|
|
|||
|
|||
NS gebruik vandag ons jaarkalenders
asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is en wonder selde indien
ooit waar die almanakke werklik vandaan kom. Goed, dis dalk laat druk
deur die kafeebaas op die hoek wat daarop adverteer en graag wil hê dat
ons die hele jaar
deur aan sy kafee herinner moet word. Maar die eintlike indeling van die
dae en maande op die almanak het ’n baie, baie langer geskiedenis wat
inderdaad oor duisende jare strek. Trouens, dit begin reeds by die
vroegste tye van die mens se kulturele bedrywighede toe mense die gang
van die tyd met behulp van die hemelliggame—die son, maan, planete en
sterre—probeer meet het. Slimkoppe in die antieke beskawings het die
skynbare bewegings van hierdie glansende hemelbolle gebruik om seisoene,
maande en jare te bereken. Ons weet weliswaar bloedmin van hoe
die mense in die voortyd die tyd gemeet het, maar in talle van die ou
kulture waarvan artefakte en relikke gevind is, lyk dit of daar sekere
mense was wat hulle sterk met tydmeting bemoei het. Ystydse jagters in Europa het meer as
20 000 jaar gelede lyne gekrap en gate uitgehol in stokke en bene,
moontlik om die dae tussen die fases van die maan te tel.
Die kompleks van groot regop klippe van die beroemde Stonehenge in Suidwes-England is die ruïnes van ’n prehistoriese monument wat uit die laat Steentyd en vroeë Bronstyd dateer (omstreeks 3000 tot 1000 vC). Dit is heel waarskynlik gebruik om seisoenale gebeurtenisse of die koms van natuurverskynsels soos maansverduisterings, sonnestilstande en so meer te bereken. Vyfduisend jaar gelede
reeds het Sumeriërs in die Tigris-Eufraatvallei in die teenswoordige Irak
’n kalender gehad waarin die jaar in twaalf maande van dertig dae elk
ingedeel is, die dag in twaalf periodes (elk gelyk aan twee van ons ure)
en ’n periode in dertig dele (elkeen soos vier van ons minute). Die jaar
van 360 dae het aanvanklik sekerlik vir hulle gewerk, maar ekstra maande
sou tog mettertyd bygelas moes word sodat hul jaar met die seisoene kon
tred hou. Die praktyk om
kalendermaande in dertig dae in te deel, het natuurlik by die maanmaand
ontstaan, dit wil sê die tyd van een volmaan tot die volgende, naamlik 29
dae, 12 uur en 44 minute. Dit is afgerond tot 29 of 30 dae. Die oudste Egiptiese
kalender is ook op die kringlope van die maan gegrond, maar later het die
Egiptenare besef dat die sogenaamde "Hondster" (oftewel die ster
Sirius) elke 365 dae langs die son in die ooste opkom. Toegerus met
hierdie kennis, het hulle die eerste volk geword wat die maankalender
vervang het deur ’n kalender wat op die sonnejaar gebaseer is. Vandag weet ons dat die
sonnejaar die tyd is waarin die aarde een kringloop om die son voltooi,
naamlik 365 dae, 5 uur, 48 minute en 46 sekondes, maar die ou
piramidebouers het hoogs waarskynlik niks van ons planeet se wentelbaan om
die son geweet nie. Hulle het slegs agtergekom dat daar ’n steeds
herhalende siklus in die stande van die hemelliggame is en hul kalender
toe daarvolgens uitgewerk. Die
Egiptenare het die sonnejaar op
365 dae vasgestel, ingedeel in twaalf maande van dertig dae elk, met vyf
ekstra dae aan die einde. Teen omstreeks 238 vC het koning Ptolemaeus III
gelas dat daar elke vierde jaar ’n ekstra dag moet wees, soortgelyk aan
vandag se skrikkeljaar. In ou Griekeland is ’n
maan-son-kalender met ’n jaar van 354 dae gebruik. Die Grieke was die
eerste wat bykomende maande op ’n wetenskaplike grondslag in hul
kalender ingevoeg het. Hulle het maande op spesifieke plekke in ’n
siklus van sonnejare ingelas. In Mexiko het die ou Asteke
(van die veertiende tot die sestiende eeu nC) ook ’n kalender gehad wat
op ’n sonnejaar van 365 dae gegrond was en wat in simbole op ’n
klipwiel uitgebeeld is. Die klipwiel, in Chicago se museum vir
natuurgeskiedenis, weeg meer as twintig ton. Die Asteke se jaar van 365
dae het agttien maande van twintig dae elk gehad, gevolg deur vyf
"ongelukkige" dae. Hulle het ook die tyd in siklusse van 260 dae
en van 52 jaar gemeet.
Die
oorspronklike Romeinse kalender, wat reeds in die agttiende eeu vC gebruik
is, was ’n maankalender met tien maande wat met Maart begin en met
Desember geëindig het. Koning Numa Pompilius het glo in 713 vC die maande
Januarie en Februarie bygevoeg, wat hul kalenderjaar op twaalf maande en
355 dae te staan gebring het. Die
eerste dag van die Romeinse maand, die dag van die nuwemaan, is die Calends,
of Kalends, genoem,
waarvan ons woord kalender afgelei is. Die Ides, of die dag
van die volmaan, was die vyftiende dag van sekere maande en die dertiende
dag van ander. Die Ides van Maart, die dag waarop die Romeinse veldheer
Julius Caesar vermoor is, was 15 Maart. Die Nones was die negende
dag voor die Ides, met die Ides in die telling inbegrepe. Die Romeine het
die tyd agteruit bereken—soos soveel dae voor die Ides, Nones of
Calends. Die
Juliaanse kalender DIE
hoëpriesters van die Romeine was in beheer van die amptelike kalender.
Dit was hul taak om sowat elke tweede jaar ’n ekstra maand by te voeg
sodat die Romeinse kalender met die sonnejaar van 365 dae sou ooreenstem.
Maar die hoëpriesters het hierdie mag misbruik. Om politieke redes het
hulle partykeer nagelaat om ’n maand in te las of dan sou hulle weer te
veel maande byvoeg. Teen
46 vC was die Romeinse kalender reeds negentig dae, of omtrent drie
maande, agter die seisoene. Die eerste dag van die (Noordelike Halfrond
se) lente was in Junie pleks van in Maart. Hierdie onhoudbare toestand is
deur Julius Caesar regstel, wat die kalender met die hulp van die
Egiptiese sterrekundige Sosigenes hervorm het. Caesar
het negentig dae by die jaar 46 vC gevoeg, wat die jaar 445 dae lank
gemaak het. Dit is die "jaar van verwarring" genoem. Hy het
verorden dat die Romeinse kalenderjaar uit 365 dae sou bestaan en dat daar
elke vierde jaar ’n skrikkeljaar met 366 dae sou wees. Die bykomende dag
is by Februarie, die kortste maand, gevoeg. Hierdie kalender het in 45 vC
van krag geword.
Die
Romeinse senaat het Quintilis, die vyfde maand van die ou Romeinse
kalender, ter ere van Caesar tot Julius (Julie) hernoem. Nog ’n
verandering was toe Sextilis, die sesde maand, ter ere van Augustus Caesar
hernoem is. Ons huidige kalender kry die name van sy maande en hul
volgorde van die Juliaanse kalender.
Die
Gregoriaanse kalender DIE
jaar van 365¼ dag van die Juliaanse kalender was steeds iets meer as elf
minute te lank. Hierdie verskil het ’n verlies van sowat ’n driekwart
van ’n dag in elke eeu beteken. Teen
1582 was 11 Maart, pleks van 21 Maart, die eerste dag van die (noordelike)
lente. Pous
Gregorius XIII het toe gelas dat die dag wat op 4 Oktober 1582 gevolg het
nie 5 Oktober nie, maar 15 Oktober sou wees. Om verdere probleme te
voorkom, het hy voorts beveel dat die laaste jaar van elke eeu slegs ’n
skrikkeljaar sou wees indien daardie jaar deelbaar is deur 400. Gevolglik
was 1600 ’n skrikkeljaar, maar 1700, 1800 en 1900 het slegs 365 dae
gehad, terwyl ons in 2000 weer ’n skrikkeljaar met 366 dae gehad het. Die
Gregoriaanse kalender is geredelik in Rooms-Katolieke lande aanvaar. Ander
lande het gevolg, totdat dit feitlik wêreldwyd as ’n standaard vir
tydmeting aanvaar is. Teen 1752, toe Engeland dit aanvaar het, was die
verskil tussen die Juliaanse en Gregoriaanse kalenders elf dae. Die
Engelse parlement het toe verorden dat die dag wat op 2 September 1752
gevolg het, nie 3 September nie, maar 14 September moes wees. Rusland het
die Gregoriaanse kalender in 1919 aanvaar, Griekeland in 1923 en Turkye in
1928. China het in 1929 gevolg. Ander
kalenders DIE
Moslem-kalender is die enige ware maankalender wat nog algemeen gebruik
word. Dit bestaan uit ’n jaar van 354 dae, met twaalf maanmaande wat om
die beurt 29 en 30 dae lank is. In elke periode van dertig jaar is daar
negentien gewone jare (van 354 dae) en elf skrikkeljare van 355 dae. Die
Moslem-kalender dateer vanaf die Hegira, Mohammed se vlug van sy vyande in
Mekka na Medina in 622 nC. Die Joodse kalender bestaan uit twaalf maanmaande van afwisselend 29 en 30 dae elk. ’n Ekstra maand word in ’n siklus van negentien jaar ingevoeg sodat die (noordelike) lentenagewening altyd in die maand Nisan val, wanneer die Pasga (Joodse Paasfees) gevier word. Die Joodse kalender word dus by die sonnejaar aangepas. Die Jode dateer hul kalender van die Skepping af, wat volgens hulle in 3760 vC plaasgevind het. • Lees ook: Hoe die maande hul name gekry het |
|||
|
(2)
Tydlyn oor horlosies
|
|||
|
•
1500-1300
vC: ’n Sonwyser word
die eerste keer in Egipte gebruik om die tyd van die dag te meet deur
middel van ’n skaduwee wat
in sonlig gewerp word. Die ure is korter in die winter en langer in die
somer.
•
400 vC:
Die Grieke gebruik ’n tydmeter wat met water werk. Tyd word
gemeet deur die uitvloeiing van water uit ’n houer. |
|||