Fotoreeksie van hoender, kalkoen, wilde-eend, makou, gans

Neefs van die hoender
Die herkoms van ons klokkende kalkoene, kwakende eende, heserige makoue en snaterende ganse...

 

Opskrif: Neefs van die hoender

’N PLUIM is ’n veer. En vee is natuurlik mak diere wat deur die mens aangehou word sodat hy hul produkte kan benut.

 

Sit die pluim en die vee bymekaar en jy kry pluimvee—geveerde diere rondom die huis wat die mensdom reeds honderde of selfs duisende jare lank van vleis, eiers en selfs mooi of dienlike vere voorsien. Maar pluimvee was nie van altyd af só in diens van ons mense nie. Wat meer sê, sekeres se voorouers was bra onindrukwekkende voëls.
 

In ’n ander Mieliestronk-artikel word in taamlike besonderhede van die bekende hoender en sy herkoms vertel. Hieronder kom ’n paar van sy byna ewe bekende “neefs” aan die beurt.

 

Kalkoene, eende, makoue en ganse... onder die verskillende voëls wat deur die mens mak gemaak is, word hierdie vier soorte vandag sonder veel vrees vir teëspraak op alle vastelande gevind. Minder algemeen buite Afrika is ons inheemse tarentale en volstruise... waaroor daar in elk geval ook afsonderlike artikels op die Mieliestronk-werf is.

Wildekalkoen (Meleagris gallopavo)
 

Die kop van ’n mak kalkoenBO: ’n Wildekalkoen (Meleagris gallopavo) van die oostelike VSA.
 

REGS: Die kop van ’n mak kalkoen, wat afstam van ’n Mexikaanse subspesie van die wildekalkoen hierbo.

 

Foto van wildekalkoen deur “Dimus”, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain, Wikimedia Commons”)

Foto van mak kalkoen: U.S. Department of Agriculture

 


 

 

Kalkoene

IN Engels noem hulle hom ’n turkey en sy Afrikaanse naam is ’n verkorting van die ou Nederlandse kalikoetsche of kalikoensche haan—met ander woorde ’n haan van Kalikoet, ’n stad aan die suidweskus van Indië.

 

Maar die kalkoen se land van herkoms is nóg Turkye nóg Indië. Hy is in werklkheid kort ná 1525 uit Amerika in Europa ingevoer.

 

Altwee benamings—turkey en kalkoen—berus op klaarblyklike misverstande. Wat die Engelse turkey aanbetref, is die voël glo ’n tyd lank verwar met die tarentaal, wat via Turkye vanuit Afrika na Europa gebring is. Dit is duidelik dat daar ’n soortgelyke verwarring moet gewees het waardeur die herkoms van die kalkoen in Nederlands (en dus ook Afrikaans) aan Kalikoet toegedig is.

 

Vandag se mak kalkoene stam af van ’n Mexikaanse subspesie van die wildekalkoen (Meleagris gallopava), wat vandag nog in dele van die VSA en Mexiko voorkom.

 

Partykeer sien ’n mens groot troppe deur die bos trek waar hulle kos soek. Hulle trek net bedags en slaap snags in die boomtoppe. Die mannetjies trop saam en die wyfies en jong voëls loop saam met hulle.

Wilde-eend (Anas platyrhynchos)

 

‘n Kuiken van ’n mak eendBO: Die wilde-eend (Anas platyrhynchos) waarvan die meeste van vandag se mak eendsoorte afstam (buiten ’n paar wat die makou as voorsaat het).

 

REGS: ‘n Kuiken van ’n mak eend. Sy donse is geel, maar word mettertyd deur wit vere vervang

 

Foto van wilde-eend: U.S. National Park Service

Foto van eendkuiken: detail van ‘n foto deur Yakovlev Sergey, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain, Wikimedia Commons”)

 

Eende

OFSKOON die mens wel ’n paar soorte eende min of meer kon mak maak, is daar slegs een soort wat werklik ’n huiseend genoem kan word. Sy wilde voorouer is die wilde-eend (Anas platyrhynchos) wat oor ’n uitgestrekte gebied voorkom—van die koue Noorde tot in Midde-Afrika, van Indië tot Noord-Amerika, en ook in Australië en Nieu-Seeland. Sy Engelse naam is die mallard.

 

Alle mak eende wat vandag bestaan, is uit hierdie wilde-eend geteel, buiten die paar soorte wat die onverwante makou as voorsaat het.

 

Maar die wilde-eend verskil nogal baie van sy mak afstammelinge. Die verekleed van die mannetjie is baie opvallend in die broeityd. Hy spog met ’n donkergroen kop wat deur ’n smal wit kragie van die perskleurige bors geskei word. Sy rug en pens is wit-valerig en die sye is bruin. Die middelste vere van die vaal stert is donkergroen en gekrul. Die bek is geel en die pote rooi.

 

Die wyfie is op haar beurt opmerklik valerig. Wanneer die broeityd verby is, verloor die mannetjie ook sy spoggerige veredos en dan is dit nogal moeilik om hom en die wyfie uit mekaar te ken wanneer hulle by mekaar is.

 

Die wilde-eend maak hom wyd en syd tuis in allerhande omgewings—die platteland, die stad, in vleie, moerasse, panne, mere, slote, weilande en nog wat.

 

Die huiseend se geskiedenis gaan baie ver terug in die verlede. Die Romeine het mak eende aangehou en geteel, en miskien ook die Grieke voor hulle. Maar dit was straks die Chinese wat heel eerste eende in hokke aangehou en laat broei het.

 

Ná al die eeue wat ons al die eend as ’n huisdier aanhou, het sy kleur en vorm so verander dat ons vandag ’n hele paar variasies van huiseende het. Maar almal se “oupagrootjie” is die mallard (uitgesonderd daardie klompie wat van die makou afstam).

Makou (Cairina moschata)


BO: Cairina moschata... nogal ’n indrukwekkende naam vir
só ’n oënskynlike knorpot!

 

Foto: U.S. Fish and Wildlife Service

 

 

Makoue

DIE wilde voorouer van die makou (Cairina moschata) word in die tropiese dele van die Amerikas, van Mexiko tot by Paraguay, aangetref.

 

Die makou se Engelse naam, die muscovy, moet ook op ’n misverstand berus wat vroeër oor sy herkoms bestaan het, want dié voël het geen verbintenis met Moskowië nie. Die naam Moskowië word óf gebruik vir Groothertogdom van Moskou, ’n staatkundige entiteit wat in die Middeleeue in Rusland bestaan het, of vir Rusland in die tyd van die tsare.

 

In die sestiende eeu is die makou uit die Amerikas na Europa gebring. Die makou en die kalkoen is die enigste teenswoordige mak voëls wat oorspronklik daar in die Nuwe Wêreld voorgekom het. Wilde makoue is meestal swart.

 

Daar word vertel dat mak makoue dikwels met mak eende verbaster. Wat meer sê, die kruisings is glo ook vrugbaar, met ander woorde hulle is glo nie “muile” wat nie kan aanteel nie. Ons kon die laasgenoemde bewering nie bevestig nie, maar wat sou sulke hibrides genoem word? Kou-eende? Die meeste mense sal seker maar swaar kou aan só ’n koddige woord, want dit kan mos ook verwys na eende wat soos kanaries en budjies in koue aangehou word!

Die kop van ’n mak gans (Anser Anser Domesticus)

 

BO: Die kop van ’n mak gans (Anser Anser Domesticus).

Foto deur Francesco Canu,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas het en dit gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie, waarvolgens deling en afgeleide werke op sekere voorwaardes vergun word

Ganse

VANDAG se bekende mak ganse kan hul stamboom terugvoer na ’n vaal voorouer, die Anser anser anser. Mak ganse lyk nog baie soos hul wilde voorsaat, maar dié is ietwat kleiner, lewendiger en opmerksamer as die makkes.

 

Wilde ganse broei in Ysland, Noorweë en die Oossee-lande, asook in Noord-Rusland. Party broei meer suidwaarts soos in Denemarke en Duitsland en, by uitsondering, selfs so ver suid as Spanje.

 

Die vaal wilde gans se habitat is groot, oop vlaktes. Wanneer die broeityd verby is, kom hulle soms in hul duisende in troppe bymekaar. Hulle soek gewoonlik bedags kos, maar partymaal ook snags. Hulle slaap gewoonlik in die middel van die dag wanneer die dag op sy warmste is.

 

Soos met die mens en huiseende kom die mens en die mak gans ook al ’n lang pad saam. Vir die ou Romeine was ganslewer ’n smaaklike gereg, terwyl die ou Grieke bes moontlik ook reeds ganse geken het.

 

Gans en gaar ’n ou bekende in ons midde!

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad