|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
JUKSKEI: Die kort artikel hieronder is goedgunstiglik vir Mieliestronk nagesien deur Hercules Taljaard, een van die toonaangewende figure in Suid-Afrikaanse jukskei-kringe, wat tans besig is om ’n boek oor jukskei te finaliseer waaraan hy al sedert 1987 werk. In Hercules Taljaard se lang jukskei-loopbaan van skool- tot veterane-vlak was hy onder meer verskeie jare lank kaptein van die Suid-Afrikaanse nasionale span, asook die kaptein en afrigter van die enigste wêreldspan wat ooit gekies was (in die jaar 2000 in Swakopmund, Namibië). Hy is ’n stigterslid van die SA Jukskei-Akademie en is tot die bestuur van die SA Skole-Jukskei-Unie verkies. Die museum vir jukskei op Kroonstad is na hom genoem. Hy was ook langer as ’n dekade lank tot einde 2006 bestuurder van Jukskeipark op Kroonstad. JUKSKEI is ’n tradisionele Suid-Afrikaanse spel—wat op eie bodem ontstaan het midde-in die eietydse omstandighede toe die nederige ossewa nog die vernaamste vervoermiddel in ons land was. Met die baie uitspantye, wanneer die osse kans gegee is om te rus, te vreet of te wei en water te drink, het die togryers en andere die tyd verwyl met hul jukskeie.
Die spelers het eenvoudig met skeie gegooi na ’n ander skei of stok, wat in die grond gesteek is, meestal die sagte sand van die Kaapse Vlakte. Slegs “omme” (die omgooi van die skei of stok in die grond) het getel en dit het net gegaan oor wie die meeste die “pen” kon omgooi. Dit is sommer so oor 20 tot 25 tree gegooi. Die einste jukskei-spel was, na vertel word, ook ’n tydverdryf by die Voortrekkers van weleer. Die trekkers sou dit ook saans gespeel het by die plekke waar hulle ná die dag se skof uitgespan het. Die jukskei as sodanig was natuurlik ’n bekende deel van die gereedskap by ’n ossewa. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) beskryf dit as ’n houtpen wat deur die skeigat in ’n juk gesteek word aan elke kant van ’n trekos se nek en met ’n strop onder die keel van die dier vasgebind word om die juk in posisie te hou.
Die belangrikste is
nietemin dat ons moet
Dis seker nie verbasend dat die verdwyning van die ossewaens—en dus ook jukskeie—hierdie aanvanklik eenvoudige speletjie geleidelik byna laat verdwyn het nie. Naderhand is dit nog net vir tydkorting by Wes-Kaapse strandoorde gespeel. Ouer boere wat steeds die speletjie geken het, kon elke jaar teen Kerstyd hul ou maats bymekaar maak wat ook daar by die strande kom uitspan het. Dan het hulle tot groot vermaak van die toeskouers met hul jukskeie kragte gemeet. Maar origens is daar omtrent glad nie meer met jukskeie gespeel nie. In 1938 het hierdie toedrag van sake egter verander. Met die honderdjarige herdenking van die Groot Trek was daar ’n groot opwelling van die gevoel vir alle tradisies van die Afrikaner. Die eeufees is veral gekenmerk deur die Simboliese Ossewatrek, waarin daar weer verskillende trekke was wat as ’t ware op die spore van die Voortrekkers deur die land beweeg het. Die opbloei van Afrikaner-nasionalisme het tot die totstandkoming van jukskei as formele spel gelei en dit was spoedig baie gewild. Trouens, binne enkele maande ná die eerste groot toernooi in 1940 in die Paarl, is dit oral in die land gespeel—reeds hoeka met die sogenaamde bottelskeie wat ons vandag nog ken. (Die egte jukskeie van die trekosse het al hoe skaarser geword, maar dit was geen probleem nie. Iemand wat gou-gou ’n bietjie jukskei wou speel, kon mos maklik vir hom ’n bottelskei met sy knipmes uit ’n boomtak kerf!) Op ’n kongres in 1940 in Bloemfontein is die Suid-Afrikaanse Jukskeiraad in die lewe geroep, wat tans as Jukskei SA bekend staan. Die volledige stel reëls is in 1942 geformuleer. Die nasionale en junior kampioenskapstoernooie in jukskei word jaarliks op Kroonstad in die Vrystaat gehou, waar daar ook ’n museum is wat dié spel gedenk. Dit staan bekend as die Jukskei Museum van Hercules Taljaard, genoem na een van die groot geeste in die jukskei-wêreld. Die Internasionale Jukskeivereniging, wat in 1984 in Johannesburg gestig is, bevorder jukskei internasionaal. Die lede is van Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe en die VSA. Maar hoe word die spel gespeel? ’n Jukskeispan bestaan uit vier lede, en elke speler gebruik twee skeie. Gooibeurte word “om die beurt” waargeneem. Die afstand tussen die penne is 9 m en die maksimum-afstand waaroor gegooi word, is vir mans, te wete 16 m. Vroue gooi oor 14 m. Voorts word kinders, veterane, manlik en vroulik, se gooi-afstand deur hul onderskeie ouderdomme bepaal. Die uitdaging is om te kyk watter span die eerste presies 23 punte (’n “skof”) kan behaal. ’n Pen—indien die pen omgegooi word—is ’n volle drie punte werd. ’n Lê tel een punt. By ’n lê moet die skei nader as 460 mm aan die pen lê, maar ook nader as die opponent se naaste skei.
Sou ’n span meer as 23 punte aanteken, “bars” die
span en moet hulle weer van 0 af begin—een van die unieke eienskappe
van jukskei.
|
|
Uitdrukkings met die woord jukskei OMDAT die jukskei so belangrik vir ons voorgeslagte was, is dit nie verbasend dat hulle vir ons ’n handvol idiome in ons taal nagelaat het waarin dit voorkom nie. Die idiome word vandag nog selde gebruik, maar dit kan steeds nuttig wees om hulle te ken. •
Jukskei breek = moeilikheid veroorsaak. |
|
• Op hierdie bladsy elders op die web is nog nuttige inligting in Afrikaans oor die spel jukskei:..http://af.wikipedia.org/wiki/Jukskei |