’n Leier vir Afrika... wat is daar aan ons nuwe president se mondering wat hom so besonder gewild maak by die massas?

Die populêre woema
van Jacob Zuma

 Pres. Zuma en dansers

BO: “Musiek is voedsel vir die siel,” sê die Suid-Afrikaanse president. En hy sal nie skroom om saam te dans as die geleentheid hom voordoen nie.

Foto van dansers: © Chris Kirchhoff / MediaClubSouthAfrica.com
Beeld van pres. Zuma gesny uit ’n oorspronklike foto deur © SA Government Communication and Information System, www.gcis.gov.za , wat gebruik vir enige doel vergun, mits die GCIS erken word

 

Hoe klop die Afrika-pols as dit by die keuse van leiers kom? Hierdie  lewenskets van pres. Jacob Gedleyihlekisa Zuma kan jou wellig help om sake ’n bietjie beter te begryp...

BELANGRIKE NOTA: Die skrywer van hierdie artikel het hom probeer hou by absolute neutraliteit. Dit is geskryf om feitelike inligting oor die lewe van die president van Suid-Afrika te verskaf wat deur leerders gebruik kan word, maar daar is getrag om die feite en waarnemings darem ook in ’n verteerbare baadjie te klee. Enigiemand wat egter reken dat die artikel dié of daardie politieke sienswyse bevoordeel, of enige nuanses van goedkeu­ring enersyds of afkeuring andersyds daarin wil inlees, word versoek om asseblief nie dinge daaruit af te lei wat nooit so bedoel is nie. Die enigste standpunt van gehuldig word, is dat apartheid in sy toepassing tot veronregting gelei het... en daaroor sal niemand kan stry nie.

— Webmeester.

 

“Jy moet iets van die Afrika-siel verstaan om Jacob Zuma reg te begryp. Moenie te veel met Westerse oë na die man en sy geweldige aanhang op voetsoolvlak kyk nie.” — ’n Waarnemer.

 

D

IE jong beeswagter is ’n kranige swaaier van die stok in stokgeveg-speletjies, al kom hy soms huis toe met ’n klompie knoppe aan sy kop! Hy imponeer in elk geval die ander kinders in sy dorpie deur hom as ’n vernuftige klein leier te onderskei.

 

Die umfana (seun) behoort tot die Zuma-familiestam. Die lede van sy clan is regstreekse afstammelinge van koning Matomela, wat in die baie ou dae van koning Tsjaka so ’n goeie verhouding met dié gevierde grondlegger van die Zoeloe-volk gehad het dat hulle nooit teen mekaar oorlog gemaak het nie.

 

Hier, in die helfte van die twintigste eeu, ken die seun elke plooiing, spoelsloot en gelykte van sy afgeleë bergwêreld—hier in Inkandla, nou in die Zoeloe-hartland, waar die grasdak-rondawels rustig tussen die groen hange hurk en die beeste onverstoord in die subtropiese geiltes wei.

 

Maar al het hy koningsbloed, weet die seun nietemin baie van swaarkry. Daarteenoor leer hy ook vroeg-vroeg van mededeelsaamheid en die loflike begrip van barmhartigheid, meer nog, dat jy moet gee sonder om enigiets terug te verwag as jou medemens gebrek ly.

 

Baie, baie later in sy lewe sou Jacob Gedleyihlekisa Zuma hierdie ubuntu-lewensfilofie wat van kleins af by hom ingeskerp is dan ook só verwoord: “As ek vir my broer ’n broek koop, koop ek dit omdat hy my broer is, nie omdat ek iets wil hê nie. Europeërs verstaan dit nie.”

 

Gebore op 12 April 1942, midde-in die Tweede Wêreldoorlog, het die beeswagtertjie egter self bloedweinig gehad om na vooruit te sien in die na-oorlogse Suid-Afrika—wat nog te sê die geld gehad om vir homself of enigiemand anders behoorlike klere te koop.

 

Sy pa was ’n polisieman met die rang van sersant, die hoogste pos in die polisie wat ’n swartman destyds kon hoop om in Suid-Afrika te beklee. Maar hy is oorlede toe Jacob nog ’n kleuter was, en Jacob se ma (sy pa se tweede vrou) moes noodgedwonge Durban toe om as ’n huishulp te werk. Jacob bestee ’n belangrike deel van sy kindertyd om heen en weer tussen Zoeloeland en die stad te pendel, heeltemal te arm om hom die luukse van ’n formele skoolopleiding te veroorloof.

 

Sy ma sterf ook en Jacob word verder deur drie tantes grootmaak. (“My drie moeders,” sou hy hulle later met deernis onthou.) Toe hy vyftien jaar oud is, spring hy self uit om ’n bietjie geld te verdien om siel en liggaam aanmekaar te hou. Hy word ’n “kitchen boy”, nogal geklee in die wit katoenkortbroeke van die Brits-koloniale bediendes—talle Natalse blankes was destyds nog baie Brits gesind. Hy staan vroegdag soggens op om vloere te poets of vensters skoon te maak.

 

Maar Jacob het heeltemal te veel ambisie om sy lot as behoeftige tiener sommer so gelate te aanvaar. Hy leer ook met bitterheid van die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse samelewing, waar die swartman dikwels ten beste as ’n tweedeklas-burger beskou word, maar soms ook met kwetsende woorde aan sy “onbeskaafdheid” en “luiheid” herinner word en partykeer skroomlik onderbetaal word vir die hardste werk. Van stemreg vir die swart menigtes is daar geen sprake nie.

 

Jacob se Zoeloe-naam Gedleyihlekisa is ’n samevoeging van ’n Zoeloe-frase wat deur sy oorlede pa saamgestel is en beteken: “Ek kan nie stilbly as iemand met ’n vals glimlag voorgee dat hy my liefhet nie.” Teen hoeveel bedrieglike glimlagte hy hom as jongeling hardop moes verweer, sal ’n mens nie weet nie, maar die uitgesproke Zuma bly in elk geval nie stil toe hy as sewentienjarige die geleentheid kry om hom by die African National Congress (ANC) aan te sluit nie. Hy doen dit met ’n onomwonde en dawerende ja.

 

Só begin die verstommende politieke loopbaan van die ongeskoolde beeswagter wat eers later in die gevangenis op Robbeneiland sou leer lees en skryf, maar tans die eredoktorstitels van drie universiteite agter sy naam kan plaas en—meer nog—vandag die president van Suid-Afrika is.

 

Dis ook hierdie opgang van vodde na voorspoed wat dié populistiese leier so ’n groot rolmodel maak vir miljoene swartmense wat ontberings ken. Hulle ervaar hom as ’n dansende, lewensblye mens-mens, wat ewe gemaklik is in ’n deftige pak klere en in ’n luiperdvel, en iemand wat met kennelike meelewing met die hoogstes tot die laagstes op die maatskaplike leer kan skakel. Hulle koester boonop die grootste verwagtinge dat hy die lot van die lank verwaarloosde landvolk sal verbeter.

 

Soos iemand in sy geboortewêreld, Inkandla, dit op die televisie gestel het: “Ons wens alle leiers kon soos hy wees en nie weghardloop van hul mense nie...”

 

Die vriendelikste gesig in die skareREGS: Pres. Jacob Zuma, gereeld die vriendelikste gesig in die skare.

 

Foto: Friends of Jacob Zuma / via MediaClubSouthAfrica.com

 

 

ZUMA is as jongeling grootliks deur ’n familielid beïnvloed wat ’n geswore vakbondman was. Nadat hy in 1959 ’n lid van die ANC geword het, is die beweging net die volgende jaar deur die destydse Suid-Afrikaanse apartheidsregering tot ’n verbode organisasie verklaar. In 1962 word hy ’n aktiewe lid van Umkhonto We Sizwe, die militêre vleuel van die ANC.

 

Die meeste van die inligting hieronder (tot by die volgende afdeling in hierdie artikel) oor sy betrokkenheid by die ANC kom van ’n ANC-webblad by http://www.anc.org.za/people/zumaj.html .

 

Terwyl hy in 1963 besig was om die land te verlaat, word Zuma saam met ’n groep van 45 rekrute naby Zeerust in die destydse Wes-Transvaal, tans die Noordwes-provinsie, inhegtenis geneem. Hy word daaraan skuldig bevind dat hy saamgesweer het om die regering omver te werp en tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Hy dien sy straf op Robbeneiland uit.

 

Daar is die storie dat Zuma sy medegevangenes daar op die eiland met die vertel van stamverhale getrakteer het—wat nog ’n aanduiding sou wees van hoe hoog hy sy herkoms en sy mense se tradisies ag. Wat wel waar is, is dat hy daar ywerig meegedoen het toe kore gevorm is om die tyd te verwyl. “Musiek is ’n integrerende deel van ons lewens,” sê hy vandag. “Dis voedsel vir die siel.”

 

Ná sy vrylating help Zuma om verset binnelands te organiseer teen die blanke minderheidsbewind in Suid-Afrika. Hy speel tussen 1973 en 1975 ’n belangrike rol in die hervestiging van ondergrondse ANC-strukture in Natal, maar verlaat Suid-Afrika in 1975. Met sy basis eers in Swaziland en toe in Mozambiek, het hy in die volgende twaalf jaar te doen met duisende jong uitgewekenes wat ná die Soweto-opstand uit Suid-Afrika stroom.

 

Hy woon in etlike Afrika-lande terwyl hy vir die ANC werk en maak vinnig opgang, soseer dat hy in 1977 ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee word. In 1987 bevind hy hom in die hoofkantoor van die ANC in Lusaka, Zambië, waar hy as hoof van ondergrondse strukture en kort daarna as hoof van die inligtingsdepartement aangestel word. Hy dien in die ANC se politieke en militêre raad wat in die middel van die jare tagtig tot stand kom.

 

Nadat die verbod op die ANC in Februarie 1990 opgehef is, is hy een van die eerste ANC-leiers wat na Suid-Afrika terugkeer om met die onderhandelingsproses te begin. Hy help om die Groote Schuur-Minuuut te organiseer waar die destydse regering onder pres. F.W. de Klerk en die ANC belangrike besluite oor die terugkeer van uitgewekenes en die vrylating van politieke gevangenes neem.

 

In 1990, by die eerste streekkongres van die ANC in KwaZulu-Natal, word hy tot voorsitter van die Suid-Natalse streek verkies en speel hy ’n toonaangewende rol in die bekamping van geweld in die streek. Dit lei tot ’n aantal vredesooreenkomste tussen die ANC en die Inkatha-Vryheidsparty (IVP).

 

Trouens, daar is wye erkenning vir sy deurslaggewende rol om die betreklike vrede te bewerkstellig wat vandag in die provinsie heers. In 1998 is hy dan ook in die Amerikaanse hoofstad Washington met die Nelson Mandela-toekenning vir Uitmuntende Leierskap vereer.

 

Een waarnemer reken egter dat die taak om militante Zoeloes te oorreed dat hul heil in die politiek lê en nie in stamgebondheid nie, seker baie moet geverg het van iemand wat juis soveel waarde aan tradisies en sy eie herkoms heg.

 

In 1991, by die eerste nasionale konferensie van die ANC wat in Suid-Afrika gehou word ná die opheffing van die verbod op die organisasie, word Zuma tot adjunk-sekretaris-generaal van die ANC verkies.

 

In Januarie 1994 word hy as die ANC-kandidaat vir die premierskap van KwaZulu-Natal aangewys. In ’n ongemaklike koalisieregering wat ná die eerste demokratiese verkiesing van 1994 deur die IVP en ANC in KwaZulu-Natal gevorm word, is Zuma ’n lid van die uitvoerende komitee, met die portefeulje ekonomiese sake en toerisme.

 

In Desember 1994 word hy tot nasionale voorsitter van die ANC en voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal verkies. Hy word in Desember 1996 by die nasionale konferensie van die party in Mafikeng tot adjunkpresident van die ANC verkies.

 

MET die oorname van Thabo Mbeki van Nelson Mandela as die president van Suid-Afrika in Junie 1999. word Jacob Zuma die adjunkpresident van die land. Daar word algemeen aanvaar dat hy by Mbeki sal oorneem wanneer dié die tuig ná twee termyne sal neerlê.

 

Maar in Junie 2005 bars die bom. Mbeki onthef Zuma van sy amp as adjunkpresident van Suid-Afrika weens bewerings van korrupsie wat verband hou met ’n wapentraksaksie van miljarde rande wat die Suid-Afrikaanse regering in 1999 aangegaan het. Dit is nadat Zuma se finansiële adviseur, Schabir Shaik, weens korrupsie en bedrog tronk toe gestuur is.

 

Hierna word Zuma met belangrike geregtelike uitdagings gekonfronteer. Hy word in 2005 van die verkragting van ’n familievriendin aangekla, maar vrygespreek. Hy voer ’n uitgerekte stryd om te verhinder dat hy in die hof beland en van korrupsie aangekla word, totdat die Nasionale Vervolgingsgesag feitlik aan die vooraand van die algemene verkiesing in April 2009 besluit om die aanklagte teen hom te laat vaar. Die rede wat hulle aanvoer, is dat hulle ontdek het dat daar politieke inmenging in die vervolgingsproses was.

 

Die ANC, oorweldigend gelei deur die Zuma-faksie ná die ANC-konferensie van Desember 2007 in Polokwane, het intussen Thabo Mbeki as president van Suid-Afrika “herroep” en Kgalema Motlanthe is as “tussentydse” president in sy plek aangestel tot die algemene verkiesing.

 

Die ANC wen weer, soos verwag, in die algemene verkiesing van April 2009 en Jacob Zuma word op 9 Mei 2009 as president van Suid-Afrika beëdig.

Mnr. Trevor Manuel en pres. ZumaREGS: Mnr. Trevor Manuel, minister vir die Nasionale Beplanningskommissie in die presidensie, groet sy leier, pres. Jacob Zuma, speels in die Suid-Afrikaanse parlement.

Foto: Kopiereg ©  SA Government Communication and Information System, www.gcis.gov.za , wat gebruik vir enige doel vergun, mits die GCIS erken word

 

ONDER die dinge omtrent Zuma wat mense met streng Westerse uitkyke laat frons, is sy poligame verbintenisse—die feit dat hy verskillende vroue en verloofdes het, soveel dat selfs die media al kleigetrap het oor die presiese getal. Maar in die tradisionele Zoeloe-kultuur is dit iets algemeens. Ook sy pa het meer as een vrou gehad.

 

Selfs sy intieme daad met die familievriendin wat hom verkragting beskuldig het, het hy verdedig met die verduideliking dat ’n man in sy kultuur nie ’n oorgretige vrou in haar verwagtinge mag teleurstel nie. Vir mense met ’n Westerse agtergrond strook só ’n sienswyse nie met die sedes nie.

 

En die beswaar dat iemand sonder formele Westerse skoling in sy jeug nie ’n land behoorlik sou kon lei nie, word deur sy ondersteuners afgemaak met teenwerpings soos dat só ’n bewering sou misken dat genialiteit ook by mense uit die tradisioneel-landelike omgewings moontlik is.

 

Hoe ook al, onder sy ondersteuners, die meeste van hulle Zoeloes, word Jacob Zuma toegeneë by sy lofnaam Msholozi genoem. Hy word ook, na sy voorletters, as JZ aangespreek—uitgespreek Jay Zee, soos in die Amerikaanse Engels.

 

En dan is hy natuurlik die man van die massas. Hy praat die taal van die mense op voetsoolvlak, anders as die geleerde Mbeki met, byvoorbeeld, sy aanhalings uit Shakespeare. Miskien sal die witman van Suid-Afrika nou eers besef wat dit werklik beteken om ’n deel van Afrika te wees.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad