|
|||||
Oor
hierdie opgeleide Boere-advokaat se briljantheid sou niemand kon twyfel
nie. Die leidende rol wat hy in die stigting van sowel die gewese
Volkerebond en dié se opvolger, die Verenigde Nasies, gespeel het,
staan vir alle tye in die annale opgeteken. Voorts spreek sy prestasies
as militêre strateeg uit die vele dekorasies wat hy van verskillende
lande ontvang het. Wat
meer sê, uit waardering vir sy skitterende bydraes op die wêreldtoneel
het verskillende universiteite
in Suid-Afrika, Engeland, Skotland, Amerika en Europa nie minder nie as
29 eredoktorsgrade aan hom toegeken. Hy is ook tot ’n vryburger van 18
stede verklaar. Maar
Smuts se politieke loopbaan is deur nederlae sowel as suksesse
gekenmerk. Vanweë sy omstrede opvattings is hy dikwels nie onder sy eie
mense geëer nie, want hy het soveel toenadering tot Brittanje gesoek
dat hy baiemaal in Afrikanergeledere as ’n soort verraaier van die
Boerevolk beskou is. Dit
laat steeds by party mense vrae ontstaan oor Jan Christiaan Smuts se
ware statuur in die geskiedenis. Miskien moet nog ’n aantal jare
verloop voordat objektiewer oordele daaroor gevel sal kan word. Intussen
bly dit tog nodig dat die huidige geslag weer sal kennis neem van
hierdie man wat deur sekere historici as bes moontlik die invloedrykste
Suid-Afrikaner van die twintigste eeu beskou word. As
Suid-Afrikaanse geskiedenismaker van die 1900’s sal hy maklik die
voorste plekke op die podium met Nelson Mandela en die
hartoorplantingspionier Chris Barnard kan deel.
MUTS is in 1870 te Bovenplaats, digby
Riebeek-Wes, gebore in die destydse Kaapkolonie wat toe nog ’n deel
van die magtige Britse Ryk was. Dit was veertig jaar voordat hy sou sien
hoe Kaapland, die kolonie Natal en die gewese Boererepublieke van die
Vrystaat en Transvaal saam onder die Britse vlag in die Unie van
Suid-Afrika opgaan. Hy was die tweede
seun van Jacobus
Abraham Smuts en sy vrou
Catharina
en ’n nasaat van ’n ou Kaapse familie van wie die
stamvader reeds voor 1692 uit Nederland hier aangekom het. Jannie
het slegs vyf jaar skoolgegaan nadat hy eers op die ouderdom van
twaalf jaar skool toe is en hom daarna na die ou Victoria-kollega
begewe, wat later die Universiteit van Stellenbosch sou word. Ná
’n skitterende akademiese loopbaan aan dié kollege
en vervolgens aan die Universiteit van Cambridge in Engeland, is Smuts
in 1895 as advokaat in Kaapstad tot die Kaaplandse balie toegelaat. Hy
was ’n bewonderaar van die Kaaplandse koloniale eerste minister Cecil
John Rhodes en het dié se ideaal vir ’n verenigde Suid-Afrika
gesteun. Rhodes
se betrokkendheid by die sogenaamde Jameson-inval, ’n komplot om die
Boereregering in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) omver te
werp, het egter daartoe gelei dat Smuts sy rug op Rhodes gekeer het.
Hy
het hom in Johannesburg gaan vestig en
is in 1897 met sy Stellenbosse studentenooi, Isie Krige, getroud. In
1898 het hy Staatsprokureur van die ZAR geword en
na Pretoria verhuis. Hy
het ’n leidende rol gespeel in die laaste onderhandelings tussen
Republiek en Engeland voordat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het.
Smuts was in der waarheid die vader van ultimatum van 9 Oktober 1899,
waarin geëis is dat die Britse troepe teruggetrek word wat na die
grense van die ZAR gestuur is. Die ultimatum het op 11 Oktober verstryk
en Boer en Brit het mekaar die stryd aangesê. Soos
alle weerbare burgers van die ZAR en Vrystaat het Smuts die wapens
opgeneem en hy was van 1900 af ’n kommandant onder genl. J.H. de la Rey.
In die winter van 1901 lei hy met 300 burgers ’n inval in die
Kaapkolonie en dring tot in Namakwaland deur. Toe
daar in 1902 met die Britte in Pretoria om vrede onderhandel moes word,
is sy kundigheid weer benut, en hy het ook die vredeskongres te
Vereeniging bygewoon. Toe genl. Louis Botha in 1904 die party Het Volk stig, sluit genl. Smuts hom by hom aan. Botha en Smuts belowe trou aan Brittanje indien Transvaal selfregering ontvang. Smuts sou hom só by hierdie belofte hou dat hy dikwels deur Afrikaners as ’n pleitbesorger vir Brittanje beskou is pleks van om Suid-Afrika eerste te stel. In der waarheid was hy egter ’n groot patriot wat bloot geglo het dat noue bande met Brittanje in die beste belang van sy land was.
OTHA
het die eerste premier geword van die Unie van Suid-Afrika wat in 1910
gevorm is, en Smuts het etlike poste in sy kabinet beklee. In die Eerste
Wêreldoorlog word Smuts bevelhebber van die magte wat die Duitse
kolonies in Afrika verower en onderdruk hy ook die Rebellie van
1914-1915
van sekere
van die einste Boere saam met wie hy iets meer as ’n dekade tevore
teen Engeland geveg het. Smuts
jaag Afrikaner-nasionaliste verder die harnas in deur nie Jopie Fourie
te begenadig nie, die enigste rebel wat ná die mislukte Rebellie
tereggestel is. In 1917-18 verteenwoordig Smuts Suid-Afrika in die Imperiale Oorlogskabinet in Londen, en in 1919 is hy ’n afgevaardigde na die Vredeskonferensie by Versailles. Met sy versiendheid besef hy dat daar in die toekoms probleme kan kom weens sekere onbillike vredesvoorwaardes en hy weier dan ook aanvanklik om die Vredesverdrag namens Suid-Afrika te onderteken. Die Volkerebond (die ou voorloper van die Verenigde Nasies) word gestig en sy handves word grootliks op ’n geskrif van Smuts gegrond. Met
Botha se dood in 1919 word Smuts die premier van die Unie, maar in 1924 word hy vervang deur genl. J.B.M. Hertzog, wat afskeiding van Brittanje
voorstaan. Wat het dan Smuts se aansien ’n knou gegee? In
1922 het ’n ernstige staking onder die blanke mynwerkers aan die
Witwatersrand uitgebreek, veral weens ontevredenheid oor verminderde
lone en die grootskeepse indiensneming van halfgeskoolde swart werkers
in sekere poste. Toe sake in Johannesburg begin hand-uit ruk en dit
duidelik word dat sekere vakbondleiers die regering omver wil werp om ’n
werkersrepubliek aan die Witwatersrand uit te roep, het Smuts
kragdadig opgetree. Hy het die hulp van die Weermag ingeroep, en talle
stakers is doodgeskiet voordat die staking finaal beëindig kon word.
Dit het die mynwerkers erg verbitterd teenoor Smuts gemaak. Die
verwoestende Depressie van die jare dertig het Hertzog en Smuts wel tot
samewerking in ’n koalisieregering genoop en hierdie samewerking het
inderdaad so goed gevlot dat hul partye in 1934 saamgesmelt het om die
Verenigde Party te vorm.
Maar die teenstrydige lojaliteite van die Afrikaans- en Engelssprekende
ondersteuners het mettertyd tot soveel spanning in die party gelei dat
die skrif aan die muur was. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 is dinge toe ook op die spits gedryf en die “Smelter”-regering van genls. Hertzog en Smuts is finaal aan flarde geskeur. Eerste minister Hertzog wou hê dat die Unie neutraal moes bly in die oorlog, terwyl Smuts gemeen het dat dit die Unie se “eer en plig” was om Brittanje te steun. Op 4 September is die saak in die Volksraad tot stemming gebring, en Hertzog is met 80 teen 67 stemme verslaan. Smuts het weer eerste minister geword en Suid-Afrika was ook in die oorlog. Die
Unie het sy verdedigingsmagte onmiddellik ná 1939 skouspelagtig
uitgebou en op roemryke wyse aan die Geallieerde veldtogte in Oos- en
Noord-Afrika deelgeneem. In die Unie self het daar in die oorlogsjare
groot politieke verdeeldheid geheers, maar Smuts het ook die toppunt van
sy persoonlike aansien bereik en is oral in die Geallieerde lande as ’n
staatsman van wêreldformaat vereer. Reeds in 1941 is die rang van veldmaarskalk van die Britse leër aan hom toegeken, en hy was die enigste staatsman uit die dominiums wat in Winston Churchill van Brittanje se oorlogskabinet opgeneem is. Later het Smuts ook ’n belangrike rol gespeel in die stigting van die Verenigde Nasies en het hy die inleiding tot die organisasie se handves geskryf. In Suid-Afrika self is hy deur die Engelssprekendes op die hande gedra en met eerbewyse oorlaai. Sy steun onder die Afrikaanssprekendes het egter vinnig afgeneem weens die groeiende gevoel dat hy sy rug op die Afrikanerdom gekeer het...
N
die oorlogsverkiesing van 1943 het die Smuts-regering met sy beleid van
heelhartige steun aan die Geallieerde oorlogspoging ’n klinkende
oorwinning behaal en Smuts het toe nog op die toppunt van sy persoonlike
aansien gestaan. Toe
die kiesers van Suid-Afrika dus weer op 26 Mei 1948 na die stembus gaan
om ’n nuwe Volksraad aan te wys, het die meeste mense, genl. Smuts
inkluis, die uitslag as ’n voldonge feit beskou. Maar die kiesers het
anders besluit: sy regering is uit die kussings gelig en moes plek maak
vir ’n nuwe bewind. Vir die bejaarde genl. Smuts was dit ’n dubbele
slag, want selfs in sy eie kiesafdeling (Standerton in Transvaal) is hy
deur ’n opposisie-kandidaat verslaan. Maar
presies wat het in die vyf jaar ná die verkiesing van 1943 gebeur wat
so ’n sensasionele ondergang van die Smuts-bewind sou veroorsaak? Ná
1945 het Suid-Afrika hom in ’n al hoe meer veranderende wêreld bevind.
Reeds by die eerste vergaderings van die pas gestigte Verenigde Nasies,
waarvan Suid-Afrika ’n stigterslid en genl. Smuts soos gesê een van die
vaders was, het dit geblyk dat Suid-Afrika se rassevraagstuk voortaan
ten nouste gekoppel sou wees aan die wêreldpolitiek, waarin die
kleurvraagstuk ’n al hoe belangriker rol sou speel. Die
groot toestroming van swart werkers na die stede en die feit dat genl.
Smuts dit nie kon keer nie, het ’n groot deel van die blanke
kieserskorps erg verontrus, en die vrees dat die blankes in hul eie
gebiede verswelg sou word deur ’n swart meerderheid, het sterk
toegeneem. Boonop het party van genl. Smuts se belangrikste ministers,
o.a. die briljante J. H. (“Klein Jannie”) Hofmeyr, openlik
opvattings oor rassesake gehuldig wat al hoe meer Afrikaners daarvan
oortuig het dat die Smuts-bewind met sy beleid op rasse-integrasie
afstuur.
Omdat
veral die blanke Afrikaners destyds oortuig daarvan was dat
hul beleid van segregasie tussen blank en nie-blank die enigste manier
sou wees om die blanke beskawing in Suid-Afrika te handhaaf en te
verseker, het Suid-Afrika op sy veel verguisde weg van apartheid beland—’n beleid wat, hoe
verskillende mense ook al die doelstellings daarvan
probeer vergoelik het, tot heeltemal te veel ellende gelei het. Of Smuts
self destyds die antwoord gehad het—heel waarskynlik nie—is
natuurlik ’n ander vraag. Ook hy moes by die Verenigde Nasies deurloop
onder beskuldigings dat Suid-Afrika sy nie-blankes onderdruk. Maar dit
bly ’n interessante oefening om te bespiegel hoe die tweede helfte van
die twintigste eeu vir Suid-Afrika sou verloop het as sy Verenigde Party
en nie die Nasionaliste nie die verkiesing van 1948 sou gewen het. Jan Christiaan Smuts is op 11 September 1950 op die plaas Doornkloof, naby Pretoria, oorlede. Vriend en vyand het besef dat die land ’n leier verloor het wat ’n duidelike en besliste merk op die geskiedenis gelaat het. |
|||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |