Die ontstaan van die onontbeerlike
draagbare kalkulator

    

Tien uit tien vir jou telmasjien!
 
Kalkulator

 

Kom ons erken dit nou maar: daardie sakrekenaar het ons behoorlik in die sak! Sonder hom kan ons beswaarlik die sommetjies maak wat so noodsaaklik in ons alledaagse handel en wandel is. Maar baie van ons besef nie dat die draagbare kalkulator ’n soort luukse is wat enkele dekades gelede nog glad nie bestaan het nie…

Foto: Adrian Pingstone, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het

 

•  Lees ook die Mieliestronk-artikel oor die geskiedenis van die rekenaar


 

J

OU oupa en ouma moes in hul jong dae kophou dat dit kraak. Hulle het nie met rande en sente gewerk nie, maar met ponde, sjielings en pennies, waarmee nie in tiene gereken is nie, maar in allerhande eenhede. Daar was naamlik twaalf pennies in ’n sjieling en twintig sjielings in ’n pond. Dan was daar ook nog drie pennies in ’n tiekie, ses pennies in ’n sikspens en dertig pennies in ’n halfkroon. Agt halfkrone het die waarde van een pond gehad.

 

’n Tweesjieling-muntstuk is ’n floryn genoem, en af en toe is ook vyfsjieling-muntstukke uitgereik wat krone genoem is. Selfs pennies is opbreek in helftes (halfpennies) en kwarte (oortjies).

 

Tot oormaat van ramp het oupa en ouma geen sakrekenaar gehad soos daardie een wat jy so maklik nader trek om, sê, 1 357 034 met 177 te vermenigvuldig nie. Hulle moes hul tafels en rekenformules op die punte van hul vingers ken en geduldig hul berekeninge met ’n pen of potlood op papier doen. Nie altyd so akkuraat nie.

 

Dit laat ’n mens ’n mens nogal met nuwe oë en groot dankbaarheid na die nederige ou sakrekenaar kyk—en miskien laat dit jou wonder hoe en waar hierdie onontbeerlike toestelletjie dan nou eintlik ontstaan het.

 

Geen enkele persoon kan die krediet kry dat hy die kalkulator ontwerp het nie. Dit is ’n apparaat wat deur die eeue heen ontwikkel het. ’n Belangrike eerste ontwikkeling in die geskiedenis van die rekenmasjien was die telraam of abakus. Namate die tegnologie en mettertyd die elektronika ontwikkel het, het al hoe gesofistikeerder rekenmasjiene ontstaan.

 

Maar die mens se eerste hulpmiddels met tel en optel, was stellig sy vingers. Dit is interessant dat die feit dat ons met groepe van tien werk, juis daaruit ontstaan het dat ons tien vingers het. Dog vingers het natuurlik hul beperkinge en mense het spoedig na iets buite hulself begin soek om hul tellery makliker te maak.

 

Eers was daar klippies, wat die nommers van een tot tien voorgestel het. Trouens, die woord “kalkuleer” (bereken) kom juis van die Latynse woord “calculus”, wat ’n klippie beteken. Die ou Mesopotamiërs het vlak trôe in die grond gemaak en klippies daarin gesit. Deur die klippe van een trog na ’n ander te verskuif, kon hulle ruwe berekeninge doen.

 

Die Grieke en Romeine het eweneens klippies of skywe van glas, ivoor of been gebruik om mee te reken.

 

Die klippies was ’n soort voorloper van die abakus of telraam, ’n vroeë rekentoestel wat van omstreeks 3000 v.C. af in China en Japan gebruik is, en later ook in Egipte, Griekeland en Rome.


’n Chinese abakus

 

BO: ’n Chinese abakus.

Foto deur HB, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het

’n Abakus bestaan uit ’n raam, wat gewoonlik van hout is, met dwars drade of smal houtstafies ewewydig daarin gespan en krale aan die drade of stafies. Die krale, wat eenhede van tiene, honderde en duisende voorstel, word geskuif om berekeninge soos optel, aftrek, maal en deel te doen, asook om vierkantswortels en derdemagswortels te bepaal.

 

So was daar, nadat die abakus uitgevind was, allerhande vroeë toestelle wat vir die maak van sommetjies gebruik is, maar dit het eeue geduur voordat berekeninge werklik gemeganiseer is.

 

DIE Franse geleerde Blaise Pascal (1623–1662) kry dikwels die eer dat hy die eerste meganiese kalkulator ontwerp het, maar hy was nie rêrig die vader van hierdie soort rekenmasjien nie. In 1623, die jaar toe Pascal gebore is, het die Duitser Wilhelm Schickard immers reeds die eerste outomatiese kalkulator gebou.

 

Blaise Pascal

 

BO: Blaise Pascal.

 

’n Vroeë Pascal-kalkulatorREGS: ’n Vroeë Pascal-kalkulator, wat in die Louvre- kunsmuseum in Parys, Frankryk, te sien is. 

 

Foto: Kopiereg © 2005 David Monniaux, wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web  vir herbenutting beskibaar stel ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die  Free Software Foundation gepubliseer word. ’n Kopie van die lisensie word ingesluit in die afdeling getiteld “GNU Free Documentation License”.

 

Pascal se bydrae was nietemin merkwaardig. In 1642, toe hy nog nie eens negentien jaar oud was nie, het hy ’n meganiese kalkulator ontwerp wat kon optel en aftrek. Die jong Blaise se pa was ’n superintendent van belasting. Blaise het vir die ouer Pascal ’n telmasjien gemaak in ’n poging om hom te help met sy eindelose berekeninge van hoeveel belasting betaal is en nog betaal moes word.

 

Hiervandaan maak ons ’n sprong tot in die 1800’s na die ontwerpe van twee masjiene wat dekades voor hul tyd was. In 1822 het die briljante Engelse uitvinder Charles Babbage (1791–1871) ’n masjien ontwerp wat die differensie-masjien genoem is. Dit moes eenvoudige wiskundige tafels bereken en uitdruk.

 

In die 1830’s het Babbage sy plan vir die differensie-masjien laat vaar—hy het dit nooit voltooi nie—en gekonsentreer op die ontwerp van ’n tweede masjien, die analitiese masjien, wat lang en ingewikkelde berekeninge moes doen en die resultate moes uitdruk. Die masjien moes met geperforeerde kaarte “geprogrammeer” word.

 

Babbage het veertig jaar aan die ontwikkeling van die analitiese masjien gewerk en baie van sy eie geld asook ’n skenking van die Engelse regering daarvoor gebruik. Ten spyte hiervan het hy nie genoeg geld gehad nie. Boonop sou ’n mens maklik kon dink dat die tegnologie toe nog nie bestaan het om enige van sy masjiene ’n werklikheid te maak nie.

 

Maar in 1991 het die Science Museum in Londen, Engeland, wel Babbage se planne gebruik om ’n werkende differensie-masjien te bou deur gebruik te maak van die tegnologie en materiaal wat in die negentiende eeu beskikbaar was.

 

Differensie-masjien in die Science Museum in Londen, Engeland

BO: Gebou volgens Babbage se destydse planne:  ’n werkende differensie-masjien in die Science Museum in Londen, Engeland.

Foto: Joe D, wat hergebruik vergun op hierdie bladsy van die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web iingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 1.0-lisensie. Buiterand van oorspronklike foto deur ons weggesny.

Die eerste geslaagde rekenmasjien wat gewerk het deur toetse te druk (soos die toetse op ’n tikmasjien) was die sogenaamde Comptometer, wat in 1884 deur Dorr E. Felt in Amerika ontwerp is. Die “Dalton adding-listing machine”, wat sy verskyning in 1902 gemaak het, was die eerste in sy soort wat slegs tien of wat toetse gehad het.

 

’n Dalton-masjien LINKS: ’n Dalton-masjien.

ONDER: Nog ’n meganiese kalkulator soos dié wat in die eerste helfte van die twintigste eeu ontwikkel het.

 

In die eerste helfte van die twintigste eeu was daar ’n geleidelike ontwikkeling van meganiese kalkulators, wat uiteindelik ’n taamlike mate van sofistikasie bereik het, maar hulle was nog groot en log in vergelyking met vandag se sakrekenaars wat in die hand gedra en letterlik in die sak gesteek kan word.

 

DIE eerste hoofraam-rekenaars het laat in die jare veertig en in die jare vyftig hul verskyning gemaak en hierdie tegnologie het die grondslag vir die ontwikkeling van elektroniese kalkulators gelê.  Vakuumbuise is deur transistors vervang, nadat die transistor in 1948 deur William Shockley, John Bardeen en Walter Brattain uitgevind en teen 1954 vervolmaak was.

 

Die elektroniese kalkulators van die middel van die jare sestig was egter steeds groot en swaar masjiene, wat op lessenaars gestaan het omdat hulle honderde transistors op etlike stroombaanborde bevat en baie krag verbruik het.

 

Die eerste kalkulator wat in die hand gehou kon word, is in 1967 deur die firma Texas Instruments ontwikkel. Dit kon optel, aftrek maal en deel, en die resultaat is op ’n papierlint uitgedruk.

 

Die elektronika het hierna met rasse skrede ontwikkel, en teen 1970 kon kalkulators vervaardig word wat slegs ’n paar silikonskyfies bevat het en min krag nodig gehad het om te werk. Die gevolg was dat draagbare kalkulators in Japan verskyn het wat van herlaaibare batterye gebruik gemaak het. Draagbare kalkulators is spoedig regoor die wêreld te koop aangebied. Die eerstes was egter nog omtrent so swaar soos ’n stewige blok botter en kon volgens geen definisie ware “sakrekenaars” genoem word nie.

 

Maar reeds in 1971 het die firmas Mostek en Texas Instruments kalkulators op die mark geplaas wat in die hand gehou kon word—aanvanklik peperduur apparaatjies wat ’n gewone mens die helfte van sy maandelikse salaris sou kos, maar hulle het die weg gebaan vir die goedkoop sakrekenaar wat binne die volgende paar jaar binne die bereik van honderde miljoene mense sou wees.

 

Ons hoef lank nie meer die hand diep in die sak te steek om ’n kalkulator in die sak te hê nie!

 

Syfers by jou vingerpunte vir blitsvinnige berekeninge

BO: Syfers en simbole by jou vingerpunte vir blitsvinnige berekeninge.

Foto: ARS / U.S. Departement of Agriculture

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad