Dramatiese lewe van tragiese heldin

Jeanne d’Arc

Vuur en
visioene

 

REGS: Jeanne d’Arc... stemme, visioene, militêre oorwinnings, gevangeneming... en uiteindelik ’n verskriklike vuurdood.  

 

Detail van ’n skildery van haar ondervraging deur die kardinaal van Winchester, ’n werk van Gillot Saint-Èvre, 1835 ( Louvre, Parys) 

 

Sekere Afrikaanse taalstryders het lank volhard deur haar Jo­han­na van Arkel te noem, die Engelse ken haar slegs as Joan of Arc en vir dié wat Spaans praat, bly sy Juana de Arco. Maar in verskillende ander tale word haar naam behou soos die Franse haar noem: Jeanne d’Arc—’n eenvoudige boeremeisie wat een van die mees heroïese én tragiese figure in die geskiedenis geword het. Op 30 Mei, haar feesdag, vereer patriotiese Franse haar nagedagtenis, maar sy is ook regoor die wêreld in monumente, beeldhouwerke en skilderye verewig. Dramas en gedigte is oor haar geskryf, vir die stryders vir vroueregte is sy ’n heldin en die Rooms-Katolieke het haar tot ’n heilige verklaar. Hier, kortliks, word van haar kort, maar hoogs dramatiese lewe vertel...

  


Die geboortehuis van JeanneREGS: Die geboortehuis van Jeanne.

 

Foto: Thiemo Gamma (foto verklaar tot openbare besit / “public domain”)
   

 

DIE vyftiende eeu het vir Frankryk baie somber begin. Byna honderd jaar lank was die land in ’n bloedige oorlog teen Engeland gewikkel. Sy beste soldate was dood, en ’n groot deel van die land is regeer deur die Engelse en hul bondgenote, die Boergondiërs.

 

Die Franse vorstehuis was onbekwaam, die koning van Frankryk kranksinnig, die kroonprins ’n besluitelose swakkeling. Maar sonder dat die Franse dit geweet het, was redding ophande in die vorm ’n jong boeremeisie, Jeanne d’Arc.

 

Jeanne, wat in 1412 gebore is as lid van ’n kleinboergesin in Domrémy, Lorraine, het nooit leer lees of skryf nie. Op ’n vroeë leeftyd het sy wel leer spin en naaldwerk doen. Daar word vertel dat sy nooit nagelaat het om te bid nie.

 

Op ’n dag, toe sy maar net dertien jaar oud was, het Jeanne volgens haar eie getuienis skielik stemme gehoor wat vir haar gesê het: “Gaan heen! En alles sal gebeur soos jy beveel!”

 

Van hierdie oomblik af het Jeanne se hele lewe verander. Waar sy gegaan het en wat sy gedoen het, oral was die stemme by haar—steeds gereed met advies, bevele en aansporings. Partykeer was die stemme vergesel van visioene, en Jeanne het oortuig geraak dat die stemme aan verskillende heiliges behoort het.

 

Veral een bevel sou die stemme telkens aan haar herhaal het: sy moes die gehate Engelse eens en vir altyd uit Frankryk verdryf.

 

Sy moes die harnas van ’n soldaat aantrek, het die stemme gesê, die dauphin (kroonprins) van Frankryk as die regmatige koning van Frankryk laat kroon en die Franse leërs in die noorde van haar land aanvoer.

 

Jeanne d’Arc by die Beleg van Orléans

LINKS: Jeanne d’Arc by die Beleg van Orléans deur Jules Eugène Lenepveu, 1886–1890 (detail).

 

Haar familie en vriende het gedink sy is kranksinnig, maar sy het ’n offisier in die Franse leër daarvan oortuig dat sy ’n instrument van God is. Hy het haar na die ongekroonde Karel VII in Chinon gebring.

 

Ondanks pogings van sy howelinge om sy identiteit te verberg, het sy reguit na hom toe geloop en uitgeroep: “In die naam van God, u is die koning! As u net doen wat ek sê, sal die Engelse verdryf en u deur almal as die koning van Frankryk geëer word.”

 

Karel VII was so oortuig daarvan dat ’n wonderwerk gebeur het dat hy, ondanks die twyfel van party van sy volgelinge, besluit het om vir Jeanne te gee wat sy wou hê: die opperbevel van die Franse leër. Sy sou vir hom die stad Orléans bevry waarom die grootste Engelse leër toe al sewe maande ingegrawe was.

 

Geklee in ’n glinsterende harnas en op ’n pragtige perd het Jeanne die aanval gelei—en die mense van Orléans só besiel om saam te veg dat die stad ná agt dae bevry is.

 

Hierna het sy die Engelse magte na Reims agtervolg, dié stad ook bevry en Karel VII op 17 Julie 1429 in die groot katedraal van Reims tot koning van Frankryk laat kroon.

 

Jeanne d’Arc by die kroning van Karel VIILINKS: Jeanne d’Arc by die kroning van Karel VII, deur Jean Auguste Dominique Ingres, 1854. Geen werklike afbeelding van Jeanne het egter behoue gebly nie en verskillende kunstenaars sou later vrylik op hul verbeelding staatmaak wanneer hulle haar geskilder het. 

 

Maar Jeanne was oortuig daarvan dat sy maar nog net ’n deel van haar sending voltooi het. Die stemme sou haar immers beveel het om die Engelse heeltemal uit Frankryk te verdryf. In September 1429 is sy egter met ’n pyl in die been gewond en haar soldate het moed verloor.

 

In Mei van die daaropvolgende jaar het die Boergondiërs haar by Compiégne, naby Parys, gevange geneem en haar aan die Engelse verkoop, wat besluit het om haar as ’n ketter en ’n heks voor die hof te sleep.

 

Deur haar hele verhoor het sy volgehou dat die stemme wat sy gehoor het, van God gekom het. Sy is nie toegelaat om ’n advokaat te hê nie. Toe het die Inkwisisie (kerklike hof) haar ter dood veroordeel.

 

Joan het tydens haar verhoor gesê: “Ek weet nie of God die Engelse liefhet of haat nie, maar ek weet dat hulle uit die koninkryk van Frankryk gegooi sal word.”

 

Die kardinaal van Winchester ondervra Jeanne d’Arc in die gevangenis

BO: Die kardinaal van Winchester ondervra Jeanne d’Arc in die gevangenis—Gillot Saint-Èvre se volledige skildery waarvan ’n detail bo-aan hierdie artikel verskyn.

Vroeg die oggend van 30 Mei 1431 is Jeanne—’n jong meisie wat toe maar net negentien jaar oud was—op die markplein van Rouen op die brandstapel verbrand. Sy het jammerlik gehuil. Toe die vuur aangesteek is, het ’n Engelsman gou-gou vir haar ’n houtkruis gemaak en dit aan die punt van ’n stok vir haar aangegee.

 

Haar laaste woorde was “Jesus, Jesus.” Nadat sy dood is, het party van die aanwesige Engelse gehuil. Een soldaat wat die toneel met afgryse aanskou het, sou na die ander mense by hom gedraai en gesê het: “Ons is verlore, want ons het ’n heilige verbrand.”

 

Jeanne op die brandstapelREGS: ’n Hoogs geromantiseerde voorstelling van Jeanne op die brandstapel, waarop sy blykbaar haar einde onverwelklik en berustend tegemoetgaan. Dit rep niks van die eintlike smart en verskrikking van haar vuurdood nie.

 

MSKARG

 

   In 1455 het Jeanne se familielede ’n nuwe verhoor aangevra om die aanklagte teen haar te heroorweeg. Die volgende jaar het pous Callistus III haar onskuldig verklaar. Vir die Franse volk het sy ’n martelaar geword wie se dood hul vereniging bewerk het. Omtrent 500 jaar later, in 1920, is Jeanne deur die Rooms-Katolieke Kerk tot ’n heilige verklaar.

 

   Jeanne se verhaal was die inspirasie vir baie letterkundige werke, onder meer Voltaire se gedig La Pucelle d’Orléans (Die Meisie van Orléans, 1738); Schiller se tragedie Die Jungfrau von Orleans (Die Meisie van Orléans, 1801); Mark Twain se historiese roman Personal Recollections of Joan of Arc (1896); en George Bernard Shaw se drama Saint Joan (1922).

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad