Grootste legendes van ons tyd

Nessie, Jeti, Bigfoot...  ons bekyk die wêreld se geheimsinnigste hedendaagse "monsters" en hoor van die fantastiese verhale wat om hulle geweef is. En dan is daar natuurlik ook nog die raaiselagtige VVV’s—om nie van Suid-Afrika se eie enigmatiese watermonsters te praat nie!


Kopie uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

E

NSIKLOPEDIEË soos hierdie web-ensiklopedie word gemaak om van die fantastiese waarhede in ons geskape wêreld te vertel—maar geen goeie ensiklopedie kan ooit volledig wees sonder sy fantasieë en sy mites nie. En wie ’n studie wil maak van die mens en sy hebbelikhede, kan ewe goed begin by die “monsters” wat mense steeds in verskillende wêrelddele fassineer.

Kom dus saam met ons op ’n boeiende reis na die ongelooflike—na die Nessies en die Jeti’s, die grootste legendes van ons tyd. En besluit dan self wat is waar en wat is drome—dalk blote skimme en gedaantes uit die Wonderlike Wêreld van die Waan...


Loch Ness-monster (Nessie)

REGS: Loch Ness, die lang, smal meer in Noord-Skotland waarin die geheimsinnige monster sou skuil. Niemand kom nog ooit met klinkbare bewyse vorendag kom dat die dierasie wel bestaan nie, maar een ding is seker: die Skotte in die plaaslike toerismebedryf lag die hele pad bank toe oor hul Nessie!

Foto: FreeDigitalPhotos.net, wat hierdie skakel na hul webblad as ’n vereiste stel vir die gebruik van die foto: www.freedigitalphotos.net

HY het oor die meer getuur en toe was daar die verskriklike opwelling. Sowat 200 meter van hom af was die water onverklaarbaar aan die beweeg.

En toe verskyn die reuse-nek ongeveer twee meter bokant die water. Met vooraan so ’n klein koppie, wat senuweeagtig bly rondbeweeg.

"Ek sê: ‘Dit is fantasties,’ en toe knip ek my oë net om seker te maak dat ek my nie verbeel nie. Ja-nee, hy’s daar, dis nie altemit nie. Net toe die boeg van die treiler verskyn, sien die dierasie dit en, whoesj, genugtig, wat ’n duik!"

Hierdie waarneming, in Mei 1934 van die geroemde "Loch Ness-monster" deur Alex Campbell, was die eerste van vele deur hierdie plaaslike Skot. Maar hy was lank nie die enigste mens wat vertel het dat hy vir "Nessie" gesien het nie.

Trouens, daar was al—glo dit—etlike duisende mense wat met ewe veel oortuiging vertel het van ’n groot dier wat in die Ness-meer in Noord-Skotland sou geswem het.

LINKS: Die kop en nek van Nessie? Hierdie beroemde foto is in die jare dertig van die twintigste eeu geneem deur ’n Londense snydoker, Robert K. Wilson, wat by Loch Ness in Skotland vakansie gehou het.

Eintlik begin die verhaal van dié legendariese dier reeds 1400 jaar gelede. Die eerbiedwaardige sendeling St. Columba sou op Loch Ness gevaar het toe hy "’n sekere watermonster" uit die meer sien opkom. Die monster sou aan land geklouter en ’n dorpenaar in die water begin insleep het.

St. Columba gebied toe die "fearsome beastie" om hom te gedra en terug te gaan water toe—wat hy natuurlik gedoen het. En vanselfsprekend verdien die heilige toe vir hom die onsterflike bewondering van al die dorpenaars.

Maar tot so sewentig jaar gelede is latere "waarnemings" van die Loch Ness-gedierte nie juis met erns bejeën nie. Die "waarnemers" is uitgelag. Of as net ’n bietjie van lotjie getik beskou.

Tot die jare dertig toe ’n hele string padwerkers wat ’n pad langs die meer gebou het, beweer het dat hulle die monster gesien het.

Maar dit was eers in die laat jare sestig dat navorsers hulle in alle erns verwerdig het om Nessie se bestaan al dan nie wetenskaplik uit te pluis. Die eerste soektogte—onder meer met bandmasjiene onder die water, duikbote en selfs seksuele lokmiddels—was vrugteloos.

In die jare sewentig het ’n Amerikaanse wetenskaplike met sonar die teenwoordigheid van groot, bewegende voorwerpe in die water opgespoor. Hy het selfs ’n aantal greinerige foto’s kon neem van voorwerpe wat soos monsters gelyk het. Maar natuurlik het dit niks bewys nie.

Sedertdien het talle onderwater-fotograwe en duikers die bodem van die meer verken. Nog ’n tegniek was om geluide soos dié van visse in nood op lae frekwensies uit te saai—iets wat haaie aanlok, maar, wie weet, dalk ook monsters!

Hope bloed is ook in die water gestort om moontlike robbe aan te trek, want party mense het geglo die "monster" is dalk ’n rob. Voorts is die meerbodem ontleed om die samestelling van die stowwe daar vas te stel.

Een jagtog na Nessie—en, sover bekend, beslis die deeglikste tot dusver—was ’n peperduur projek waarin sonar en ’n hele vloot bote gebruik is. Die water is met klank gebombardeer en die eggo’s ontleed wat van die bodem en enige ander groterige voorwerp ontvang is.

Dae lank het twintig bote, in gelid ’n ent van mekaar, die donker waters daaronder met hul "sonar-vingers" bevoel. Agter hierdie vloot was groter bote met selfs kragtiger sonar en onderwater-kameras.

Die klein bootjies het enige sonar-kontakte aangemeld en die groot bote het dan nader beweeg om dit deegliker te ondersoek. Dit was egter makliker gesê as gedaan, want die weer het nie saamgespeel nie en dit was moeilik om die bote in gelid te hou. Boonop het dinge soos skole visse en boomstompe ook nog die diagnose bewolk.

Desondanks het die vloot sterk sonar-kontakte geregistreer met iets wat volgens die navorsers "te groot geblyk het om ’n vis te wees". Hulle het dit weer probeer opspoor, maar kon nie. Wat dit ook al was, dit het toe reeds wegbeweeg.

Hierdie projek het die bestaan van die Loch Ness-monster nóg bewys nóg weerlê.

Maar as die "monster" dan wel sou bestaan, presies wat kan dit wees? Skeptici glo dis dalk eenvoudig ’n groot vis of ’n reuse-paling. Verbeeldingryker navorsers reken dis straks ’n oorblyfsel uit die verre verlede—’n prehistoriese reptiel!

Uit foto’s het hulle ’n dier saamgestel wat baie lyk soos die Plesiosaurus wat in die tyd van die dinosourusse gelewe het. Hierdie waterdier met sy lang, slangagtige nek, vinpote en ’n stert, het in baie wêrelddele, ook Suider-Afrika, langs die kuste en in riviermondings rondgeswem.

REGS: Die Plesiosaurus, ’n tydgenoot van die diosourusse. Verbeeldingryke mense sê Nessie is dalk eintlik een van dié. Dit sou beteken dat hierdie oerdiere toe nooit uitgesterf het nie soos nog altyd gemeen is nie!

Hoewel Nessie nog deur geen van die talle ekspedisies gevind is nie, word die monster kragtens wet beskerm—net ingeval iemand dalk slaag.

Wat die Loch Ness-monster werklik lewend hou, is die geheimsinnigheid wat dit omhul. Soos een van die soekers op een van die bote verduidelik het: Hy voel soos ’n Kruisvaarder op soek na die Heilige Graal. Daar hoef nie rêrig ’n Graal of ’n Nessie te wees nie. Al wat saak maak, is die hoop dat daar dalk een kan wees.


   Mieliestronk se “Nessie”! 

Mieliestronk se “Nessie”!

BO: ’n Natreksel van die stert, lyf, nek en kop van die Loch Ness-monster? Nee, darem nie. Dit is ’n grafiek van die daaglikse besoeke aan Mieliestronk se werf op die web oor twee weke in Julie 2009! Daar is ’n tyd van betreklik min besoeke diep in die skoolvakansie, ’n boog van oplewing in die week net voordat die nuwe skoolkwartaal begin en toe ’n skerp styging toe die skole heropen.


BO: Nie die Vaaldam-monster nie, maar “een” wat Kruger Tours se bekende toergids André van die Blyderivier-canyon ’n tyd gelede op ’n wildplaas in sy wêrelddeel gevind het! (André se portefeulje met talle aanskoulike foto’s is hier te sien op die wêreldwye web. Besoek ook Kruger Tours se webwerf deur hier te klik.)

 
Die Vaaldam-monster

’N KLOMPIE dekades gelede is beweer dat Nessie ’n gelyke in Suid-Afrika het—nogal in die Vaaldam! Daar was selfs ’n liedjie oor hom. Die liedjie het begin met iets soos “Hoeveel kos die monster in die Vaaldam?” (op die wysie van die gewilde Engelse liedjie How much is that doggy in the window?).

Die "Vaaldam-monster" was egter net vir ’n tydjie nuuswaardig... en het daarna blykbaar in die dieptes van die vergetelheid versink.

Of het hy?

So onlangs as April 2003 het die Deneysville News op sy voorblad berig dat ’n “monster” ’n tydjie tevore in die Vaaldam opgemerk is. Daar was selfs ’n foto van iets groots (maar onherkenbaar) wat blykbaar uit die water verrys met ’n man op die oewer wat in die rigting van die “monster” wys. Genoeg om dadelik die aandag te boei—totdat ’n mens na die datum van die publikasie kyk: 1 April!


Jeti

OKTOBER 1951. Die Menloengste-gletser in die Himalaja. Die bedrewe Britse bergklimmer Eric Shipton en twee ander klimmers beur oor die ys.

BO: Spore in die sneeu wat deur die Afskuwelike Sneeumens gemaak is? Nee, iets veel nederigers. Dit is, glo dit, die spoortjies van ’n muis!  Navorsers sal egter kan vertel dat selfs muisspoortjies mettertyd groter sal kan vertoon namate die sneeu begin wegsmelt. Kan die gewaande spore van die Jeti dus ook maar eintlik net mensspore wees wat deur smelting uitermate vergroot het?

Foto: Yellowstone / U.S. National Park Service (detail)

Hulle was die hele oggend aan die gang en staan nou ’n bietjie om asem te skep. Skielik sien Shipton ’n dubbele stel voetspore in die sneeu doer anderkant. Die geselskap haas hulle om die toneel te inspekteer.

Hul bevindings wek groot opspraak. Elke spoor is omtrent 20 x 33 cm groot—so groot soos die poot van ’n gorilla of ’n beer—met ’n ongewone reeks tone: twee grotes en drie kleineres.

Kan dit die spore wees van die berugte Afskuwelike Sneeumens, ook bekend as die Jeti?

Dit was sowat 45 jaar vantevore dat die Jeti na bewering die eerste keer deur ’n Westerling gesien is. Ene Henry Elwes het dit as "’n dier van die rotsagtige plekke" beskryf, wat ’n vertaling is van die Tibetaanse woord jehtei.

Die beeragtige dier is glo in 1986 weer gesien, nogal deur die gevierde Italiaanse berklimmer Reinhold Messner en ’n Russiese wetenskaplike. Nie een kon dit regkry om ’n foto te neem nie.

Verslae oor só ’n dier is ook ontvang van afgeleë plekke in China en Rusland. Maar dis veral die Sjerpas en ander bergmense van hoog in die Himalaja wat aanhou getuig dat die Jeti wel bestaan.

Volgens oorlewering is dit ’n harige dier met ’n lyf soos ’n beer of aap en ’n platterige gesig, bra soos ’n mens s’n. Sy arms is lank en strek tot by sy knieë. Hy loop regop.

Die Sjerpas beweer daar is twee soorte: die Tsoetel, wat omtrent twee meter hoog, bruin en heeltemal harig is, en die klein Mihtei met sy plat gesig, gepunte kop en rooibruin haarbedekking.

Volgens die Sjerpas kom die dier soms af tot in die bergdorpies om die mense aan te val. Amptelike verkenningstogte om die Jeti te vind, het niks opgelewer nie—geen dier, geen voetspore nie. Party wetenskaplikes glo dat die voetspore waaroor daar wel al verslag gedoen is, deur bere of ape gemaak kon gewees het. Ander sê dat die son die sneeu om voetspore só kan laat smelt dat die voetspore inderdaad groter word.

’n Londense geleerde, prof. Chris Stringer van die Natuurhistoriese Museum, het op ’n keer selfs die gedagte geopper dat die gedrog dalk deur ’n reusagtige prehistoriese aap geïnspireer kon gewees het.

Duisende jare gelede het die aap Gigantopithecus in Sentraal-Asië voorgekom, en hoewel ’n volledige geraamte nog nie gevind is nie, is enorme tande en beendere van die dier al gekry. Hy het tot 2,5 m groot geword en het massiewe arms, kort stompiebene en rooi hare gehad. Hy het dalk op sy kneukels geloop, bra soos vandag se gorillas, en was verwant aan die orangoetang.

Prof. Stringer het gesê dat die herinneringe aan die kolossale dier van geslag tot geslag oorgedra kon gewees het (as daar nie, en dis ’n baie groot miskien, ’n handjievol van hierdie diere uit oertyd oorgebly het nie). In die museum is al ’n geanimeerde beeld opgerig van die aap soos hy kon gelyk het—’n grommende en knorrende dierasie wat ewe gelukkig aan bamboes kou...


Bigfoot

LINKS: Dis glo Bigfoot! Wel, volgens die sogenaamde Patterson-Gimlin-opnames wat in Oktober 1967 van die ou paaiboelie gemaak sou gewees het...

DIE Amerikaaanse weergawe van die Jeti is ’n menslike gedierte genaamd Bigfoot, wat in die berge van Kalifornië, Oregon en Washington sou woon, asook in die berge van Brits-Columbië in Kanada.

Bigfoot en sy voetspore is al ontsettend baie kere "gesien". Hy is kwansuis sowat twee tot drie meter lank en moet dan ook meer as  230 kg weeg. Hy is harig soos ’n aap, met lang arms, kragtige skouers en ’n kort nek. Hy loop soos ’n mens en sy voetspoor is omtrent 40 x 15 cm.

Wetenskaplikes het egter nie veel geloof in dié aapskeloeder nie en glo dat baie van die "getuienis" blote gekskeerdery is.


Almasty

Almasty... of is dit?’N MENSAGTIGE kreatuur wat in die Kaukasiese gebergte in Oos-Europa sou woon, het al soveel belangstelling gaande gemaak dat ’n span Franse en Russe in die jare negentig twee maande lank navorsing oor hom gaan doen het.

Sy naam is Almasty. Mense van dié streek beskryf hom as iemand sonder ’n nek en met lang, swaaiende arms. As hy agter hom wil kyk, sê hulle, draai hy nie sy kop nie maar sy hele torso. Almasty sou die hebbelikheid hê om mense te agtervolg en hul kos te steel. Hy laat glo ook groot voetspore langs rivieroewers.

Dit is nie bekend wat die uitslag van die navorsers se ondersoek was nie (die moontlikheid is selfs genoem dat Almasty ’n Neanderdal-mens kan wees wat vandag nog lewe!). Maar die blote feit dat daar nooit enige aardskuddende aankondiging oor hom gedoen is nie, dui daarop dat Almasty waarskynlik eweseer ’n produk van ryke verbeeldings is as die Jeti, Bigfoot en kie.


VVV’s

VREEMDE Vlieënde Voorwerpe (VVV’s) is weliswaar nie "monsters" nie—hoewel sekere mense dalk dink dat hulle monsters kan huisves—maar die geloof in "vlieënde pierings" en sulke buiteaardse dinge hou sekerlik verband met  legendes soos dié van Nessie en sy gespuis.

’n VVV is enige voorwerp of lig in die hemelruim wat die waarnemer nie onmiddellik kan verduidelik nie. Mense het al sedert die antieke tye snaakse dinge in die lug bemerk, maar VVV’s het eers werklik die mensdom se tonge losgemaak ná die publisiteit oor ’n Amerikaanse waarneming in 1947. Baie duisende sulke waarnemings is sedertdien oor die wêreld heen aangemeld.

Minstens nege uit tien waarnemings kan na konvensionele voorwerpe teruggevoer word—dinge soos helder planete of sterre, vliegtuie, voëls, ballonne, vlieërs, vreemde wolkformasies, meteore en satelliete. Die res kan waarskynlik aan foutiewe beriggewing, geskeerdery of oëverblinding toegeskryf word, maar dit is natuurlik onmoontlik om bewyse te vind om alle aansprake te weerlê.

Nogtans glo sekere mense steeds onwrikbaar aan VVV’s, terwyl party selfs aanvoer dat hulle aan boord van VVV’s geneem was. Só was daar ’n aantal jare gelede ’n Suid-Afrikaanse vrou wat doodernstig beweer het dat sy na ’n ander planeet in die ruimte geneem was en daar die lewe aan ’n seun vir ’n ruimtewese geskenk het.

Niemand het egter nog ooit daarin geslaag om met ’n afdoende fotografiese bewys van ’n VVV vorendag te kom nie. En ons foto’tjie van die groen ruimtewesentjie hier neffens is net ’n rekenaar-gegenereerde truuk (soos ook sekere ander grafika by hierdie artikel)!


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad