van die min stamme wat steeds daarvan verdink word dat hulle mensvleis eet. Die Korowai leef baie afgesonderd. Daar word selfs beweer dat hulle in die 1970’s vir die eerste keer besef het dat daar ook ander mense buiten hulself en hul naaste bure is.

’n Menslike “kannibaal”REGS: ’n Digitaal verkleurde foto uit ’n ou boek van 1913 oor inboorlinge van die westelike Stille Oseaangebied. HIerdie wilde figuur met die neuspen word in die boek ’n kannibaal genoem.

Foto: Project Gutenberg (digitaal verkleur)
 

Om af te sluit: dit is interessant dat die selfstandige naamwoord kannibalisme en die adjektief Karibies (soos in die Karibiese Eilande) volgens sekere geleerdes dieselfde wortels het. Albei sou afgelei wees van die naam van die Wes-Indiese Karib-stam, van wie die eerste keer melding gemaak is deur die ontdekkingsreisiger Christopher Columbus. Daar is in die ou dae beweer dat die stamlede mensvleis eet, maar of dit werklik die geval was, weet ons nie. Die Spanjaarde verwys na die Karib-stam as los caribales, wat maar ’n hanetreetjie weg is van ons woord kannibale.

Mensvretery word ook ook antropofagie genoemd, uit die Griekse anthroopos (“mens”) en die stam phag- (“eet”).
 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad